Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 9/8 bl. 19-23
  • ’n Taal wat jy sien!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Taal wat jy sien!
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gesien maar nie gehoor nie
  • ’n Verskeidenheid tale
  • Om te lees wat nog nooit gehoor is nie
  • Begrip vir die Dowes
  • Luister met jou oë
    Ontwaak!—1998
  • Waardeer jou dowe broers en susters!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Hoe God vir die dowes sorg
    Nog onderwerpe
  • ‘Jehovah het sy aangesig teenoor hulle laat skyn’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 9/8 bl. 19-23

’n Taal wat jy sien!

HOE het jy jou moedertaal aangeleer? Moontlik deur jou gesin en vriende te hoor praat toe jy nog klein was. Die meeste mense leer ’n taal aan deur dit te hoor en gebruik ’n taal deur dit te praat. Wanneer mense wat kan hoor ’n denkbeeld of idee vorm, oefen hulle woorde en frases wat hulle wil sê spontaan in hulle gedagtes voordat hulle dit uitspreek. Maar wanneer ’n kind doof gebore word, is daar dan ’n ander manier waarop die verstand gedagtes kan vorm? Is daar ’n taal wat idees, abstrak sowel as konkreet, van een persoon na ’n ander kan oordra sonder dat daar ooit ’n geluid gemaak word?

Gesien maar nie gehoor nie

Ons vermoë om ’n taal te praat en aan te pas, is een van die wonders van die menslike verstand. Maar sonder gehoor is dit gewoonlik die werk van die oë, nie die ore nie, om ’n taal aan te leer. Gelukkig is die begeerte om te kommunikeer baie sterk in die mens, en dit stel ons in staat om enige skynbare struikelblok te oorkom. Hierdie behoefte het daartoe gelei dat Dowes regoor die wêreld baie vorme van gebaretaal ontwikkel het. Namate hulle met mekaar in aanraking gekom het, hetsy hulle in Dowe gesinne gebore is of in spesiale skole en in die gemeenskap bymekaargebring is, was die resultaat die ontwikkeling van ’n gesofistikeerde taal wat spesiaal vir die oë ontwerp is—gebaretaal.a

Vir Carl, van die Verenigde State, was hierdie taal ’n geskenk van sy Dowe ouers.b Hoewel hy doofgebore is, kon hy artikels name gee, sinne in gebare maak en abstrakte gedagtes in Amerikaanse Gebaretaal (ASL) uitdruk toe hy nog baie klein was. Die meeste Dowe babas van Dowe ouers wat gebaretaal gebruik, begin hulle eerste gebare op die ouderdom van 10 tot 12 maande maak. In die boek A Journey Into the Deaf-World word daar verduidelik dat “taalkundiges nou erken dat die vermoë om ’n taal natuurlik aan te leer en dit aan ’n mens se kinders oor te dra diep in die brein gesetel is. Hetsy die vermoë tot uiting kom in ’n gebaretaal of in ’n gesproke taal, is nie van belang nie.”

Sweta is as ’n derde geslag in ’n Dowe gesin in Rusland gebore. Sy en haar Dowe broer het Russiese Gebaretaal aangeleer. Toe sy op driejarige ouderdom na ’n kleuterskool vir Dowe kinders begin gaan het, was haar natuurlike vaardigheid in gebaretaal goed ontwikkel. Sweta erken: “Die ander Dowe kinders het nie gebaretaal geken nie en het by my geleer.” Baie van die Dowe kinders het Horende ouers gehad wat nie gebaretaal gebruik het nie. Ouer Dowe kinders het dikwels op skool gebaretaal aan die jongeres geleer, wat hulle in staat gestel het om maklik te kommunikeer.

Vandag leer al hoe meer Horende ouers saam met hulle kinders gebaretaal aan. Die gevolg is dat hierdie Dowe kinders doeltreffend kan kommunikeer voordat hulle skool toe gaan. In Kanada was dit die geval met Andrew, wie se ouers kan hoor. Hulle het gebaretaal aangeleer en dit van kleins af met hom gebruik en sodoende vir hom ’n taalfondament gegee waarop hy in die toekoms kon bou. Nou kan die hele gesin oor enige onderwerp in gebaretaal met mekaar gesels.

Dowes kan gedagtes, abstrak sowel as konkreet, formuleer sonder dat hulle in ’n gesproke taal hoef te dink. Net soos elkeen van ons gedagtes in ons eie taal formuleer, dink talle Dowes in hulle gebaretaal.

’n Verskeidenheid tale

Dowe gemeenskappe het wêreldwyd hulle eie gebaretaal geskep of dele van ander gebaretale oorgeneem. ’n Deel van die woordeskat van die hedendaagse ASL is 180 jaar gelede aan Franse Gebaretaal ontleen. Dit is gekombineer met wat toe reeds in die Verenigde State gebruik is, en dit het tot die hedendaagse ASL ontwikkel. Gebaretale ontwikkel oor baie jare en ondergaan verfyning met opeenvolgende geslagte.

Gebaretale volg gewoonlik nie die sosio-geografiese bewegings van gesproke tale nie. In Puerto Rico word ASL byvoorbeeld gebruik, hoewel daar Spaans gepraat word. Alhoewel Engels in Engeland sowel as die Verenigde State gepraat word, gebruik eersgenoemde Britse Gebaretaal, wat baie van ASL verskil. Mexikaanse Gebaretaal verskil ook van die talle gebaretale van Latyns-Amerika.

Wanneer ’n mens ’n gebaretaal bestudeer, word jy beïndruk deur die ingewikkeldheid daarvan, asook die oorvloed van uitdrukkings. Die meeste onderwerpe, gedagtes of idees kan in gebaretaal uitgedruk word. Gelukkig is daar ’n toenemende neiging om lektuur vir Dowes op videokasset te vervaardig deur natuurlike gebaretaal te gebruik om verhale te vertel, digkuns uit te beeld, geskiedkundige verslae te gee en Bybelwaarheid te leer. In baie lande is geletterdheid in gebaretaal besig om toe te neem.

Om te lees wat nog nooit gehoor is nie

Wanneer Horendes lees, onthou hulle gewoonlik hoe woorde klink. Daarom verstaan hulle baie van wat hulle lees omdat hulle dit al voorheen gehoor het. In die meeste tale word idees wat deur die geskrewe woord verteenwoordig word, nie daardeur beskryf of kom dit nie daarmee ooreen nie. Baie Horendes leer hierdie arbitrêre stelsel of geskrewe kode aan deur dit met klanke van die gesproke taal te assosieer sodat hulle met begrip kan lees. Maar probeer jou net voorstel dat jy nog nooit in jou lewe ’n klank, ’n woord of ’n gesproke taal gehoor het nie! Dit kan moeilik en frustrerend wees om ’n arbitrêre geskrewe kode vir ’n taal aan te leer wat jy nie kan hoor nie. Dit is dus te verstane dat dit vir Dowes ’n groot uitdaging is om so ’n taal te lees, veral vir diegene wat geen gehoor meer het nie of wat nog nooit kon hoor nie!

Baie opvoedkundige sentrums vir Dowe kinders regoor die wêreld het agtergekom dat dit voordele inhou om vroeg tydens die kind se taalontwikkeling gebaretaal te gebruik. (Sien die venster op bladsye 20 en 22.) Volgens hierdie sentrums sal dit vir die Dowe kind wat aan ’n natuurlike gebaretaal blootgestel is en ’n taalkundige fondament ontwikkel het die grondslag wees om akademies en sosiaal beter te presteer, asook om later ’n geskrewe taal aan te leer.

Die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur se kommissie vir die opvoeding van Dowes het gesê: “Dit is nie meer aanvaarbaar om gebaretaal te verwaarloos of om nie aktief aan die ontwikkeling daarvan in opvoedkundige programme vir die dowes deel te neem nie.” Maar daar moet erken word dat die volle deelname van albei ouers aan hulle kind se ontwikkeling van die uiterste belang is, ongeag watter opvoedkundige keuse hulle vir hulle Dowe kind maak.—Sien die artikel “Om met my kind te kommunikeer, het ek ’n ander taal geleer” in die Ontwaak! van 8 November 1996.

Begrip vir die Dowes

Wanneer Dowe kinders Dowe volwassenes word, erken hulle dikwels dat hulle baie graag sou wou hê dat hulle ouers met hulle moes kommunikeer. Toe sy bejaarde moeder sterwend was, het Jack, ’n Dowe man, met haar probeer kommunikeer. Sy het gesukkel om iets vir hom te sê, maar sy was nie in staat om dit neer te skryf nie en sy het nie gebaretaal geken nie. Sy het toe in ’n koma gegaan en later gesterf. Daardie laaste frustrerende oomblikke het Jack bly kwel. Hierdie ondervinding het hom beweeg om ouers van Dowe kinders aan te raai: “As julle goeie kommunikasie en ’n betekenisvolle gesprek oor idees, gevoelens, gedagtes en liefde met julle dowe kind wil hê, gebruik gebaretaal. . . . Dit is te laat vir my. Is dit te laat vir jou?”

Baie het jare lank die ervaring van Dowes verkeerd verstaan. Party was onder die indruk dat die dowes byna niks weet nie omdat hulle niks hoor nie. Ouers was oorbeskermend teenoor hulle Dowe kinders of bang om hulle met die buitewêreld in aanraking te laat kom. In sommige kulture is Dowes al verkeerdelik as “stom” beskryf, hoewel daar gewoonlik niks met ’n Dowe se stem verkeerd is nie. Hulle kan eenvoudig nie hoor nie. Ander het gebaretaal as primitief of ondergeskik aan gesproke taal beskou. Met sulke onkunde is dit geen wonder dat sommige Dowes gevoel het dat hulle onderdruk en misverstaan word nie.

Joseph het as ’n jong kind in die Verenigde State grootgeword en is in die dertigerjare in ’n spesiale skool vir Dowe kinders gesit waar die gebruik van gebaretaal verbied is. Hy en sy klasmaats is dikwels gestraf omdat hulle gebare gebruik het, selfs wanneer hulle nie kon verstaan wat hulle onderwysers sê nie. Hoe het hulle dit tog nie begeer om te verstaan en om verstaan te word nie! In lande waar opleiding vir Dowe kinders beperk is, word party groot met baie min formele opleiding. ’n Ontwaak!-medewerker in Wes-Afrika het byvoorbeeld gesê: “Vir die meeste Dowes in Afrika is die lewe moeilik en ellendig. Van al die gestremdes word die Dowes waarskynlik die meeste verwaarloos en die minste verstaan.”

Almal van ons wil verstaan word. Wanneer party mense ’n Dowe sien, sien hulle ongelukkig net iemand wat “nie kan nie”. Veronderstelde onvermoëns kan die ware vermoëns van ’n Dowe heeltemal verberg. In teenstelling hiermee sien baie Dowes hulleself as mense wat “kan”. Hulle kan vlot met mekaar kommunikeer, selfrespek ontwikkel en op akademiese, sosiale en geestelike gebied presteer. Ongelukkig het die slegte behandeling wat baie Dowes ondervind het daartoe gelei dat sommige van hulle Horendes wantrou. Maar wanneer Horendes opregte belangstelling daarin toon om die Dowekultuur en natuurlike gebaretaal te verstaan en Dowes as mense sien wat “kan”, strek dit almal tot voordeel.

As jy graag ’n gebaretaal wil aanleer, moet jy onthou dat tale die manier weergee waarop ons dink en idees verwerk. Om ’n gebaretaal goed te bemeester, moet ’n mens in daardie taal dink. Dit is waarom jy nie bloot gebare uit ’n gebaretaalwoordeboek kan aanleer as jy werklik doeltreffend in daardie taal wil kommunikeer nie. Waarom leer jy nie by diegene—die Dowes—wat elke dag gebaretaal gebruik nie? As ’n mens ’n tweede taal by moedertaalsprekers leer, help dit jou om op ’n ander, maar natuurlike, manier te dink en idees te verwerk.

Regoor die wêreld verruim Dowes hulle horisonne deur ’n veelsydige gebaretaal te gebruik. Kom kyk self hoe hulle gebaretaal werk.

[Voetnote]

a In hierdie artikels word die terme “Doof/Dowe” en “Horende” nie net gebruik om mense met of sonder ’n gehoorgebrek te identifiseer nie, maar ook om die verskillende kulture en lewenservaringe van die twee gemeenskappe aan te dui.

b Volgens skatting is daar in die Verenigde State alleen ’n miljoen dowes, wat “’n unieke taal en kultuur” het. Hulle is gewoonlik doofgebore. Volgens skatting is daar boonop 20 miljoen mense wat ’n gehoorgebrek het, maar wat hoofsaaklik in hulle moedertaal praat.—A Journey Into the Deaf-World, deur Harlan Lane, Robert Hoffmeister en Ben Bahan.

[Venster op bladsy 20]

“New York gaan dowes gebaretaal leer, dan Engels”

Hierdie opskrif het in The New York Times van 5 Maart 1998 verskyn. Felicia R. Lee het geskryf: “Die stad se enigste openbare skool vir die dowes sal ’n verandering ondergaan wat as ’n mylpaal in die opleiding van dowe leerlinge verwelkom word, aangesien alle onderwysers hoofsaaklik in ’n gebaretaal sal onderrig gee wat op simbole en gebare gebaseer is.” Sy verduidelik dat baie opvoedkundiges “sê dat die primêre taal van dowes volgens navorsing gesien word, en nie gepraat word nie, en dat skole wat hulle voorkeurmetode gebruik, wat Amerikaanse Gebaretaal genoem word, leerlinge beter oplei as ander skole.

“Hulle sê dat dowe leerlinge soos tweetalige leerlinge behandel moet word, nie soos gestremdes nie.”

Professor Harlan Lane, van die Noordoostelike-universiteit, Boston, het gesê: “Ek dink dat [die skool in New York] aan die voorpunt van ’n ontwikkeling is.” Hy het aan Ontwaak! gesê dat dit hulle uiteindelike doel is om Engels as ’n tweede leestaal aan te bied.

[Venster/Prente op bladsy 21]

Dit ís ’n taal!

Party Horendes het verkeerdelik tot die gevolgtrekking gekom dat gebaretaal ’n ingewikkelde vorm van mimiek is. Dit is selfs al beskryf as ’n prentjietaal. Hoewel die gesig, liggaam, hande en omliggende ruimte doeltreffend in gebaretaal benut word, hou die meeste gebare min of geen verband met die gedagtes wat hulle oordra nie. Die gebaar wat byvoorbeeld in Amerikaanse Gebaretaal (ASL) die gedagte van “maak” oordra, is twee gebalde vuiste, met die een vuis bo-op die ander terwyl ’n draaibeweging gemaak word. Hoewel dit ’n algemene gebaar is, is die betekenis nie duidelik vir iemand wat nie gebaretaal ken nie. As jy in Russiese Gebaretaal (RLS) wil sê jy het iets “nodig”, word die begrip oorgedra deur albei hande in parallelle sirkels te beweeg, met elke duim wat aan dieselfde hand se middelvinger raak. (Sien die foto’s op hierdie bladsy.) Baie abstrakte begrippe kan nie met gebare uitgebeeld word nie. Uitsonderings hierop sal daardie gebare wees wat konkrete voorwerpe voorstel en beskrywend kan wees, soos die gebare vir “huis” of “baba”.—Sien die foto’s op hierdie bladsy.

Die gebruik van ’n gestruktureerde woordeskat wat deur ’n gemeenskap aanvaar word, is ’n ander kenmerk van ’n taal. Gebaretaal het so ’n grammatikale struktuur. Die onderwerp van ’n sin in ASL word byvoorbeeld gewoonlik eerste genoem, gevolg deur ’n opmerking daaroor. Chronologiese rangskikking van gebeure is ook ’n basiese kenmerk van baie gebaretale.

Baie gesigsuitdrukkings het ook grammatikale funksies soos om tussen ’n vraag en ’n opdrag, ’n voorwaardelike frase of ’n eenvoudige stelling te help onderskei. Weens die visuele aard van gebaretaal het dit hierdie en baie ander unieke kenmerke ontwikkel.

[Prente]

“Maak” in ASL

“Nodig” in RLS

“Huis” in ASL

“Baba” in ASL

[Venster op bladsy 22]

Ware tale

“In teenstelling met gewilde wanopvattings is gebaretale nie mimiek en handbewegings, uitvindings van opvoedkundiges of simbole van die gesproke taal van die omliggende gemeenskap nie. Dit kom voor waar daar ook al ’n gemeenskap van dowes is, en elkeen is ’n afsonderlike, volledige taal, wat dieselfde soort grammatikale metodes gebruik as wat wêreldwyd in gesproke tale gevind word.”

In Nicaragua “het die skole hulle daarop toegelê om die [dowe] kinders liplees en spraak te leer, en soos in elke geval waar dit probeer is, was die resultate maar sleg. Maar dit het nie saak gemaak nie. Die kinders het op die speelterrein en skoolbusse hulle eie stelsel van gebare ontwikkel . . . Kort voor lank het die stelsel gevestig geraak in wat nou die Lenguaje de Signos Nicaragüense genoem word.” ’n Jonger geslag dowe kinders het nou ’n vlotter taal ontwikkel wat Idioma de Signos Nicaragüense genoem word.—The Language Instinct, deur Steven Pinker.

[Prente op bladsy 23]

Dit is een manier om in ASL te sê: “Nadat hy winkel toe gegaan het, het hy werk toe gegaan”

1 Winkel

2 hy

3 gaan na

4 klaar

5 gaan na

6 werk

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel