Die poema—oral en nêrens
Deur Ontwaak!-medewerker in Brasilië
DIE lug oor die Suid-Amerikaanse reënwoud was besig om in daardie onbeskryflike kleur te verander wat dit kry net voordat die tropiese nag alle kleur uitwis. Toe, skielik en geluidloos, was die poema daar! Hy het versigtig tot in ’n oop kol in die woud geloop en in sy spore vasgesteek.
Vir ’n oomblik het die groot kat doodstil gestaan, met net die punt van sy stert wat deurentyd stadig soos ’n ruitveër beweeg het. Maar toe die poema agterkom dat hy dopgehou word, het hy oor die oopte gespring en vinnig in die woud ingehardloop. Daardie middag, ’n paar jaar gelede, het ek besef waarom sportskoene, vinnige motors en selfs vegvliegtuie al na hom vernoem is. Die poema, oftewel bergleeu, Amerika se tweede grootste kat, het ongetwyfeld die ideale liggaamsbou vir spoed.a
’n Bondel spiere
Weens sy eenvoudige, geelbruin kleur kan die poema jou aan ’n leeuwyfie laat dink. Maar die gesigsdeel van sy kop is nie so reghoekig as dié van sy niggie in Afrika nie. Die poema se kop is eerder rond en klein, en bo-op sy kop is sy ore net so rond en klein. Van die kant af lyk sy kop soos ’n koeël—vaartbelyn en langwerpig. Hy staar jou aan met groot groen oë. ’n Stukkie wit pels rondom sy mond gee die indruk dat hy sy snoet in ’n bak melk gedruk het en vergeet het om sy mond af te vee. Sy liggaam, soepel en skraal, kan 1,5 meter of langer wees, sonder dat die dik stert met sy donker punt bygereken word.
Weens sy lang, stewige agterbene is sy agterlyf hoër as sy skouers. Daardie kragtige bene gee aan dié bondel spiere van 60 kilogram die veerkrag om soos ’n vuurpyl van die grond af te skiet. Daar is al gesien dat poemas met een groot sprong vyf meter hoog kan spring. Dit is soos om paal te spring sonder om ’n paal te gebruik!
Wanneer die poema van iets af moet spring, is hy net so indrukwekkend. Dit is bekend dat poemas al 18 meter ver grond toe gespring het. Dit is byna twee maal so hoog as die duikplanke waarvan Olimpiese duikers afduik, maar die poema het nie ’n swembad vol water onder hom nie. Nogtans is die kat gereed om weg te spring sodra hy grondvat asof hy op ’n trampolien te lande gekom het.
“Dit is ’n sterk, indrukwekkende dier”, sê die natuurbioloog Kenneth Logan. “Wanneer jy uitvind hoe hierdie katte aan die lewe bly, dwing hulle groot respek af.” Merkwaardig genoeg lyk dit asof hulle feitlik oral is—maar ook nêrens nie.
Byna oral, en tog onsigbaar
Toe die eerste koloniste hulle in die Nuwe Wêreld gevestig het, het die poema oor die hele vasteland voorgekom, van die Atlantiese tot die Stille Oseaan. Hulle het ewe goed in die berge, in moerasse, op grasvlaktes en in oerwoude geaard. Hoewel jagters en boere die poema nou uit baie dele van Noord-Amerika uitgeroei het, is hy nog uitsluitlik ’n Amerikaanse kat wat nog altyd van Kanada af tot by die punt van Suid-Amerika rondswerf. As ’n mens die sukses van ’n dier meet aan die grootte van sy geografiese verspreiding en die verskeidenheid van sy habitat, is die poema vandag beslis die suksesvolste inheemse soogdier in Amerika. Wat is die sleutel tot sy sukses?
Die poema is goed toegerus vir oorlewing. Hy het ’n sterk maag en maak van verskillende jagmetodes gebruik. Hy kan hom omtrent by enige soort plaaslike kos aanpas. “Hy kan ’n dier wat vyf maal groter as hy is, doodmaak en wegsleep, maar hy eet ook sprinkane as niks anders te vinde is nie”, sê ’n veearts wat die maaginhoud ondersoek het van ’n hele paar poemas wat in Brasilië doodgemaak is. “Wat kos betref, is die poema veelsydiger as enige ander soort kat.”
Verskillende kossoorte vereis ook verskillende jagvaardighede. Dit vereis byvoorbeeld ’n ander taktiek om ’n voël te vang as om ’n hert te bespring. Hoe kry die poema dit reg? In Brasilië se Atlantiese woud lok hy die tinamoe deur die voël se roep na te boots. “’n Volmaakte nabootsing”, sê ’n waarnemer. “Die tinamoe roep net ’n paar maal, maar die poema fluit aaneen—10 of 20 maal.” Nietemin werk dit. Die tinamoe dink dat ’n lawaaierige mannetjie sy gebied binnegedring het en besluit om uit te kom en sy teenstander te konfronteer—’n noodlottige besluit.
Of jy nou in Noord-, Sentraal- of Suid-Amerika na die poema soek, hy slaag grotendeels daarin om onopgemerk te bly—soos die lug, alomteenwoordig maar onsigbaar. Die byvoeglike naamwoorde wat die meeste deur navorsers gebruik word wat die poema bestudeer, is “geheimsinnig, ontwykend en versigtig”. Nadat ’n jagter ongeveer 70 poemas geskiet het, het hy erken dat “hy nooit een van sy slagoffers gesien het voordat die honde dit in ’n boom in gejaag het nie”. Dit is geen wonder dat gefrustreerde navorsers die kat “verskriklik ontwykend” genoem het nie!
’n Kat met baie name
Dit is egter nie net moeilik om die Amerikaanse kat raak te sien nie, maar ook om hom te omskryf. Die poema, sê The Guinness Book of Animal Records, “het meer name as enige ander soogdier ter wêreld”. Buiten die stuk of 40 bekende Engelse name, “het hy ook ten minste 18 Suid-Amerikaanse en ’n verdere 25 Noord-Amerikaanse inheemse name”.
Poema, die naam wat die meeste deur dierkundiges gebruik word, kom van die Quechua-taal van Peru. Bergleeu, wildekat, panter, rooitier en herttier is ’n paar van die ander name wat aan hierdie kat gegee is.
Dr. Faiçal Simon, kurator van die Sao Paulo-dieretuin en ’n poema-kenner, het gesê: “Die poema se gedrag en liggaamlike vermoëns het weinig in gemeen met die ander groot katte.” Dit is waarlik ’n andersoortige kat en een wat in grootte en kleur verskil. Tot 30 subspesies van die poema word regdeur die Amerikas erken, waarvan 6 in Brasilië is.
Moet hulle uitgeroei word?
Vir baie beesboere in Brasilië en elders is die poema ’n ongedierte wat dadelik met die eerste oogopslag geskiet moet word. Maar verdien die poema werklik die reputasie dat hy ’n reeksmoordenaar van beeste is? “As wilde diere beskikbaar is, maak die poema selde beeste dood”, verduidelik dr. Simon. “Die paar keer dat dit wel gebeur, regverdig beslis nie ’n stelselmatige uitwissing van hierdie dier nie. Boere benadeel eintlik net hulleself deur poemas te skiet.” Op watter manier?
Boere skiet byvoorbeeld poemas in Brasilië se Pantanal, ’n moerasgebied wat groter as Suid-Korea is, waar tallose beeste vryelik rondloop. Die gevolg hiervan, vertel dr. Simon, is dat die armadille—die poemas se gunstelingkos in daardie streek—vinnig vermeerder. Armadille is gepantserde soogdiere wat so groot soos konyne is en gate grawe. Met geen poemas in die omgewing nie, verander die armadille Pantanal se weivelde in slagvelde. Hoe so?
Wel, die beeste trap in die gate, breek hulle bene en gaan dood. “Daardie boere verloor nou meer beeste as ooit tevore omdat hulle die poemas doodgemaak het”, sê dr. Simon. “Dit is net nog ’n voorbeeld van wat gebeur wanneer die mens met die natuur inmeng.”
’n Toenemende aantal mense in die Amerikas wil die poema beskerm. Owerhede in sommige dele van Noord-Amerika het dus poema-vriendelike wette aangeneem wat die jag op die katte beheer en hulle habitat beskerm.
Die gevolg is dat die poema weer in die westelike dele van die Verenigde State sy verskyning maak en eertydse habitatte weer bevolk. Dit is so dat nie almal dit verwelkom nie, maar baie doen dit wel. Die tydskrif Smithsonian sê dat die poema “binne ’n betreklike kort tydperk ’n pragtige . . . oorgang gemaak het, van ongedierte tot ’n baie gewenste dier”.
Natuurliefhebbers en jagters het ’n liefde vir die poema. Vir die eersgenoemde is dié kat ’n majestueuse simbool van die wildernis, maar vir die laasgenoemde bly hy ’n trofee. Die vraag is: Hoe lank kan die poema albei wees?
[Voetnoot]
a Die grootste kat in die Amerikas is die jaguar; sien die Ontwaak! van 22 Augustus 1990, bladsye 25-7.
[Venster op bladsy 26]
“Leef en laat leef”?
Wetgewing wat die poema, oftewel bergleeu, in die westelike dele van die Verenigde State beskerm, het nie net daartoe gelei dat die poemabevolking gegroei het nie, maar ook dat botsings tussen poemas en mense toegeneem het. Die oorsaak is voor die hand liggend: ’n Toenemende aantal mense vestig hulle op die rand van die wildernis—in die poema se gebied—en veroorsaak ’n openbare veiligheidsprobleem. Nietemin sal poemas selde mense aanval.
Sedert 1890 het navorsers 65 poema-aanvalle op mense in die Verenigde State en Kanada aangeteken—dit wil sê ongeveer 3 aanvalle elke vyf jaar. Uit daardie 65 aanvalle was om en by 10 noodlottig. In vergelyking daarmee sterf ongeveer 40 mense in die Verenigde State alleen elke jaar aan bysteke.
“As die bergleeu se beskikbare geleenthede in ag geneem word”, sê natuurbioloog Kevin Hansen, “is aanvalle op mense wel verbasend seldsame gebeurtenisse, wat ons laat dink dat hy uiters gewillig is om te leef en laat leef, ten minste wat mense betref.”
[Prent op bladsy 25]
Foto’s: Met vergunning van Sao Paulo-dieretuin