Seksuele teistering—Hoe om jou te beskerm
“GEEN vrou behoort daagliks aan seksuele insinuasies blootgestel te wees nie”, sê die tydskrifredaktrise Gretchen Morgenson, “maar dit is ook nie redelik vir vroue om ’n volmaakte werksmilieu vry van growwe gedrag te verwag nie.” Dit is prysenswaardig dat pogings deur werkgewers en die howe om die werksplek veiliger te maak darem goeie resultate opgelewer het. Die risiko van ’n hofsaak het werkgewers en werknemers oor die hele wêreld byvoorbeeld beweeg om die werksmilieu te probeer verbeter. Baie maatskappye het interne prosedures ontwikkel om molestering by die werksplek die hoof te bied. Vergaderinge en seminare word gehou om werknemers te onderrig omtrent behoorlike gedrag by die werksplek.
Dit maak natuurlik sin om die maatskappybeleid en plaaslike wette te ken en te volg (Romeine 13:1; Titus 2:9). Christene het dit ook nuttig gevind om Bybelbeginsels toe te pas. As ’n mens hierdie geïnspireerde riglyne in jou handelinge met jou werksmaats volg, kan dit jou grootliks help om te voorkom dat jy ’n slagoffer van seksuele teistering word—of dit self doen.
Gepaste gedrag vir mans
Beskou die kwessie van hoe mans vroue moet behandel. Baie deskundiges raai mense af om lede van die ander geslag aan te raak. Hulle waarsku dat ’n vriendelike klop op die skouer maklik verkeerd opgeneem kan word. “Juries beskou aanraking in ’n baie ernstige lig”, sê arbeidswetsgeleerde Frank Harty. Sy voorstel? “As dit meer as ’n handdruk behels, moet jy dit nie doen nie.” Die Bybel gee weliswaar geen alomvattende reël in hierdie verband nie.a Maar met die oog op die huidige regs- en sedelike klimaat is dit goed om versigtig te wees—veral vir diegene wat ’n onbewuste neiging het om ander aan te raak terwyl hulle gesels.
Sulke raad is weliswaar nie altyd maklik om te volg nie. Glen is byvoorbeeld van Spaanse afkoms. “Waar ek vandaan kom”, sê hy, “is mense meer geneig om mekaar te omhels as hier in die Verenigde State. In my familie soengroet ons dikwels ons vriende, maar hier is ons gewaarsku om dit nie sommer te doen nie.” Bybelbeginsels is egter nuttig in hierdie verband. Die apostel Paulus het vir die jong man Timoteus gesê: “Behandel jonger manne soos broers, ouer vroue soos moeders, en jonger vroue soos susters, met alle kuisheid” (1 Timoteus 5:1, 2, New International Version). Sou dít nie promiskue, verleidelike of onwelkome aanraking uitsluit nie?
Dieselfde beginsel kan op ’n mens se spraak toegepas word. Die Bybel sê gepas: “Laat hoerery en elke soort onreinheid of gierigheid onder julle selfs nie genoem word nie, net soos dit heilige mense betaam; ook nie skandelike gedrag of dwase praatjies of onwelvoeglike skertsery nie, dinge wat nie betaamlik is nie” (Efesiërs 5:3, 4). ’n Regsgeleerde op die gebied van seksuele teistering, Kathy Chinoy, stel voor dat jy oor een vraag nadink voor jy praat: “Sou jy wou hê dat jou moeder, suster of dogter daaraan blootgestel moet word?” Onwelvoeglike, suggestiewe praatjies verlaag die spreker sowel as die hoorder.
Voorkom teistering
Hoe kan ’n mens probeer voorkom dat jy ’n slagoffer van teistering word? Die raad wat Jesus aan sy dissipels gegee het toe hy hulle op hulle eerste predikingstoewysing uitgestuur het, kan moontlik in hierdie konteks toegepas word: “Kyk! Ek stuur julle soos skape onder wolwe uit; betoon julle dus versigtig soos slange en tog onskuldig soos duiwe” (Matteus 10:16). In elk geval, ’n Christen is nie hulpeloos nie. Die Bybel verseker ons: “Wanneer wysheid in jou hart inkom . . . , sal denkvermoë self oor jou waghou‚ sal onderskeidingsvermoë self jou beveilig” (Spreuke 2:10, 11, NW). Kom ons kyk dus na ’n paar Bybelbeginsels wat jou kan help om jou te beveilig.
1. Let op jou gedrag teenoor werksmaats. Dit beteken nie dat ons kil of vyandig moet wees nie, want die Bybel spoor ons aan om ‘vrede met alle mense na te streef’ (Hebreërs 12:14; Romeine 12:18). Maar aangesien die Bybel Christene vermaan om ‘voort te gaan om in wysheid te wandel teenoor dié wat buite is’, is dit verstandig om jou professioneel te gedra, veral wanneer ’n mens met die ander geslag te doen het (Kolossense 4:5). Die boek Talking Back to Sexual Pressure, deur Elizabeth Powell, spoor werkers aan “om die fyn onderskeid te leer tussen ’n aangename gesindheid wat by hulle rol pas en die soort vriendelikheid wat die indruk kan skep dat hulle ontvanklik sal wees vir seksuele toenadering”.
2. Trek beskeie aan. Wat jy dra, dra ’n boodskap aan ander oor. In Bybeltye het sekere kleredrag iemand tot onsedelik of promisku gestempel (Spreuke 7:10). Dit is ook vandag dikwels die geval; noupassende, uitspattige of gewaagde klere kan die verkeerde soort aandag trek. Party voel weliswaar dat hulle die reg het om te dra wat hulle wil. Maar soos skryfster Elizabeth Powell dit stel: “As jy saam met mense gewerk het wat glo dat dit in orde is om geld te steel, sou ek vir jou gesê het om nie jou notebeurs in jou agtersak te dra nie. . . . Jy moet die siekte van . . . die samelewing se gesindhede verstaan en jou probeer beskerm sodat jy nie ’n slagoffer daarvan word nie.” Die Bybel se raad is dus aktueel. Dit maan vroue om “hulle met goed versorgde kleredrag [te] versier, met beskeidenheid en gesonde verstand” (1 Timoteus 2:9). Trek beskeie aan en jy sal waarskynlik nie so maklik ’n teiken van beledigende woorde of dade word nie.
3. Let op jou omgang! Die Bybel vertel ons van ’n jong vrou met die naam Dina wat die slagoffer van onsedelike aanranding geword het. Sy het klaarblyklik die aandag van haar aanrander getrek omdat sy gereeld ‘uitgegaan het om die dogters van die land Kanaän te leer ken’—vroue wat bekend was vir promiskuïteit! (Genesis 34:1, 2). As jy vandag eweneens gereeld gesels met—of luister na—medewerkers wat bekend is vir onkuise gesprekke, kan sommige tot die slotsom kom dat jy ontvanklik sal wees vir seksuele toenadering.
Dit beteken nie dat jy jou werksmaats moet afjak nie. Maar as die gesprek gewaagd raak, moet jy jou eenvoudig verskoon. Interessant genoeg, baie van Jehovah se Getuies het gevind dat ’n reputasie vir hoë sedelike standaarde hulle teen teistering beskerm.—1 Petrus 2:12.
4. Vermy gevaarlike situasies. Die Bybel vertel hoe ’n jong man met die naam Amnon planne beraam het om alleen met ’n jong vrou genaamd Tamar te wees sodat hy haar seksueel kon verlei (2 Samuel 13:1-14). Hedendaagse molesteerders doen dalk dieselfde deur miskien ’n ondergeskikte te nooi om ’n drankie saam met hulle te drink of sonder grondige rede ná werk te bly. Pas op vir sulke uitnodigings! Die Bybel sê: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom.”—Spreuke 22:3.
As jy geteister word
Party mans sal natuurlik ongepaste toenadering soek selfs al gedra ’n vrou haar onberispelik. Hoe moet jy op sulke toenadering reageer as jy die teiken word? Sommige beveel aan dat ’n mens jou nie daaroor moet ontstel nie! ‘Kantoorseks is die pikante in die lewe!’ sê een vrou. Ware Christene vind sulke ongepaste aandag egter glad nie snaaks of vleiend nie, maar afstootlik. Hulle “verafsku wat goddeloos is” en besef dat die doel van sulke toenadering gewoonlik is om jou te verlok om jou aan geslagsonsedelikheid skuldig te maak. (Romeine 12:9; vergelyk 2 Timoteus 3:6.) Op sy allerminste is die growwe gedrag ’n belediging van hulle Christelike waardigheid. (Vergelyk 1 Tessalonisense 4:7, 8.) Hoe kan jy sulke situasies hanteer?
1. Neem jou standpunt in! Die Bybel sê vir ons hoe ’n godvresende man genaamd Josef op onsedelike voorstelle gereageer het: “Ná hierdie dinge het die vrou van sy heer haar oë na Josef opgeslaan en gesê: Kom hou gemeenskap met my.” Het Josef haar toenaderings bloot geïgnoreer, in die hoop dat die probleem vanself sou verdwyn? Inteendeel! Die Bybel sê dat hy haar toenadering onomwonde verwerp het deur te sê: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?”—Genesis 39:7-9.
Josef se optrede is ’n goeie voorbeeld vir mans sowel as vroue. Om suggestiewe woorde of aggressiewe gedrag te ignoreer—of nog erger, om daardeur geïntimideer te word—laat dit selde verdwyn; vrees of bedeesdheid kan dit eerder laat toeneem! Martha Langelan, raadgeefster vir die voorkoming van verkragting, waarsku dat verkragters dikwels seksuele teistering gebruik as ’n “manier om te bepaal of ’n vrou moontlik in ’n aanval weerstand sal bied; as sy passief en skrikkerig is wanneer sy geteister word, neem hulle aan dat sy passief en verskrik sal wees wanneer sy aangeval word”. Dit is derhalwe uiters noodsaaklik dat jy jou standpunt inneem by die eerste teken van teistering. Volgens een skrywer is dit “dikwels genoeg om die molesteerder te laat ophou met die aanstootlike gedrag as ’n mens onmiddellik en duidelik nee sê”.
2. Laat jou nee nee beteken! Jesus het dit in sy Bergpredikasie gesê (Matteus 5:37). Sy woorde is gepas vir hierdie omstandighede, aangesien molesteerders dikwels nie maklik tou opgooi nie. Presies hoe ferm moet jy wees? Dit hang af van die omstandighede en die reaksie van die molesteerder. Gebruik soveel fermheid as wat nodig is om jou punt duidelik te stel. In party gevalle is ’n eenvoudige, direkte stelling met ’n kalm stem voldoende. Kyk die persoon reg in die oë. Deskundiges stel die volgende voor: (a) Sê hoe jy voel. (“Ek hou glad nie daarvan dat jy . . .”) (b) Noem spesifiek wat die aanstootlike gedrag is. (“. . . dat jy kru, vulgêre taal gebruik nie . . .”) (c) Stel dit duidelik wat jy wil hê die persoon moet doen. (“Ek wil hê jy moet ophou om so met my te praat!”)
“Maar moet nooit toelaat”, waarsku Martha Langelan, “dat ’n konfrontasie in aggressie oorgaan nie. Aggressie van jou kant (beledigings, dreigemente en skeltaal en om na ’n molesteerder te slaan of te spoeg) sal ’n teenreaksie uitlok. Mondelinge geweld is gevaarlik, en daar bestaan geen rede om fisiese geweld te gebruik tensy daar ’n werklike fisiese aanval is wat selfverdediging vereis nie.” Hierdie praktiese raad kom ooreen met die Bybel se woorde in Romeine 12:17: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie.”
Wat as die teistering voortgaan ondanks al jou pogings om dit stop te sit? Party maatskappye het prosedures ingestel om seksuele teistering te hanteer. Die blote dreigement dat jy die maatskappy se grieweprosedure gaan volg, sal dikwels veroorsaak dat jou molesteerder jou met rus laat. Maar miskien ook nie. Ongelukkig is dit nie altyd maklik vir ’n vrou of ’n man om ’n simpatieke opsiener te vind nie. Glen, wat sê dat hy deur ’n vroulike werknemer geteister is, het probeer kla. Hy onthou nog: “Toe ek die baas daarvan vertel het, het ek absoluut geen hulp ontvang nie. Trouens, hy het gedink dit was ’n groot grap. Ek moes net op die uitkyk bly vir die vrou en moeite doen om haar te ontwyk.”
Party het regstappe gedoen. Maar die groot hoftoekennings waarvan ’n mens in die media lees, is beslis nie kenmerkend nie. Boonop waarsku die boek Talking Back to Sexual Pressure: “Regsmiddele teen teistering verg geweldige emosionele krag en baie tyd; dit het fisiese sowel as geestespanning tot gevolg.” Die Bybel maan met goeie rede: “Moenie te haastig teen jou buurman ’n klag indien nie” (Spreuke 25:8, NAV). Nadat hulle die emosionele en geestelike prys van ’n regsgeding in oorweging geneem het, het party verkies om ander werk te soek.
Die einde van teistering
Seksuele teistering is niks nuuts nie. Dit is so universeel soos die onvolmaakte, listige, hebsugtige mensehart. Kommissies en hofsake sal die samelewing nooit van seksuele teistering bevry nie. ’n Fundamentele verandering in die hartstoestand van mense is nodig om seksuele teistering uit die weg te ruim.
Vandag bring God se Woord en sy gees so ’n verandering in mense oor die hele wêreld teweeg. Dit is asof wolwe en leeus geleer het om soos lammers en kalwers op te tree, net soos die profeet Jesaja voorspel het (Jesaja 11:6-9). Deur die Bybel met mense te studeer, help Jehovah se Getuies jaarliks derduisende gewese ‘wolwe’ om diepgaande, blywende veranderinge in hulle persoonlikheid aan te bring. Hierdie mense gehoorsaam die skriftuurlike opdrag om ‘die ou persoonlikheid af te lê, wat met hulle vroeëre lewenswandel ooreenkom’, en dit te vervang met ‘die nuwe persoonlikheid, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is’.—Efesiërs 4:22-24.
Eendag sal die aarde gevul wees met mans en vroue wat Bybelstandaarde naleef. Godvresende mense sien gretig uit na daardie dag, wanneer daar ’n einde sal kom aan alle vorme van mishandeling. Tot dan bied hulle die wrede werklikhede van vandag na die beste van hulle vermoë die hoof.
[Voetnoot]
a Paulus se waarskuwing in 1 Korintiërs 7:1 “om ’n vrou nie aan te raak nie” verwys klaarblyklik na geslagsomgang, nie terloopse aanraking nie. (Vergelyk Spreuke 6:29.) In die konteks beveel Paulus die ongetroude lewe aan en waarsku hy ons om ons nie aan geslagsonsedelikheid oor te gee nie.—Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 1 Maart 1973.
[Lokteks op bladsy 7]
“Sou jy wou hê dat jou moeder, suster of dogter daaraan blootgestel moet word?”
[Prent op bladsy 8]
Professionele gedrag en beskeie kleredrag kan grootliks help om ’n mens teen teistering te beskerm
[Prent op bladsy 10]
Ware Christene van vandag leer om mekaar met eerbied te behandel