Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 2/22 bl. 7-9
  • ’n Misdaadvrye wêreld is op hande!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Misdaadvrye wêreld is op hande!
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Opvoeding wat nodig is
  • Hoe ’n nuwe wêreld tot stand sal kom
  • God se nuwe wêreld is naby
  • ’n Realistiese oplossing—Is dit moontlik?
    Ontwaak!—2003
  • Hierdie wêreld—Waarop stuur dit af?
    Ontwaak!—2007
  • Wanneer die nuwe wêreld sal kom
    Ontwaak!—1993
  • Vier vrae oor die einde word beantwoord
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 2/22 bl. 7-9

’n Misdaadvrye wêreld is op hande!

WANNEER ons vandag na die wêreldsituasie kyk, kan ons duidelik sien dat dit baie moeilik is om nie beïnvloed te word om te doen wat sleg is nie. Ons almal word in werklikheid in onvolmaaktheid gebore, met ’n geneigdheid om te doen wat sleg is (1 Konings 8:46; Job 14:4; Psalm 51:7). En sedert Satan die Duiwel uit die hemel gewerp is, probeer hy harder as ooit tevore om moeilikheid te veroorsaak.—Openbaring 12:7-12.

Die gevolge is verskriklik. ’n Opname wat onder 4000 kinders in Skotland gedoen is, het byvoorbeeld getoon dat twee derdes van dié tussen die ouderdomme van 11 en 15 reeds misdade gepleeg het. ’n Opname wat regoor Brittanje gedoen is, het getoon dat feitlik elke derde tiener sonder enige gewetenswroeging winkeldiefstal sou pleeg. En meer as die helfte het erken dat hulle, as hulle te veel kleingeld gegee sou word, dit sou hou.

Die Italiaanse boek Lʹoccasione e lʹuomo ladro (Die geleentheid en die dief) verduidelik waarom mense steel. Die boek sê dat diewe “min selfbeheersing” het en dat hulle “bevrediging nie kan uitstel nie”. Die boek voeg by dat die meeste diewe nie professionele diewe is nie, maar bloot “opportuniste wat gewillig is om situasies uit te buit”.

Dit is interessant dat die boek ook meld waarom baie mense “nie wette oortree nie”. Dit kom tot die gevolgtrekking dat dit nie is omdat hulle “wetlike strafmaatreëls vrees nie, maar omdat hulle sedelike waardes het wat hulle daarvan weerhou”. Waar kan mense hierdie regte sedelike waardes leer?

Opvoeding wat nodig is

Wel, beskou wat uit baie kommunikasiekanale geleer word. Die boodskap wat byvoorbeeld oor die algemeen deur rolprente en die televisie oorgedra word, is dat geweld, egbreuk en mishandeling aanvaarbaar is. Dit is derhalwe geen wonder dat mense so min selfbeheersing het nie. Die Bybel leer daarenteen wyslik: “Die lankmoedige is beter as ’n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ’n stad inneem.”—Spreuke 16:32.

As die hedendaagse propaganda in ag geneem word, behoort dit nie verbasend te wees dat baie mense “bevrediging nie kan uitstel nie”. Mense hoor herhaaldelik: “Koop nou en betaal later.” “Wees goed vir jouself.” “Jy verdien die beste.” “Sien na jou eie belange om.” Selfbevrediging word as normaal sowel as reg voorgestel. Maar so ’n egosentriese beskouing is strydig met die Bybellering om “nie in persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake [te] hou nie, maar ook in persoonlike belangstelling op dié van die ander”.—Filippense 2:4.

Sou jy nie saamstem dat die meeste oneerlike mense opportuniste is nie? Ongelukkig is daar al hoe meer mense wat gewillig is om situasies uit te buit. Hulle vra nie of ’n sekere daad sedelik reg is nie? Al waaroor hulle besorg is, is: ‘Kan ek ongestraf bly?’

Wat is nodig? Soos hierbo gesê is, is sedelike waardes nodig. Dit sal mense daarvan weerhou om misdade te pleeg, die heiligheid van lewe te verontagsaam, die heiligheid van die huwelik te skend, die perke van behoorlike gedrag te oorskry en andersins op die regte van ander inbreuk te maak. Diegene wat nie sulke waardes leer nie, het, soos die Bybel sê, “alle sedelikheidsgevoel verloor” (Efesiërs 4:19). Die misdadige optrede van sulke goddelose mense verhinder dat ons ’n misdaadvrye wêreld geniet.

Hoe ’n nuwe wêreld tot stand sal kom

Baie mense doen natuurlik hulle bes om eerlik te wees, om hulle medemens met respek en bedagsaamheid te behandel en om nie onwettige dinge te doen nie. Maar dit sou naïef wees om te dink dat almal in die wêreld dit sal probeer doen. Baie sal nie, net soos die meeste mense wat in die dae van die regverdige man Noag geleef het, nie gewillig was om te doen wat reg was nie. In daardie wêreld vol geweld het net Noag en sy gesin hulle van goddelose gedrag onthou en sodoende God se goedkeuring weggedra. Deur die goddeloses in die aardwye Vloed te vernietig, het ons Skepper ’n wêreld tot stand gebring wat tydelik vry van misdaad was.

Dit is belangrik om te onthou dat die Bybelverslag van die Vloed en van die vernietiging van die goddeloses nie net ’n interessante verhaal is nie. Jesus Christus het verduidelik: “Net soos dit in die dae van Noag gebeur het, so sal dit ook in die dae van die Seun van die mens wees” (Lukas 17:26; 2 Petrus 2:5; 3:5-7). Net soos God daardie gewelddadige wêreld voor die Vloed vernietig het, sal hy ook hierdie wêreld vol misdaad vernietig.

Ons het die volgende feit uit gesaghebbende bron, soos opgeteken deur Jesus se geliefde apostel Johannes: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). Die einde van hierdie wêreld sal die weg baan vir ’n nuwe wêreld waarin God, volgens die Bybel, “by [die mense sal] woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie.”—Openbaring 21:3, 4.

Die Bybel sê ook ter beskrywing van hoe daardie nuwe wêreld tot stand sal kom: “Wat die goddeloses betref, hulle sal van die aarde afgesny word; en wat die verraderlikes betref, hulle sal daarvan weggeruk word” (Spreuke 2:22, NW). Met net die opregtes wat dan op die aarde oor is, sal hierdie Bybelprofesie vervul word: “Die ootmoediges . . . sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”—Psalm 37:11.

In God se nuwe wêreld sal selfs die diere nie meer wreed wees nie. Die Bybel voorspel: “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja. . . . Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”—Jesaja 11:6-9; 65:17; 2 Petrus 3:13.

God se nuwe wêreld is naby

Die goeie nuus is dat sulke vreedsame toestande binnekort regoor die aarde verwesenlik gaan word. Waarom kan ons so seker wees? As gevolg van wat Jesus voorspel het onmiddellik voor die wêreld se einde sou plaasvind. Hy het onder meer voorspel: “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk, en daar sal voedseltekorte en aardbewings op die een plek na die ander wees.” Hy het bygevoeg: “Weens die toename in wetteloosheid sal die liefde van die meeste verkoel.”—Matteus 24:7, 12.

’n Apostel van Jesus het ook voorspel: “In die laaste dae [van hierdie wêreld sal daar] kritieke tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, . . . sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir goedheid, . . . liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” (2 Timoteus 3:1-5). Ons lewe beslis in “die laaste dae” van hierdie wêreld! Dit sal derhalwe binnekort deur God se regverdige nuwe wêreld vervang word!

’n Studie van die Bybel het miljoene oortuig dat ’n wêreld sonder misdaad moontlik is, en hulle neem die uitnodiging aan om in die weë van ons Skepper, Jehovah God, onderrig te word (Jesaja 2:3). Sal jy graag by hulle wil aansluit? Is jy bereid om jou in te span om die lewe in ’n misdaadvrye wêreld te verkry?

Jesus het getoon wat eerstens nodig is. Hy het verduidelik: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.” Jou ewige welsyn hang dus daarvan af dat jy God se Woord bestudeer en optree volgens wat jy leer.—Johannes 17:3.

[Prent op bladsy 8, 9]

Die Bybel beskryf ’n misdaadvrye nuwe wêreld en vertel hoe ons dit kan geniet

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel