Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 4/8 bl. 18-19
  • Bestaan daar werklik demone?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bestaan daar werklik demone?
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Verslapte gesindheid
  • Ongeloof skep ’n dilemma
  • Bose bedrieërs
  • Die waarheid oor die engele
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Jesus se mag oor die demone
    Leer by die Groot Onderwyser
  • Wie is die demone?
    Ontwaak!—2010
  • Staan die Duiwel teë
    Hoe om in God se liefde te bly
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 4/8 bl. 18-19

Die Bybelse beskouing

Bestaan daar werklik demone?

GEDURENDE die 17de en 18de eeu het ’n hewige vervolgingsveldtog teen hekse vinnig deur die grootste deel van Europa versprei. Talle sogenaamde hekse het verskriklike marteling ondergaan. Party wat valslik daarvan beskuldig is, het erken dat hulle hekse is bloot om ’n einde aan die marteling te maak. ’n Onnoemlike aantal is op grond van gerugte of verdenking tereggestel.

Hoewel hierdie optrede teen heksery, ’n vorm van demonisme, kwansuis op die Skrif gebaseer was, was dit beslis fanaties. Christene is nie die verpligting opgelê om hekse of enige ander beoefenaar van spiritisme te martel of tereg te stel nie (Romeine 12:19). Wat is vandag die algemene gesindheid?

’n Verslapte gesindheid

Vandag beskou die meeste mense in die Christendom sulke spiritistiese gebruike nie in ’n ernstige lig nie. Party eksperimenteer uit nuuskierigheid met astrologie, goëlery, waarsêery en toorkuns, maar hulle beskou hierdie okkultegebruike nie as demonisme nie. Soms erken verhoogkunstenaars, sportfigure en politici openlik dat hulle by die okkulte betrokke is. Party boeke en rolprente beeld hekse en towenaars uit as “aantreklike, ietwat buitengewone mense wie se bonatuurlike gebruike niemand benadeel nie”, sê ’n ensiklopedie. Materiaal wat bedoel is om kinders te vermaak en op te voed, bevorder soms okkultetemas.

So ’n verslapte en ongeërgde gesindheid ten opsigte van demonisme kan daartoe lei dat mense nie aan demone glo nie. Glo jy dat die demone werklik bestaan en ons daadwerklik probeer kwaad aandoen? Die meeste mense van vandag sal immers sê dat hulle nog nooit kontak met demone gehad het of hulle bedrywighede aanskou het nie. Bestaan daar werklik demone?

Ongeloof skep ’n dilemma

Diegene wat sê dat hulle die Bybel aanvaar, maar wat aan die bestaan van demone twyfel, bevind hulle in ’n dilemma. As hulle nie glo dat demone werklik bestaan nie, openbaar hulle ’n mate van ongeloof in die Bybel. Waarom? Omdat God se Woord, die Bybel, leer dat daar bose geesskepsele met bomenslike mag bestaan.

Die eerste Bybelboek, Genesis, vertel hoe ’n intelligente wese ’n slang gebruik het om Eva te mislei en haar tot opstand teen God te lei (Genesis 3:1-5). Die laaste Bybelboek, Openbaring, identifiseer hierdie bose bedrieër, “die oorspronklike slang”, as “die een wat Duiwel en Satan genoem word, wat die hele bewoonde aarde mislei” (Openbaring 12:9). Satan het daarin geslaag om ander engele tot opstand te verlok (Judas 6). Hierdie gevalle engele word in die Bybel demone genoem. Hulle is werksaam in die omgewing van die aarde en is uiters woedend vir God en vir almal wat hom dien.—Openbaring 12:12.

Satan en die demone het die mag om mense te beïnvloed, leed aan te doen en met hulle te kommunikeer (Lukas 8:27-33). Hulle bestudeer die mensenatuur al duisende jare lank. Hulle weet hoe om menslike swakhede uit te buit. Die Bybel vertel van gevalle waar manne, vroue en kinders van demone besete was, dit wil sê heeltemal deur hulle oormeester is (Matteus 15:22; Markus 5:2). Hulle kan siekte of fisiese belemmerings soos blindheid veroorsaak (Job 2:6, 7; Matteus 9:32, 33; 12:22; 17:14-18). Hulle kan ook mense se verstand verblind (2 Korintiërs 4:4). Die demone is voortdurend bedrywig, net soos hulle leier, Satan, wat ‘soos ’n brullende leeu is en daarop uit is om iemand te verslind’ (1 Petrus 5:8). Die Bybel bevat talle verslae van die bestaan van demone. As jy in die Bybel glo, dan aanvaar jy dat daar werklik onsigbare bose skepsele is.

Bose bedrieërs

Maar hoe kan magtige demone vandag bestaan sonder dat dit ’n permanente toestand van verskrikking in die wêreld veroorsaak? Waarom is hulle teenwoordigheid en werke nie opsigteliker nie? Die Bybel antwoord: “Satan self hou aan om hom in ’n engel van lig te verander” (2 Korintiërs 11:14). Die Duiwel is ’n bedrieër. Demoonbedrywigheid word dikwels as iets onskadeliks of selfs as iets goeds verbloem. Dit is derhalwe moeilik om dit te herken.

Satan en sy demone teister mense steeds op verskillende maniere, net soos hulle in Bybeltye gedoen het. Party wat nou ware Christene is, was voorheen by die okkulte betrokke; hulle kan getuig hoe vreeswekkend demoonaanvalle is. Vandag gebruik die demone hulle bomenslike magte, moontlik op ’n groter skaal as ooit tevore, om mense tot openlike okkultegebruike te verlei. Hulle mag moet nie onderskat word nie. Hulle bereik egter meer deur mense van God weg te lok as om hulle te verskrik. Die Bybel sê dat Satan en die demone “die hele bewoonde aarde mislei” (Openbaring 12:9). Hulle is daarop uit om geestelikheid op subtiele, listige maniere te ondermyn.

Die demone bestaan werklik. Hoe anders kan die onversadigbare bloeddorstigheid en vernietigingsdrang wat vandag so duidelik onder mense is, verklaar word? Mense wil uiteraard in vrede en geluk lewe. Maar die demone bevorder slegtheid en het die mag om die menseverstand te beïnvloed en te verderf.

Maar Jehovah is die almagtige God—baie magtiger as die demone. Hy bied sy krag en beskerming aan teen “die sette van die Duiwel” (Efesiërs 6:11-18). Ons hoef nie ’n morbiede vrees vir die demone te hê nie, want God belowe: “Onderwerp julle dus aan God; maar staan die Duiwel teë, en hy sal van julle wegvlug.”—Jakobus 4:7.

[Prent op bladsy 18]

Sipa Icono

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel