Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 3/22 bl. 23-25
  • Ek het vlug 801 oorleef

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het vlug 801 oorleef
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die botsing en die toneel daarna
  • Bekommerd oor die vlamme
  • Uiteindelik gered!
  • Ek sien uiteindelik my vrou!
  • Hou prioriteite in orde
  • My angs op Vlug 232
    Ontwaak!—1990
  • ’n Noodlanding!
    Ontwaak!—2004
  • Hoe veilig is vliegtuie?
    Ontwaak!—1999
  • Waarom ek weer ná my ongeluk gevlieg het
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 3/22 bl. 23-25

Ek het vlug 801 oorleef

EK HET by die venster uitgekyk terwyl ons gedaal het om in Guam te land. ‘Dis vreemd’, het ek gedink. ‘Dit lyk te donker.’ Dit was weliswaar ná middernag, en swaar reën het sig belemmer. Maar waar was die eiland se bekende ligte en die lughawe se verligte aanloopbane? Al wat ek kon sien, was die dowwe ligte op ons makrostraler se vlerke.

Een van die bemanningslede het die gewone aankondigings gedoen ter voorbereiding vir die landing, en ek het gehoor hoe die vliegtuig se landingstoestel stewig in sy plek beweeg. Skielik was daar ’n harde geluid toe ons vliegtuig oor die grond skuur. Die vliegtuig het onbeheerbaar geruk, en passasiers het aan hulle armleunings vasgeklou en uitgeroep: “Wat gaan aan?”

Oomblikke later het ons Boeing 747 teen ’n heuwelhang vyf kilometer duskant die lughawe gebots, klaarblyklik weens ons vlieënier se misrekening. As gevolg van daardie lugramp op 6 Augustus 1997 het altesaam 228 passasiers en bemanningslede gesterf. Ek was een van net 26 oorlewendes.

Voordat ek in Seoel, Korea, aan boord gegaan het, het ’n verteenwoordiger van die lugredery my tweedeklassitplek opgegradeer en my die laaste oorblywende eersteklassitplek gegee. Ek was so bly dat ek my vrou, Soon Doeck, geskakel het wat my by die lughawe in Guam sou ontmoet. Daardie sitplekverandering het vir my groter voordeel ingehou as wat ek my ooit sou kon indink.

Die botsing en die toneel daarna

Weens die beperkte sigbaarheid was die bemanningslede dalk onbewus van enige naderende gevaar. Alles het so vinnig gebeur! Die een oomblik het ek my nog op die ergste voorberei, en toe ek weer kyk, was ek op die grond buite die vliegtuig, nog in my sitplek vasgegordel. Ek is nie seker of ek my bewussyn verloor het of nie.

‘Is dit ’n droom?’ het ek gewonder. Toe ek besef dat dit nie was nie, was my eerste gedagte aan hoe my vrou sou reageer wanneer sy van die ongeluk hoor. Later het sy vir my gesê dat sy nooit die hoop laat vaar het nie. Selfs toe sy iemand by die lughawe toevallig hoor sê het dat net sewe passasiers dit oorleef het, het sy geglo dat ek een van die sewe is.

Ons vliegtuig het in vier stukke gebreek, wat oor ruie oerwoudterrein versprei was. Liggame het oral rondgelê. Stukke van die vliegtuig was aan die brand, en ek het ontploffings sowel as ’n aaklige gekerm en gehuil gehoor. “Help my! Help my!” het stemme gesmeek. My sitplek het in twee meter hoë snygras te lande gekom, en in die onheilspellende lig van die vure kon ek daar naby ’n steil heuwel sien. Dit was omstreeks 2:00 vm., en dit het nog steeds gereën.

Ek was so geskok dat ek nie eers daaraan gedink het dat ek dalk seergekry het nie, totdat ek ’n jong meisie opgemerk het wie se kopvel teen die agterkant van haar kop afgehang het. Ek het onmiddellik my hand na my kop uitgesteek en gevoel dat bloed uit ’n sny bo my linkeroog loop. Ek het die res van my liggaam begin ondersoek en nog talle klein snytjies ontdek. Maar gelukkig het nie een ernstig gelyk nie. Daar was egter ’n verlammende pyn in my bene wat dit vir my onmoontlik gemaak het om te beweeg. Hulle was albei gebreek.

Later, toe ek by die hospitaal gekom het, het dokters my beserings as “gering” bestempel. En hulle was inderdaad gering in vergelyking met dié van ander oorlewendes. Een man is sonder sy bene uit die wrak gehaal. Ander het ernstige brandwonde opgedoen, waaronder drie wat die ongeluk oorleef het, maar later, ná weke van verskriklike pyn, tog gesterf het.

Bekommerd oor die vlamme

Ek was nie soseer besorg oor my beserings nie, maar ek het my eerder daaroor bekommer of die reddingswerkers my betyds sou bereik. Die middelste dele van die vliegtuig, waar my tweedeklassitplek sou gewees het, was so te sê heeltemal vernietig. Dit wat oorgebly het, was aan die brand, en passasiers wat daarbinne vasgekeer was, het ’n pynlike dood gesterf. Ek sal nooit hulle uitroepe om hulp vergeet nie.

My sitplek het naby die neus van die vliegtuig gelê. Ek was ’n armlengte van die wrak af. Ek kon die vlamme sien deur my nek agteroor te buig. Ek was bang dat dit net ’n kwessie van tyd is voordat dit my bereik, maar gelukkig het dit nooit gebeur nie.

Uiteindelik gered!

Die minute het stadig verbygegaan. Meer as ’n uur het verstryk. Uiteindelik het ’n paar reddingswerkers die ongelukstoneel omstreeks 3:00 vm. gevind. Ek kon hulle bo-op die heuwel hoor praat en verbasing hoor uitspreek oor wat hulle gesien het. Een van hulle het uitgeroep: “Is enigiemand daar?”

“Hier is ek”, het ek teruggeskreeu. “Help my!” Ander passasiers het ook geantwoord. Een reddingswerker het ’n ander as “Ted” aangespreek. Ek het dus begin skreeu: “Haai Ted, ek is hier!” en: “Ted, kom help ons!”

“Ons kom af! Wag net”, was die antwoord.

Gietende reën, wat baie mense moontlik van die vlamme gered het, het dit moeilik gemaak om teen die glibberige skuinste af te klim. Gevolglik het nog ’n lang uur verbygegaan voordat reddingswerkers oorlewendes bereik het. Die tyd wat dit hulle geneem het om my te bereik, het soos ’n ewigheid gevoel.

“Ons is hier”, het twee reddingswerkers met flitse gesê. “Moenie bekommerd wees nie.” Weldra het nog twee reddingswerkers by hulle aangesluit, en saam het hulle my probeer skuif. Twee het my arms gevat, en die ander twee het my bene vasgehou. Dit was verskriklik seer om so gedra te word, veral aangesien hulle in die modder bly gly het. Ná ’n entjie het hulle my neergesit. Een van hulle het ’n draagbaar gaan haal, en ek is geskuif na waar ’n militêre helikopter my na ’n ambulans bo-op die heuwel kon vervoer.

Ek sien uiteindelik my vrou!

Ek het eers om 5:30 vm. die ongevalle-afdeling bereik. Vanweë my ernstige beserings wou die dokters my nie toelaat om te bel nie. My vrou het dus eers om 10:30 vm. uitgevind dat ek die ongeluk oorleef het, byna nege uur nadat die vliegtuig geval het. Sy is deur ’n vriend in kennis gestel wat my naam op ’n lys van oorlewendes gesien het.

Toe my vrou omstreeks 4:00 nm. uiteindelik toegelaat is om my te sien, het ek haar nie onmiddellik herken nie. My verstand was deur die pynstillers benewel. “Dankie dat jy lewe”, was haar eerste woorde. Ek onthou nie die gesprek nie, maar daar is later vir my gesê dat ek geantwoord het: “Moet my nie bedank nie. Bedank Jehovah.”

Hou prioriteite in orde

Terwyl ek in die hospitaal herstel het, was die pyn wat ek gevoel het vir my bekend. In 1987, minder as ’n jaar nadat ek van Korea af na Guam toe getrek het, het ek in ’n konstruksieongeluk van ’n vier verdieping hoë steier afgeval en albei my bene gebreek. Dít was ’n keerpunt in my lewe. My ouer suster, een van Jehovah se Getuies, het my al ’n tyd lank aangespoor om die Bybel te bestudeer. My ses maande lange tydperk van herstel het my die geleentheid gegee om dit te doen. Gevolglik het ek daardie selfde jaar my lewe aan Jehovah God toegewy en dit deur waterdoop gesimboliseer.

Sedert die vliegongeluk dink ek aan een van my gunstelingtekste, wat sê: “Hou dan aan om eers [God se] koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:33). Terwyl ek ná die vliegongeluk herstel het, het ek die geleentheid gehad om my lewe weer in oënskou te neem.

Die ongeluk van Vlug 801 het my op ’n baie kragtige manier laat besef hoe kosbaar die lewe is. Ek kon so maklik dood gewees het! (Prediker 9:11). Ek moes juis verskeie operasies ondergaan om te herstel, en ek het meer as ’n maand in die hospitaal deurgebring om my gesondheid te herwin.

Nou wil ek aan ons Grootse Skepper toon dat ek waarlik sy wonderlike gawe van die lewe waardeer, wat ook sy voorsiening insluit dat mense die ewige lewe in ’n aardse paradys kan geniet (Psalm 37:9-11, 29; Openbaring 21:3, 4). Ek besef dat die beste manier om sulke waardering te toon, is deur voort te gaan om Koninkryksbelange eerste in my lewe te stel.—Bygedra.

[Foto-erkenning op bladsy 23]

US Navy/Sipa Press

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel