Hoe kan jy goeie gesondheid geniet?
TERAPIEË is ’n gewilde onderwerp van bespreking. Dit lyk of byna elke vriend of buurman ’n geliefkoosde oplossing vir elke mediese situasie het. Dit is te verstane dat die begeerte om jouself te behandel baie sterk kan wees. Maar daar is mense wat “net dokter toe gaan wanneer die toestand kritiek is”, sê ’n Brasiliaanse dokter. “Hulle het moontlik seerplekke op hulle vel wat ten spyte van maande van selfbehandeling nie gesond word nie. Wanneer hulle wel dokter toe gaan, word daar bevind dat hulle ’n soort kanker het wat hulle in die begin al moes behandel het.”
Aangesien vroeë diagnose dikwels lewens red, kan dit jou duur te staan kom as jy uitstel. “’n Dertigjarige vrou se maandstonde het weggebly, en sy het matige pyn laag in haar buik gehad. Sy het haarself met baie pynstillers en anti-inflammatoriese middels behandel, en die pyn het minder geword”, vertel ’n chirurg. “Maar drie dae later het sy so erg begin bloei dat sy in skok gegaan het en inderhaas na die hospitaal geneem is. Ek het haar onmiddellik geopereer en swangerskap in die Fallopiusbuis gediagnoseer. Sy is net betyds gered!”
’n Jong vrou van Sao Paulo het gedink dat sy aan bloedarmoede ly, maar haar probleem was chroniese nierversaking. Omdat sy uitgestel het om behandeling te kry, was ’n oorplanting later die enigste moontlike oplossing. Haar dokter kom tot hierdie slotsom: “Die pasiënt huiwer dikwels om mediese behandeling te kry, behandel homself of volg ander metodes wat deur leke voorgestel word, en sit op die ou end met ernstige gesondheidsprobleme.”
Ons wil beslis nie die tekens wat ons liggaam vir ons gee geringag nie. Maar hoe kan ons keer dat ons met terapieë of selfbehandeling behep raak? Gesondheid word gedefinieer as “die toestand van liggaamlike, verstandelike en geestelike welsyn” of as “vryheid van fisiese siekte of pyn”. Interessant genoeg, daar word erken dat die meeste siektes vandag in meerdere of mindere mate voorkombaar is. Volgens dr. Lewis Thomas “is ons nie sommer net aanmekaargesit nie, maar ons is verbasende sterk organismes vol gesondheid”. Daarom moet ons eerder saamwerk met die liggaam en sy buitengewone vermoë om homself te genees as om ‘gesonde hipochondriste te word en ons halfdood te bekommer’. ’n Bekwame dokter of gesondheidswerker kan ons ook help.
Wanneer om mediese hulp te soek
’n Brasiliaanse dokter stel voor dat professionele hulp gesoek word “as simptome soos koors, hoofpyne, braking of pyn in die onderlyf, bors of bekken nie beter word met gewone medisyne nie en as dit gereeld terugkeer sonder enige duidelike rede of as pyn akuut of baie intens is”. ’n Ander dokter beveel mediese hulp aan wanneer ons ook al onseker is oor hoe om ons simptome te behandel of as ons voel dat iets verskil van ander tye. Hy voeg by: “Wanneer ’n kind siek word, verkies ouers gewoonlik om eerder professionele hulp te kry as om die kind self te behandel.”
Maar is geneesmiddels altyd nodig? Sal die gebruik van geneesmiddels ’n teenreaksie uitlok? Is daar newe-effekte, soos irritasie van die maag of skade aan die lewer of die niere? Wat van die wisselwerking met ander geneesmiddels? “Min pasiënte beskou hulle probleme kalm of selfs met begrip”, sê The New Encyclopædia Britannica. Nogtans kan ’n pligsgetroue dokter ons help om te besef dat alle geneesmiddels potensieel gevaarlik is en dat daar vandag maar min geneesmiddels is wat geen newe-effekte het nie. Jy hoef net die waarskuwings van moontlike newe-effekte op die etiket te lees wanneer jy weer voorskrifmedisyne koop! Selfs medisyne wat oor die toonbank gekoop word, kan skadelik wees of tot die dood lei as dit verkeerd of te veel daarvan gebruik word.
’n Verslag deur Richard A. Knox in The Boston Globe beklemtoon hoe belangrik dit is om versigtig te wees: “Die gevaar bestaan dat miljoene artritislyers wat daagliks pynstillers neem skielik en moontlik noodlottig kan begin bloei, berig navorsers van die Stanford-universiteit.” Hy voeg by: “Die navorsers waarsku boonop dat die kombinasie van pynstillers met teensuurmiddels of gewilde suurwerende pille nie beskerming verleen teen ernstige maagkomplikasies nie en dat dit selfs die gevaar kan vergroot.”
Wat van gewone selfbehandeling? ’n Dokter in Ribeirão Prêto, Brasilië, sê: “Ek dink dit sou goed wees as almal ’n tuisaptekie kon hê . . . Maar wanneer hierdie medisyne gebruik word, moet goeie oordeel en gesonde verstand aan die dag gelê word.” (Sien venster, bladsy 7.) Basiese gesondheidsopvoeding dra ook by tot ’n beter lewensgehalte. Aangesien siektes van persoon tot persoon verskil, beveel die Ontwaak! geen spesifieke geneesmiddels, terapieë of natuurlike geneesmiddels aan nie.
Goeie gesondheid—Wat kan jy doen?
“Die beste dokters ter wêreld is dokter Dieet, dokter Kalmte en dokter Vrolik”, aldus Jonathan Swift, ’n 18de-eeuse skrywer. ’n Gebalanseerde dieet, behoorlike rus en tevredenheid is inderdaad belangrike bestanddele van goeie gesondheid. In teenstelling hiermee kan ons, ten spyte van die bewerings van slim advertensies, nie goeie gesondheid koop deur eenvoudig geneesmiddels te gebruik nie. “Die onnodige en selfs gevaarlike gebruik van farmaseutiese produkte” kan die immuunstelsel verswak.—Dicionário Terapêutico Guanabara.
Maar as ons verantwoordelikheid aanvaar vir ons lewenstyl en dwelmmisbruik, rook, strawwe drinkery en te veel spanning vermy, sal ons baie tot ons eie welsyn bydra. Marian, wat in haar sestigerjare en al lank ’n sendeling in Brasilië is, sê: “Ek het redelik goeie gesondheid geniet deur ’n matige lewe te lei en ’n verskeidenheid gesonde kossoorte te eet.” Sy verduidelik ook: “Aangesien ek daarvan hou om vroeg op te staan, is dit noodsaaklik dat ek vroeg gaan slaap.” Gesonde verstand en goeie gewoontes moet nie geringgeag word nie, en so ook nie die belangrikheid van periodieke mediese ondersoeke en goeie kommunikasie met ’n bekwame huisdokter nie.
Hoewel Marian gesond wil bly, is sy versigtig om nie haar gesondheid te verwaarloos of te besorg daaroor te wees nie. Sy sê: “Ek bid ook vir Jehovah se leiding in enige besluit wat ek oor my gesondheid moet neem sodat ek kan doen wat op die lange duur die beste sal wees en ek nie te veel tyd en geld daaraan bestee om my gesondheid te probeer verbeter nie.” Sy voeg by: “Aangesien dit noodsaaklik is dat ek bedrywig bly, bid ek dat God my sal help om my tyd en my krag op ’n redelike wyse te gebruik sodat ek nie my kragte onnodig spaar nie en ek my terselfdertyd nie ooreis nie.”
As ons waarlik gelukkig wil wees, kan ons nie die toekoms ignoreer nie. Selfs as ons nou betreklik goeie gesondheid geniet, sal daar nog steeds siekte, pyn, lyding en uiteindelik die dood wees. Is daar enige hoop dat ons ooit volmaakte gesondheid sal geniet?
[Venster op bladsy 6]
Voordele van gebalanseerde selfsorg
Jou gesondheid hang grootliks af van wat jy eet en drink. As jy probeer om ’n motor op verdunde petrol te laat ry of as jy suiker by die brandstof gooi, sal jy kort voor lank die enjin beskadig. As jy eweneens van gemorskos probeer lewe, sal jy uiteindelik jou gesondheid benadeel. In die rekenaarwêreld noem hulle dit GIGO, wat in Engels “garbage in, garbage out” (gemors in, gemors uit) beteken.
Dr. Melanie Mintzer, ’n professor in algemene geneeskunde, verduidelik: “Daar is drie soorte pasiënte: dié wat dokter toe gaan met dinge wat hulle net sowel self tuis kon behandel, dié wat die gesondheidsorgstelsel behoorlik gebruik en dié wat glad nie dokter toe gaan nie, al behoort hulle dit te doen. Diegene in die eerste groep mors dikwels dokters se tyd sowel as hulle eie tyd en geld. Diegene in die derde groep stel moontlik hulle lewe in gevaar deur te versuim om gepaste professionele sorg te kry. Dokters wens dat meer mense in die middelste groep was.”
“Die sewe sleutels tot die beste gesondheid is: eet en drink reg, oefen gereeld, moenie rook nie, rus genoeg, moenie deur stres oorweldig word nie, handhaaf hegte sosiale bande en tref wyse voorsorgmaatreëls om jou risiko van siekte en ongelukke te verminder.”—Before You Call the Doctor—Safe, Effective Self-Care for Over 300 Medical Problems, deur Anne Simons, M.D., Bobbie Hasselbring en Michael Castleman.
[Venster op bladsy 7]
’n Medisynekas in die huis
“Volgens skatting word ongeveer 90 persent van die simptome—pyne, kneus-plekke en ander tekens van ongemak of siekte— wat deur andersins gesonde volwassenes ondervind word eenvoudig verontagsaam en nooit aan enigiemand gerapporteer nie. . . . Die een of ander vinnigwerkende geneesmiddel word dikwels gebruik, soos 2 aspiriene vir ’n hoofpyn.”
“Dikwels maak die medisynekas in die huis dit alles moontlik. Onnodige en duur besoeke aan die dokter of kliniek word dan uitgeskakel.”—Complete Home Medical Guide, Universiteit van Columbia se Kollege vir Geneeshere en Chirurge.
Hierdie selfde bron stel voor dat ’n medisynekas die volgende moet hê: pleisters, steriele gaaskussinkies, watte, verbande, verskillende soorte salf en room, antiseptiese alkohol, ’n skêr, ’n gewone koorspen en ander praktiese artikels.
Hulle stel voor dat dit hierdie medisyne insluit: pille wat koors en pyn verminder, teensuurmiddels, hoesstroop, ’n antihistamien/ontstumiddel, ’n ligte lakseermiddel en medisyne vir diarree.
[Venster op bladsy 8]
’n Woordjie van waarskuwing
“Selfs al het jy nie ’n voorskrif daarvoor nodig nie, is ODT- [oor die toonbank] medisyne regte geneesmiddels. Soos voorskrifmedisyne moet sommige nie saam met ander middels of met sekere kossoorte of alkohol geneem word nie. Soos ander geneesmiddels kan sommige ernstiger simptome verberg of afhanklikheid veroorsaak. En soms moet ’n ODT-geneesmiddel eenvoudig nie ’n besoek aan die dokter vervang nie.
“Die meeste is nietemin veilig en doeltreffend . . . Hulle werk, en hulle doen dit boonop goed.”—Using Medicines Wisely.
[Prente op bladsy 7]
Onthou dat geen kruie of geneesmiddel heeltemal onskadelik is nie
1. ’n Verkoper se medisynekas
2. Medisyneverkoper in die ope lug
3. Sakke met kruiemiddels