Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 9/8 bl. 14-18
  • Brasília—Jonk, anders en vinnig aan die groei

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Brasília—Jonk, anders en vinnig aan die groei
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Lang voorspel
  • ’n Wedstryd en ’n plan
  • ’n “Vliegtuig” in die stof
  • Van tente tot beton
  • Die eerste en enigste
  • Panoramiese uitsig
  • Waarom jy nie kan verdwaal nie
  • Groeipyne
  • “Die hart van Brasilië”?
  • “Die stad wat ware fondamente het”
    Ontwaak!—1994
  • “Op ’n reis deur al die stede”
    Ontwaak!—1994
  • Die dramatiese geskiedenis van ’n “land van kontraste”
    Ontwaak!—2000
  • Getuieniswerk in Brasilië
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 9/8 bl. 14-18

Brasília—Jonk, anders en vinnig aan die groei

Deur Ontwaak!-medewerker in Brasilië

WAAR in die wêreld kan jy die ontwerper skakel wat die oorspronklike planne vir jou land se hoofstad opgestel het? Waar kan jy die argitek ontmoet wat die hoofstad se eerste regeringsgeboue ontwerp het en oor die konstruksie daarvan toesig gehou het? En waar kan jy deur die hoofstad stap en met sekerheid weet dat enigiemand ouer as 40 wat jy sien nie daar gebore is nie? In Brasília, die hoofstad van Brasilië—’n jong, unieke stad wat verdien om van naderby beskou te word.a

’n Lang voorspel

Dit duur ongeveer een en ’n half uur om van Sao Paulo na Brasília te vlieg. Gemaklike busse lê die reis in sowat 12 uur af. Ek het die busrit gekies. Dit het my genoeg tyd gegee om oor die stad se geskiedenis te lees.

Sedert die tyd van die eerste georganiseerde opstand teen die Portugese bewind aan die einde van die 18de eeu was daar nog altyd die begeerte om ’n nuwe hoofstad in Brasilië te bou. Kort ná Brasilië se onafhanklikheid in 1822 het die Brasiliaanse staatsman José Bonifácio de Andrada e Silva voorgestel dat hierdie toekomstige hoofstad Brasília genoem moet word, ’n naam wat 17de-eeuse kartograwe reeds vir die hele land gebruik het.

In 1891 het die land se nuwe grondwet bepaal dat grasvlaktes van 14 000 vierkante kilometer op die Sentrale Hooglandvlakte afgebaken moet word. Daar, ongeveer 1000 kilometer van die kus af, moes die nuwe hoofstad gebou word. Politici het geredeneer dat dit die ontwikkeling van die land se enorme binneland sou bevorder as die hoofstad van Rio de Janeiro af na die binneland verskuif word. Maar nog 50 jaar het verloop sonder dat enigiets gedoen is. Uiteindelik het Brasília se lang voorspel in 1955 geëindig, en ’n aksiebelaaide aanvangshoofstuk sou kort daarna begin.

’n Wedstryd en ’n plan

Daardie jaar het ’n kandidaat vir die presidentskap, Juscelino Kubitschek, plegtig belowe dat, indien hy verkies word, die nuwe hoofstad ’n werklikheid sou word voordat sy termyn van vyf jaar as president verstreke was. In April 1956 is Kubitschek verkies.

’n Paar maande tevore het die regering ’n wedstryd aangekondig: Argitekte, ingenieurs en stadsbeplanners in Brasilië is genooi om ’n plan vir die uitleg van die nuwe hoofstad te ontwerp. Binne ’n paar maande het 26 kandidate hulle weergawe van die ideale hoofstad ingestuur. In Maart 1957 het ’n internasionale jurie die wenner aangekondig: die stadsbeplanner Lúcio Costa.

In teenstelling met die ander kandidate se inskrywings het Costa s’n bestaan uit ’n paar sketse en ’n hand vol bladsye waarop die teks in gewone skrif gekrabbel is—’n hele stad in ’n bruin koevert! Hy het die jurie om verskoning gevra vir die kort uiteensetting, maar het bygevoeg: “As dit nie geskik is nie, is dit maklik om daarvan ontslae te raak, en ek het dan nie my tyd of iemand anders s’n gemors nie.” Die jurie het egter van sy plan gehou en gesê dat dit “duidelik, direk en in wese eenvoudig” is. Wat het sy plan behels, en hoe het dit ’n stad van beton geword?

’n “Vliegtuig” in die stof

’n Goeie manier om uit te vind, is om die Museu Vivo da Memória Candanga (Museum van Candango-herinneringe) te besoek. Aangesien die museum in die gebou is wat die hoofstad se eerste hospitaal was, is dit in werklikheid die wieg van Brasília. Die eerste babas wat 40 jaar gelede in Brasília gebore is, het hulle lewe hier begin. Vandag bevat die eertydse hospitaal egter die verhaal van Brasília se geboorte en kinderjare. Dit is ’n verhaal, sê een museumuitstalling, van “Stof, tente en beton”.

Laureti Machado, ’n museumpersoneellid, neem my eers deur die “stof”-tydperk. Sy gaan staan voor ’n foto, wat in 1957 geneem is, van twee grondpaaie wat deur ’n savanne loop en in die middel van nêrens ’n kruising vorm. “Hierdie foto”, sê sy, “beeld die heel eerste stap van die stad se konstruksie uit.” As ons dan na Costa se sketse kyk, sien ons hoe die stadsbeplanner een van hierdie paaie gebuig het sodat die vorm van ’n vliegtuig uit die stof ontstaan het toe die werkers, wat candangosb genoem word, later hierdie boog in die savanne uitgekap het.

Daardie buitengewone vorm bly Brasília se uitleg: ’n Vliegtuig met sy stuurkajuit wat na die ooste toe wys en sy geboë vlerke wat noord en suid uitstrek. Die geboue waarin die drie afdelings van die regering is, vorm die stuurkajuit, die sakegebied maak die romp uit en die woongebied vorm die vlerke.

Van tente tot beton

Die museum se “tent”- en “beton”-afdelings vertel hoe werkers van oor die hele Brasilië hulle besittings verkoop het om na die bouterrein te reis. ‘My vader het ’n vragmotor gekoop, ons hele familie—meer as 20 mense—opgelaai en 19 dae gery om hier te kom’, sê ’n werker wat in Augustus 1957 hier aangekom het. Ander het per bus of ossewa gereis of geryloop. Altesaam 60 000 werkers het opgedaag.

Hierdie menigte konstruksiewerkers, wat in tente gewoon het, was broodnodig omdat 21 April 1960 vasgestel is as die datum vir die inwyding van die stad. Dit het beteken dat ingenieurs, tegnici en konstruksiewerkers ’n hoofstad binne 1000 dae moes bou—’n ontsaglike taak! En tog het die werkers dit reggekry om die projek voor die inwydingsdag te voltooi. Die wêreld se jongste hoofstad het uit die stof van die savanne verrys.

Die eerste en enigste

Die kantoor van die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur (UNESCO) in Brasília is steeds vol bewondering vir die stad en sy bouers. “Daar bestaan geen ander stadsplan wat so getrou uitgevoer is soos Costa se plan nie”, sê UNESCO se kulturele attaché, dr. Briane E. Bicca, vir my. “Dit is een rede waarom Brasília die wêreld se eerste en enigste 20ste-eeuse stad is wat op UNESCO se Wêrelderfenislys is.”c

Brasília is ook die enigste stad op daardie lys wat nog in aanbou is. Dit bied ’n uitdaging, sê dr. Bicca. “Hoe kan ons die oorspronklike stadsplan behou terwyl die stad verander?” Selfs toe die argitek Lúcio Costa al in sy negentigerjare was, het hy hom nog daarvoor beywer. Hy het ’n ogie oor nuwe bouprojekte gehou en seker gemaak dat hulle nie sy uitleg skend nie. Toe Costa byvoorbeeld uitgevind het van planne om spoorweë in Brasília te bou, het hy daarop aangedring dat die treine ondergronds loop.

Panoramiese uitsig

Dit is tyd vir ’n toer van die stad. Selfs al is jy iemand wat die stad vir die eerste keer besoek, sal jy nie sukkel om jou pad te vind nie. Daar is twee hoofstrate, en die stad se busterminus is geleë by die punt waar hierdie strate kruis. Een straat loop van wes na oos (van die “vliegtuig” se stert na die stuurkajuit) en verleen toegang tot hotelle, teaters, banke en winkels. Die ander een loop van noord na suid (van die een vlerkpunt na die ander) en neem jou deur die woongebiede.

Die beste plek om te sien hoe Brasília lyk, is van die Televisietoring af, ’n 224 meter hoë struktuur wat in die romp van die vliegtuig net agter die vlerke geleë is. Die gratis rit in die hyser lig jou 75 meter bo die grond en gee jou ’n panoramiese uitsig van die middestad, wat Plano Piloto genoem word. Terwyl jy uitkyk oor die stad se uitgestrekte grasperke, wat lyk asof dit tot aan die horison strek, word jy getref deur Brasília se ruimheid. Trouens die landskapargitek Roberto Burle-Marx het Brasília se parke en grasperke so ruim uitgelê dat die stad daarop aanspraak maak dat dit meer groen ruimte per inwoner het as enige ander hoofstad in die wêreld.

Na die ooste is daar ’n wye, grasryke wandelpad met ’n teerpad aan elke kant. Langs die paaie staan 17 identiese geboue. In elkeen van hierdie vierkantige geboue is daar ’n ander staatsdepartement. Aan die einde van die wandelpad is Brasília se kenteken: twee identiese koepels, een regop en een onderstebo, wat aan die voet is van twee 28 verdieping hoë geboue vir die Nasionale kongres, Brasilië se wetgewende liggaam.

Die vorm van die Nasionale kongresgebou laat jou dalk dink aan die hoofkwartier van die Verenigde Nasies in New York—en nie sonder rede nie. Een van die argitekte wat ’n aandeel aan die beplanning van die VN-geboue gehad het, was Oscar Niemeyer—dieselfde Brasiliaanse argitek wat hierdie Nasionale kongresgebou en byna al Brasília se ander vernaamste geboue ontwerp het. Party van sy beste ontwerpe, soos die Buitelandse sakegebou (Palacio Itamaraty) en die gebou van die Departement van Justisie (Palacio da Justiça), staan naby die twee geboue van die Nasionale kongres.

Waarom jy nie kan verdwaal nie

Brasília is egter meer as net ’n argitektoniese park. Dit is ook ’n goed georganiseerde tuiste vir duisende mense. Terwyl ons deur die stad se woongebied ry, sê Paulo, ’n regsgeleerde wat in Brasília woon: “Die meeste mense wat na Brasília toe trek, vind hierdie ordelikheid ’n welkome verandering van die stedelike chaos waaraan hulle in ander stede gewoond was”.

Brasília se inwoners woon in woonstelgeboue. So ’n groep geboue wat om ’n binnehof gebou is, vorm ’n superblok. Rye superblokke vul die stad se noordelike en suidelike vleuels. Huisadresse kan maklik opgespoor word. “N-102-L” word byvoorbeeld in die stad se noordelike vleuel, superblok 102, woongebou L gevind. En as jy onthou dat bloknommers groter word (van 102-116) namate jy na die vlerkpunt toe ry, kan jy beslis nie ’n fout begaan nie.

Ten einde orde met huislikheid te kombineer, is woongeboue nie hoër as ses verdiepings nie. Op dié manier, het senhor Costa gesê, is ’n kind wat in die binnehof speel binne hoorafstand wanneer sy moeder hom van haar woonstelvenster af roep: “Manoel, vem cá!” (Manuel, kom hier!)

Groeipyne

Hoewel Brasília daarop trots is dat dit ’n stad is wat volgens plan gebou is, het die stad se ontwerp die werkers oor die hoof gesien wat Brasília gebou het. Daar is aangeneem dat die werkers, ná die stad se inwyding, hulle hamers en troffels sou optel en sou terugkeer na waar hulle vandaan gekom het. Maar dit spreek vanself dat die werkers nie wou terugkeer na ’n gebied sonder hospitale, skole of werkgeleenthede nie. Hulle het verkies om in Brasília te bly—maar waar?

Hulle kon nie die hoë huur bekostig van die woonstelle wat hulle gebou het nie; dus het hulle hulle om Brasília se groen gordel gevestig. Kort voor lank het verskeie stede groter as Brasília verrys. Vandag woon net 400 000 mense in die beplande stad, en talle woonstelle staan leeg; maar byna 2 miljoen inwoners het hulle in die onbeplande satellietdorpe gevestig. Ten spyte van die doel van die stadsplan om gelykheid te bewerkstellig, het verskille in inkomste die bevolking in heeltemal afsonderlike stede verdeel.

’n Onvoorsiene bevolkingsontploffing en klasseskeiding bevorder weer misdaad en ander sosiaal-ekonomiese probleme wat in enige stad iets algemeens is. Brasilië se jong hoofstad ondervind groeipyne. Goed georganiseerde strate en nuwe idees in argitektuur is klaarblyklik nie genoeg om mense se harte en gedrag te verander nie.

“Die hart van Brasilië”?

Reklameborde langs die snelweg om Brasília herinner inkomende reisigers daaraan dat hulle nou “Die hart van Brasilië” binnegaan. Die leuse is in sekere opsigte waar: Hoewel Brasília nie die land se geografiese middelpunt is nie, is dit byna ewe ver van al die groot stede in die land. Maar wat van die dieper betekenis van daardie leuse? Is Brasília werklik in wese Brasiliaans? Menings verskil. Slegs ’n besoek aan hierdie unieke stad kan daardie vraag vir jou beantwoord. Onthou egter dat jy nie Brasília te gou moet oordeel nie. Gee die stad ’n kans om sy kleure te wys, want, soos een inwoner gesê het: “Brasília seduz gradualmente.” (Brasília bekoor geleidelik.)

[Voetnote]

a Die ontwerper, Lúcio Costa, is in Junie 1998 op die ouderdom van 96 oorlede, kort nadat hierdie artikel geskryf is.

b ’n Woord wat in Angola ontstaan het (voorheen deur die Afrikane gebruik om die Portugese te beskryf) en ’n naam vir Brasília se konstruksiewerkers geword het.

c Hierdie lys, wat deur UNESCO saamgestel word, meld 552 plekke regdeur die wêreld wat ’n “unieke natuurlike en kulturele waarde” het.

[Prent op bladsy 15]

’n Verhaal van “Stof, tente en beton”

[Erkenning]

Arquivo Público do Distrito Federal

[Prent op bladsy 15]

Optog van die “candangos”

[Erkenning]

Arquivo Público do Distrito Federal

[Prent op bladsy 16, 17]

Panoramiese uitsig van Brasília

1. Staatsdepartemente

2. Kongreskantoorgeboue

3. Hooggeregshof

4. Plein van die Drie Magte

5. Uitvoerende kantoor

[Erkenning]

Secretaria de Turismo, Brasília

[Prent op bladsy 18]

Kampioen onder die wêreld se hoofstede wat groen ruimte betref

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel