Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 2/22 bl. 4-6
  • Die verlore stryd teen misdaad

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die verlore stryd teen misdaad
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Misdaad begin klein
  • Wie is die misdadigers?
  • Goeie bedoelings nie genoeg nie
  • Hoe toegewyd is regsamptenare?
  • Die stryd om ’n einde te maak aan misdaad
    Ontwaak!—1996
  • Toe daar geen misdaad was nie
    Ontwaak!—1998
  • Waarom soveel misdaad?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Die polisie—Wat hou die toekoms vir hulle in?
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 2/22 bl. 4-6

Die verlore stryd teen misdaad

“MISDAAD sou oornag beheer kon word as almal bereid was om ’n poging aan te wend”, het ’n voormalige hoof van die Metropolitaanse Polisie volgens berig in Engeland se Liverpool Daily Post gesê. Ja, as almal die wet sou gehoorsaam, sou misdaad verdwyn.

Tog neem misdaad in die meeste plekke toe. Woorde wat duisende jare gelede geuiter is, is op ons tyd van toepassing: “Die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld” (Genesis 6:11).—Sien venster op die volgende bladsy.

Misdaad begin klein

As ’n mens die wet in klein dingetjies oortree, kan dit jou kondisioneer om dit in groter dinge te oortree. Om hierdie feit by haar leerlinge tuis te bring, het ’n onderwyseres verduidelik: “Bankrowers begin deur potlode op skool te steel.”

Wat gebeur dikwels later by die werk? Mense bly van die werk af weg weens beweerde siekte en ontvang dan voordele waarop hulle nie geregtig is nie. Hierdie oneerlike gebruik is algemener as wat ’n mens dalk dink. Byvoorbeeld, in Duitsland val 6 persent van alle siekverlof wat werknemers aanvra op ’n Woensdag, 10 persent op ’n Dinsdag en 16 persent op ’n Donderdag, maar ’n enorme 31 persent val op ’n Maandag, wat oortref word deur 37 persent op ’n Vrydag! Is mense werklik meer dikwels siek op ’n Maandag en ’n Vrydag, of is dit net nog ’n vorm van diefstal?

Wie is die misdadigers?

Dit spreek vanself dat misdade wat deur gewone mense gepleeg word gewoonlik nie dieselfde gevolge het as dié wat deur mense in magsposisies gepleeg word nie. In die vroeë sewentigerjare is die Verenigde State deur so ’n ernstige politieke misdaad geruk dat die naam wat daaraan verbonde was selfs in die Engelse taal opgeneem is.

“Watergate” is, volgens die Barnhart Dictionary of New English, ’n “skandaal, veral een waarin iemand skadelike inligting of onwettige bedrywighede probeer wegsteek”.a Dit voeg dan by: “Die Watergate-saak het ’n sterk invloed op die taal van die sewentigerjare gehad. Na aanleiding van dié woord is verskeie nuwe woorde asook samevoegings met -gate gevorm, wat gebruik word om ’n skandaal of korrupsie aan te dui.”

Sedertdien het baie skandale en korrupsie getoon dat misdaad algemeen is, selfs onder diegene wat voorbeeldig behoort te wees wat die onderhouding van die wet betref. In Japan het politieke korrupsie so algemeen geword dat nuwe wette in die vroeë negentigerjare aangeneem moes word om dit te bekamp. In 1992 is die president van Brasilië weens aanklagte van korrupsie tot ’n val gebring.

Is dit nie duidelik dat die oortredings van mense in gesagsposisies, waaronder ouers, onderwysers en geregsdienaars, bydra tot die misdadigheid van die volksmassa nie?

Goeie bedoelings nie genoeg nie

Die meeste mense sal saamstem dat regerings misdaad wil uitroei. Maar ’n afgetrede amptenaar het oor sy land gesê: “Die regering het te min gedoen om die regstelsel vinnig en doeltreffend te laat werk. Daar is nie genoeg regters nie, en die paar wat ons het, is dus oorwerk. Die polisiemag het te min personeel en toerusting. Polisiemanne ontvang soms nie betyds hulle salarisse nie, wat hulle in groot versoeking bring om omkoopgeld te neem.”

Die Italiaanse tydskrif La Civiltà Cattolica betreur “die staat se onvermoë om georganiseerde misdaad te bekamp” en sê dan: “Die feit dat wetstoepassingsinstansies en die regbank hulle daartoe verbind het om misdaad te bestry, word erken, maar dit is duidelik dat dit georganiseerde misdaad nie in die minste raak nie; inteendeel, dit word sterker en magtiger.”

Regerings se goeie bedoelings om misdaad te bekamp, is klaarblyklik nie genoeg nie. Anita Gradin, Europese kommissaris vir immigrasie en geregtelike sake, het tereg gesê: “Ons het beter, doeltreffender werksmetodes vir samewerking nodig in die stryd teen dwelmsmokkelary en -handel, die insmokkel van mense en onwettige immigrasie, georganiseerde misdaad, bedrog en korrupsie.”

Hoe toegewyd is regsamptenare?

Party bevraagteken die mate waarin owerhede werklik daartoe verbind is om misdaad te bestry. Die voormalige inspekteur-generaal van die polisie in een land sê dat almal, ten minste in die openbaar, “korrupsie en ekonomiese misdade veroordeel”. En tog, sê hy, is daar nie by almal ’n opregte begeerte om misdaad en korrupsie uit te roei nie. Al hoe meer mense—waaronder regsamptenare—beskou omkopery, bedrog en diefstal klaarblyklik as aanvaarbare maniere om sukses te behaal.

Die feit dat baie “wat misdade pleeg, skotvry daarvan afkom”, soos ’n doeanebeampte dit gestel het, is ongetwyfeld een rede vir die toename in misdaad. ’n Russiese publikasie meld byvoorbeeld “hoe maklik misdadigers ongestraf daarvan afkom”. Dít, voeg die publikasie by, “vuur gewone burgers blykbaar aan om die wreedaardigste misdade te pleeg”. Dit is net soos die Bybelskrywer ongeveer 3000 jaar gelede gesê het: “Omdat die vonnis oor ’n slegte werk nie gou voltrek is nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle ten volle daarop gerig om kwaad te doen.”—Prediker 8:11, NW.

Dit is geen oordrywing om te sê dat regerings ’n verlore stryd teen misdaad voer nie. Die Duitse koerant Rheinischer Merkur sê: “Openbare vrees dat geweldsmisdade sal toeneem, is diepgewortel en kan nie deur die gewone getwis onder politieke partye gestil word nie, en ook nie deur statistiek wat te kenne wil gee dat die situasie nie so erg is as wat dit dalk lyk nie.”

Maar dit is nie asof misdaad nie so erg is as wat dit dalk lyk nie; die teenoorgestelde is heel waarskynlik eerder die geval. Daar is nogtans grond vir optimisme. ’n Misdaadvrye wêreld kom al hoe nader, en jy sal dit moontlik beleef. Die volgende artikel sal toon waarom ons so sê.

[Voetnoot]

a Die Watergate-saak is so genoem omdat ’n inbraak by ’n gebou met daardie naam die saak aan die lig gebring het. Die skandaal het uiteindelik daartoe gelei dat die Amerikaanse president Richard Nixon bedank het en dat heelparty van sy vernaamste raadgewers in die tronk gesit is.

[Lokteks op bladsy 6]

Baie mense beskou misdaad as ’n aanvaarbare manier om sukses te behaal

[Venster op bladsy 5]

’n Aarde vol geweld

BRASILIË: “In reaksie op ’n toenemende vlaag van geweld het honderdduisende mense na die strate in die middestad [van Rio de Janeiro] gestroom en uiting gegee aan vrees en woede oor die misdaad wat hulle stad ’n gevangene gemaak het.”—International Herald Tribune.

CHINA: “Bendelede maak weer hulle verskyning in China, en dit lyk of ernstige misdaad buite beheer is. . . . Chinese deskundiges sê dat die aantal bendes en ‘geheime genootskappe’ vinniger toeneem as wat die polisie hulle kan tel.”—The New York Times.

DUITSLAND: “Die gaping tussen die bereidwilligheid om geweld te gebruik en die geleentheid wat daartoe aanleiding gee dat ’n mens dit doen, het geleidelik kleiner geword. Dit is dus glad nie verbasend dat geweld ’n alledaagse gebeurtenis geword het nie.”—Rheinischer Merkur.

GROOT-BRITTANJE: “Mense maak baie makliker van geweld gebruik, en die waarskynlikheid word al hoe groter dat die oortreder geweld as ’n eerste uitweg sal gebruik.”—The Independent.

IERLAND: “Mafia-agtige, misdadige families het hulle in die middestad van Dublin en in sy armer westelike voorstede begin vestig. Die bendes is al hoe beter gewapen.”—The Economist.

MEXIKO: “Misdaad het in so ’n kort tyd so vinnig toegeneem dat dit onrusbarend is.”—The Wall Street Journal.

NIGERIË: “Die gesinseenheid, kerke, moskeë, skole en klubs het hulle plig versuim om te voorkom dat jongmense by misdaad betrokke raak, aldus die polisiewoordvoerder, mnr. Frank Odita.”—Daily Champion.

FILIPPYNE: “Ses uit elke tien gesinne in die Filippyne sê dat hulle nie in hulle huise of op straat veilig voel nie.”—Asiaweek.

RUSLAND: “Mafia-agtige bendes het ’n stad wat in die Sowjetdae een van die veiligstes in die wêreld was feitlik in ’n misdaadhoofstad verander. . . . ‘In my 17 jaar op patrollie’, sê polisieluitenant Gennadi Grosjikow, ‘het ek nog nooit soveel misdaad in Moskou gesien nie, en ek het ook nog nooit sulke boosaardige dinge gesien nie.’”—Time.

SUID-AFRIKA: “Teuellose en feitlik onbeheerde geweld bedreig elkeen van ons en alles wat ons doen—en iets ingrypends moet gedoen word.”—The Star.

TAIWAN: “In Taiwan . . . het stygende roof-, aanranding- en moordsyfers geleidelik in die gemeenskap ingesypel . . . Misdaadsyfers styg inderdaad stadig maar seker, en in party gevalle oortref dit dié in Westerse lande.”—The New York Times.

VERENIGDE STATE: “Die VSA is die gewelddadigste land in die nywerheidswêreld. . . . Geen ander nywerheidsland kom enigsins daarby wat geweld betref nie.”—Time.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel