Ons beskou die wêreld
’n Duur dwelmgewoonte
’n Amerikaanse regeringsverslag skat dat Amerikaners $57,3 miljard (R267,5 miljard) in 1995 aan onwettige dwelms bestee het. Kokaïen het twee derdes van die verkope uitgemaak, terwyl die res heroïen, dagga en ander verbode dwelms was. Die direkteur van die Wit Huis se Buro van Nasionale Dwelmbeheerbeleid, Barry McCaffrey, het gesê dat die bedrag geld wat aan hierdie dwelms bestee is ’n miljoen mense vier jaar lank op universiteit kon hou of 83 miljard liter melk kon koop om ondervoede babas te voed, berig Associated Press. Maar hierdie syfer neem nie die maatskaplike koste in berekening nie, soos ’n toename in misdaad, ontwrigting van persoonlike en gesinslewe en die verspreiding van siektes soos hepatitis en vigs.
Die vergete wet
Hoeveel van die Tien Gebooie in die Bybel kan jy opnoem? ’n Studie wat in Rio de Janeiro gedoen is, het bevind dat meer as 1 uit 4 Brasiliane nie een kon noem nie! Van diegene wat ten minste een van die gebooie geken het, het 42 persent “Moenie moord pleeg nie” of “Moenie steel nie” genoem. Ander het dié onthou: “Moenie jou naaste se vrou begeer nie” (38 persent), “Eer [jou] vader en moeder” (22 persent) en: “Moenie valse getuienis lewer nie” (14 persent), berig Veja. Net 13 persent van dié wat ondervra is, het die derde gebod onthou: “Moenie God se heilige naam ydellik gebruik nie.”
Vroeë IK-toese vir kinders
Wetenskaplikes wat menslike intelligensie bestudeer, glo nou dat ’n kind se brein se belangrikste stadium van ontwikkeling tussen geboorte en driejarige ouderdom is. Permanente verbindings vorm ook glo tydens hierdie fase in die brein as gevolg van verstandelike stimulasie. Sommige ouers het dus begin om hulle kinders IK-toese te laat doen nog lank voordat hulle kindertuin toe gaan om hulle te help om ’n voorsprong te hê, berig Modern Maturity. Maar dr. Barry Zuckerman, Voorsitter van die Departement van Pediatrie aan die Mediese Fakulteit van die Universiteit van Boston, het sy besorgdheid uitgespreek oor ouers wat voel dat “hulle baba elke oomblik ‘gestimuleer’ moet word” in ’n poging om ’n “superbaba” te hê. Richard Weinberg, professor in kindersielkunde, voeg by: “Wanneer druk op kinders uitgeoefen word om te vroeg met ander mee te ding, boemerang dit dikwels. Laat jou kinders toe om hulle kinderjare te geniet.”
Noukeurige kopiïste
Die teks waaruit die Griekse Geskrifte van die Bybel bestaan, is noukeurig oorgeskryf en met groot sorg oorgelewer, sê dr. Barbara Aland, Hoof van die Instituut vir Nieu-Testamentiese Navorsing, in Münster, Duitsland. “Foute of selfs veranderinge om teologiese beweegredes kom selde voor”, berig die Westfälische Nachrichten. Sedert 1959 het die instituut meer as 5000 handgeskrewe manuskripte ondersoek wat uit die Middeleeue en die klassieke Oudheid dateer. Ongeveer 90 persent van die manuskripte is op mikrofilm opgeneem. Waarom was kopiïste van die Bybel so versigtig om nie foute te maak nie? Omdat hulle “hulleself as ‘kopiïste’ beskou het, en nie as skrywers nie”, sê die koerant.
Is dit werklik kafeïenvry?
Diegene wat gevoelig is vir kafeïen verkies dikwels kafeïenvrye drankies as alternatief. Maar wat is die kanse dat jy ware kafeïenvrye koffie sal kry wanneer jy daarvoor vra? Volgens ’n berig in The New York Times is dit ongeveer 1 uit 3. Die Amerikaanse Voedsel- en Medisyneraad sê kafeïenvrye koffie bevat twee tot vyf milligram kafeïen. Maar koffiemonsters wat by 18 koffiehandelaars in die stad New York geneem is, het aan die lig gebring dat die hoeveelheid kafeïen in ’n 150-milliliter-koppie baie gewissel het—van 2,3 milligram kafeïen tot 114 milligram! Volgens die Nasionale Koffieraad bevat ’n standaardgrootte koppie gewone koffie tussen 60 en 180 milligram kafeïen.
Wêreldwye ontbossing
“Twee derdes van die planeet se woudbedekking is alreeds vernietig”, berig Jornal da Tarde. Daar is net 30 miljoen vierkante kilometer van die aarde se oorspronklike 80 miljoen vierkante kilometer woudgebiede oor. Die Wêreld-natuurfonds (WWF) het bevind dat Asië die vasteland is waar die meeste ontbossing plaasgevind het, met 88 persent van die oorspronklike plantegroei wat vernietig is. In Europa is die syfer 62 persent, in Afrika 45 persent, in Latyns-Amerika 41 persent en in Noord-Amerika 39 persent. In die Amasonegebied, waar die wêreld se grootste tropiese reënwoud is, bestaan meer as 85 persent van die oorspronklike woud nog. O Estado de S. Paulo haal Garo Batmanian van die WWF aan wat gesê het: “Brasilië het die geleentheid om die foute te vermy wat in ander woude gemaak is.”
Skatte word gesteel
’n Onlangse nuusberig uit Kanada het gesê dat “internasionale misdaadsindikate hulle toespits op die Mesopotamiese skatte wat feitlik onbeskermd gelaat is ná die oorlog in die Persiese Golf in 1991”, berig World Press Review. In 1996 het diewe helder oordag by die Babilon-museum ingebreek en silinders en tablette met inskripsies in spykerskrif gesteel. Die seldsame oudhede, waarvan sommige uit die bewind van Nebukadnesar II dateer, is volgens beraming meer as R3400 000 werd op internasionale kunsmarkte. Nog ’n gebied waarop diewe hulle toespits, is die antieke stad Al-Hadhr. Die regering het al die deure en deurgange in die stad met bakstene en messelklei verseël om die res van die skatte te probeer beskerm, sê die tydskrif.
Die Katolieke Kerk vra om vergifnis
Die Rooms-Katolieke Kerk in Frankryk het ’n formele “Verklaring van Berou” uitgereik waarin hulle God en die Jode om vergifnis vra vir die “onverskilligheid” wat die Katolieke Kerk teenoor die vervolging van Jode gedurende die oorlogstyd onder Frankryk se Vichy-regering geopenbaar het. Van 1940 tot 1944 is meer as 75000 Jode in hegtenis geneem en van Frankryk na Nazi-doodskampe gedeporteer. In ’n verklaring wat deur aartsbiskop Olivier de Berranger voorgelees is, het die kerk erken dat hy toegelaat het dat sy eie belange “die Bybelse gebod van respek vir elke mens wat na die beeld van God geskep is, verdoesel het”, berig die Franse koerant Le Monde. Hoewel ’n handjie vol Franse geestelikes vir die Jode opgekom het, het die meerderheid die Vichy-regering en die beleid daarvan ondersteun. Die verklaring het gedeeltelik gelui: “Die kerk moet erken dat onverskilligheid baie algemener as verontwaardiging was ten opsigte van die vervolging van die Jode, en veral ten opsigte van die veelvuldige anti-Semitiese maatreëls wat deur die Vichy-owerheid ingestel is. Stilswye was die reël, en woorde ten gunste van die slagoffers die uitsondering. . . . Ons bely vandag dat hierdie stilswye ’n fout was. Ons erken ook dat die kerk in Frankryk in sy sendingopdrag as die opvoeder van mense se gewete gefaal het.”
Vernielsugtige kewers
Sedert die rooi palmkewer minder as 20 jaar gelede sy verskyning op die Arabiese skiereiland gemaak het, het hierdie insekkie al in duisende dadelpalms ingegrawe en onberekenbare skade aangerig. “Daar word selfs gevrees dat dadels—Arabië se 5000 jaar oue ‘vrug van die lewe’—uitgeroei kan word”, berig The Economist. Die kewer, wat net vyf sentimeter lank is, boor ’n reeks tonnels in die palm se stam en laat die boom stadig doodgaan. Plaagdoders het nie juis ’n uitwerking op die insek gehad nie, en dit hou aan om vinnig in die hele streek te vermeerder.
Voordele van ouer werknemers
Werkers wat ouer as 47 is, is soggens oplettender en vaardiger as hulle jonger kollegas, berig The Times van Londen. Aangesien hierdie patroon gewoonlik later in die dag net andersom is, stel Tom Reilly, van die John Moores-universiteit in Liverpool, voor dat werkgewers ouer werknemers vroeë skofte en jongeres middag- en aandskofte laat werk. Sprekers by die Britse Mediese Raad se konferensie oor veroudering het ook getoon dat supermarkte dikwels verkies om ouer persone in diens te neem. Waarom? Omdat hulle meer besorgd oor klante is en weet hoe dinge gedoen moet word waarvoor daar geen geskrewe aanwysings is nie. Hulle bly ook by “etiese standaarde waarvan ’n maatskappy dalk afgedwaal het”, berig die koerant.