Kalkutta—florerende stad van kontraste
Deur Ontwaak!-Medewerker in Indië
VIR die Britse skrywer Rudyard Kipling was dit die “stad van verskriklike nag”, “die stampvol en verpestelike stad”. Maar vir die beroemde Oerdoe digter Mīrzā Ghālib was dit “so ’n verkwikkende stad”, “daardie hemelse stad”. Die skrywer Dominique Lapierre het gedink dat elke besoek aan die stad “’n nuwe betowerende ondervinding” was, terwyl Peter T. White, wat vir National Geographic skryf, ander aangehaal het wat daarna verwys as “verskriklik, afskuwelik, skrikwekkend. Die wêreld se grootste krotbuurt.” Kalkutta (Bengali, Kalikata) is ongetwyfeld ’n stad van kontraste.
Stigting van die stad
Kalkutta, wat aan die noordoostelike kus van Indië in die deelstaat Wes-Bengale geleë is, was nie ’n deel van Indië se verre verlede nie. In vergelyking met stede soos Delhi en Thanjāvūr is dit ’n jong stad. Soos dit so dikwels die geval met stede is, het die ontstaan van Kalkutta om ’n rivier, die groot Ganges, gedraai. Naby die Golf van Bengale verdeel die Ganges in twee sytakke en dan in nog baie ander om die grootste delta in die wêreld te vorm. Die westelike kant van die delta is die rivier wat vroeër as die Bhagirathi-Ganga, later die Hooghly, bekend gestaan het en wat suidwaarts in die see uitmond.
In die 15de en 16de eeu het Portugese, Nederlandse en Britse handelaars met die Hooghlyrivier opgevaar en, met die toestemming van plaaslike heersers, handelsposte gestig. Job Charnock, ’n offisier van die Engelse Oos-Indiese Kompanjie, het die dorp Sutanuti as ’n handelsentrum gekies. Ná ’n paar terugslae het hy Sutanuti binnegevaar, en deur ook die dorpe Govindpur en Kalikata te betrek, het hy die grondslag gelê om eerder ’n Britse kolonie as net ’n handelspos te stig. Dit was 24 Augustus 1690. Kalkutta is gebore!
Die Britte het in 1698 die huurreg wetlik verkry, en tot 1757 het hulle huur aan die Mogolheersers betaal. Die Britte het Fort William gebou om militêre beskerming aan die ontwikkelende stad te verleen. Handelaars, wat die veiligheid van Fort William ondervind het, het groot herehuise begin bou. Teen daardie tyd was die bevolking van die dorp en omliggende dorpe 400 000, en weens die handel het byna 50 skepe per jaar met die Hooghlyrivier opgevaar.
Die Swart Gat van Kalkutta
In 1756 het ’n voortvarende, jong plaaslike heerser, Sirāj-ud-Dawlah van Bengale, Kalkutta aangeval. Die meeste van die inwoners het gevlug, maar sommige Europeërs, wat in Fort William gaan skuil het, het hulle oorgegee en is in die bloedige hitte van Junie in ’n klein tronk gevange gehou. Die volgende dag het hulle gevind dat baie van die gevangenes versmoor het. Die tronk het as die Swart Gat van Kalkutta bekend geword.
Hierdie voorval het die Oos-Indiese Kompanjie woedend gemaak, en in 1757 het Robert Clive ’n Britse troepemag gelei om die stad te herower. Daar word gesê dat die daaropvolgende slag van Plassey die begin van Britse oorheersing in Indië was. En die uitwerking op Kalkutta? In 1773 het dit die hoofstad van Brits-Indië geword, en dit het tot in 1911 die hoofstad gebly.
Kalkutta word opgeknap
Namate groot rykdom die stad ingestroom het, is pragtige geboue opgerig, wat aan Kalkutta die naam Stad van Paleise besorg het. Breë paaie is gebou, en museums en biblioteke is gestig. Baie van die indrukwekkende geboue wat vandag nog bestaan, is ’n bewys hiervan.
Ná 190 jaar van Britse heerskappy het Indië in 1947, onder leiding van Mohandas Gandhi en Jawaharlal Nehru, sy onafhanklikheid verkry, en daarmee saam het verdeling gekom. Onder Mohammed Ali Jinnah is die Moslemstaat Pakistan (Oos- en Wes-Pakistan) gevorm. Toe, in 1971, het Oos-Pakistan Bangladesj geword. Hierdie gebeure het daartoe gelei dat groot getalle vlugtelinge na Kalkutta gestroom het; vandag het die metropolitaanse gebied ’n bevolking wat op meer as 12 000 000 geskat word.
Die skielike instroming van soveel mense sonder ’n manier om hulleself te onderhou, het tot geweldige probleme gelei. ’n Tekort aan behuising het beteken dat letterlik miljoene mense in die armste krotbuurte gewoon het, in huise wat van karton en goiing gemaak is, met min of geen sanitasie, elektrisiteit of water nie. Duisende ander het op straat gebly. In 1967 het nege internasionale stadsbeplanners wat oor die stand van sake in Kalkutta verslag gelewer het, gesê dat die stad besig was om “baie vinnig af te stuur op die ineenstorting van sy ekonomie, behuising, sanitasie, vervoer en die noodsaaklike lewensmiddele”. Die toekoms het maar donker gelyk.
Ten einde meer behuising beskikbaar te stel, veral vir lae-inkomstegroepe, is ’n uitgestrekte soutpan drooggelê. Navigasie op die rivier is ook verbeter deur slyk uit die rivier te bagger om die pan op te vul.
In die vroeë negentigerjare is groot internasionale beleggings in Indië gemaak, en Kalkutta wou nie buite rekening gelaat word nie. Gevolglik is daar op groot skaal begin skoonmaak. Krotbewoners is buitekant die stad hervestig, vullis is gebruik om elektrisiteit op te wek en kunsmis te vervaardig, en daar is ’n verbod geplaas op voertuie wat die lug besoedel sowel as op opelugoonde wat rook maak. Paaie is breër gemaak, en winkelsentrums is gebou. Groepe inwoners het opgeruim en geskrop en geverf. Kalkutta is van ’n dreigende ramp gered en het weer nuwe lewe gekry—in so ’n mate dat die eens ‘sterwende’, ‘rampspoedige’ stad weer geskitter het. In 1997 het ’n verslag oor voordele en munisipale geriewe Kalkutta ver bo Indië se ander groot stede op die lys geplaas.
Handelshoofstad
Met vlugtelinge uit naburige lande, immigrante van ander Indiese state, die plaaslike Bengalese en die Chinese en Armeniërs wat al lank daar woon, het die hoofstad ’n mengelmoes van tale, kulture, godsdienste en kossoorte geword. Wat het al hierdie miljoene mense na Kalkutta laat kom? Die handel! Skepe van alle wêrelddele het na hierdie hawe gekom waar die Ooste en die Weste ontmoet. Uitvoergoedere het salpeter, goiing, tee, suiker, indigo, katoen en sy ingesluit. Oor land, per spoor en per skip het groot hoeveelhede goedere Kalkutta binnegekom en verlaat. Ná onafhanklikheidswording het groot yster- en staalgieterye ontstaan, en waardevolle minerale is vir binnelandse gebruik en uitvoerdoeleindes ontgin.
Die hawe was die grondslag vir die groei van die handel. Die Britte het hulle skepe oorspronklik in die dieper gedeelte van die Hooghlyrivier laat anker gooi en bootjies rivier op gestuur om goedere af te laai. In 1758 is die kern in Kalkutta gevorm van wat later Indië se vernaamste hawe sou word. Voortgesette modernisering en ’n groter watertoevloei uit ’n dam in die Ganges het daartoe gelei dat Kalkutta se internasionale, kus- en binnelandse watervervoer toegeneem het.
Vervoer—eertyds en modern
In ’n stad met meer as 12 miljoen mense is vervoer ’n groot probleem. Kalkutta het al die vervoermiddele wat gewoonlik in ’n moderne stad aangetref word—en nog meer! Besoekers verwonder hulle as hulle sien hoe mans met riksjas rats deur swaar verkeer vleg—en dikwels kry hulle hulle passasiers vinniger by hulle bestemming as ’n bus of taxi wat deur die verkeer vertraag word. Die riksja is in 1900 in gebruik geneem om goedere te karwei, maar is gou ingespan om mense te vervoer; daar is vermoedelik ongeveer 25 000 riksjas in die stad! Hoewel hulle die verkeer vertraag, verskaf hulle werk aan sowat 50 000 mans en vervoer aan baie meer.
Veerbootjies vervoer daagliks duisende pendelaars tussen Kalkutta se hoofstasie en die sentrale sakegebied. Vervoer op die rivier word vermeerder om verkeersprobleme op die paaie te verminder, aangesien meer as 50 000 motors en duisende vragmotors elke dag met groot gesukkel oor die besigste brug, die Howrah-brug, probeer kom.
Die elektriese trems is moontlik die geliefkoosde vervoermiddel in die stad. ’n Uitstekende stelsel van niebesoedelende, ruim, energiebesparende voertuie vervoer daagliks honderdduisende mense oral in die stad, maar nie altyd gerieflik nie. Om aan die kant van ’n trem vas te klou, vereis spesiale vaardighede! Die moltreinstelsel wat onlangs voltooi is, is ’n groot verbetering, want dit vervoer meer as 60000 passasiers per uur deur die stad in koel gerief.
Kalkutta se kultuurverskeidenheid
Opvoedkundige geleenthede in Kalkutta het vir baie ’n loopbaan in die wetenskap en die reg gebied, en die skone kunste floreer in dié stad wat ’n kulturele sentrum van die subkontinent geword het. Meer as ’n kwartmiljoen studente studeer aan die 140 jaar oue Kalkutta-universiteit, een van die grootstes in die wêreld.
As Mumbaai Indië se middelpunt van die kommersiële filmbedryf is, is Kalkutta beslis die tuiste van kunsfilms van hoë gehalte. Name soos Satjajit Ray en Mrinal Sen is wêreldberoemd weens hulle bydrae tot die kunste. Kalkutta spog met meer digters as wat Rome en Parys gesamentlik het, meer letterkundige tydskrifte as New York en Londen, en een van die wêreld se grootste tweedehandse boekwinkels in Kollegestraat.
Besondere besienswaardighede
Uitsonderlike landmerke sluit die Victoria-gedenkmuseum in, ’n marmergebou in die styl van die Italiaanse Renaissance. Dit is in 1921 geopen en is ’n enorme museum met gedenkwaardighede van die Britse bewind in Indië. Kalkutta se museums sluit die ontsaglike Indiese Museum en meer as 30 ander in. Die Indiese Botaniese Tuin met sy 240 jaar oue baniaanboom, met ’n omtrek van meer as 400 meter, sowel as die dieretuine, is ’n besoek werd. Die Maidan—’n uitgestrekte oop stuk grond van 520 hektaar—staan bekend as Kalkutta se longe en is die grootste dorpsplein in die hele Indië. Kalkutta spog ook met die Birla-planetarium, een van die grootstes in die wêreld. Vir mense wat in krieket belangstel, is daar die Eden Gardens-krieketveld waar daar al meer as 100 000 luidrugtige en geesdriftige toeskouers vir internasionale wedstryde bymekaargekom het.
’n Gebou wat werklik mooi is, is Wetenskapstad, Asië se grootste interaktiewe wetenskapsentrum, waar besoekers ’n aardbewing kan ondervind, kan sien hoe ’n eiland oorstroom word, hoe ’n tornado vorm aanneem en fassinerende feite kan leer oor die omgewing en die gewoontes van baie diere. Maar vir Hindoes lê die heel grootste aantrekkingskrag van Kalkutta in die Durga Puja-fees, wanneer daar vyf dae lank uitbundige godsdiensvrolikheid in die stad heers, wat die gewone bedrywighede grotendeels tot stilstand bring.
Wat kan jy alles in Kalkutta koop? Omtrent enigiets! Maar berei jou voor om tussen raserige skares deur te druk, en kyk ook na die vroue in hulle pragtige, veelkleurige sari’s. Jy kan leerware teen billike pryse koop, waaronder pragtige leerskoene in Chinese winkels. Vlekvrye staalartikels, weefstowwe, fyn porseleinware en pragtige juwele is maar net ’n paar van die artikels wat ’n geduldige koper in die reusemarkte van hierdie “kopersparadys” kan kry.
Fynproewersgeregte
Kalkutta is ook al as ’n fynproewersparadys beskryf, daarom kan ons nie weggaan sonder om van die heerlike geregte te proe nie. Daar is al gesê dat die Bengalese kos aanbid en dat hulle mense op grond van die voortreflikheid van hulle kookkuns beoordeel! Vis is ’n noodsaaklike bestanddeel van geregte in Kalkutta, en enorme markte voorsien ’n verskeidenheid vis, vleis en groente. Vars speserye, wat sorgvuldig gemeng is, laat die eenvoudigste groente heerlik smaak. Chinese kos is volop. En die toppunt van Kalkutta se smaaksensasies is sy beroemde soetgoed. Rasagollas, balletjies van gestolde suurmelk wat gegeur en in suikerstroop geweek is, is ’n kenteken van Bengale. En moenie die mishti doi vergeet nie, ’n heerlik versoete jogurt wat ’n gewilde nagereg is. Water jou mond? Kan jy van die aangename geure van daardie restaurante ruik? Ja, Kalkutta is inderdaad ’n florerende, fassinerende stad van kontraste!
[Kaarte op bladsy 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
SRI LANKA
INDIË
Kalkutta
BANGLADESJ
[Kaart]
KALKUTTA
Indiese Botaniese Tuin
Maidan
Dieretuin
Birla-planetarium
Victoria-gedenkmuseum
Indiese Museum
Hooghly rivier
Soutwatermeer
Dum Dum Internasionale Lughawe
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prent op bladsy 15]
Wetenskapstad
[Prent op bladsy 16]
Victoria-gedenkmuseum
[Prent op bladsy 17]
’n Bedrywige marktoneel
[Prent op bladsy 17]
’n Haarkapperswinkel op die sypaadjie