Die dolfyn op ons drumpel
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
HY HOU van warm, vlak tropiese water, hetsy sout of vars, troebel of helder. Sy gebied strek van Indië se Golf van Bengale tussen die Maleisiese eilande deur tot by noordelike Australië.
En tog het min mense—veral Australiërs, wie se noordelike drumpel moontlik die grootste konsentrasies van hierdie dier in die wêreld het—nog ooit die Irawadi-dolfyn gesien of selfs daarvan gehoor. Is dit verbasend? Ja en nee.
In die 19de eeu het dierkundige John Anderson skole van hierdie blougrys dolfyn met sy ronde, snoetlose kop in die Irawadi-rivier in Myanma (destyds Birma) gesien. Hy het dit die Irawadi-dolfyn genoem.
Waarom dit selde gesien word
Irawadi’s floreer in warm en vogtige kus-, rivier- en riviermondgebiede. Hulle tuiste is dikwels modderig en omring van wortelbome, ruigtes, groot swerms muskiete en in party plekke selfs krokodille—nie die soort omgewing wat mense aantrek nie.
Die water in hierdie gebiede is gewoonlik ook troebel, sodat jy die dolfyn slegs sal sien wanneer dit vir ’n kort rukkie na die oppervlak kom om asem te haal. Selfs dan wys hy nie veel van sy lyf nie. Net ’n deel van sy rug verskyn, en sy rugvin is klein in vergelyking met dié van ander dolfyne.
Maar in party plekke is Irawadi-dolfyne nie so ’n seldsame gesig nie. Vissers en rivierbootstuurmanne wat op die Irawadi-rivier in Myanma en op ander riviere in die dolfyn se Asiatiese gebied vaar, sien die diere dikwels ver stroomop jag en speel en sien selfs hoe hulle straaltjies water soos spuitfonteine of beeldjies in ’n watertuin uit hulle mond spuit.
In Australiese waters beweeg die Irawadi’s met die weskus langs, om die bopunt van die vasteland en langs die ooskus af. Hulle word gewoonlik in groepe van minder as 6, maar soms van tot 15, gesien. Daar is nog nooit gesien dat die Australiese dolfyne, in teenstelling met hulle Asiatiese neefs, spuitfonteine namaak nie.
Is dit ’n dolfyn?
Irawadi’s bly naby die land en is stadige swemmers in vergelyking met hulle lewendiger neefs van die blouwater. Tog is dit vir wetenskaplikes moeilik om hulle te bestudeer. Die onaantreklike omgewing waar hulle aangetref word, is ’n sleutelfaktor. Maar lewende Irawadi’s is in die Jaya Ancol-oseanarium in Djakarta, Indonesië, bestudeer.
Omdat daar min omtrent Irawadi’s bekend is, was bioloë tot onlangs nog onseker oor waar hulle in die walvis-dolfyn-geslagsboom pas. Dit is duidelik dat hulle baie met dolfyne in gemeen het. Maar in bou, nie kleur nie (hulle wissel van vaal tot donker blougrys), lyk hulle amper soos ’n kleiner weergawe van die Arktiese beloegawalvis. Selfs hulle buitengewoon buigsame nek kom baie ooreen met dié van die beloega. Wat is hulle dan—die ekwatoriale ekwivalent van die beloega of ’n ware dolfyn?
Een manier om uit te vind, is om ’n groot verskeidenheid van hulle anatomiese en genetiese kenmerke as ’t ware op die weegskaal te sit en te kyk na watter kant die skaal oorhel. Die oorwig van die bewyse is toe aan die dolfyn se kant van die skaal.
Die bietjie wat ons wel weet
By geboorte is ’n Irawadi-kalfie net minder as ’n meter lank en weeg hy omtrent 12 kilogram. Die mannetjies word nagenoeg 2,75 meter lank, en die wyfies net ’n bietjie minder as dit. Hulle kan 28 jaar lewe.
Monsters wat uit die maag van dooie Irawadi’s geneem is, toon dat hulle dieet bestaan uit inkvis, garnale, steurgarnale en vis—veral vis wat op die bodem gevind word. Party wetenskaplikes meen dat die Asiatiese dolfyne se eienaardige gebruik om water by hulle mond uit te spuit hulle dalk help om vis in troebel water te jag.
Soos ander dolfyne stuur Irawadi’s duidelike klikgeluide uit. Dr. Peter Arnold, van die Museum van Tropiese Queensland, het vir Ontwaak! gesê dat “navorsing wat by die Jaya Ancol-oseanarium gedoen is daarop dui dat die Irawadi-dolfyn, soos ander dolfyne, heel waarskynlik sy klikgeluide gebruik om prooi deur middel van die eggo’s op te spoor”.
Het dit ’n toekoms?
Wetenskaplikes het geen idee hoeveel Irawadi’s daar in die wêreld is nie. Maar daar is toenemende kommer dat hulle ’n bedreigde spesie kan word. In party dele van Suidoos-Asië neem hulle getalle af, en in ander dele kan hulle glad nie meer gevind word nie.
Dít is dikwels as gevolg van houtkappery en die gepaardgaande besoedeling en aanslikking van riviere. In Australië is die Irawadi se gebied in groot mate nog redelik yl bewoon deur mense. Maar in die aantrekliker gebiede langs die ooskus het verstedeliking en toerisme hulle tol geëis. Party Irawadi’s verdrink in visnette en party in haainette wat naby die strand opgerig is om swemmers te beskerm. Oorbevissing van Irawadi’s se voedselvoorraad raak ook hulle getalle.
Maar die grootste gevaar is moontlik die toenemende hoeveelheid besoedelstowwe wat in die riviere en riviermondings inspoel. Van die ergstes is sintetiese organiese stowwe, soos polichloorbifeniele (PCB’s), wat geneig is om in die omgewing te bly. PCB’s is in elektroniese onderdele, verf, smeermiddels, bedekkings vir hout en metaal en in ander produkte gebruik.
Aan die positiewe kant sê die Australiese Natuurbewaringsagentskap in hulle dokument The Action Plan for Australian Cetaceans: “’n Groot deel van [die Irawadi-dolfyn se] gebied in Queensland val onder die beheer van die Groot Koraalrif-marinepark; die moontlikhede vir beheer in Queensland se waters is derhalwe goed.”
As nog ’n stap tot beter beheer het die agentskap aan die hand gedoen dat die Irawadi saam met die boggelwalvis, die suidelike noordkapper en die stompneusdolfyn ’n vername spesie gemaak word in programme wat bedreigde spesies onder die aandag van die publiek bring. Dit sal goed wees vir die Irawadi-dolfyn—en vir ons.
[Prent op bladsy 17]
Foto’s: Met vergunning van dr. Tony Preen