Jongmense vra . . .
Kan ek beter vaar op skool?
“My ouers stel net in punte belang. ‘Hoe het jy in jou wiskundetoets gedoen? Hoe het jy in jou Engelse vraestel gedoen?’ Ek haat dit!”—13-jarige Sam.
SAM is nie die enigste een wat hom in so ’n situasie bevind nie. Trouens, die skrywers van die boek “Could Do Better” skryf: “Ons het nog nie ’n ouer ontmoet wat dink dat sy kind so goed vaar op skool as waartoe hy of sy in staat is nie.” Maar baie jongmense, soos Sam, meen dat hulle ouers te veel druk op hulle plaas om beter te doen in hulle skoolwerk—dalk selfs om uit te blink. Hulle het moontlik in die klas met ekstra druk te kampe. “Onderwysers het nie genoeg geduld nie”, kla ’n tiener. “Hulle verwag van jou om dinge onmiddellik te onthou en as jy nie kan nie, laat hulle jou dom voel. Ek probeer dus nie eers nie.”
Jongmense wat nie aan die verwagtinge van ouers en onderwysers voldoen nie, word dikwels onderpresteerders genoem. En feitlik alle leerlinge presteer die een of ander tyd swak op skool. Waarom? Interessant genoeg, luiheid of die onvermoë om te leer, is nie altyd die rede hiervoor nie.a
Waarom sommige swak presteer
Dit is wel so dat sommige jongmense blykbaar met die minste inspanning tevrede is wat skoolwerk betref. “As ek met die minimum kan wegkom”, erken die 15-jarige Herman, “doen ek net dit.” Ons moet darem erken dat nie al hierdie jongmense onverskillig staan teenoor geleerdheid nie. Dit kan wees dat hulle ’n sekere vak net oninteressant vind. Dan is daar party wat nie die praktiese waarde kan insien van wat hulle leer nie. Reuben, wat 17 jaar oud is, het dit só gestel: “Daar is vakke wat ek seker is ek nooit weer sal gebruik as ek klaar is met skool nie.” ’n Gebrek aan belangstelling of dryfkrag kan maklik daartoe lei dat iemand swak presteer.
Daar is ander faktore. As ’n onderwyser byvoorbeeld nuwe inligting te vinnig dek, sal jy gefrustreerd raak. As hy te stadig vorder, sal jy verveeld raak. Portuurdwang kan ook ’n uitwerking op jou prestasie op skool hê. Die boek Kids Who Underachieve verduidelik: “As ’n kind wat skrander en akademies aangelê is deur ’n portuurgroep aanvaar wil word wat nie akademies georiënteerd is nie, kan hy verplig voel om swak te presteer.” ’n Tiener het dus gekla dat ander tydens sy vroeë skooljare jaloers op hom was en met hom gespot het omdat hy hard gewerk het. Ja, ’n jongmens kan die werklikheid van die beginsel in Spreuke 14:17 (NW) ondervind: “Die man van denkvermoëns word gehaat.”
Soms is die oorsake van swak prestasie dieper geworteld. Sommige jongmense word ongelukkig met ’n negatiewe selfbeeld groot. Dit kan die gevolg wees wanneer ’n kind gedurig met onvriendelike byname gebombardeer word, soos trapsuutjies, onnosel of luiaard. Sulke byname kan ongelukkig voorspellings wees wat die kind self bewaarheid. Soos ’n dokter dit gestel het: “As daar vir jou gesê word jy is dom, en jy glo dit, sal jy dienooreenkomstig optree.”
Die aansporing van ouers en onderwysers word gewoonlik goed bedoel. Maar selfs dan kan jongmense dink dat daar te veel van hulle verwag word. As dit lyk of dit in jou geval so is, kan jy daarvan verseker wees dat jou ouers en onderwysers jou nie probeer gek maak nie. Hulle wil waarskynlik net hê dat jy jou volle potensiaal moet bereik. Nogtans kan die druk om aan hulle verwagtings te voldoen, jou laat voel asof jy eenvoudig wil tou opgooi. Maar skep moed: Jy kan beter vaar op skool.
Raak gemotiveer
Die eerste stap is: Raak gemotiveer! Om dit te doen, moet jy verstaan wat die doel is van wat jy leer. Die Bybel sê: ‘Die man wat ploeg, behoort in hoop te ploeg en die man wat dors, behoort dit te doen in die hoop om ’n deel te ontvang’ (1 Korintiërs 9:10). Dit is nie altyd maklik om te besef wat die waarde is van sekere vakke waardeur ons moet worstel, oftewel “ploeg”, nie. Jy sê dalk: ‘Ek wil eendag ’n rekenaarprogrammeerder wees. Waarom moet ek dan geskiedenis leer?’
Dit is waar dat nie alles in jou skoolleerplan miskien sal lyk of dit ter sake is nie—ten minste nie op hierdie tydstip nie. Maar probeer ’n langtermynbeskouing verkry. ’n Algemene opvoeding in ’n verskeidenheid vakke sal jou begrip vergroot van die wêreld waarin jy leef. Baie jongmense onder Jehovah se Getuies het gevind dat ’n afgeronde opvoeding hulle gehelp het om ‘alles vir alle soorte mense te word’ en veelsydiger te wees in die verkondiging van die Koninkryksboodskap aan mense van verskillende lewensterreine (1 Korintiërs 9:22). Selfs al lyk dit of ’n vak maar min praktiese waarde het, kan jy baat daarby vind as jy dit onder die knie kry. Jy sal, op die allerminste, jou “denkvermoë” verbeter, iets wat jou op die ou end tot groot nut sal strek.—Spreuke 1:1-4, NW.
Die skool kan jou ook help om jou verborge talente te ontdek. Die apostel Paulus het aan Timoteus geskryf: ‘Wakker die gawe van God wat in jou is soos ’n vuur aan’ (2 Timoteus 1:6). Timoteus is klaarblyklik aangestel om die een of ander spesiale diens in die Christengemeente te verrig. Maar sy godgegewe vermoë—sy “gawe”—moes ontwikkel word sodat dit nie ongebruik sou bly en verlore gaan nie. Jou skolastiese vermoëns word natuurlik nie direk deur God aan jou geskenk soos met Timoteus se gawe die geval was nie. Nietemin is die vermoëns wat jy het uniek aan jou—of dit nou op die gebied van kuns, musiek, wiskunde, wetenskap of ander gebiede is—en die skool kan jou help om sulke gawes te ontdek en te ontwikkel.
Goeie studiegewoontes
Maar om ten volle by die skool baat te vind, moet jy ’n goeie studieroetine hê. (Vergelyk Filippense 3:16.) Sit genoeg tyd opsy om ’n goeie hoeveelheid werk te dek, maar laat ook tyd toe vir ’n pouse nou en dan sodat jy kan asem skep. As jou studiemateriaal leeswerk insluit, moet jy die stof eers vlugtig deurkyk sodat jy ’n oorsig daarvan kan hê. Stel daarna vrae op wat op hoofstuktitels of hoofopskrifte gebaseer is. Lees dán die materiaal en soek terselfdertyd die antwoorde op jou vrae. Kyk laastens of jy dit wat jy geleer het uit jou kop kan opsê.
Bring wat jy leer in verband met wat jy reeds weet. ’n Wetenskapkursus kan byvoorbeeld ’n venster wees waardeur God se ‘onsigbare eienskappe duidelik gesien kan word’ (Romeine 1:20). Geskiedenis kan jou help om jou van die waarheid van die volgende stelling te vergewis: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Namate jy jou daarop toelê om te studeer, sal jy waarskynlik vind dat dit makliker word om te leer—selfs genotvoller! Salomo het opgemerk: “Vir die verstandige is kennis maklik.”—Spreuke 14:6.
Behou ’n positiewe gesindheid
Maar soms hou swak prestasie verband met ’n mens se keuse van vriende. Moedig jou vriende sukses aan, of is hulle self onderpresteerders? ’n Bybelspreuk sê: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg” (Spreuke 13:20). Kies dus jou vriende goed. Gaan om met diegene wat ’n positiewe gesindheid teenoor die skool het. Moenie huiwer om persoonlik met jou onderwyser te praat oor jou doelwit om jou punte te verbeter nie. Jou onderwyser sal ongetwyfeld ekstra moeite doen om jou daarmee te help.
Wanneer jy deur negatiewe gedagtes oor jou vermoëns oorweldig word, kan jy aan die voorbeeld van die apostel Paulus dink. Toe die mense sy spraakvermoë gekritiseer het, het hy geantwoord: “Selfs al is ek onbedrewe in spraak, is ek beslis nie in kennis nie” (2 Korintiërs 10:10; 11:6). Ja, Paulus het op sy sterk punte gekonsentreer en nie op sy swak punte nie. Wat is jou sterk punte? As jy hulle nie self kan identifiseer nie, kan jy gerus gesels met ’n volwassene wat ondersteunend is. So ’n vriend kan jou help om jou sterk punte raak te sien en hulle ten volle te benut.
Maak vooruitgang ten spyte van probleme
“Wy al jou aandag, al jou energie, aan hierdie dinge, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees” (1 Timoteus 4:15, Phillips). Net soos ’n vader met sy seun sal praat, het Paulus die reeds suksesvolle Timoteus aangemoedig om nog verdere vooruitgang te maak in sy bediening. In Bybeltye het die Griekse werkwoord “vooruitgaan” letterlik beteken om “vorentoe te sny”, wat ’n mens laat dink aan iemand wat sy pad deur bosse oopsny. Soms kan dit voel asof dít is wat jy op skool moet doen. Maar dit sal baie makliker wees om die pad deur jou skoolloopbaan te volg as jy daaraan dink dat die uiteindelike beloning die moeite werd is.
Daar is ’n noue verband tussen moeite, motivering en studie. Ter toeligting: Dink aan iemand wat ’n musiekinstrument bespeel. As hy dit geniet, speel hy meer. Hoe meer hy speel, hoe vaardiger raak hy, en dit vergroot weer sy vreugde. Hoe meer ons leer, hoe makliker is dit om selfs meer te leer. Moet dus nie moedeloos raak oor jou skoolwerk nie. Doen die nodige moeite, gaan om met diegene wat jou wil help om uit te blink en neem die woorde van Asarja aan die eertydse koning Asa ter harte: “Laat julle hande nie slap hang nie, want daar is loon volgens julle werk.”—2 Kronieke 15:7.
[Voetnoot]
a Jongmense met leergestremdhede kom moontlik in hierdie verband voor spesiale uitdagings te staan. Sien die Ontwaak! van 22 Junie 1996, bladsye 11-13, vir meer inligting.
[Prent op bladsy 21]
Moenie huiwer om met jou onderwyser te praat oor jou doelwit om jou punte te verbeter nie
[Prent op bladsy 22]
Selfs al lyk dit of ’n vak maar min praktiese waarde het, kan jy baat daarby vind as jy dit onder die knie kry