Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 3/8 bl. 10-12
  • Hoe veilig is vliegtuie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe veilig is vliegtuie?
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Veiligheid in die stuurkajuit
  • Wat kan jy doen?
  • Bang om te vlieg?
  • Wees veiligheidsbewus
    Ontwaak!—2002
  • Waarom ek weer ná my ongeluk gevlieg het
    Ontwaak!—1991
  • Wenke vir reisigers van ’n ervare vlieënier
    Ontwaak!—2003
  • Lugvaart word veiliger gemaak
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 3/8 bl. 10-12

Hoe veilig is vliegtuie?

IN EEN jaar sterf ongeveer ’n halfmiljoen mense op die wêreld se paaie. Daarteenoor het 1 945 mense in 1996 in vliegtuigongelukke omgekom. In 1997 het die syfer tot 1 226 gedaal. Volgens die statistiek van die vervaardiger Boeing “verongeluk handelstralers minder as 2 keer uit elke 1 miljoen vlugte”.

Maar elke vliegtuigongeluk kry groot publisiteit, terwyl die daaglikse slagting op die paaie as vanselfsprekend aanvaar word. In die Verenigde State word net busvervoer as ietwat veiliger as lugreise beskou.

Waarom is ’n vliegtuig gewoonlik veiliger as ’n motor? Een voor die hand liggende rede is dat vliegtuie nie soos voertuie op die pad gewoonlik naby aan mekaar verbygaan nie. Nog ’n rede is dat die meeste lugrederye se bemanningslede baie goed opgelei is en hulle hulle verantwoordelikhede baie professioneel benader. ’n Kaptein van ’n Boeing 747 sal gewoonlik in sy vyftigerjare wees en ongeveer 30 jaar se vliegervaring hê. Veiligheid is van die hoogste belang vir al die bemanningslede. Hulle lewe is op stuk van sake ook op die spel.

Veiligheid in die stuurkajuit

As jy in die stuurkajuit van ’n passasiersvliegtuig kyk, sal jy opmerk dat daar twee stelle van al die belangrike instrumente en kontroles is—een stel aan die linkerkant vir die kaptein en die ander aan die regterkant vir die medevlieënier.a Volgens The Air Traveler’s Handbook “het die ander loods in die onwaarskynlike geval dat een van hulle inmekaarsak al die kontroles wat nodig is om veilig te vlieg. Gedurende die vlug kan elke loods die ander se instrumente kontroleer en seker maak dat hulle op albei panele dieselfde gegewens het.”

Nog ’n veiligheidsfaktor in die stuurkajuit is dat die kaptein en die medevlieënier as ’n voorsorgmaatreël gewoonlik verskillende etes het. Waarom is dit die geval? In die onwaarskynlike geval van voedselvergiftiging sal net een van hulle dan daardeur geraak word.

“Passasiersvliegtuie het gewoonlik twee of meer hidrouliese stelsels ingeval een onklaar raak” om die beheer van bewegende dele soos klappe, landingstoestelle en remme te waarborg. ’n Dubbele of selfs ’n driedubbele stelsel is ’n standaardveiligheidsvereiste vir die meeste moderne vliegtuie.

Wat kan jy doen?

Hier is ’n paar eenvoudige voorsorgmaatreëls wat alle passasiers kan tref: Lees die instruksiekaart vir noodsituasies, en luister na die vlugbemanning wanneer hulle veiligheidsprosedures aan die begin van elke vlug verduidelik. Wanneer jy gaan sit, moet jy kyk waar die naaste uitgang is. En in ’n noodgeval moet jy die vlugbemanning se instruksies volg. Hulle is almal hoogs opgelei om moeilike situasies te hanteer, indien enige sou ontstaan. Wanneer instruksies gegee word, is dit noodsaaklik dat passasiers vinnig beweeg en van hulle besittings vergeet. Lewe is belangriker as besittings.

Omdat moderne vliegtuie gewoonlik bo of om die weer vlieg, is die meeste langafstandvlugte baie egalig. Gevolglik ondervind baie min mense lugsiekte. As enige stamperigheid verwag word, laat die kaptein gewoonlik die passasiers weet sodat hulle hulle veiligheidsgordels as ’n voorsorgmaatreël kan vasmaak.

Kan ’n vliegtuigrit veiliger wees? Die antwoord is ja. Maar die meeste passasiers sal nie die nodige veranderinge kan verdra nie. Wat is dit? Passasiers sal agtertoe moet kyk en nie vorentoe nie! Watter voordele sou dit inhou? Passasiers sal deur die rugleuning ondersteun word tydens skielike vaartvermindering pleks van net deur ’n sitplekgordel wat oor die onderlyf vasgemaak is, wat onvolledige beskerming is in vergelyking met die meeste motorsitplekgordels wat ook oor die bors kom. Die meeste mense verkies egter om te sien waar hulle gaan en nie waar hulle was nie!

Bang om te vlieg?

Daar word geskat dat 1 uit 6 volwassenes in die Verenigde State bang is om te vlieg. Vir party is dit meer as net ’n vrees—dit is ’n fobie, ’n uiterste vrees wat tot paniekreaksies kan lei. Wat kan help?

As jy ’n ingeligte passasier word, kan dit baie help om angs te verlig. Elke jaar vervoer ongeveer 15 000 vliegtuie, wat byna 10 000 lughawens bedien, meer as 1,2 miljard mense regoor die wêreld met betreklik min ongelukke of voorvalle. “Volgens Lloyd’s of London [’n versekeringsmaatskappy] is dit 25 keer veiliger om per vliegtuig as per motor te reis.”

As jy senuweeagtig is om te vlieg, kan jy boeke oor lugvaart, vliegtuie en loodsopleiding lees. Lees oor die hoë standaarde van opleiding wat van loodse verwag word en die reëls waaronder hulle werk, soos hoe lank hulle moet slaap, hoeveel alkohol hulle mag drink voordat hulle vlieg en dwelmtoetse sonder waarskuwing. Daar is ook die halfjaarlikse roetineondersoeke wat loodse in ’n vlugnabootser moet slaag om hulle reaksies op noodsituasies te toets. Hierdie nabootsings is so lewensgetrou dat party loodse “bewend en sopnat van die sweet” uit die nabootser kom. As ’n loods die nabootsertoets faal, kan hy sy lisensie om kommersiële vliegtuie te vlieg, verloor.

Hierdie standaarde is baie hoër as enige wat van voertuigbestuurders verwag word. Hoe meer jy dus oor vliegtuie en loodse leer, hoe meer kan jou vertroue toeneem.

Dit sal dalk ook help om ’n lughawe te besoek. Let op die prosedures vir passasiers, en kyk hoe mense reageer. Jy sal sien dat die meeste mense uit ’n vliegtuig klim asof dit maar net ’n bus is waaruit hulle klim. Vir hulle is ’n vliegtuigrit iets algemeens. Kyk hoe vliegtuie opstyg en land. Verstaan en bewonder die wetenskaplike beginsels van aërodinamika wat dit moontlik en veilig maak om te vlieg.

Wanneer jy uiteindelik jou eerste vliegrit onderneem, kan jy vir ’n vlugbemanningslid sê dat dit jou eerste keer in ’n vliegtuig is en dat jy dalk ’n bietjie senuweeagtig gaan wees. Hierdie professionele bemanningslede weet hoe om jou te laat ontspan en het vertroue in die stelsel. Probeer ontspan. Wanneer die kaptein sê dat dit veilig is om in die vliegtuig rond te loop, kan jy opstaan en in die kajuit rondloop. Jy is dalk goed op pad om jou vrees vir vlieg te oorkom!

[Voetnoot]

a Op die meeste vliegtuie sal die kaptein jou toelaat om in die stuurkajuit te kyk terwyl die vliegtuig staan. Hy sal ook jou vrae beantwoord.

[Lokteks op bladsy 11]

“Volgens Lloyd’s of London [’n versekeringsmaatskappy] is dit 25 keer veiliger om per vliegtuig as per motor te reis”

[Prente op bladsy 12]

As jy leer om te ontspan, kan dit die vliegrit aangenaam maak

[Foto-erkenning op bladsy 10]

Foto met vergunning van Boeing Aircraft Company

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel