Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 7/8 bl. 3-5
  • Selfbehandeling—voordele en risiko’s

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Selfbehandeling—voordele en risiko’s
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Selfbehandeling—’n Risiko?
  • Veilige selfdiagnose—Hoe?
  • Hoe kan jy goeie gesondheid geniet?
    Ontwaak!—1998
  • Gebruik geneesmiddels verstandig
    Ontwaak!—1996
  • Kruiemedisyne—Kan dit jou help?
    Ontwaak!—2003
  • Gebruik medisyne wyslik
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 7/8 bl. 3-5

Selfbehandeling—voordele en risiko’s

Deur Ontwaak!-Medewerker in Brasilië

“SELFBEHANDELING neem wêreldwyd toe”, sê die besturende direkteur van ’n groot farmaseutiese maatskappy. “Mense wil in beheer van hulle eie gesondheid wees.” Hoewel dit dalk waar is, is daar dan enige risiko’s waarvan jy moet weet?

Wanneer medisyne behoorlik gebruik word, kan dit natuurlik verligting gee. Insulien, antibiotika en selfs die goedkoop en eenvoudige resep vir mondelikse rehidrasieterapie red byvoorbeeld tallose lewens. Wat selfbehandeling ’n uitdaging maak, is om te besluit wanneer die voordele groter is as die risiko’s.

In sommige lande is bevoegde mediese hulp weliswaar te ver weg of te duur. Baie mense maak gevolglik staat op die menings van vriende en familielede of op selfhelpboeke om inligting oor die gebruik van medisyne te kry. “Reklameveldtogte laat [ook] die idee ontstaan dat dit moontlik is om goeie gesondheid te geniet deur ’n eenvoudige kapsule te koop”, sê Fernando Lefèvre, ’n professor by Sao Paulo-universiteit, Brasilië.a Gevolglik maak baie gebruik van geneesmiddels om die gevolge van uitputting, onvoldoende voeding en selfs alledaagse emosionele probleme te bowe te kom. Lefèvre voeg by: “Pleks van hulle lewensgehalte te verbeter, probeer mense om hulle probleme op te los deur produkte op die rak te koop.” En wie weet of die pasiënte wel die regte diagnose gemaak het?

Behalwe dat medisyne gebruik word om ongesteldhede soos hoofpyne, hoë bloeddruk en maagkwale te behandel, gebruik talle ook medisyne om angs, vrees en eensaamheid die hoof te bied. “Mense gaan dokter toe omdat hulle dink dat ’n pil die probleem sal oplos”, sê dr. André Feingold. “Selfs professionele gesondheidswerkers is geneig om medisyne voor te skryf en tallose toetse aan te beveel. Geen poging word aangewend om die geskiedenis van die pasiënt te leer ken, wat in die meeste gevalle ’n chaotiese, spanningsvolle en ongesonde lewe lei nie.” Romildo Bueno, van die Wêreldraad vir die Voorkoming van Psigotroopmisbruik (medisyne wat waarneming of gedrag wysig), erken: “’n Dokter het min tyd om pasiënte te ondersoek, en hy stuur hulle huis toe nadat hy nét die simptome behandel het.” Die gebruik van geneesmiddels “is ’n mediese manier om sosiale probleme” op te los. Maar ’n ander dokter waarsku dat baie pasiënte wel psigotropiese middels nodig het wat sorgvuldig voorgeskryf word.

Ná ’n bespreking van die “Prozac-gier”, sê die Brasiliaanse koerant O Estado de S. Paulo: “’n Geneesmiddel wat ’n gier word, net soos ’n nuwe haarstyl, is, om die minste te sê, vreemd.” Dit haal die psigiater Arthur Kaufman aan: “’n Gebrek aan perspektief en ’n doel in die lewe laat ’n verskynsel ontstaan wat ’n doeltreffende geneesmiddel die redding van alle euwels maak.” Kaufman voeg by: “Die mens raak al hoe meer besorg oor onmiddellike oplossings, en omdat hy nie meer daarin belangstel om die oorsake van sy probleme te vind nie, verkies hy om eerder ’n pil te drink as om hulle op te los.” Maar is dit veilig om jouself te behandel?

Selfbehandeling—’n Risiko?

“Een van die treffende kenmerke op mediese gebied in die 20ste eeu was die ontwikkeling van nuwe geneesmiddels”, sê The New Encyclopædia Britannica. Maar dit sê ook: “Medisyne is waarskynlik vir meer gevalle van vergiftiging verantwoordelik as enige ander oorsaak.” Net soos medisyne gesond kan maak, kan dit inderdaad ook skade doen. Eetlusdempers “het ’n uitwerking op die senuweestelsel en kan dus nadelige simptome veroorsaak, soos slaaploosheid, gedragsveranderinge en in sommige gevalle selfs hallusinasies”, verduidelik die skryfster Cilene de Castro. Sy sê verder: “Maar enigeen wat dink dat dieetpille net as eetlusdempers werk, bedrieg homself. Een kapsule kan die begin van ’n bose kringloop van geneesmiddels wees, want die een kan die uitwerking van die ander neutraliseer.”

Baie geneesmiddels wat algemeen gebruik word, kan die maag irriteer en selfs naarheid, braking en bloeding veroorsaak. Sekere middels kan gewoontevormend wees of die niere en lewer beskadig.

Selfs gewilde gesondheidsprodukte kan verdag wees. “Hierdie gier om vitamienaanvullings te neem, is uiters gevaarlik”, waarsku dr. Efraim Olszewer, voorsitter van ’n Brasiliaanse mediese vereniging. “Die bevolking behandel nie net hulleself nie, maar sommige oningeligte dokters skryf twyfelagtige medisyne voor en ignoreer die gevare wat daarby betrokke is.” Maar ’n ander dokter sê dat vitamienaanvullings in gepaste dosisse nodig of voordelig kan wees in die behandeling van sekere siektes en tekorte.

Veilige selfdiagnose—Hoe?

Aangesien ons nie elke keer dokter toe kan gaan wanneer ons ongemak ervaar nie, kan gesondheidsopvoeding en verstandige selfbehandeling nuttig wees vir ons gesinne. Maar voordat enige medisyne geneem word, is korrekte en doeltreffende selfdiagnose noodsaaklik. As daar nie ’n dokter naby is nie of as jy dit nie kan bekostig om een te spreek nie, kan dit jou help om ’n korrekte diagnose te maak as jy ’n geskikte mediese naslaanboek raadpleeg. Die Amerikaanse Mediese Vereniging gee byvoorbeeld ’n mediese gids uit vir die gesin, en dit sluit ’n afdeling van 183 bladsye met simptoomkaarte in. Dit lei die pasiënt deur ’n reeks vrae waarop ja of nee geantwoord kan word. Deur hierdie proses van uitskakeling kan ’n probleem dikwels geïdentifiseer word.

Maar wat van die rol wat dokters speel? Wanneer moet ons professionele hulp soek? Hoe kan ons die uiterstes vermy sodat ons nie te besorg oor ons gesondheid of te nalatig is nie? Hoe kan ons werklik ’n mate van goeie gesondheid geniet in ’n wêreld waar siektes en psigosomatiese kwale so algemeen is?

[Voetnoot]

a In baie lande het die advertensies van voorskrifmedisyne wat “direk tot die verbruiker” gerig is onlangs geweldig toegeneem ten spyte daarvan dat baie dokters en mediese organisasies hierdie benadering gekritiseer het.

[Lokteks op bladsy 4]

“Geen poging word aangewend om die geskiedenis van die pasiënt te leer ken, wat in die meeste gevalle ’n chaotiese, spanningsvolle en ongesonde lewe lei nie.”—Dr. André Feingold

[Venster op bladsy 4]

Kruiemiddels

Duisende jare lank het mense van baie kulture hulle siektes met kruiemiddels behandel deur plante te gebruik wat hulle in die velde en woude gekry het. Selfs baie hedendaagse geneesmiddels word van plante gemaak, soos digitalis, wat gebruik word om hartprobleme te behandel. Penelope Ody, ’n lid van die Nasionale Instituut van Mediese Kruiekenners in die Verenigde Koninkryk, sê dus in haar boek dat “daar meer as 250 veilige behandelings is om algemene kwale te help verlig—van die gewone hoes, verkoues en hoofpyne tot spesiale behandelings vir veltoestande, spysverteringsprobleme en kindersiektes”.

Sy skryf: “Kruie is nog altyd as die ‘medisyne van die volk’ beskou—eenvoudige geneesmiddels wat tuis vir ligte kwale gebruik kan word of om sterker geneesmiddels aan te vul wat deur professionele mense vir chroniese of akute toestande voorgeskryf is.” Sy sê voorts: “Hoewel die meeste kruie op sigself heeltemal veilig is, moet dit spaarsaam gebruik word. Moenie die voorgestelde dosis oorskry of met tuisbehandeling voortgaan as toestande voortduur, erger word of as die ware diagnose nie seker is nie.”—The Complete Medicinal Herbal.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel