Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 9/8 bl. 26-27
  • Moet ons Satan vir ons sondes blameer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet ons Satan vir ons sondes blameer?
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Weerstaan die Duiwel
  • Hoe om ‘die Duiwel teë te staan’
  • Die stryd binne-in ons
  • Aanvaar die verantwoordelikheid
  • “Staan die Duiwel teë”, soos Jesus gedoen het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Staan Satan teë, en hy sal vlug!
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Hoe werklik is die Duiwel vir jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Die Duiwel—Nie net bygelowigheid nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 9/8 bl. 26-27

Die Bybelse beskouing

Moet ons Satan vir ons sondes blameer?

SATAN is vir die eerste sonde van die mens geblameer. “Die slang het my bedrieg, en ek het geëet”, het Eva gesê (Genesis 3:13). Sedertdien het “die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word”, sy stryd teen die mensdom voortgesit deur ‘die verstande van mense te verblind’ en ‘die hele bewoonde aarde te mislei’ (Openbaring 12:9; 2 Korintiërs 4:4). Niemand kan sy druk vryspring nie, maar beteken dit dat ons nie sy invloed kan weerstaan nie? En is dit altyd sy skuld wanneer ons sondig?

Die Bybel verduidelik dat Eva in werklikheid deur Satan bedrieg is (1 Timoteus 2:14). Sy is bedrieg deur te dink dat sy, soos God, insig en onafhanklikheid kon verkry deur sy gebod te oortree (Genesis 3:4, 5). Weens daardie veronderstelling het sy gesondig. Maar God het haar verantwoordelik gehou en haar ter dood veroordeel. Waarom? Omdat sy ten volle van God se gebod bewus was, al het Satan ’n leuen vertel. Sy is nooit gedwing om ongehoorsaam te wees nie; sy het eerder in beheer van haar optrede gebly, ten volle in staat om Satan se invloed te weerstaan.

Weerstaan die Duiwel

Dit is vir mense moontlik om die Duiwel te weerstaan. In Efesiërs 6:12 word daar vir ons gesê dat ‘ons ’n worstelstryd het’ teen “bose geesmagte in die hemelse plekke”. God verwag dus klaarblyklik van ons om teen Satan se invloed te stry. Maar hoe kan ’n mens teen die bomenslike mag van Satan en sy demone opgewasse wees? Word daar van ons verwag om ’n ongelyke stryd te stry, ’n stryd wat ons ongetwyfeld sal verloor? Nee, want God sê nie dat ons op ons eie krag teen die Duiwel moet stry nie. Jehovah gee ons verskeie middele waardeur ons die Duiwel se versoekings kan weerstaan en as oorwinnaars uit die stryd kan tree. Die Bybel vertel ons wie die Duiwel is, hoe hy te werk gaan en hoe ons onsself kan beskerm.—Johannes 8:44; 2 Korintiërs 2:11; 11:14.

Hoe om ‘die Duiwel teë te staan’

Die Skrif beveel twee stappe aan as ons die Duiwel wil weerstaan. Ons word gemaan: “Onderwerp julle dus aan God; maar staan die Duiwel teë, en hy sal van julle wegvlug” (Jakobus 4:7). Die eerste stap, naamlik om ons aan God te onderwerp, behels dat ons sy gebooie gehoorsaam. As ons voortdurend bewus is van God se bestaan, van sy goedheid, van sy ontsagwekkende mag en gesag en van sy verhewe beginsels, sal dit ons die krag gee om Satan teë te staan. Aanhoudende gebed tot God is ook lewensbelangrik.—Efesiërs 6:18.

Beskou die geleentheid toe Jesus deur die Duiwel versoek is. Die feit dat Jesus verskeie gebooie van God onthou en aangehaal het, het hom ongetwyfeld gehelp om weerstand te bied. Satan het Jesus verlaat toe hy nie daarin kon slaag om Hom te versoek nie. Ná daardie beproewing het Jehovah Jesus verder versterk deur middel van sy engele (Matteus 4:1-11). Jesus kon derhalwe sy dissipels vol vertroue aanmoedig om God te vra om ‘hulle van die bose te verlos’.—Matteus 6:13.

Die feit dat God ons verlos, beteken nie dat hy ’n beskermende skild om ons sit nie. Hy sê eerder dat ons godvrugtige eienskappe, soos waarheid, regverdigheid, vrede en geloof, moet nastreef. Hierdie eienskappe dien as ’n “wapenrusting”, wat ons in staat stel om ‘vas te staan teen die sette van die Duiwel’ (Efesiërs 6:11, 13-18). Met God se hulp is dit dus moontlik om die Duiwel se versoekings teë te werk.

Die tweede stap wat in Jakobus 4:7 aanbeveel word, is om ‘die Duiwel teë te staan’. Dit behels besliste optrede, om van sy skadelike invloed af weg te vlug. ’n Mens moet blootstelling aan sy bedrieglike mag vermy en die materialistiese en onsedelike filosofieë verwerp wat vandag so algemeen in die wêreld is. Sulke teenstand teen die Duiwel, tesame met ’n lewe wat daaraan gewy is om God te behaag, is waardevol in ons stryd teen Satan. Maar is alle sondes ’n direkte gevolg van die Duiwel se invloed?

Die stryd binne-in ons

Die Bybelskrywer Jakobus verduidelik: “Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word. Dan baar die begeerte, wanneer dit vrugbaar geword het, sonde” (Jakobus 1:14, 15). Ongelukkig kan ons inherente swakheid en onvolmaaktheid nie volkome oorkom nie (Romeine 5:12). “Daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie,” sê die Bybel.—Prediker 7:20.

Dit beteken nie dat alle sondes geheel en al buite ons beheer is nie. In sommige gevalle kan ons vir onsself versoekings veroorsaak deur verkeerde besluite te neem. Hoewel ’n verkeerde begeerte dus die gevolg van ons eie onvolmaaktheid of Satan se invloed kan wees, hang dit geheel en al van ons af of ons daardie begeerte gaan koester of verwerp. Die apostel Paulus het tereg geskryf: “Wat ’n mens ook al saai, dit sal hy ook maai.”—Galasiërs 6:7.

Aanvaar die verantwoordelikheid

Dit is dikwels vir mense moeilik om hulle swakhede, mislukkings, tekortkominge—ja, sondes—te erken (Psalm 36:2, NW). Iets wat ons kan help om die verantwoordelikheid vir ons sondes te aanvaar, is die wete dat God nie nou van ons verwag om volmaak te wees nie. “Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie”, het die psalmis Dawid gesê (Psalm 103:10). Hoewel God vergewensgesind is, verwag hy nog steeds van ons om hard te stry, om onsself te dissiplineer, teen die Duiwel se versoekings en ons eie neigings om te sondig.—1 Korintiërs 9:27.

Hoewel God erken dat die Duiwel ons gedrag kan beïnvloed en dat hy ’n groot deel van die verantwoordelikheid vir die mensdom se sondige toestand dra, moet ons verstaan dat dit ons nie van ons persoonlike aanspreeklikheid onthef nie. Daarom sê Romeine 14:12: “Elkeen van ons [sal] . . . vir homself aan God rekenskap gee.”

As ons egter “verafsku wat goddeloos is” en ‘vashou aan wat goed is’, kan ons die kwaad oorwin (Romeine 12:9, 21). Die eerste vrou, Eva, het dit nie gedoen nie en is vir haar ongehoorsaamheid gestraf; sy kon weerstand gebied en God gehoorsaam het (Genesis 3:16). Maar God het nie die rol geïgnoreer wat die Duiwel daarin gespeel het om haar te bedrieg nie. Die Duiwel is vervloek en tot uiteindelike vernietiging gevonnis (Genesis 3:14, 15; Romeine 16:20; Hebreërs 2:14). Ons sal binnekort nie meer met sy bose invloed te kampe hê nie.—Openbaring 20:1-3, 10.

[Foto-erkenning op bladsy 26]

Erich Lessing/Art Resource, NY

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel