’n Voorbeeld wat die behandeling van vlugtelinge betref
IN DIE Wet wat Jehovah God aan die nasie Israel gegee het, is die Israeliete herinner aan hulle situasie as vlugtelinge in Egipte (Exodus 22:21; 23:9; Deuteronomium 10:19). Daarom is hulle beveel om die vreemdelinge onder hulle vriendelik te behandel, as ’t ware soos broers.
God se Wet het gesê: “As ’n vreemdeling [wat dikwels ’n vlugteling was] by jou in julle land vertoef, mag julle hom nie verdruk nie. Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ’n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself, want julle was vreemdelinge in Egipteland.”—Levitikus 19:33, 34.
Jehovah het besef dat vreemdelinge dikwels kwesbaar en onseker was en het spesifieke wette vir hulle welsyn en beskerming gegee. Beskou die volgende regte waarvan hulle verseker was.
DIE REG OP ’N REGVERDIGE VERHOOR: “Net een wet moet daar vir julle wees—die vreemdeling moet soos die kind van die land wees.” “Jy mag die reg van [die] vreemdeling . . . nie verdraai nie.”—Levitikus 24:22; Deuteronomium 24:17.
DIE REG OP ’N DEEL VAN DIE TIENDE: “Aan die einde van drie jaar moet jy uitbring al die tiendes van jou opbrings in dié jaar en dit in jou poorte wegsit; dan moet die Leviet kom—omdat hy geen deel of erfenis saam met jou het nie—en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is, en hulle moet eet en versadig word.”—Deuteronomium 14:28, 29.
DIE REG OP REGVERDIGE BESOLDIGING: “Jy mag ’n arm en behoeftige dagloner uit jou broers of uit jou vreemdelinge wat in jou land in jou poorte is, nie verdruk nie.”—Deuteronomium 24:14.
DIE REG OP ASIEL VIR ’N ONOPSETLIKE DOODSLANER: “Vir die kinders van Israel en die vreemdeling en die bywoner onder hulle moet hierdie ses stede as toevlug dien, sodat elkeen daarheen kan vlug wat per ongeluk ’n mens doodgeslaan het.”—Numeri 35:15.
DIE REG OM OESOORBLYFSELS OP TE TEL: “As julle die opbrings van julle land oes, moet jy die kant van jou land nie heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie. Jou wingerd moet jy ook nie skoon afoes nie, en die trossies wat van jou wingerd val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is die HERE julle God.”—Levitikus 19:9, 10.
Ons Skepper, Jehovah God, het beslis medelye met vlugtelinge, en dit moet hom behaag as ons dit ook het. “Word . . . navolgers van God”, het die Christenapostel Paulus geskryf, “en gaan voort om in liefde te wandel.”—Efesiërs 5:1, 2.
[Foto-erkenning op bladsy 9]
Seuntjie aan linkerkant: UN PHOTO 159243/J. Isaac