Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 5/22 bl. 3-6
  • Seksuele teistering—’n wêreldwye probleem

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Seksuele teistering—’n wêreldwye probleem
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Magsmisbruik
  • Hoe algemeen?
  • ’n Teken van die tye
  • Wat kan ek omtrent seksuele teistering doen?
    Ontwaak!—2000
  • Seksuele teistering—Hoe om jou te beskerm
    Ontwaak!—1996
  • Seksuele teistering—Hoe kan ek my beskerm?
    Ontwaak!—1995
  • Hoe kan ek my teen seksuele teistering beskerm?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 5/22 bl. 3-6

Seksuele teistering—’n wêreldwye probleem

WERK het vir ’n jong sekretaresse met die naam Rena Weeks ’n nagmerrie geword. Sy het nou wel by ’n hoogaangeskrewe prokureursfirma met takke in meer as 24 lande gewerk. Maar sy het vir ’n man gewerk wat, volgens haar, net nie wou ophou om na haar te gryp en aan haar te vat nie. Die vernederende aanvalle is afgewissel met kru, suggestiewe taal.

Jare gelede het vroue in soortgelyke situasies nie juis ’n toevlug gehad nie—behalwe om miskien op te hou werk. ‘Dit is haar woord teen syne’ sou die bestuur se beslissing wees. En selfs diegene wat geneig was om die vrou se kant van die saak te glo, sou waarskynlik die probleem afgemaak het deur te sê: ‘Wat is nou eintlik so vreeslik daaromtrent?’ Maar tye het verander. Rena Weeks het nie maar net kwaad geword en bedank nie. Sy het hom gedagvaar.

’n Amerikaanse jurie het aan haar $50 000 (R181 500) ter vergoeding vir haar ontsteltenis toegeken, asook $225 000 (R817 000) bestraffende skadevergoeding deur haar gewese werkgewer. En die jurie het, in ’n stap wat die aandag van sakeondernemings en prokureursfirmas oor die hele wêreld getrek het, die prokureursfirma gelas om ’n enorme $6,9 miljoen (R25 miljoen) bestraffende skadevergoeding te betaal vir hulle versuim om die probleem reg te stel!

Die Weeks-saak is beslis geen uitsondering nie. ’n Landwye (Amerikaanse) afslagwinkelgroep was by ’n ander onlangse hofsaak betrokke. ’n Werknemer met die naam Peggy Kimzey het beweer dat haar opsiener talle kru seksuele opmerkings teenoor haar gemaak het. In 1993 het Peggy Kimzey uit haar werk bedank en hom gedagvaar. Sy is $35 000 (R127 000) vir vernedering en geestespanning sowel as ’n simboliese $1 (R3,60) vir loonverlies toegeken. Die jurie het ook beslis dat haar gewese werkgewer ’n onvriendelike werksmilieu geskep het deur die teistering toe te laat. Die straf? Vyftig miljoen dollar (R180 miljoen) skadevergoeding!

Die tydskrif Men’s Health sê: “Hofsake met betrekking tot seksuele teistering vermenigvuldig soos bakterieë. In 1990 het die EEOC [Kommissie vir Gelyke Werksgeleenthede] 6127 sulke klagtes behartig; teen verlede jaar [1993] het die jaarlikse totaal bykans verdubbel tot 11 908.”

’n Magsmisbruik

Terwyl ongelooflik hoë jurie-toekennings groot opslae in die nuus maak, bereik min gevalle in der waarheid ooit die hofsaal. Die meeste slagoffers verduur hulle vernedering in stilte—pionne in ’n aaklige spel van mag en intimidasie wat hom in kantore, op straat, in busse, by verversingstoonbanke en in fabrieke afspeel. Soms word daar openlik dwang op iemand uitgeoefen om geslagsgemeenskap te hê. Maar die molestering bestaan meestal uit subtieler, dog skaamteloos aanstootlike, dade: onwelkome of ongepaste aanrakings, onwelvoeglike opmerkings, wellustige blikke.

Party weier weliswaar om sulke gedrag teistering te noem en voer aan dat dit bloot ’n onbeholpe poging van sommige mans is om die aandag van die ander geslag te trek. Maar baie, soos skryfster Martha Langelan, verwerp sulke pogings om die aanstootlike gedrag te verskoon. Sy skryf: “Dit is nie onbeholpe hofmakery, of onbeleefde hofmakery, of skertsende hofmakery, of ‘misverstane’ hofmakery nie. Dit is nie bedoel om vroue aan te lok nie; dit is gedrag met ’n geheel en al ander doel. Soos verkragting is seksuele teistering bedoel om vroue te dwing, nie aan te lok nie. . . . [Dit] is ’n magsuiting.” Ja, sulke mishandeling is dikwels net nog ’n wrede manier waarop ‘die een mens oor die ander heers tot sy ongeluk’.—Prediker 8:9; vergelyk Prediker 4:1.

Vroue geniet seksuele teistering gewoonlik nie, maar ervaar eerder gevoelens wat wissel van afkeer en woede tot neerslagtigheid en vernedering. Een slagoffer sê: “Die situasie het my verwoes. Ek het my vertroue, my selfvertroue, my selfrespek en my loopbaanideale verloor. My persoonlikheid het drasties verander. Ek was voorheen sorgeloos. Ek het bitter en teruggetrokke geword en skaam gevoel.” En wanneer die skuldige ’n werkgewer of iemand anders in ’n magsposisie is, word die teistering veral weersinwekkend.

Dit is dus geen wonder dat howe begin het om oortreders te straf en slagoffers te vergoed nie. Vandat die Amerikaanse Hooggeregshof hierdie mishandeling as ’n skending van burgerregte omskrywe het, word werkgewers in toenemende mate wetlik aanspreeklik gehou vir die handhawing van ’n werksmilieu wat nie “onvriendelik of aanstootlik” is nie.

Maatskappye wat seksuele teistering duld, kan ’n lae werknemersmoraal, ’n hoër afwesigheidsyfer, laer produktiwiteit en ’n hoë bedankingsyfer ondervind—om nie eens te praat van die finansiële ramp as die slagoffers besluit om hof toe te gaan nie.

Hoe algemeen?

Presies hoe algemeen is seksuele teistering? Opnames dui daarop dat meer as die helfte van die werkende vroue in die Verenigde State dit al ondervind het. Een boek beweer dus: “Seksuele teistering is ’n alomteenwoordige probleem. Dit gebeur met vroue in elke beroep, van kelnerin tot maatskappydirektrise. Dit kom voor op elke vlak van die maatskaplike hiërargie en in elke soort sakeonderneming en nywerheid.” Die probleem is egter nouliks tot die Verenigde State beperk. Die boek Shockwaves: The Global Impact of Sexual Harassment, deur Susan L. Webb, verstrek die volgende statistiek:a

KANADA: “Een opname het getoon dat 4 uit 10 vroue gesê het dat hulle by die werk seksueel geteister word.”

JAPAN: “’n Opname in Augustus 1991 het getoon dat 70 persent van die vroulike respondente” teistering by die werk ondervind het. “Negentig persent het gesê dat hulle op pad werk toe en huis toe seksueel geteister is.”

OOSTENRYK: “’n Opname in 1986 het getoon dat bykans 31 persent van vroue voorvalle van ernstige teistering gemeld het.”

FRANKRYK: “In 1991 het ’n studie . . . bevind dat 21 persent van die 1300 vroue wat ondervra is, gesê het dat hulle persoonlik seksuele teistering ondervind het.”

NEDERLAND: ’n Studie het getoon dat “58 persent van die vroue wat [op die opname] gereageer het, gesê het dat hulle persoonlik seksuele teistering ondervind het”.

’n Teken van die tye

Molestering en teistering by die werk is natuurlik niks nuuts nie. Vroue—en soms mans—het selfs in Bybeltye sulke mishandeling ondervind (Genesis 39:7, 8; Rut 2:8, 9, 15, vgl. NW). Maar dit lyk of sulke wangedrag veral vandag algemeen is. Hoe so?

Om maar een ding te noem, in die laaste jare het vroue die arbeidsmark in rekordgetalle betree. Meer vroue word derhalwe blootgestel aan situasies waarin sulke mishandeling kan plaasvind. Maar wat die Bybel lank gelede geprofeteer het, is van selfs groter belang: “Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom. Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense . . . ; hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed” (2 Timoteus 3:1-3, NAV). Die algemeenheid van seksuele teistering is slegs een treffende bewys dat hierdie woorde vandag vervul word. Interessant genoeg, ’n artikel in die tydskrif Men’s Health sê dat “die toename in klagtes oor seksuele teistering gepaardgaan met ’n verstommende afname in algemene beleefdheid. Slegte maniere is oral.”

Die algemeenheid van seksuele teistering weerspieël ook die “nuwe moraliteit”, wat gedurende die sestigerjare deur die wêreld versprei het. Die omverwerping van tradisionele sedelike grense gaan gepaard met ’n skokkende verontagsaming van ander se regte en gevoelens. Wat ook al die oorsaak, seksuele teistering is ’n wrede werklikheid van die werksplek. Wat kan mans en vroue doen om hulle te beskerm? Sal daar ooit ’n tyd kom wanneer daar geen teistering by die werksplek sal wees nie?

[Voetnoot]

a Statistiek is geneig om te verskil, aangesien navorsers hulle opnames op verskillende maniere doen en verskillende definisies aan seksuele teistering heg.

[Venster op bladsy 4]

Seksuele teistering—mites versus feite

Mite: Die voorkoms van seksuele teistering word oordryf. Dit is net nog ’n gier, ’n produk van listige mediareklame en -histerie.

Feit: Oor die algemeen het ’n vrou baie om te verloor en min om te wen as sy teistering rapporteer. Trouens, die vroue wat ooit vir enigiemand vertel dat hulle geteister is, is in die minderheid (22 persent volgens een opname). Vrees, verleentheid, selfverwyt, verwardheid en onkunde omtrent hulle wetlike reg laat baie vroue swyg. Baie deskundiges glo dus dat die probleem gans te gering geag word!

Mite: Die meeste vroue geniet die aandag. Diegene wat beweer dat hulle geteister is, is bloot oorgevoelig.

Feit: Opnames toon deurgaans dat vroue aanstoot neem aan sulke ongeskikte behandeling. In een opname “het meer as twee vyfdes van die vroue gesê dat dit hulle gewalg het, en ongeveer een derde het gesê dat hulle woedend was”. Ander het gesê dat hulle beangs, gekrenk en neerslagtig gevoel het.

Mite: Mans word net so dikwels geteister as vroue.

Feit: Navorsers vir die Nasionale Vereniging van Werkende Vroue (Amerika) berig dat dit “in ongeveer 90 persent van die gevalle van teistering vroue is wat deur mans geteister word, in 9 persent persone van dieselfde geslag is . . . en slegs in 1 persent mans is wat deur vroue geteister word”.

[Prent op bladsy 5]

Seksuele teistering gaan nie net oor seks nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel