Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 9/22 bl. 10-13
  • Wat versorgers kan doen

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat versorgers kan doen
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hou die lewe eenvoudig
  • Bly aan die gang
  • “Ek wou dit doen”
  • Laat die pasiënt sy waardigheid behou
    Ontwaak!—1998
  • ‘Hierdie Ontwaak! is spesiaal vir ons geskryf’!
    Ontwaak!—1999
  • Alzheimer se siekte—Hoe om dit te verwerk
    Ontwaak!—1998
  • Sorg vir die versorger—Hoe ander kan help
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 9/22 bl. 10-13

Wat versorgers kan doen

“EK WAS nog altyd verbaas oor hoe [mense] se vermoë verskil om probleme die hoof te bied”, sê Margaret, ’n mediese deskundige van Australië wat baie jare lank met Alzheimer-pasiënte en hulle versorgers gewerk het. “Sommige gesinne kan die ongelooflikste eise wat aan hulle gestel word die hoof bied”, sê sy verder, “terwyl ander byna heeltemal onbevoeg is om die situasie te hanteer sodra die persoon die geringste persoonlikheidsverandering ondergaan.”—Aangehaal in die boek When I Grow Too Old to Dream.

Wat maak die verskil? Een faktor kan die gehalte van die verhouding wees wat bestaan het voordat die siekte begin het. Dit kan vir gesinne met ’n hegte, liefdevolle verhouding makliker wees om die situasie die hoof te bied. En wanneer daar goed na iemand met Alzheimer se siekte (AS) omgesien word, kan dit makliker wees om met die siekte saam te leef.

Ten spyte van die feit dat AS-lyers se intellektuele vermoëns verswak, reageer hulle gewoonlik op liefde en teerheid tot in die laaste stadiums van die siekte. “Woorde”, sê die adviesblad Communication, wat deur die Vereniging vir Alzheimer se Siekte van Londen uitgegee word, “is nie die enigste manier om te kommunikeer nie.” Kommunikasie sonder woorde wat vir versorgers onontbeerlik is, sluit ’n hartlike, vriendelike gesigsuitdrukking en ’n sagte stemtoon in. Oogkontak is ook belangrik sowel as om duidelik en kalm te praat en om die pasiënt se naam dikwels te gebruik.

“Dit is nie net moontlik om kommunikasie met jou geliefde te behou nie”, sê Kathy, wat in die vorige artikel genoem is, “maar dit is ook belangrik. Hartlike en liefderyke fisiese kontak, ’n sagte stemtoon en jou fisiese teenwoordigheid dra alles daartoe by dat jou geliefde veilig en gerus voel.” Die Vereniging vir Alzheimer se Siekte van Londen som dit op deur te sê: “Liefde kan julle help om na aan mekaar te bly, veral wanneer dit moeiliker raak om te gesels. Om die persoon se hand vas te hou, met jou arm om hulle te sit, met ’n kalmerende stem te praat of hulle ’n drukkie te gee, is alles maniere om te wys dat jy nog steeds omgee.”

Waar daar ’n hegte verhouding is, kan die versorger en pasiënt dikwels heerlik saam lag selfs wanneer hulle foute maak. ’n Man onthou byvoorbeeld hoe sy vrou wat verstandelik verward was die bed opgemaak het, maar per ongeluk die kombers tussen die lakens gesit het. Hulle het die fout daardie aand ontdek toe hulle gaan slaap het. “O aarde!” het sy gesê, “ek was bietjie deurmekaar.” En hulle albei het heerlik gelag.

Hou die lewe eenvoudig

AS-lyers funksioneer die beste in ’n bekende omgewing. Hulle moet ook ’n vaste daaglikse roetine hê. ’n Groot kalender waarop daaglikse afsprake duidelik gemerk is, is baie nuttig hiervoor. “As iemand uit sy bekende omgewing verskuif word”, verduidelik dr. Gerry Bennett, “kan dit verskriklike gevolge hê. Reëlmatigheid en bestendigheid is baie belangrik vir die verwarde persoon.”

Namate die siekte vorder, word dit vir AS-lyers al hoe moeiliker om op instruksies te reageer. Opdragte moet op ’n eenvoudige, duidelike manier gegee word. Om byvoorbeeld vir ’n pasiënt te sê dat hy hom moet aantrek, is dalk te ingewikkeld. Die verskillende kledingstukke sal moontlik in die regte volgorde uitgesit moet word, en die pasiënt sal dalk stap vir stap met elke kledingstuk gehelp moet word.

Bly aan die gang

Party AS-lyers loop rond of dwaal weg van hulle huis af en verdwaal. Stap is goeie oefening vir die pasiënt en kan help om spanning te verlig en die pasiënt beter te laat slaap. Maar dit kan gevaarlik wees om van die huis af weg te dwaal. Die boek Alzheimer’s—Caring for Your Loved One, Caring for Yourself verduidelik: “As jou geliefde wegdwaal, sit jy met ’n noodsituasie wat maklik in ’n tragedie kan ontaard. Die gedagte om te onthou is: Moenie paniekerig raak nie. . . . Soekgeselskappe het ’n beskrywing nodig van die persoon waarna hulle soek. Hou ’n paar onlangse kleurfoto’s in die huis.”a

Aan die ander kant word sommige lyers lusteloos en wil hulle dalk die hele dag net sit. Probeer om hulle iets te laat doen wat julle albei kan geniet. Laat hulle sing, fluit of ’n musiekinstrument bespeel. Party geniet dit om op die maat van hulle gunstelingmusiek hande te klap, te beweeg of te dans. Dr. Carmel Sheridan verduidelik: “Die beste aktiwiteite vir mense met A.S. is gewoonlik dié wat met musiek gepaardgaan. Gesinne sê dikwels dat hulle familielid nog steeds ou, bekende liedjies en wysies geniet lank nadat die betekenis van ander [dinge] al vergeet is.”

“Ek wou dit doen”

’n Suid-Afrikaanse vrou wie se man in die laaste stadiums van AS was, het dit geniet om elke dag by hom in die verpleeginrigting deur te bring. Maar welmenende familielede het haar hieroor gekritiseer. Dit het moontlik vir hulle gelyk of sy haar tyd mors, aangesien haar man haar blykbaar nie herken het nie en nooit ’n woord gesê het nie. “Maar”, het sy ná sy dood verduidelik, “ek wou by hom sit. Die verpleegsters was baie besig, daarom kon ek hom was en skoon aantrek wanneer hy hom vuilgemaak het. Ek het dit geniet—ek wou dit doen. Eenkeer het hy sy voet seergemaak terwyl ek hom in ’n rolstoel gestoot het. Ek het gesê: ‘Is dit seer?’ en hy het geantwoord: ‘Natuurlik!’ Ek het toe besef dat hy nog kan voel en praat.”

Selfs in gevalle waar ’n goeie gesinsverhouding nie voor die aanvang van AS bestaan het nie, kon versorgers nog steeds die situasie die hoof bied.b Die blote wete dat hulle doen wat reg is en wat God behaag, kan hulle ’n diepe gevoel van bevrediging gee. Die Bybel sê: ‘Eer die persoon van ’n grysaard’, en: “Verag jou moeder nie as sy oud geword het nie” (Levitikus 19:32; Spreuke 23:22). Daarbenewens word Christene beveel: “As ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet dié eers leer om godvrugtige toegewydheid in hulle eie huisgesin te beoefen en om ’n verskuldigde vergoeding aan hulle ouers en grootouers te bly betaal, want dit is aangenaam in God se oë. Ja, as iemand vir dié wat syne is, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige.”—1 Timoteus 5:4, 8.

Dit is prysenswaardig hoe baie versorgers, met God se hulp, goed na siek familielede omsien, met inbegrip van diegene wat aan Alzheimer se siekte ly.

[Voetnote]

a Sommige versorgers het dus gevind dat dit nuttig is om die pasiënt van ’n vorm van identifikasie te voorsien, miskien iets soos ’n armband of hangertjie wat hy kan dra.

b Vir meer inligting oor versorging en hoe ander kan help, sien gerus die reeks “Versorging—Bied die uitdaging die hoof” op bladsye 3-13 in die Ontwaak! van 8 Februarie 1997.

[Venster op bladsy 11]

Alzheimer se siekte en medisyne

HOEWEL daar op die oomblik ongeveer 200 moontlike behandelings vir Alzheimer se siekte (AS) getoets word, is daar nog nie ’n geneesmiddel vir AS nie. Sommige middels kan na bewering in die vroeë stadiums van AS geheueverlies ’n ruk lank verlig of die verloop van die siekte in sommige pasiënte vertraag. Maar wees versigtig, want hierdie middels is nie vir alle pasiënte doeltreffend nie en party kan skadelik wees. Ander medisyne word egter soms gebruik om toestande te behandel wat dikwels met AS gepaardgaan, soos depressie, angstigheid en slaaploosheid. In samewerking met die pasiënt se dokter kan elke gesin die voordele en risiko’s van ’n behandeling teen mekaar opweeg voordat hulle ’n besluit neem.

[Venster op bladsy 11]

Hoe besoekers kan help

WEENS intellektuele vermoëns wat agteruitgaan, kan diegene met Alzheimer se siekte (AS) gewoonlik nie aktuele gebeure in besonderhede bespreek nie. Maar om oor die verlede te praat, is dalk ’n ander saak. Die langtermyngeheue kan betreklik onaangetas bly, veral in die vroeë stadiums van die siekte. Baie AS-lyers geniet dit om herinneringe oor die verlede te herroep. Vra hulle dus om ’n paar van hulle gunstelingverhale te vertel, selfs al het jy dit al baie keer gehoor. Jy dra daardeur tot die pasiënt se geluk by. Terselfdertyd kan jy die een wat die pasiënt gewoonlik versorg ’n welverdiende ruskans gee. Trouens, as jy aanbied om ’n rukkie na die pasiënt om te sien, miskien ’n hele dag lank, kan jy baie help om die versorger te verkwik.

[Venster op bladsy 12]

Bied inkontinensie die hoof

HOEWEL dit kan “voel asof [inkontinensie] die laaste druppel is wat die emmer laat oorloop”, sê die adviesblad Incontinence, “is daar dinge wat gedoen kan word om die probleem te verlig of om dit minder spanningsvol te maak”. Hou in gedagte dat die pasiënt dalk nie permanent inkontinent is nie; hy het dalk net verward geraak of kon nie vinnig genoeg by die toilet uitkom nie. Bowendien ly die pasiënt dalk aan ’n behandelbare toestand wat tydelike inkontinensie veroorsaak, gevolglik moet jy dalk net ’n dokter gaan spreek.

Wat die oorsaak ook al is, inkontinensie kan baie makliker hanteer word as die pasiënt klere dra wat maklik aan- en uitgetrek kan word sowel as broeke wat spesiaal aangepas is. Dit sal ook help as jy beskermende oortreksels op beddens en stoele sit. Vermy velirritasie en seerheid deur die pasiënt se vel nie met plastiek in aanraking te bring nie. Was die pasiënt ook goed met warm seepwater en droog hom goed af voordat jy hom aantrek. Verwyder hindernisse wat die lyer kan keer om gou en veilig by die toilet uit te kom. Dit sal dalk nuttig wees om ’n lig in die nag te laat brand sodat hy kan sien waar hy loop. Omdat die pasiënt op hierdie stadium miskien onvas op sy voete is, sal ’n reling op ’n gerieflike hoogte teen die muur ’n besoek aan die toilet nie so ’n groot uitdaging maak nie.

“As jy ook die humor in die situasie kan sien”, stel die Vereniging vir Alzheimer se Siekte van Londen voor, “sal dit dalk die spanning verlig.” Hoe kan ’n versorger hierdie uitdagings die hoof bied? ’n Ervare versorger antwoord: “Geduld, sagmoedigheid, goedhartigheid en die soort stille beleefdheid wat die pasiënt in staat sal stel om te alle tye sy waardigheid te behou, sonder vrees om in die verleentheid gestel te word.”

[Venster op bladsy 13]

Moet die pasiënt verskuif word?

ONGELUKKIG sal die verslegtende toestand van mense met Alzheimer se siekte (AS) dalk vereis dat hulle uit hulle eie huis na ’n familielid se huis of na ’n verpleeginrigting verskuif moet word. Maar voordat die besluit geneem word om ’n pasiënt uit sy bekende omgewing te verskuif, moet ’n paar belangrike faktore oorweeg word.

’n Verskuiwing kan tot ernstige disoriëntasie lei. Dr. Gerry Bennett noem ’n voorbeeld van ’n pasiënt wat die gewoonte gehad het om rond te loop en soms te verdwaal. Maar sy kon nog op haar eie woon. Haar familie het egter besluit dat sy na ’n woonstel nader aan hulle moes trek sodat hulle beter oor haar kon toesig hou.

“Ongelukkig”, verduidelik dr. Bennett, “het sy nooit die nuwe plek as haar tuiste aanvaar nie. . . . Sy het ongelukkig nooit gevestig geraak nie en is in werklikheid baie meer afhanklik gemaak omdat sy nie meer in haar nuwe omgewing kon funksioneer nie. Die kombuis was vreemd, en sy kon nie die nuwe pad na die toilet onthou nie en het inkontinent geword. Dit is ’n geval waar goeie beweegredes ’n persoonlike ramp meegebring het, en die uiteinde was ’n verpleeginrigting.”—Alzheimer’s Disease and Other Confusional States.

Maar sê nou dit lyk asof daar geen alternatief is as om die pasiënt na ’n gesondheidsorgfasiliteit te verskuif nie? Dit is beslis nie ’n maklike besluit nie. Trouens, dit word beskryf as een van die besluite wat vir versorgers “die meeste skuldgevoelens veroorsaak”, want dit laat hulle dikwels voel dat hulle gefaal het en hulle geliefde verlaat het.

“Dit is ’n normale reaksie”, sê ’n verpleegster wat al baie AS-pasiënte behandel het, “maar ’n onnodige skuldgevoel.” Waarom? “Omdat”, antwoord sy, “[die pasiënt se] versorging en veiligheid die belangrikste oorweging behoort te wees.” Dokters Oliver en Bock stem saam: “Die besluit dat ’n mens se emosionele krag uitgeput is en dat die siekte so ver gevorder het dat tuisversorging nie moontlik is nie, is die moeilikste besluit om te neem.” Maar nadat sommige versorgers al die faktore in hulle spesifieke situasie oorweeg het, het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat dit “in die pasiënt se belang is . . . om hom in ’n verpleeginrigting te laat opneem”.—Coping With Alzheimer’s: A Caregiver’s Emotional Survival Guide.

[Prent op bladsy 10]

Help die pasiënt om georiënteerd en in voeling te bly

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel