Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 8/22 bl. 12-14
  • Moet ek rekenaar- of videospeletjies speel?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet ek rekenaar- of videospeletjies speel?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nie alle speletjies is dieselfde nie!
  • Hulle donker sy
  • Verslaaf!
  • Kies verstandig
  • Moet ek elektroniese speletjies speel?
    Ontwaak!—2008
  • Is spelers in gevaar?
    Ontwaak!—2002
  • Moet ek elektroniese speletjies speel?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Wat moet ek omtrent elektroniese speletjies weet?
    Jongmense vra
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 8/22 bl. 12-14

Jongmense vra . . .

Moet ek rekenaar- of videospeletjies speel?

Jy is omsingel! Maar jy is nog lank nie magteloos nie. Jy vuur met jou laserkanonne en maai jou vyand af soos koring. Die probleem is net, hoe meer jy skiet, hoe meer vyande verskyn. Jy het dus net een uitweg as jy die aanval wil oorleef —maak alles in sig dood. Jy brand los en jou vyande sterf in ’n bloedbad . . .

“RÛE breek, bloed spat, koppe waai—hoe opwindend tog!” Dit is ’n rubriekskrywer se lewendige beskrywing van die nuutste weergawe van ’n gewilde rekenaarspeletjie. Eintlik is dit net een van ’n nuwe geslag rekenaar- en videospeletjies waarin spelers opwindende fantasieë in dade kan omsit. Vorige reekse lyk nogal rustig in vergelyking met dié wat so bloedig, en dikwels vol sadistiese geweld, is.

Gewelddadige video- en rekenaarspeletjies is nietemin baie gewild onder jongmense. En aangesien ’n derde van al die huisgesinne in die Verenigde State na raming die een of ander soort elektroniese speletjie het, het miljoene jongmense toegang daartoe. Jongmense wat dit nie in hulle huis het nie, hoef miskien net na ’n vriend se huis of na die plaaslike videoarkade toe te stap om hierdie speletjies te kan speel.

Wat van jou? Het jy al in die versoeking gekom om sommige van hierdie nuwe speletjies te koop—of ten minste daarmee te speel? Wel, nadat jy al die feite ondersoek het, sal jy dalk bedenkinge daaroor hê.

Nie alle speletjies is dieselfde nie!

Laat ons dit eerstens duidelik maak dat nie alle video- of rekenaarspeletjies verkeerd of vol geweld is nie. Baie speletjies is opvoedkundig; en onderrigting in vakke soos aardrykskunde, wiskunde en tik word op ’n lewendige en vermaaklike manier aangebied. Ander speletjies toets die reflekse deur sportsoorte soos basketbal en hokkie na te boots. Daar is ook hipertegnologiese speletjies wat die verstand prikkel en uitdaag.

Dit is so dat selfs die beste speletjies baie tyd in beslag kan neem. En die Bybel spoor Christene aan om ‘die tyd uit te koop’, dit wil sê om tyd wyslik in geestelike strewes te gebruik (Efesiërs 5:16). Maar die Bybel vereis nie dat jy elke oomblik wat jy wakker is, moet werk of studeer nie. Inteendeel, dit herinner ons daaraan dat daar “’n tyd [is] om te lag . . . en ’n tyd om van vreugde rond te spring” (Prediker 3:4). Speletjies kan verkwikkend en heilsaam wees as dit binne perke gehou word.

Ons moet egter besef dat baie van hierdie speletjies blykbaar ontwerp is om spelers baie tyd te laat mors. In sommige van hulle word ure bestee om die spel op ’n sekere vlak te bemeester, voordat die speler uitvind dat daar nog ’n aantal vlakke is—wat natuurlik ingewikkelder en moeiliker is—wat voltooi moet word voordat die spel klaar is! Daar is ook speletjies wat nie juis ’n beloning vir al die moeite bied nie. Dan en Sam, twee vleeslike Christenbroers, het ’n sekere speletjie wat hulle met wiskundeprobleme sou help geesdriftig gespeel. Hulle het egter gou agtergekom dat dit vinniger was om die wiskunde op papier te doen as op die skerm!

’n Mens moet dus, selfs met rekenaar- en videospeletjies wat redelik heilsaam is, selektief wees. Dan en Sam sê: “As jy baie versigtig is wanneer jy koop, kan jy gewoonlik ’n goeie speletjie kry.” Maar dit is verstandig om nie ’n klomp geld te bestee aan speletjies wat jou gou sal verveel nie. Een ouer moedig sy seuns aan om net speletjies te speel wat hulle sal help met vakke wat hulle op skool leer.

Hulle donker sy

Ongelukkig is nie alle rekenaar- en videospeletjies onskadelike pret nie—wat nog te sê opvoedkundig. Baie van vandag se vermaaklikheidsagteware vestig die aandag op wat die Bybel “die werke van die vlees” noem—onrein gebruike wat God veroordeel. Onder sulke veroordeelde “werke” is die “beoefening van spiritisme” (Galasiërs 5:19-21). Trouens, die beoefening van towerkuns is vir Jehovah God ’n “gruwel”.—Deuteronomium 18:10-12.

Baie van vandag se speletjies is egter deurdrenk van spiritisme en towerkuns! In een speletjie moet “towerspreuke” gebruik word om te kan wen. Spelers word dié opdrag gegee: “Wanneer jy gereed is om die towerspreuk te gebruik, kies die weerligstraal regs onder op die menu, en kies dan die wese wat jy wil braai.” Kan sulke speletjies nie ’n ongesonde nuuskierigheid oor demoniese magte laat ontstaan nie?

En wat daarvan as ’n mens jou aan groot hoeveelhede afgryslike geweld blootstel? U.S.News & World Report vertel van twee gewilde speletjies wat tonele bevat van “’n opponent se hart wat uitgeruk word” en van “vampiere wat gate in skraps geklede tienermeisies boor”. Hoewel sommige dalk sê dat die gerekenariseerde bloedvergieting net onskadelike fantasieë is, waarsku die Bybel in Psalm 11:5: “Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet.”—Vergelyk Jesaja 2:4.

Goedkoop pornografie is ook op rekenaar beskikbaar. Naaktheid en eksplisiete seks het so algemeen geraak dat vervaardigers van speletjies in Amerika ’n graderingstelsel ontwikkel het om kopers te waarsku as speletjies aanstootlik is. Dit lyk egter of min kleinhandelaars bereid is om verkope aan jongmense te beperk. “Ons enigste verpligting is om aan klante te gee wat hulle wil hê”, sê een winkelklerk. Maar vra jou af: ‘Sal blootstelling aan tonele wat seksueel prikkelend is my help om my gedagtes toe te spits op dinge wat “regverdig, kuis, lieflik en deugsaam” is?’—Filippense 4:8.

Verslaaf!

Dit is so dat deskundiges stry oor hoe jongmense werklik deur rekenaarspeletjies beïnvloed word. Een studie, wat in die tydskrif New Scientist verskyn het, het tot die optimistiese gevolgtrekking gekom dat sulke speletjies “nie ’n grondoorsaak van slegte gedrag is nie”. Maar 97 persent van die jongmense met wie onderhoude gevoer is, het “gedink dat ’n mens aan die speletjies verslaaf kan raak”. Die jongmense het gesê dat speletjies in die arkade veral skadelik is omdat “hulle spelers meer geld laat bestee”.

Kan jy werklik aan hierdie speletjies verslaaf raak? Met sommige spelers is dit wel die geval. Een jeugdige het aan Ontwaak! gesê: “Al waaraan jy kan dink, is om by die einde uit te kom en te wen.” ’n Jong man sê iets soortgelyks: “Ek bestee ure daaraan om uit te werk hoe om almal dood te maak en by die volgende vlak van die speletjie uit te kom.”

Jy dink dalk dat jy nooit so betrokke by ’n speletjie sal raak nie. Maar dink aan hoe TV-programme en rolprente mense se emosies beïnvloed—dit laat hulle huil, woedend word of skreeu van opgewondenheid. Stel jou dan ’n program voor wat nie net ’n interessante storie, unieke karakters en verbysterende spesiale effekte het nie, maar waarin jy die superheld kan wees. Sal dit maklik wees om nie geheel en al daarby betrokke te raak nie? Dit is dus nie verbasend dat sommige spelers dit moeilik vind om fantasie van die werklikheid te onderskei nie. Een jong man sê: “Die invloed van gewelddadige speletjies was so erg dat ek my selfs verbeel het my hand is ’n geweer en dit op mense gerig het.”

Kies verstandig

Wanneer ouers nie die gebruik van rekenaar- of videospeletjies beperk nie, moet jongmense let op die raad in Prediker 2:14: “Die wyse het sy oë in sy hoof.” Dit beteken dat ’n wyse persoon kyk waar hy gaan en sien wat voor hom lê. Die wêreld van rekenaarvermaak bevat beslis reeds baie dinge wat strydig met die kennis van God is. (Vergelyk 2 Korintiërs 10:5.) En wie weet waarmee sagtewarefoendies volgende vorendag gaan kom? Voordat enige jeugdige dus ’n speletjie koop, speel of huur, moet hy hom afvra: ‘Waaroor gaan dit? Toon die naam dat dit met die okkulte verband hou? Beeld die prente op die omslag grusame geweld uit?’

Elektroniese speletjies kan op hulle beste ’n mate van heilsame vermaak en onderrigting bied. Maar is dit werklik die moeite werd om baie van jou kosbare tyd daaraan te bestee? Die veertienjarige Sam, wat vroeër genoem is, vertel: “Ons pa het nog nooit met soveel woorde gesê dat ons nie videospeletjies mag hê nie. Maar hy het al gevra: ‘Wat is so interessant daaraan om ’n knoppie te druk en te kyk hoe iemand oor die skerm hardloop of spring?’” “En dis hoe ons ook nou daaroor voel”, voeg sy broer Dan by.

Ja, moenie vergeet dat daar ander—miskien produktiewer—maniere is om plesier te hê nie, soos om te lees, kunshandwerk te doen, aan gesonde sport deel te neem, te sing of te leer om ’n musiekinstrument te bespeel. Dit is baie beter om tyd daaraan te bestee om ‘jou met godvrugtige toegewydheid as jou doel te oefen’ (1 Timoteus 4:7). Dit sal van baie groter waarde wees as om enige elektroniese speletjie te speel.

[Lokteks op bladsy 13]

Sewe-en-negentig persent van die jongmense met wie daar in een studie onderhoude gevoer is, het “gedink dat ’n mens aan die speletjies verslaaf kan raak”

[Prent op bladsy 14]

Kan dit jou werklik benadeel as jy gewelddadige videospeletjies speel?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel