Luister met jou oë
WAT is ’n sleutel tot sukses om doeltreffend met ’n Dowe te kommunikeer? Duidelike en gepaste oogkontak. Dit is noodsaaklik wanneer Dowes praat. Trouens, as twee mense in gebaretaal met mekaar praat, word dit as onbeskof beskou vir een van hulle om weg te kyk en oogkontak te verbreek. En hoe trek jy ’n Dowe se aandag? In plaas van die persoon se naam te gebruik, is dit beter om hom liggies op die skouer of arm te tik, in sy of haar perifere gesigsveld te waai of, as hy ver weg is, vir iemand anders te wys om sy aandag te trek. Na gelang van die situasie, kan jy op die vloer kap of die ligte aan- en afskakel. Hierdie en ander gepaste maniere om iemand se aandag te trek, maak dinge ’n bietjie makliker vir Dowes en is ’n deel van die Dowekultuur.
Die verenigende band van taal
Wanneer party met ’n Dowe in aanraking kom, kom hulle verkeerdelik tot die gevolgtrekking dat dit maklik is om te liplees. Maar talle Dowes vind dat dit ’n baie beperkte manier van kommunikasie is. Daar is natuurlik uitsonderings, aangesien sommige individue bedrewe liplesers is, maar oor die algemeen sal dit bedagsaam wees om nie aan te neem dat iemand maklik jou lippe kan lees nie. As jy miskien van ’n tolk gebruik maak of neerskryf wat jy wil sê, sal dit ’n mate van betekenisvolle kommunikasie moontlik maak.
Maar as jy gereeld met Dowes te doen kry, sal dit dan nie bedagsaam wees om ’n bietjie gebaretaal aan te leer nie? Wat ’n wonderlike band sal dit tog meebring, veral onder diegene wat aan dieselfde geloof behoort! Dit is dieselfde as om die grondbeginsels van die ander taal in ’n tweetalige kultuur aan te leer. Jehovah se Getuies stel al lank daarin belang om inligting oor Jehovah God aan almal beskikbaar te stel. Wanneer ons besef dat Dowes nie kan leer om normaal te hoor nie, hoeveel beter is dit dan nie dat ons by hulle aanpas deur gebaretaal te gebruik nie!—1 Korintiërs 9:20-22.
Antonino sê dat daar aanvanklik, toe hy Christelike vergaderinge in Italië begin bywoon het, “nie ’n werklike en aktiewe uitruiling van aanmoediging in gesprekke met die broers was wat kon hoor nie. Omdat ons mekaar nie kon verstaan nie, het ek baie eensaam gevoel.” Baie gemeentelede het gereageer deur Italiaanse Gebaretaal (LIS) aan te leer. Belangstellende Dowes het die Bybel begin bestudeer, en vergaderinge is in LIS gehou. Dit het Antonino aangemoedig, en hy wil nou “met al sy Dowe vriende praat oor ons vergaderinge en die hartlike liefde wat onder Jehovah se volk bestaan”.
Regoor die wêreld stig Jehovah se Getuies gebaretaalgemeentes, waar Dowes hartlike en liefdevolle assosiasie kan geniet. In Spanje is daar al meer as 20 jaar lank gebaretaalgroepe. In die Verenigde State is daar op die oomblik 19 bedrywige gemeentes vir die Dowes en 47 kleiner groepe.
Dowes kan as voltydse bedienaars (pioniers), bedieningsknegte en ouer manne dien, en hulle kan ook toesprake hou by byeenkomste, onderrig gee tydens die Pionierdiensskool en die leiding op verskillende maniere neem. In hierdie omgewing is daar geen beperkings nie, net geleenthede om Jehovah met ’n mens se vermoëns te loof.
Ons inherente behoefte aan kameraadskap en kommunikasie word deur die talle kulture en tale oor die wêreld weerspieël. Pleks dat ons Dowes sien as gebrekkige of onvolwaardige mense, sal dit soveel beter wees as ons die prestasies, vermoëns en eienskappe sien wat ons almal mense maak! Deur ons respek vir ander en ons gewilligheid om aan te pas, dra ons almal by tot ’n uiteenlopende, maar verenigde mensegesin.
[Prent op bladsy 24]
Behou oogkontak wanneer jy ’n gesprek in gebaretaal voer
[Prent op bladsy 24]
Dowes dien vreugdevol as voltydse bedienaars
[Prent op bladsy 25]
Koninkryksliedere in gebaretaal in Spanje
[Prent op bladsy 25]
’n Byeenkomstoespraak word in Koreaanse Gebaretaal gehou
[Prent op bladsy 25]
Bybelpublikasies word in gebaretaal op video aangebied