Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 8/8 bl. 3-5
  • Vergewe en vergeet is dit moontlik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vergewe en vergeet is dit moontlik?
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verstandelike en emosionele wonde
  • Wat moet ons doen?
  • Moet ons die verlede onthou?
    Ontwaak!—1998
  • Gruweldade—Wat is God se oplossing?
    Ontwaak!—1998
  • Hoe was die wêreld 50 jaar gelede?
    Ontwaak!—1995
  • Vandag se wrede wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 8/8 bl. 3-5

Vergewe en vergeet is dit moontlik?

MEER as ’n halfeeu het sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945 verstryk. Daardie wêreldwye oorlog was verreweg die wreedste en duurste oorlog in die ganse mensegeskiedenis.

Die Tweede Wêreldoorlog het ses jaar geduur en die lewens van sowat 50 miljoen mense, met inbegrip van burgerlikes, geëis. Tallose ander is vermink en onherstelbare verstandelike en emosionele skade aangedoen. Vir baie wat daardie rampspoedige oorlogsjare beleef het, het die pynlike herinneringe aan gruweldade wat gepleeg is en aan geliefdes wat hulle aan die dood afgegee het nog nie vervaag nie.

Daar is die herinneringe aan die gruweldade wat die Nazi’s gedurende die Slagting gepleeg het, met miljoene onskuldige slagoffers wat vermoor is. In Europa sowel as Asië is baie gruweldade deur invallende leërs gepleeg, wat burgerlikes vermoor, verkrag, beroof en geterroriseer het. Dan was baie mense ook slagoffers van lugaanvalle wat verwoesting, beserings en die dood van tallose onskuldige mans, vrouens en kinders veroorsaak het. Miljoene vegters op verskeie slagvelde regoor die aarde het ook verskriklike ondervindinge deurgemaak.

Verstandelike en emosionele wonde

Baie van die verstandelike en emosionele wonde wat mense opgedoen het as gevolg van die verskriklike gebeure gedurende die Tweede Wêreldoorlog het ’n onuitwisbare letsel gelaat op die verstande van ’n groot aantal mense wat destyds gelewe het en wat vandag nog lewe. Hulle sou graag al daardie verskriklike, bitter herinneringe wou uitwis. Maar hulle kan nie. Vir party keer die beelde van sulke gruwels terug, en dit martel hulle soos ’n terugkerende nagmerrie.

Maar ander wil nie vergeet nie, omdat hulle wil hê dat wraak geneem moet word of omdat hulle die nagedagtenis van die gesneuweldes in ere wil hou. Daarbenewens meen baie mense dat vorige gruweldade in die geheue van die mensdom bewaar moet word in die hoop dat sulke gruweldade nooit herhaal sal word nie.

’n Paar jaar gelede, gedurende 1994-95, het die stemming gedurende die vierings van die 50ste herdenkings van D-dag (toe die Geallieerdes in Junie 1944 in Normandië geland het) en van die einde van die Europese fase van die Tweede Wêreldoorlog (in Mei 1945) getoon dat dit vir baie ooggetuies van daardie gebeure baie moeilik is om te vergewe en te vergeet. Enige gebaar van versoening tussen voormalige vyande word dikwels reeds vooraf uitgesluit. Britse veterane het dus geweier om Duitse verteenwoordigers na herdenkings van die Geallieerdes se landing in Normandië te nooi.

Aangaande die gruweldade wat die Nazi’s gedurende die Tweede Wêreldoorlog gepleeg het en hoe moeilik dit is om te vergewe en te vergeet, het Wladimir Jankéléwitsj hom so uitgespreek: “Wat so ’n weersinwekkende misdaad betref, is die natuurlike neiging . . . om woedend te wees en met hart en siel daarteen te stry om te vergeet en om die misdadigers tot by die uithoeke van die aarde te agtervolg—soos die regters van die geallieerde Neurenbergse Tribunaal belowe het.” Dieselfde skrywer het voorts gesê: “Ons sou met graagte die woorde van die gebed wat Jesus in die Evangelie volgens sint Lukas tot God gerig het, omstel en sê: Here, moet hulle nie vergewe nie, want hulle weet wat hulle doen.”—Vergelyk Lukas 23:34.

Ongelukkig het tallose ander gruweldade—in Kambodja, Rwanda, Bosnië, om maar net ’n paar te meld—van 1945 af tot nou toe aangehou om die aarde met bloed te bevlek. Hierdie gruweldade het die dood van miljoene veroorsaak, asook ’n groot aantal weduwees en wese agtergelaat, lewens verwoes en mense met verskriklike herinneringe gelaat.

Hierdie 20ste eeu was ongetwyfeld ’n tyd van ongeëwenaarde wreedheid. Dit is net soos Bybelprofesieë lank gelede akkuraat oor hierdie era voorspel het—mense is “wreedaardig” en “sonder liefde vir goedheid”.—2 Timoteus 3:1-5; Openbaring 6:4-8.

Wat moet ons doen?

Mense reageer verskillend wanneer hulle voor sulke barbaarsheid te staan kom. Maar wat van ons? Moet ons onthou? Of moet ons vergeet? Beteken om te onthou dat jy ’n bitter, diepgewortelde wrok koester teenoor jou voormalige vyande en weier om hulle te vergewe? Beteken om te vergewe daarenteen dat jy kan vergeet in die sin dat jy slegte herinneringe heeltemal uitwis?

Wat dink die mensdom se Skepper, Jehovah God, van die verskriklike misdade wat in ons tyd en in die verlede gepleeg is? Sal hy die skuldiges vergewe? En is dit nie te laat vir God om vergoeding te doen aan diegene wat weens gruweldade gesterf het nie? Is daar enigsins grondige rede om te hoop dat gruweldade ooit sal eindig, aangesien dit al duisende jare lank plaasvind? Presies hoe gaan die almagtige God uiteindelik hierdie ingewikkelde sake regstel?

[Prent op bladsy 4]

Kinders van slagoffers van die slagting kom in die vlugtelingkamp bymekaar

[Erkenning]

UN PHOTO 186797/J. Isaac

[Foto-erkenning op bladsy 3]

U.S. Navy photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel