Laat die pasiënt sy waardigheid behou
TWEE dae voordat Sally haar man na ’n neuroloog geneem het, is ’n nuwe eerste minister in Suid-Afrika verkies. Toe die neuroloog Alfie oor die uitslag van die verkiesing uitvra, het hy uitdrukkingloos voor hom uit gestaar en kon hy nie antwoord nie. Toe, nadat die neuroloog ’n breinaftasting gedoen het, het hy taamlik ongevoelig uitgeroep: “Hierdie man kan beswaarlik twee en twee bymekaartel. Sy brein werk nie meer nie!” Daarna het hy Sally aangeraai: “Jy moet jou geldsake in orde kry. Hierdie man kan jou aanval en gewelddadig raak.”
“Nooit!” het Sally geantwoord, “nie my man nie!” Sally was toe reg; Alfie het nooit gewelddadig teenoor haar geraak nie, selfs al word party met Alzheimer se siekte (AS) wel aggressief. (Dít is dikwels die geval weens gevoelens van frustrasie, wat soms verlig kan word deur die manier waarop ’n AS-lyer behandel word.) Hoewel die neuroloog Alfie se probleem kon diagnoseer, was hy blykbaar nie daarvan bewus dat hy die AS-lyer steeds waardigheid moes verleen nie. Anders sou hy Alfie se probleem vriendelik en privaat aan Sally verduidelik het.
“Die grootste behoefte van diegene wat aan een van die demensiesiektes ly, is om hulle waardigheid, respek en gevoel van eiewaarde te kan handhaaf”, sê die boek When I Grow Too Old to Dream. ’n Belangrike manier om die pasiënt sy waardigheid te laat behou, word verduidelik in die adviesblad Communication, wat deur die Vereniging vir Alzheimer se Siekte van Londen uitgegee word: “Moet nooit [AS-lyers] voor ander mense bespreek asof hulle nie teenwoordig is nie. Selfs al verstaan hulle nie, kan hulle aanvoel dat hulle op die een of ander manier uitgesluit word, en hulle voel verneder.”
Feit is dat party AS-lyers wel verstaan wat ander oor hulle sê. ’n Pasiënt van Australië het byvoorbeeld saam met sy vrou na ’n vergadering van ’n Alzheimervereniging gegaan. Hy het later die volgende gesê: “Hulle het versorgers geleer wat om te doen en hoe om dit te doen. Ek was geskok deur die feit dat ek daar was en dat niemand oor die pasiënt gepraat het nie. . . . Dit is so frustrerend. Omdat ek Alzheimer se siekte het, is dit wat ek sê onbelangrik: niemand sal luister nie.”
Wees positief
Daar is talle positiewe maniere om AS-lyers te help om hulle waardigheid te behou. Hulle het dalk hulp nodig om voort te gaan met daaglikse take wat voorheen vir hulle maklik was. As hulle voorheen goeie briefskrywers was, kan jy byvoorbeeld by hulle sit en hulle help om briewe van besorgde vriende te beantwoord. In Sharon Fish se boek Alzheimer’s—Caring for Your Loved One, Caring for Yourself noem sy ander praktiese maniere om AS-lyers te help: “Kry maklike dinge om saam te doen wat betekenisvol en produktief is: om skottelgoed te was en af te droog, die vloer te vee, wasgoed op te vou, kos te kook.” Dan verduidelik sy: “Iemand wat aan Alzheimer se siekte ly, kan moontlik nie die hele huis skoonmaak of ’n hele ete voorberei nie, maar die verlies aan daardie vermoëns is gewoonlik geleidelik. Jy kan die aandag vestig op die vermoëns wat nog onaangetas is en sodoende help om dit so lank moontlik te behou. Wanneer jy dit doen, help jy ook jou geliefde om sy gevoel van eiewaarde te behou.”
Party take wat ’n AS-lyer doen, sal nie aan die vereistes voldoen nie, daarom sal jy dalk die vloer weer moet vee of die skottelgoed weer moet was. Maar deur die AS-lyer voortdurend bruikbaar te laat voel, laat jy hom ook bevrediging uit die lewe kry. Prys hom selfs as ’n taak nie te goed gedoen is nie. Onthou, hy het sy bes gedoen binne sy verslegtende vermoëns. AS-lyers moet voortdurend gerusgestel en geprys word—selfs meer namate hulle al hoe minder welslae met verskillende bedrywighede behaal. Kathy, wie se 84-jarige man AS het, sê: “Hulle kan enige oomblik—heeltemal onvoorspelbaar—oorval word deur gevoelens van waardeloosheid. Die versorger moet onmiddellike verligting bied deur die pasiënt opreg te verseker dat hy ‘goed doen’.” Die boek Failure-Free Activities for the Alzheimer’s Patient stem saam: “Ons wil almal graag hoor dat ons goed doen, en vir mense met demensie is hierdie behoefte besonder sterk.”
Hoe om ongemaklike situasies te hanteer
Versorgers moet leer hoe om die verleentheid te hanteer wat deur hulle geliefde veroorsaak word. Een van die ergste vrese is dat ’n pasiënt in die openbaar inkontinent sal wees. “Hierdie dade”, verduidelik dr. Gerry Bennett in sy boek Alzheimer’s Disease and Other Confusional States, “gebeur nie dikwels nie en kan gewoonlik voorkom of verminder word. Hierdie voorvalle moet nie uit verband geruk word nie, aangesien dit nie die daad of diegene is wat toekyk waaroor ’n mens besorg moet wees nie, maar die verlies van die persoon se waardigheid.”
Indien so ’n vernederende voorval gebeur, moet jy nie met die AS-lyer raas nie. Probeer liewer hierdie raad toepas: “Bly kalm en objektief en onthou dat die persoon nie met opset sake vererger nie. Hulle sal boonop eerder hulle samewerking gee as jy vriendelik en ferm is as wanneer jy geïrriteerd en ongeduldig is. Doen alles in jou vermoë om te keer dat die probleem julle verhouding vertroebel.”—Die adviesblad Incontinence, van die Vereniging vir Alzheimer se Siekte van Londen.
Moet hulle werklik reggehelp word?
AS-lyers sê dikwels dinge wat verkeerd is. Hulle sê dalk byvoorbeeld dat hulle ’n besoek van ’n familielid verwag wat al lankal dood is. Of hulle hallusineer dalk en sien dinge wat net in hulle verstand is. Is dit altyd nodig om ’n AS-lyer reg te help wanneer hy iets verkeerds sê?
“Daar is ouers”, verduidelik Robert T. Woods in sy boek Alzheimer’s Disease—Coping With a Living Death, “wat nie kan ophou om hulle kinders reg te help elke keer as hulle ’n woord verkeerd uitspreek of ’n taalfout maak nie. . . . Die resultaat is dikwels ’n haatdraende of teruggetrokke kind wat vind dat sy pogings om homself uit te druk, onderdruk en nie beloon word nie. Dieselfde kan met ’n AS-lyer gebeur wat voortdurend reggehelp word.” Dit is interessant dat die Bybel dié raad oor die behandeling van kinders gee: “Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie” (Kolossense 3:21). As kinders vertoornd word omdat hulle voortdurend reggehelp word, hoeveel te meer nie ’n volwassene nie! “Onthou dat die pasiënt ’n volwassene is wat onafhanklik en suksesvol was”, waarsku die ARDA Newsletter van Suid-Afrika. ’n AS-lyer sal nie net vertoornd word as hy voortdurend reggehelp word nie, maar hy kan ook depressief of selfs aggressief raak as gevolg daarvan.
’n Les kan ook by Jesus Christus geleer word wat diegene sal help wat met die beperkings van AS-lyers te doen kry. Hy het nie elke verkeerde beskouing van sy dissipels onmiddellik reggestel nie. Trouens, hy het soms inligting van hulle weerhou omdat hulle nog nie gereed was om dit te verstaan nie (Johannes 16:12, 13). As Jesus die beperkings van gesonde mense in aanmerking geneem het, hoeveel te meer behoort ons nie gewillig te wees om aan te pas by vreemde, maar onskadelike, beskouings van ’n ernstige siek volwassene nie! As jy probeer om ’n AS-lyer die waarheid van ’n spesifieke saak te laat insien, verwag—of vereis—jy dalk meer van hom as waartoe hy in staat is. In plaas van te stry, kan jy eerder stilbly of die onderwerp taktvol verander.—Filippense 4:5.
Soms is dit ’n liefdevolle gebaar om saam te speel wanneer ’n AS-lyer hallusineer pleks van hom te probeer oortuig dat dit nie werklik so is nie. ’n AS-lyer raak dalk byvoorbeeld bang omdat hy ’n wilde dier of ’n denkbeeldige indringer agter die gordyne “sien”. Dit is nie die tyd om logies te probeer redeneer nie. Onthou dat wat hy in sy verbeelding “sien” vir hom werklik is, en die vrese wat hy werklik ondervind, moet gestil word. Jy moet dalk agter die gordyne kyk en dan sê: “As jy hom weer ‘sien’, moet jy my asseblief sê sodat ek kan help.” Deur in ooreenstemming met die pasiënt se beskouing op te tree, verduidelik dokters Oliver en Bock in hulle boek Coping With Alzheimer’s: A Caregiver’s Emotional Survival Guide, gee jy hom “’n gevoel van beheer oor die vreesaanjaende, en skrikwekkende, verskynings wat in sy verstand opkom. . . . Hy weet dat hy op jou kan staatmaak.”
“Ons almal struikel baie kere”
Dit sal dalk moeilik wees om al die bogenoemde wenke toe te pas, veral vir diegene wat ’n swaar werklas het en ander gesinsverpligtinge het om na om te sien. ’n Gefrustreerde versorger verloor miskien af en toe sy selfbeheersing en behandel nie ’n AS-lyer met waardigheid nie. Wanneer dit gebeur, is dit belangrik om nie toe te laat dat skuldgevoelens jou oorweldig nie. Onthou dat die AS-lyer, weens die aard van die siekte, die voorval waarskynlik baie gou sal vergeet.
Die Bybelskrywer Jakobus sê ook: “Ons almal struikel baie kere. As iemand in woord nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man” (Jakobus 3:2). Aangesien geen menslike versorger volmaak is nie, kan foute verwag word in die moeilike taak om vir ’n AS-lyer te sorg. In die volgende artikel sal ons ander dinge ondersoek wat versorgers gehelp het om ’n AS-lyer met welslae te versorg—en dit selfs te geniet.
[Lokteks op bladsy 9]
Pasiënte floreer op voortdurende gerusstelling en lof
[Lokteks op bladsy 9]
‘Die pasiënt verstaan moontlik wat gesê word. Moet dus nooit sy toestand bespreek of enige morbiede aanmerking maak terwyl jy langs sy bed is nie’
[Venster op bladsy 6]
Moet jy die pasiënt vertel?
BAIE versorgers wonder of hulle hulle geliefde moet vertel dat hy of sy Alzheimer se siekte (AS) het. As jy besluit om dit wel te doen, hoe en wanneer moet dit dan gedoen word? ’n Nuusbrief van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Alzheimer se Siekte en Verwante Steurnisse het hierdie interessante kommentare van ’n leser bevat:
“My man het al ongeveer sewe jaar lank Alzheimer se siekte. Hy is nou 81, en hy gaan gelukkig baie stadig agteruit . . . ’n Ruk lank het ek gedink dat dit wreed sou wees om hom te vertel dat hy Alzheimer se siekte het, daarom het ons met sy eie ‘verskoning’ saamgespeel: ‘Wat anders kan jy van ’n 80-jarige verwag!’”
Die leser het toe na ’n boek verwys wat aanbeveel het dat ’n pasiënt op ’n vriendelike en eenvoudige manier van sy siekte vertel word. Maar sy het nie hierdie raad gevolg nie omdat sy gevrees het dat haar man verpletter sou wees.
“Toe, op ’n dag”, het sy voorts gesê, “het my man gesê dat hy bang is om hom belaglik te maak terwyl hy tussen ’n groep vriende is. Dit was my kans! Toe (terwyl die koue sweet op my uitgeslaan het) het ek langs hom gekniel en hom vertel dat hy Alzheimer se siekte het. Hy kon natuurlik nie verstaan wat dít was nie, maar ek het verduidelik dat dit ’n siekte is wat dinge vir hom moeilik maak [wat] nog altyd vir hom maklik was en wat hom ook dinge laat vergeet. Ek het hom net twee sinne in julle brosjure Alzheimer’s: We Can’t Ignore It Anymore gewys: ‘Alzheimer se siekte is ’n steurnis van die brein wat geheueverlies en ernstige agteruitgang van die verstand veroorsaak . . . Dit is ’n siekte en NIE ’N NORMALE DEEL VAN VEROUDERING NIE.’ Ek het hom ook daarvan verseker dat sy vriende geweet het dat hy die siekte het en dus verstaan. Hy het ’n rukkie hieroor nagedink en toe uitgeroep: ‘Wat ’n openbaring! Dit help beslis!’ Julle kan julle net voorstel hoe ek gevoel het om te sien wat ’n geweldige verligting hierdie inligting vir hom was!
“En daarom kan ek hom nou, wanneer dit ook al lyk of hy ontsteld raak oor iets, omhels en sê: ‘Onthou, dis nie jy nie. Dis daardie aaklige Alzheimer se siekte wat dinge vir jou moeilik maak’, en hy word onmiddellik weer kalm.”
Elke geval van AS is natuurlik verskillend. Verhoudings tussen versorgers en pasiënte verskil ook. Dit is dus ’n persoonlike saak as jy besluit om jou geliefde te vertel dat hy of sy AS het of nie.
[Venster op bladsy 8]
Is dit werklik Alzheimer se siekte?
INDIEN ’n bejaarde akute verwarring ondervind, moet ’n mens nie sommer tot die gevolgtrekking kom dat dit weens Alzheimer se siekte (AS) is nie. Baie dinge, soos ’n sterfgeval, ’n skielike verhuising of ’n infeksie, kan veroorsaak dat ’n bejaarde verward raak. In baie gevalle is akute verwarring in ouer mense omkeerbaar.
Selfs met AS-pasiënte word ’n skielike agteruitgang in die persoon se toestand, soos die aanvang van inkontinensie, nie noodwendig deur AS-demensie veroorsaak nie. AS verloop stadig. “’n Skielike agteruitgang”, verduidelik die boek Alzheimer’s Disease and Other Confusional States, “beteken gewoonlik dat ’n akute toestand (soos ’n bors- of urine-infeksie) voorgekom het. Dit lyk wel of ’n klein groepie [AS]-lyers vinniger agteruitgaan . . . Maar vir die meeste is die agteruitgang taamlik stadig, veral as daar goed na die persoon omgesien word en enige ander mediese probleme vroeg en doeltreffend behandel word.” Inkontinensie in ’n AS-pasiënt kan die gevolg wees van die een of ander gesondheidsprobleem wat behandel kan word. “Die eerste stap is altyd om die [dokter] te raadpleeg”, verduidelik die adviesblad Incontinence, wat deur die Vereniging vir Alzheimer se Siekte van Londen uitgegee word.
[Prente op bladsy 7]
As pasiënte met Alzheimer se siekte met daaglikse take gehelp word, help dit hulle om hulle waardigheid te behou