Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 7/8 bl. 10-14
  • Jehovah se Getuies—moedig ten spyte van Nazi-gevaar

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se Getuies—moedig ten spyte van Nazi-gevaar
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geen kompromis met Hitler
  • ’n Terugblik
  • Wat het gebeur toe Hitler aan bewind gekom het?
  • Getuies tree moedig op
  • Moed of ’n kompromis?
  • ’n Verklaring van voorneme
  • Die booshede van Nazisme aan die kaak gestel
    Ontwaak!—1995
  • Moedige handhawers van onkreukbaarheid seëvier oor Nazi-vervolging
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Waarom die kerke stilgebly het
    Ontwaak!—1995
  • “Deur al die nasies gehaat”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 7/8 bl. 10-14

Jehovah se Getuies—moedig ten spyte van Nazi-gevaar

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DUITSLAND

JEHOVAH SE GETUIES is goed bekend vir hulle getrouheid aan God se Woord, die Bybel. Dit vereis dikwels moed, en dit beïnvloed beslis hulle lewe en hulle verhoudings met ander.

Die Getuies het byvoorbeeld groot respek vir mense van alle etniese en kulturele agtergronde. Hulle is lief vir God en hulle naaste (Matteus 22:35-40). Trouens, hulle stem volkome saam met die apostel Petrus, wat gesê het: “Ek bemerk vir seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik.”—Handelinge 10:34, 35.

Jehovah se Getuies is ook wêreldwyd bekend vir hulle respek vir die wet, orde en regeringsgesag. Hulle was nog nooit ’n broeines van opstand nie, en hulle sal ook nooit wees nie. Dit geld selfs wanneer hulle in sommige lande vervolg word omdat hulle dié apostoliese standpunt inneem: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Handelinge 5:29; Matteus 24:9). Terselfdertyd erken die Getuies die reg van ander om te aanbid in ooreenstemming met wat hulle gewete voorskryf.

Die moedige Christelike standpunt van Jehovah se Getuies in Duitsland en ander lande wat deur Adolf Hitler oorheers is, is ’n geboekstaafde feit. ’n Merkwaardige gebeurtenis in 1933 in Berlyn, Duitsland, lig hulle moed, hulle liefde vir God en hulle naaste en hulle respek vir die wet, orde en godsdiensvryheid toe.

Geen kompromis met Hitler

Hitler se afgryslike 12 jaar lange bewind van rassisme en moord het meer as 50 jaar gelede tot ’n einde gekom. Maar daardie Nazi-regime het sulke diep letsels gelaat dat dit vandag nog vir die mensdom pynlik is.

Dit is ’n geskiedkundige feit dat net ’n paar groepe hulle moedig teen die Nazi-skrikbewind verset en daarteen beswaar gemaak het. Onder hulle was Jehovah se Getuies, wat beskryf word as “’n eiland van onvermoeide [morele] weerstand te midde van ’n verskrikte volk”. Hulle moedige standpunt is goed deur gesiene geskiedkundiges gedokumenteer.

Maar ’n paar kritici, waaronder sommige voormalige metgeselle van Jehovah se Getuies, beskuldig die Getuies daarvan dat hulle in die beginjare probeer het om ’n kompromis met die Hitler-regime aan te gaan. Hulle beweer dat verteenwoordigers van die Wagtoringgenootskap sonder welslae by die nuwe regering witvoetjie probeer soek het en dat hulle, ten minste ’n tyd lank, die rassistiese ideologie van die Nazi’s ondersteun het, wat uiteindelik tot die slagting van sesmiljoen Jode gelei het.

Hierdie ernstige aantygings is absoluut vals. Die volgende is ’n eerlike ondersoek van die betrokke gebeure wat op beskikbare dokumentasie en geskiedkundige konteks gebaseer is.

’n Terugblik

Jehovah se Getuies is al meer as 100 jaar in Duitsland bedrywig. Teen 1933 was daar ongeveer 25 000 Getuies wat Jehovah God aanbid het en Bybellektuur oor die hele Duitsland versprei het.

Ten spyte van die vryhede wat die Duitse grondwet destyds toegestaan het, was Jehovah se Getuies dikwels die teiken van lasterveldtogte, wat hoofsaaklik deur godsdiensteenstanders op tou gesit is. Reeds in 1921 is die Getuies, wat toe Ernste Bibelforscher (Ernstige Bybelstudente) genoem is, daarvan beskuldig dat hulle saam met die Jode by ondermynende politieke bewegings betrokke was. Die Bybelstudente is as die gevaarlike Bolsjewistiese “Joodse wurm” gebrandmerk, hoewel hierdie beskuldigings nooit bewys is nie. Die Switserse teoloog Karl Barth het later geskryf: “Die beskuldiging dat Jehovah se Getuies met die Kommuniste saamwerk, kan net die gevolg wees van ’n onopsetlike of selfs opsetlike misverstand.”

’n Kerktydskrif in Duitsland het die Getuies en die Jode daarvan beskuldig dat hulle samesweerders in revolusionêre bewegings was. In antwoord hierop het The Golden Age (nou die Ontwaak!) van 15 April 1930, in Duits, gesê: “Ons het geen rede om hierdie valse beskuldiging as ’n belediging te beskou nie—aangesien ons daarvan oortuig is dat die Jood ten minste net so ’n waardevolle persoon as ’n naamchristen is; maar ons verwerp die bogenoemde onwaarheid van die kerkblad omdat dit daarop gerig is om ons werk te probeer afkraak asof dit nie ter wille van die Evangelie gedoen word nie, maar vir die Jode.”

Professor van geskiedenis John Weiss het dus geskryf: “Die Getuies is nie deur die Duitse rassistiese nasionalisme beïnvloed nie en het hulle nie deur die eeue heen gekwel oor die feit dat die Jode hulle nie bekeer het nie. Die Getuies het nog by die oorspronklike, hoewel meerderwaardige, Christelike oortuiging gebly dat dit nodig is om alle potensiële bekeerlinge tot Christus oor te haal.”

Wat het gebeur toe Hitler aan bewind gekom het?

Op 30 Januarie 1933 is Adolf Hitler as Duitsland se nuwe kanselier aangestel. In die begin het die Hitler-regering hulle gewelddadige en ekstremistiese hoedanighede probeer wegsteek. Gevolglik het die Getuies, sowel as miljoene ander Duitsers vroeg in 1933, die Nasionaal-Sosialistiese Party as die wettige regeringsowerheid van die tyd beskou. Die Getuies het gehoop dat die Nasionaal-Sosialistiese (Nazi-) regering sou besef dat hierdie vredeliewende, wetsgehoorsame Christengroep geen ondermynende bedreiging vir die Staat ingehou het nie. Dit het glad nie beteken dat hulle Bybelbeginsels sou inboet nie. Soos wat die geval in ander lande was, wou die Getuies die regering oor die ware niepolitiese aard van hulle godsdiens inlig.

Dit het gou duidelik geword dat Jehovah se Getuies onder die eerste teikens van wrede Nazi-onderdrukking sou wees. Die Getuies is weer eens as medepligtiges in ’n sogenaamde Bolsjewiek-Joodse sameswering gebrandmerk. ’n Vervolgingsveldtog het begin.

Waarom het die nuwe regime se woede teen so ’n klein godsdiensgemeenskap losgebars? Die geskiedkundige Brian Dunn identifiseer drie basiese redes: (1) die internasionale omvang van die Getuies, (2) hulle teenkanting teen rassisme en (3) hulle posisie van neutraliteit teenoor die Staat. Weens hulle skriftuurlike beskouings het die Duitse Getuies geweier om die Hitler-saluut te gee, om die Nasionaal-Sosialistiese Party te ondersteun of om later aan militêre bedrywighede van die Nazi’s deel te neem.—Exodus 20:4, 5; Jesaja 2:4; Johannes 17:16.

As gevolg daarvan het die Getuies dreigemente, ondervragings, deursoeking van hulle huise en ander vorme van vervolging deur die polisie en SA (Hitler se Sturmabteilung, stormtroepe of Bruinhemde) verduur. Op 24 April 1933 het amptenare beslag gelê op die Wagtoringkantoor in Maagdenburg, Duitsland, en dit toegemaak. Nadat ’n deeglike soektog geen beswarende getuienis opgelewer het nie, en onder druk van die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake, het die polisie die eiendom teruggegee. Maar teen Mei 1933 was daar in etlike Duitse state ’n verbod op die werk van die Getuies.

Getuies tree moedig op

Gedurende hierdie vroeë tydperk het Hitler sy openbare beeld as ’n voorstander van die Christelike godsdiens sorgvuldig bevorder. Hy het verklaar dat hy godsdiensvryheid voorstaan en belowe om Christendenominasies “met objektiewe geregtigheid” te behandel. Ten einde sy beeld te verbeter, het die nuwe kanselier kerkdienste bygewoon. Dit was ’n tyd toe baie mense in lande wat later teen Duitsland oorlog gevoer het bewondering vir Hitler se prestasies uitgespreek het.

Omdat Joseph F. Rutherford, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, besorg was oor die toenemende spanning in Duitsland, het hy saam met die Duitse takkantoorbestuurder, Paul Balzereit, besluit om ’n kampanje te loods om kanselier Hitler, regeringsamptenare en die publiek in te lig dat Jehovah se Getuies geen bedreiging vir die Duitse volk en die Staat inhou nie. Rutherford was klaarblyklik daarvan oortuig dat Hitler onbewus was van die aanvalle op Jehovah se Getuies of dat godsdienselemente hom verkeerd ingelig het oor die Getuies.

Die kantoor in Maagdenburg het dus ’n byeenkoms gereël om gebruik te maak van die Duitse burgers se reg om ’n petisie in te dien. Jehovah se Getuies van regoor Duitsland is op kort kennisgewing genooi om op 25 Junie 1933 na die Wilmersdorfer Tennishallen in Berlyn te gaan. Ongeveer 5000 mense is verwag. Ten spyte van die vyandige atmosfeer het meer as 7000 dit moedig bygewoon. Diegene wat teenwoordig was, het ’n resolusie aangeneem met die titel “Verklaring van feite”. Hierdie dokument het beswaar gemaak teen die beperkings wat op die werk van die Getuies geplaas is. Dit het duidelik verklaar wat hulle posisie is en beskuldigings ontken dat hulle opstokers met die een of ander politieke beweegrede is. Dit het gesê:

“Ons word verkeerdelik voor die heersende magte van hierdie regering beskuldig . . . Ons vra die heersers van die volk en die mense eerbiedig om die verklaring van feite wat hier uiteengesit word op regverdige en onpartydige wyse te oorweeg.”

“Ons voer nie ’n stryd teen enige persoon of godsdiensleraar nie, maar ons moet die aandag vestig op die feit dat dit oor die algemeen diegene is wat sê dat hulle God en Christus Jesus verteenwoordig wat in werklikheid ons vervolgers is en wat ons voor die regerings verkeerd voorstel.”

Moed of ’n kompromis?

Sommige is nou van mening dat die byeenkoms in 1933 in Berlyn en die “Verklaring van feite” pogings van vername Getuies was om ondersteuning te toon vir die Nazi-regering en sy haat teenoor die Jode. Maar hulle bewerings is nie waar nie. Dit is op verkeerde inligting en op die verkeerde vertolking van die feite gegrond.

Kritici beweer byvoorbeeld dat die Getuies die Wilmersdorfer Tennishallen met swastikavlae versier het. Foto’s van die 1933-byeenkoms toon duidelik dat hulle geen swastikas in die saal opgehang het nie. Ooggetuies bevestig dat daar geen vlae binne die gebou was nie.

Maar dit is moontlik dat daar vlae aan die buitekant van die gebou was. Nazi-gevegsoldate het die saal op 21 Junie, die Woensdag voor die byeenkoms, gebruik. En toe, die dag net voor die byeenkoms, het ’n klomp jongmense tesame met afdelings van die SS (Schutzstaffel, oorspronklik Hitler se Swarthemp-lyfwagte), SA en ander die somersonstilstand daar naby gevier. Getuies wat die Sondag by die byeenkoms aangekom het, kon dus ’n gebou gesien het wat met swastikavlae getooi was.

As daar swastikavlae was wat die buitekant van die saal, die gange of selfs die binnekant van die saal versier het, sou die Getuies dit net so gelos het. Selfs vandag nog sal Jehovah se Getuies nie nasionale simbole verwyder wanneer hulle openbare fasiliteite vir vergaderinge of byeenkomste huur nie. Maar daar is geen bewyse dat die Getuies self enige vlae opgehang het of dat hulle dit gesalueer het nie.

Kritici sê verder dat die Getuies die byeenkoms met die Duitse volkslied begin het. Die byeenkoms het eintlik begin met “Sion se glorieryke hoop”, lied 64 in die Getuies se liedereboek. Die woorde van hierdie lied is geset op musiek wat in 1797 deur Joseph Haydn gekomponeer is. Lied 64 was ten minste van 1905 af in die Bybelstudente se liedereboek. In 1922 het die Duitse regering Haydn se melodie met woorde deur Hoffmann von Fallersleben as hulle volkslied aangeneem. Maar die Bybelstudente in Duitsland het nog steeds af en toe hulle lied 64 gesing, net soos Bybelstudente in ander lande.

Om ’n lied oor Sion te sing, kon kwalik gesien word as ’n poging om die Nazi’s tevrede te stel. Onder druk van die anti-Semitiese Nazi’s het ander kerke Hebreeuse woorde soos “Juda”, “Jehovah” en “Sion” uit hulle gesangeboeke en liturgieë verwyder. Jehovah se Getuies het nie. Die byeenkomsorganiseerders het derhalwe beslis nie verwag om die guns van die regering te wen deur ’n lied te sing wat Sion verheerlik nie. Dit is moontlik dat sommige dalk onwillig was om “Sion se glorieryke hoop” te sing, aangesien die melodie van hierdie komposisie van Haydn dieselfde was as dié van die volkslied.

’n Verklaring van voorneme

Omdat die regering in ’n oorgangstydperk en die land in beroering was, wou die Getuies ’n duidelike verklaring van hulle posisie aflê. Deur middel van die “Verklaring” het die Getuies beskuldigings van finansiële betrokkenheid of politieke bande met die Jode ten sterkste ontken. Die dokument het dus gesê:

“Ons vyande beskuldig ons valslik daarvan dat ons geldelike hulp vir ons werk van die Jode ontvang het. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Tot op hierdie oomblik het die Jode nog nooit enige geld tot ons werk bygedra nie.”

Nadat dit oor geld gepraat het, het die “Verklaring” voortgegaan om onregverdige gebruike van groot sakeondernemings te veroordeel. Dit het gesê: “Dit was die handeldrywende Jode van die Brits-Amerikaanse ryk wat groot sake opgebou en bedryf het as ’n manier om die mense van baie nasies uit te buit en te onderdruk.”

Dit is duidelik dat hierdie stelling nie na die Jode in die algemeen verwys het nie, en dit is betreurenswaardig as dit verkeerd verstaan is en mense enigsins aanstoot gegee het. Sommige het beweer dat Jehovah se Getuies die vyandigheid teenoor die Jode onderskryf het wat destyds algemeen in die Duitse kerke geleer is. Dit is absoluut onwaar. Deur middel van hulle lektuur en gedrag tydens die Nazi-era het die Getuies anti-Semitiese beskouings verwerp en die Nazi’s se mishandeling van die Jode veroordeel. Hulle goedhartigheid teenoor Jode wat dieselfde lot as hulle in die konsentrasiekampe gehad het, voorsien ongetwyfeld ’n klinkklare weerlegging van hierdie valse beskuldiging.

Die “Verklaring” het die Getuies se werk as godsdienstig van aard gedefinieer en gesê: “Ons organisasie is geensins polities nie. Ons dring net daarop aan om die Woord van Jehovah God aan die mense te leer.”

Die “Verklaring” het die regering ook aan sy eie beloftes herinner. Die Getuies het sekere hoë ideale gehandhaaf, en die Duitse regering het dit toevallig ook openlik voorgestaan. Onder hierdie ideale was gesinswaardes en godsdiensvryheid.

Hieroor het die “Verklaring” die volgende bygevoeg: “’n Sorgvuldige ondersoek van ons boeke en lektuur sal aan die lig bring dat die baie hoë ideale wat deur die huidige nasionale regering voorgestaan en uitgevaardig word in ons publikasies uiteengesit en goedgekeur en ten sterkste beklemtoon word, en dit toon dat Jehovah God seker sal maak dat hierdie hoë ideale op die bestemde tyd bereik sal word deur alle mense wat regverdigheid liefhet.”

Die Getuies het dus nooit gesê dat hulle die Nazi-party ondersteun nie. Omdat hulle godsdiensvryheid gehad het, was hulle bowendien nie van plan om hulle openbare predikingswerk te staak nie.—Matteus 24:14; 28:19, 20.

Volgens die verslag in die 1974 Yearbook of Jehovah’s Witnesses was sommige Duitse Getuies teleurgesteld omdat die “Verklaring” nie meer uitgesproke was nie. Het die takkantoorbestuurder, Paul Balzereit, die teks van die dokument afgewater? Nee, want ’n vergelyking van die Duitse en die Engelse teks toon dat dit nie die geval was nie. Hierdie wanindruk was klaarblyklik gebaseer op die subjektiewe waarneming van sommige wat nie direk by die voorbereiding van die “Verklaring” betrokke was nie. Hulle gevolgtrekkings is moontlik ook beïnvloed deur die feit dat Balzereit net twee jaar later sy geloof verloën het.

Ons weet nou dat ’n verbod op Jehovah se Getuies in Duitsland op Saterdag, 24 Junie 1933, uitgevaardig is, die dag nét voor die byeenkoms in Berlyn. Die byeenkomsorganiseerders en die polisie het ’n paar dae later van hierdie verbod uitgevind. In die lig van die klimaat van spanning en die klaarblyklike vyandigheid van die Nazi-amptenare, is dit merkwaardig dat die byeenkoms wel gehou is. Dit is geen oordrywing nie om te sê dat 7000 Getuies moedig hulle vryheid op die spel geplaas het sodat hulle die samekoms kon bywoon.

Ná die byeenkoms het die Getuies 2,1 miljoen eksemplare van die “Verklaring” versprei. Sommige Getuies is onmiddellik in hegtenis geneem en na strafkampe gestuur. Die Nazi-regering het dus sy onderdrukkende, gewelddadige karakter ten volle geopenbaar en het kort voor lank ’n hewige aanval teen hierdie groepie Christene geloods.

Professor Christine King het geskryf: “Brute krag kon nie die Getuies onderdruk nie, soos die Nazi’s sou uitvind.” Dit was soos die “Verklaring” gesê het: “Jehovah God is oppermagtig, en daar is geen mag wat hom met welslae kan teëstaan nie.”a

[Voetnoot]

a Weens ’n gebrek aan ruimte kan ons nie volledige dokumentasie van hierdie geskiedkundige verslag voorsien nie. Maar ’n lys van al die verwysings kan by die uitgewers aangevra word. Jy sal dit ook insiggewend vind om na die dokumentêre videokasset met die titel Jehovah’s Witnesses Stand Firm Against Nazi Assault te kyk.

[Prente op bladsy 13]

Werklike foto’s van die byeenkoms wat Jehovah se Getuies in 1933 in die Tennishallen bygewoon het

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel