Wat is die oplossing?
DIE vlugtelingsituasie is nie geheel en al duister nie. Regoor die wêreld probeer humanitêre organisasies diegene help wat deur oorlog en ander probleme ontwortel is. ’n Vername manier waarop hulle dit doen, is deur vlugtelinge te help om na hulle geboorteland terug te keer.
Vlugtelinge verlaat hulle huis, gemeenskap en land omdat hulle bang is dat hulle vermoor, gemartel, verkrag, opgesluit, tot slawe gemaak, beroof of uitgehonger sal word. Voordat dit dus vir vlugtelinge veilig is om terug te keer huis toe, moet die probleme wat hulle laat vlug het eers opgelos word. Selfs wanneer gewapende konflikte uiteindelik ophou, huiwer mense dikwels om huis toe te gaan omdat daar nie wet en orde is nie. Agnes, ’n Rwandese vlugteling en moeder van ses, het gesê: “Om ons na Rwanda [terug] te neem, sal wees soos om ons na ons graf te neem.”
Sedert 1989 het meer as negemiljoen vlugtelinge nietemin na hulle tuiste teruggekeer. Ongeveer 3,6 miljoen van hulle het van Iran en Pakistan af na Afganistan teruggekeer. Nog 1,6 miljoen vlugtelinge in ses lande het teruggekeer na Mosambiek, ’n land wat deur 16 jaar van burgeroorlog verwoes is.
Dit is nie maklik om terug te keer nie. Die lande waarna die vlugtelinge terugkeer, is dikwels in puin—met dorpe wat in puinhope verander is, brûe wat verwoes is en paaie en landerye wat met landmyne besaai is. Die terugkerende vlugtelinge moet dus nie net hulle lewe van nuuts af opbou nie, maar alles, hulle huise, skole, gesondheidsklinieke, ensovoorts.
Maar al gaan lê die vlamme van konflik op een plek en laat dit vlugtelinge toe om terug te keer, vat dit weer êrens anders vlam en skep dit nuwe strome vlugtelinge. Die vlugtelingkrisis kan dus net opgelos word as die probleme opgelos word wat verband hou met oorlog, onderdrukking, haat, vervolging en ander faktore wat mense vir hulle lewe laat vlug.
The State of the World’s Refugees 1995 erken: “Die harde waarheid . . . is dat oplossings [vir die vlugtelingkrisis] uiteindelik afhang van politieke, militêre en ekonomiese faktore wat buite die beheer van enige humanitêre organisasie is.” Volgens die Bybel is die oplossing ook buite die bereik van enige aardse organisasie, hetsy humanitêr of andersins.
’n Wêreld sonder vlugtelinge
Daar is egter ’n oplossing. Die Bybel toon dat Jehovah God omgee vir diegene wat van hulle huise en families weggeskeur is. Anders as die regerings van die wêreld het hy die mag en die wysheid om al die ingewikkelde probleme op te los wat die mensdom in die gesig staar. Hy sal dit doen deur middel van sy Koninkryk—die hemelse regering wat binnekort beheer oor aangeleenthede op die aarde gaan oorneem.
God se Koninkryk sal alle menseregerings vervang. In plaas van baie regerings op die aarde, soos wat ons nou het, sal daar net een regering wees wat oor die hele planeet sal heers. Die Bybel voorspel: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44.
Jy ken moontlik die modelgebed wat in die Bybel in Matteus 6:9-13 aangetref word. ’n Deel van daardie gebed sê: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.” In ooreenstemming met daardie gebed sal God se Koninkryk binnekort “kom” om God se voorneme met die aarde uit te voer.
Onder die liefdevolle heerskappy van God se Koninkryk sal daar universele vrede en veiligheid wees. Daar sal nie meer haat en oorloë tussen die volke en nasies van die aarde wees nie (Psalm 46:10). Daar sal nooit weer miljoene vlugtelinge wees wat vir hulle lewe vlug of in kampe wegkwyn nie.
God se Woord beloof dat die Koning van God se Koninkryk, Christus Jesus, “die behoeftige [sal] red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.”—Psalm 72:12-14.
[Prent op bladsy 10]
Alle mense sal mekaar binnekort soos ware broers en susters behandel