Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 8/8 bl. 5-7
  • Moet ons die verlede onthou?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet ons die verlede onthou?
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kan ’n wet ’n mens laat vergeet?
  • Diegene wat graag die herinnering wil uitwis
  • Hulle vergeet nie
  • Waarom onthou?
  • Vergewe en vergeet is dit moontlik?
    Ontwaak!—1998
  • Gruweldade—Wat is God se oplossing?
    Ontwaak!—1998
  • Hoe om jou geheue te verbeter
    Ontwaak!—1992
  • Jehovah se Getuies en die Nazi-slagting – Wat sê die Bybel?
    Nog onderwerpe
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 8/8 bl. 5-7

Moet ons die verlede onthou?

“KAN die Jode die Slagting vergeet?” Hierdie vraag is geopper deur Virgil Elizondo, president van die Mexikaans-Amerikaanse Kultuursentrum in San Antonio, Texas. Dit herinner ons daaraan dat die gruweldade wat in hierdie eeu plaasgevind het ’n onuitwisbare indruk op die mensdom se geheue kan laat. Die volksmoord van die Armeniërs (1915-23) en die massaslagting van Kambodjane (1975-79) moet ook by die gruweldade van die 20ste eeu ingesluit word. Selfs dan is die lys beslis nie volledig nie.

In ’n poging om versoening tussen slagoffers en hulle folteraars te bevorder, het godsdiens- en politieke leiers mense al by geleentheid gevra om die gruweldade wat hulle verduur het te vergeet. Dit het byvoorbeeld in 403 v.G.J. in Atene, Griekeland, gebeur. Die stad het kort tevore die einde gesien van die onderdrukkende diktatorskap van die Dertig Tiranne, ’n oligargie wat byna al sy teenstanders, party selfs fisies, verwyder het. Die nuwe regeerders wou burgerlike harmonie herstel deur ’n amnestie (van ’n Griekse woord wat “vergetelheid” of “geneig om te vergeet” beteken) vir die ondersteuners van die vorige tirannie uit te vaardig.

Kan ’n wet ’n mens laat vergeet?

Dit kan betreklik maklik wees om ’n wet uit te vaardig om die herinnering aan gruweldade wat teenoor die onskuldiges gepleeg is te probeer uitwis. Heersers kan besluit om dit te doen weens politieke voordeel, soos wat in eertydse Griekeland en in verskeie Europese lande aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog die geval was. In Italië het ’n wetlike bepaling in 1946 byvoorbeeld amnestie aan meer as 200 000 burgers verleen “wat direk of indirek medepligtig was aan die misdade van die Fascistiese regime”, het die koerant La Repubblica gesê.

Maar die besluite van regerings of openbare instellings is een ding. Die gevoelens van die individuele lede van ’n gemeenskap is iets heeltemal anders. Dit is nie moontlik om individuele burgers—moontlik die weerlose slagoffers van wreedaardige konflikte, slagtings of ander wreedhede—deur middel van ’n wetlike bepaling te dwing om vorige lyding te vergeet nie.

Meer as ’n honderdmiljoen mense het in die oorloë van net hierdie eeu gesterf, baie ná onbeskryflike lyding. As ons almal sou bytel wat in slagtings in vredestyd doodgemaak is, sou die gruweldade ontelbaar wees. Baie mense doen groot moeite om te verseker dat nie een van hierdie gruweldade vergeet word nie.

Diegene wat graag die herinnering wil uitwis

Diegene wat slagoffers van gruweldade of hulle nakomelinge aanspoor om te vergewe en te vergeet, beweer dikwels dat dit net verdeeldheid veroorsaak as mense die verlede onthou, veral as dekades al verstryk het. Hulle sê dat dit mense verenig as hulle vergeet, terwyl ’n mens nie die geskiedenis ongedaan kan maak deur dit te onthou nie, hoe tragies die lyding ook al was.

Maar in ’n poging om mense te laat vergeet, het party sover gegaan om die werklikheid van die verskriklikste misdade wat teen die mensdom gepleeg is te ontken. Party, wat ondersteun word deur selfgenoemde revisionistiese geskiedkundiges, beweer byvoorbeeld dat daar nooit ’n Slagting was nie.a Hulle het selfs toere na voormalige uitwissingskampe, soos Auschwitz of Treblinka, gereël en vir die besoekers gesê dat gaskamers nooit op daardie plekke bestaan het nie—en dit ten spyte van talle ooggetuies en oorvloedige bewyse en dokumentasie.

Hoekom vind sulke vals revisionistiese idees byval in sekere kringe? Omdat party verkies om hulle eie verantwoordelikheid en dié van hulle eie mense te vergeet. Waarom? Weens nasionalisme, hulle eie ideologie of anti-Semitiese of ander soortgelyke gevoelens. Sodra gruweldade vergete is, redeneer revisioniste, verdwyn verantwoordelikheid. Maar baie mense is sterk gekant teen hierdie onverantwoordelike revisioniste, wat deur een Franse geskiedkundige “sluipmoordenaars van die geheue” genoem word.

Hulle vergeet nie

Dit is uiteraard vir oorlewendes baie moeilik om geliefdes te vergeet wat in oorlog of in gruweldade omgekom het. Maar die meeste van diegene wat slagtings en volksmoorde wil onthou, doen dit omdat hulle hoop dat die lesse wat uit hulle eie lyding en die lyding van hulle geliefdes geleer word nuttig sal wees om enige herhaling van sulke wreedaardigheid te vermy.

Die Duitse regering het dus besluit om die herdenking te vier van die ontdekking van gruwels wat deur die Nazi’s in die Auschwitz-konsentrasiekamp gepleeg is. Volgens die president van Duitsland is die oogmerk hiervan dat “dit as waarskuwing sal dien vir toekomstige geslagte as ons onthou”.

Pous Johannes-Paulus II het eweneens op die 50ste herdenking van die einde van die Tweede Wêreldoorlog gesê: “Namate die jare verbygaan, moet die herinneringe van die Oorlog nie vervaag nie; dit moet eerder ’n ernstige les word vir ons geslag en vir toekomstige geslagte.” Daar moet nietemin gesê word dat die Katolieke Kerk nie altyd konsekwent is wanneer dit kom by die gruweldade en die slagoffers van daardie jare wat onthou moet word nie.

’n Aantal museums—soos die Slagtingsgedenkmuseum in Washington, DC, en die Beit Hashoah-museum van Verdraagsaamheid in Los Angeles—is opgerig sodat nuwe geslagte ook ’n les uit die volksmoorde van hierdie en ander eeue kan leer, en daardeur gewaarsku kan word. Om dieselfde rede is roerende dokumentêre en ander rolprente oor hierdie onderwerp vervaardig. Dit alles is ’n poging om te voorkom dat die mensdom vergeet hoe mense deur ander se toedoen gely het.

Waarom onthou?

“Diegene wat nie die verlede kan onthou nie, is gedoem om dit te herhaal”, het die Spaans-Amerikaanse filosoof George Santayana geskryf. Ongelukkig lyk dit of die mensdom deur die millenniums heen gou sy eie verlede vergeet en homself dus doem om dieselfde pynlike foute oor en oor te begaan.

Die lang en afgryslike reeks massaslagtings deur die mens beklemtoon die feit dat dit ’n algehele mislukking is vir een mens om oor ander mense te heers. Waarom is dit so? Omdat mense voortdurend dieselfde basiese fout herhaal het—hulle het God en sy wette verwerp (Genesis 3:1-6; Prediker 8:9). En vandag, net soos dit in die Bybel voorspel is, doen ’n “verdraaide geslag” dieselfde en maai hulle die gevolge.—Filippense 2:15; Psalm 92:8; 2 Timoteus 3:1-5, 13.

Aangesien ons in ons bespreking van die Skepper, Jehovah, melding gemaak het, wat is dan sy beskouing? Wat vergeet hy en wat onthou hy? Kan die pynlike herinneringe aan die gruweldade wat deur die mens gepleeg is ooit uitgewis word? Sal “die slegtheid van die goddeloses . . . tot ’n einde kom”?—Psalm 7:9, NW.

[Voetnoot]

a Sien asseblief die artikel “Die Slagting—Ja, dit het werklik plaasgevind!”, wat in die Ontwaak! van 8 April 1989, bladsye 4-8, verskyn, vir meer inligting oor die valsheid van die argumente van revisionistiese geskiedkundiges.

[Lokteks/Prente op bladsy 7]

“Diegene wat nie die verlede kan onthou nie, is gedoem om dit te herhaal.”—George Santayana

Krematorium en oond by Auschwitz-konsentrasiekamp

[Erkenning]

Oświęcim Museum

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel