Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 2/22 bl. 10-11
  • Vuurtoringwagters—’n verdwynende beroep

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vuurtoringwagters—’n verdwynende beroep
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Storms word deurstaan
  • Eensaamheid en eentonigheid
  • ’n Verdwynende beroep
  • ’n Lig wat lewens red
    Ontwaak!—1999
  • Nóg ’n ekologiese tragedie
    Ontwaak!—1993
  • Beweeg na die lig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 2/22 bl. 10-11

Vuurtoringwagters—’n verdwynende beroep

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KANADA

“DAAR is hoegenaamd niks anders wat ek eerder sou wou doen nie”, het vuurtoringwagters al oor en oor gesê. ’n Man wat sy bestuurspos in ’n plastiekaanleg in Toronto, Kanada, laat vaar het om die wagter van ’n 106 jaar oue vuurtoring te word, het gesê dat die werk hom “10 jaar jonger” laat voel het.

Die vernaamste verantwoordelikheid van ’n vuurtoringwagter is om ’n goeie lig vir seemanne in stand te hou. Daar word ook van hom vereis om mishorings te lui en in stand te hou sowel as om inligting aangaande die weer oor die radio aan vissermanne en verbygaande skepe te voorsien.

In vroeër jare moes vuurtoringwagters die olietenks vol hou, die pitte aan die brand hou en seker maak dat daar nie rook agter die glasruite van die lampe was nie. Dit was nie ongewoon vir wagters om die hele nag lank ’n ligbaken met die hand te draai om skepe na veiligheid te lei wanneer ligte nie maklik reggemaak kon word nie of om die hele nag lank ’n misklok met ’n hamer te slaan wanneer die mishoring nie werk nie!

Storms word deurstaan

Hewige storms is ’n groot bekommernis. Eenkeer het ’n ligwagter gesien wat hy gedink het ’n “ontsaglike wit wolk” was, maar dit was toe eintlik ’n enkele verpletterende golf! Die golf het teen die 15 meter hoë krans opgeslaan tot by die wagter se woonvertrekke. Hierdie een golf het net soveel skade aangerig as ’n hele storm.

By ’n ander geleentheid het ’n huilende windstorm die hele nag lank golwe teen die vuurtoring by Pubnico-hawe, Nova Scotia, geslinger. Al wat die wagter en sy gesin kon doen, was om te wag en te hoop. Teen die oggend het die storm bedaar. Maar toe die wagter buitentoe gaan, was hy verbaas om te sien dat die land om die vuurtoring weg was. Hulle was nie meer aan die vasteland verbind nie!

Eensaamheid en eentonigheid

Toe ’n vuurtoringwagter oor eensaamheid gevra is, het hy stilletjies gelag en gesê: “Mense sê vir ons: ‘Man, hoe kan jy al die eensaamheid verdra?’ En ons vra eweneens: ‘Wel, hoe kan jy dit verdra om in die stad te lewe met al daardie geraas en rumoer?’”

In die verlede is klein versamelings boeke aan die meer afgesonderde vuurtorings in die Verenigde State beskikbaar gestel. Teen die jaar 1885 was daar dus 420 biblioteke in omloop. Vuurtoringwagters het klaarblyklik goeie lesers geword.

’n Verdwynende beroep

In die laaste jare is bemande klipvuurtorings vervang met onbemande staaltralietorings met kragtige, flitsende ligte. Seevaarders tuur nie meer die donker in op soek na ’n vae baken of ’n mistige vlam nie. Vandag waarsku kragtige wolframhalogeenlampe en harde, deurdringende misseine die seeman teen die gevare van die see.

Skepe wat toegerus is om seine van vuurtorings te ontvang, weet nou wat hulle posisie is ongeag hoe dig die mis is. Moderne tegnologie stel die seevaarder in staat om van kus tot kus op die see te reis met die vertroue dat hy gevaarlike sandbanke, riwwe en rotse naby die kus kan vermy.

As gevolg van moderne tegnologie is vuurtoringwagters vinnig besig om van die wêreldtoneel af te verdwyn. Een vuurtoringwagter wat gevoel het dat ’n deel van sy lewe vir ewig weg is, het met hartseer nagedink oor sy eilandtuiste wat hy ná 25 jaar moes verlaat en gesê: “Ons het hier ’n goeie lewe gehad. Ons wou nooit werklik weggaan nie.”

Maar draailigte, bykomende ligte, noodligte, klankseine en radarbakens moet almal nagesien word, en vuurtorings het nog steeds instandhouding nodig. Vuurtorings word nou deur reisende tegnici nagesien.

Diegene wat die jare lange diens waardeer wat deur vuurtoringwagters gelewer is, is dit eens met ’n man in Augusta, Maine, wat gesê het: “Dit gaan net nie dieselfde wees wanneer ons na die vuurtoring kyk en weet dat die lig deur ’n rekenaar beheer word en dat die mense weg is nie.”

[Venster op bladsy 11]

Die eerste vuurtoring

Die eerste vuurtoring in die geskrewe geskiedenis is gedurende die bewind van Ptolemeus II van Egipte voltooi. Dit is in ongeveer 300 v.G.J. gebou, en dit het op Pharos-eiland gestaan, net langs die ingang van wat nou die hawe van Aleksandrië is. Dit het 20 jaar geneem om dit teen ’n koste van R11,7 miljoen te bou.

Geskiedkundige geskrifte toon dat dit nagenoeg 90 meter hoog was. Die boonste vertrek daarvan het vensters gehad wat oor die see uitkyk, waaragter daar houtvure of moontlik fakkels was wat, volgens Josefus, meer as 50 kilometer ver gesien kon word.

Die reusagtige klipstruktuur is as een van die sewe wonders van die wêreld beskou. Sy gloeiende vuur was 1600 jaar lank ’n waarskuwingslig, maar is toe, na alle waarskynlikheid, deur ’n aardbewing vernietig.

Deur die eeue heen is duisende vuurtorings van verskillende groottes en soorte by hawens regoor die wêreld gebou. Ou klipvuurtorings bestaan vandag nog as museums en toeriste-aantreklikhede in nasionale, staats-, provinsiale en stedelike parke en word deur miljoene besigtig.

[Prent op bladsy 10]

Cape Spear-vuurtoring, Newfoundland, Kanada

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel