Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 8/22 bl. 22-27
  • Japan se skielike ramp—Wat mense gedoen het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Japan se skielike ramp—Wat mense gedoen het
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Oomblik van afgryse
  • Noue ontkomings en tragedies
  • ’n Hopelose situasie
  • Getuies reageer onmiddellik
  • Noodlenigingsprogram tot stand gebring
  • Nie net materiële bystand nie
  • Georganiseer om te herbou
  • ’n Teken van die tye
  • Hoe aardbewingslagoffers gehelp is
    Ontwaak!—1992
  • Aardbewing in Haïti—Geloof en liefde in aksie
    Ontwaak!—2010
  • Nog groot aardbewings word verwag
    Ontwaak!—2010
  • Noodleniging te midde van die puin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 8/22 bl. 22-27

Japan se skielike ramp—Wat mense gedoen het

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN JAPAN

DIE een oomblik was Kobe, Japan, nog ’n florerende hawestad met 1 500 000 inwoners. Maar binne 20 sekondes het ’n aardbewing wat 7,2 op die Richterskaal geregistreer het die grootste deel daarvan in puin gestort. Tienduisende huise en geboue is vernietig of beskadig, en meer as 300 000 mense is dakloos gelaat.

Die ramp het op 17 Januarie 1995 plaasgevind, presies ’n jaar nadat ’n aardbewing Northridge, Kalifornië, VSA, erg beskadig het en die dood van 61 mense veroorsaak het. Die Kobe-aardbewing het ongeveer twee keer soveel seismiese energie as daardie aardbewing vrygestel. Die dodetal van meer as 5 500 maak dit die aardbewing in Japan met die hoogste sterftesyfer sedert 1923, toe 143 000 in die groot aardbewing dood is wat Tokio en Jokohama verwoes het.

’n Oomblik van afgryse

Om 5:46 daardie rampspoedige oggend was Rioedji besig om koerante in die middestad van Kobe af te lewer. Dit was nog donker. Skielik was daar ’n geluid soos die van ’n trein wat oor ’n lugspoor beweeg. Die pad en geboue het net soos die golwe van die see gerol. Toe het al die ligte afgegaan.

Oorhoofse hoofweë het omgetuimel en voertuie op die paaie onder hulle neergestort. Treinspore is in alle rigtings gebuig, en treine het ontspoor. Ou houtgeboue het inmekaargestort, en woonstelgeboue met twee verdiepings het skielik soos enkelverdiepinggeboue gelyk. Die meeste van Kobe se inwoners is uit hulle slaap geruk.

Brande het onmiddellik uitgebreek, en al die geboue in verskeie blokke het aan die brand geraak. Brandweermanne het hulpeloos toegekyk, aangesien die aardbewing die watertoevoer afgesny het. In ’n oomblik is die mite van aardbewingbestande konstruksie verpletter.

Noue ontkomings en tragedies

In die gebied wat regstreeks deur die aardbewing getref is, was daar 3765 Getuies van Jehovah wat aan 76 gemeentes verbonde is. Die oggend ná die aardbewing is daar vasgestel dat 13 Getuies en 2 ongedoopte gemeentelede gesterf het (Prediker 9:11). Die dodetal wat toe deur die polisie bekend gemaak is, was 1812, maar binne ’n week het dit tot meer as 5000 gestyg. Aangesien die Getuies diegene in hulle gemeentes gou opgespoor het, het hulle dodetal onveranderd gebly.

Misao se man is vroeg werk toe. “Ongeveer ’n uur later het die huis geskud”, het Misao gesê. “Dakteëls het om my geval. Die dak se groot middelteël het die kussing getref waar my man se kop net ’n uur tevore gerus het.” ’n Laaikas en ’n boekrak het bo-oor Misao teen mekaar geval. Dit het gekeer dat sy nie onder die dakteëls begrawe word nie.

’n Miaauende kat het Hiromasa, ’n 16-jarige skoolseun, wakker gemaak. Terwyl hy die kat laat uitgaan het, het die aardbewing begin. Toe hy weer in die huis kom, het hy sy moeder onder die televisiestel en boekrak gevind. Hoe verlig was hy tog toe hy sien dat sy lewe! Hiromasa het ’n flits by ’n buurman geleen en sy moeder bevry. Duisende kan van noue ontkomings vertel. Maar ander Getuies het pynlike tragedies deurgemaak.

Hirosji en Kazoe Kaneko is onder die puin van hulle woonstel begrawe. Lede van die Christengemeente het hulle soontoe gehaas om hulle te help. Hirosji is eers om 10:00 vm. bevry en hospitaal toe geneem. Maar Kazoe was dood toe sy later uitgehaal is.

Mijoko Tesjima, 24 jaar oud en net ongeveer twee jaar gedoop, wou graag die voltydse diens betree. Die oggend van die aardbewing het sy op die grondverdieping van haar woonstelgebou geslaap toe die eerste verdieping inmekaargestort het. Mijoko is onder die daksparre en -balke begrawe. Haar ouers en bure het die puin probeer verwyder maar kon nie. Haar moeder, wat ’n Bybelstudent is, het met Jehovah se Getuies in verbinding getree, en hulle het kom help.

Toe Mijoko ná ongeveer sewe uur onder die puin uitgetrek is, het sy nog gelewe. Drie Christen- ouer manne het om die beurt met die dokter en ’n verpleegster hartmassering gedoen, maar Mijoko het gesterf. Haar vader, wat haar geloof teëgestaan het, is ontroer deur die pogings van die Getuies om sy dogter te red, en hy het ingestem dat die Getuies haar begrawe soos sy vroeër versoek het.

Takao Djingoedji, ’n Christen- ouer man, het saam met sy vrou en hulle dogter op die grondverdieping van ’n ou woonstelgebou gewoon. “Toe die aardbewing ons tref”, het hy gesê, “het die boonste vloer op ons verkrummel, en ek was onder ’n boekrak vasgekeer. Ek kon myself uiteindelik bevry en het uit die gebou probeer kom. Skielik het ek ’n stem gehoor. Dit was ’n Getuiebuurman wat na ons kom soek het.”

Toe Takao uiteindelik kon uitkom, het hy gesien hoe vuur van ander geboue na sy woonstel versprei. Hy het dus in die puin teruggekruip en wanhopig probeer om sy vrou onder die puin uit te trek. Maar dit was te laat. Eiko, al 26 jaar lank sy vrou, en sy dogter Naomi was dood. Ten spyte hiervan het hy ander lede van sy gemeente begin help. “Daar was niks wat ek verder vir my gesin kon doen nie”, het hy later gesê, “daarom het ek my aandag daarop gevestig om ander te help. Ek was verlig om te sien dat al die ander in ons gemeente veilig was.”

’n Hopelose situasie

Duisende het in skole en openbare geboue skuiling gesoek. Uit vrees vir naskokke het ander buite in tente of in hulle motors geslaap. Spoorweë en hoofweë is beskadig, en die verkeersvloei op paaie wat vir die vervoer van noodlenigingsvoorrade beskikbaar was, is deur duisende voertuie belemmer. Baie het dae lank min of niks te ete gehad nie. Maar dit is merkwaardig dat daar geen berigte van plundery was nie, en baie mense het die min kos wat hulle gehad het met ander gedeel.

“Dit is soos ná die Tweede Wêreldoorlog”, het ’n bejaarde man wat in ’n kombers toegedraai was, gesê terwyl trane oor sy wange gerol het. Die Japannese eerste minister, Tomiitsji Moerajama, het die skade ondersoek en gesê: “Ek het nog nooit so iets gesien nie. Dit gaan die verstand te bowe.”

Getuies reageer onmiddellik

Toe Keidji Kosjiro, ’n Christen- ouer man, Kobe se middestad die oggend van die aardbewing besoek en die verskriklike verwoesting gesien het, het hy teruggegaan huis toe en gereël dat die plaaslike gemeente voedsel voorberei vir mede-Christene wat erger getref is. Teen die aand was hy besig om voedsel en drinkgoed met sy motor by die gemeentes in die middestad van Kobe af te lewer. Die volgende oggend is nog voedsel en water voorsien. Omdat daar verkeersopeenhopings was, het die Getuies gereël om die noodlenigingsvoorrade met ’n konvooi van 16 motorfietse af te lewer.

Baie ander het ook onmiddellik die inisiatief aan die dag gelê om hulle Christenbroers op te spoor en te help. Tomojoeki Tsoeboi en ’n ander ouer man het met motorfietse na Asjija toe gegaan, ’n stad langs Kobe wat ook erg beskadig was. By die Koninkryksaal in die middestad van Asjija het hulle gevind dat die reisende opsiener, Josjinoboe Koemada, reeds ’n noodlenigingsentrum daar opgerig het.

Broers is per telefoon van die behoefte in kennis gestel, en daar is spoedig begin om voorrade in te samel. Kort voor lank was nege motors met komberse, voedsel en water op pad Asjija toe. Hierdie voorrade is by twee Koninkryksale in die stad afgelewer, waar daar aan 40 tot 50 mense skuilplek verleen is. Ander is in die huise van medegelowiges gehuisves. Die volgende dag het Getuies in ’n nabygeleë gebied vir 800 mense maaltye voorberei. Daar is oorgenoeg voedsel aan die behoeftiges voorsien; daarom het die Getuies ook daarvan aan hulle bure gegee wat dit nodig gehad het.

In die hele gebied wat deur die aardbewing getref is, het Jehovah se Getuies hulle medegelowiges onmiddellik te hulp gesnel. Baie mense wat dit gesien het, was beïndruk. ’n Week ná die aardbewing het ’n helikopterloods ’n Getuie in Jokohama genader en gesê: “Ek het die dag van die aardbewing na die rampgebied toe gegaan en ’n week daar deurgebring. Jehovah se Getuies is die enigstes wat hulle na die toneel gehaas het. Ek was diep beïndruk.”

Noodlenigingsprogram tot stand gebring

Die takkantoor van Jehovah se Getuies, wat in Ebina, Japan, geleë is, het weldra vier verteenwoordigers na die Kobe-gebied gestuur om die noodlenigingswerk te organiseer. “Ons het onmiddellik ooreengekom om Koninkryksale te vind wat nie vernietig is nie en om noodlenigingsvoorrade daarheen te stuur”, het een verteenwoordiger gesê. “Ons het ses sale gevind, en binne vyf uur was hierdie sale stampvol. Ander voorrade is na twee groot Byeenkomssale van Jehovah se Getuies daar naby gestuur.”

’n Bankrekening vir die noodlenigingsfonds is geopen, en gemeentes van Jehovah se Getuies deur die hele Japan is daarvan in kennis gestel. Binne die eerste drie werksdae is drie en ’n half miljoen rand geskenk. Die geld is gou versprei onder diegene wat dit nodig gehad het.

Gemeentes is in kennis gestel dat hulle die nodige voorrade by spesifieke noodlenigingsentrums kon gaan haal. Die ouer manne in elke gemeente het gereël dat die voorrade onder die behoeftige lede van hulle onderskeie gemeentes versprei word. Ongelowige familielede van die Getuies is nie oor die hoof gesien nie. Die vader van ’n Christen- ouer man in die rampgebied—wat Jehovah se Getuies voorheen nie goedgesind was nie—het glo oor die telefoon teenoor ’n familielid gespog: “Mense van my seun se geloof kom help ons!”

Nie net materiële bystand nie

Christelike vergaderinge is onmiddellik gereël. Een gemeente het Dinsdag, die dag van die aardbewing, in ’n park bymekaargekom vir hulle vergadering. Teen Sondag het die meeste gemeentes in die rampgebied hulle gereelde Wagtoring-studie in klein groepies of in Koninkryksale gehou wat nie erg beskadig was nie. Die Wagtoring van 1 Desember 1994, wat daardie week bestudeer is, het gepas die voorreg bespreek om materiële middele te gebruik ‘om slagoffers van natuurrampe te help’. ’n Vrou by die vergadering het gesê: “Vir die eerste keer ontvang ons noodlenigingsvoorrade. Ek kan nie my dankbaarheid in woorde uitspreek nie. As alles eers weer normaal is, sal ek my kant bring om dit te gee.”

Verteenwoordigers van die takkantoor het motorfietse gebruik om die gebiede wat die ergste getref is te besoek. “Dit was hartroerend om die broers in trane te sien”, het een van hulle berig. “Hulle het vir ons gesê: ‘Ons huil nie omdat ons alles verloor het nie, maar omdat ons harte geraak is deur julle broers wat al die pad van Ebina af gekom het om ons te besoek.’”

Binne 24 uur ná die aardbewing het die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, VSA, asook takkantore in ander dele van die wêreld, boodskappe gestuur waarin hulle hulle besorgdheid uitgespreek het. Baie meer van hierdie boodskappe is in die daaropvolgende dae ontvang. ’n Faks van die Wonjoe-Wes-gemeente, in die Republiek Korea, wat twee jaar vantevore 15 lede in ’n brandbomaanval verloor het, was veral hartroerend.a Dit het afgesluit: “Die smart van ons broers in Kobe is ons smart en verdriet. Onthou asseblief dat julle, net soos ons dit ondervind het, nie alleen is wanneer julle in nood verkeer nie. Liewe broers, moenie tou opgooi nie!”

Die takverteenwoordigers het reëlings getref sodat verdere geestelike ondersteuning gegee kon word. Bykomende reisende opsieners is byvoorbeeld tydelik na die Kobe-gebied gestuur om die broers aan te moedig. En Christen- ouer manne uit ander dele van Japan is ook genooi om Kobe ’n week of wat op ’n slag te besoek om diegene wat ly geestelik en emosioneel te ondersteun.

Met hierdie sorg en aanmoediging van medegelowiges oor die hele wêreld het die Getuies in die rampgebied ’n positiewe en waarderende gesindheid behou. Nadat een Getuie die eerste vergadering ná die aardbewing bygewoon het, het hy gesê: “Ons was tot gister toe nog ’n bietjie bekommerd, aangesien ons geen heenkome gehad het nie. Maar toe ons hier aankom en hoor van die liefdevolle reëlings wat ten behoewe van ons getref is, onder andere om ons klere te was, te bad en om tydelik in die Byeenkomssale te woon, was ons werklik nie meer bekommerd nie. Dít is inderdaad God se organisasie!”

Omdat die Getuies op geestelike rykdom klem lê, het dit hulle inderdaad gehelp om die situasie te hanteer. ’n Vrou in haar vroeë twintigerjare het gesê: “Vandat ek drie was het my ma my geleer om op Jehovah te vertrou. Die opleiding wat sy my gegee het en dit wat ek deur die Christengemeente ontvang het, het my gehelp om hierdie ontstellende ondervinding te verduur.”

Georganiseer om te herbou

Ongeveer 350 huise van die Getuies is erg beskadig of vernietig; honderd hiervan is privaat eiendom. Meer as 630 bykomende huise van die Getuies het geringer herstelwerk nodig gehad. Tien Koninkryksale is ook so erg beskadig dat hulle nie gebruik kon word nie.

Reëlings is gou getref om Koninkryksale te herbou vir die gemeentes wat hulle s’n verloor het. En die 11 Streekboukomitees in Japan het elk ’n span van 21 mense bymekaargekry om die beskadigde huise van Getuies te herstel.

’n Teken van die tye

Aardbewings kom meer dikwels voor. “Verlede jaar alleen”, het die tydskrif Maclean’s gesê, “was daar etlike aardbewings [in Japan] wat groter was as die een in Kobe.” Een was ’n groot aardbewing wat 8,1 geregistreer het, maar dit het ’n yl bevolkte gebied in die noorde getref.

Hierdie toename in aardbewings verbaas Jehovah se Getuies nie. Selfs die vyfjarige Atsoesji het, net nadat die aardbewing hulle huis in Kobe geskud het, ewe kordaat rondgestap en gesê: “Daar sal aardbewings op die een plek na die ander wees”! (Markus 13:8). Hy het hierdie profesie by sy moeder geleer. Jesus Christus het aardbewings as deel van “die teken van [sy] teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge” ingesluit. Ander dele van daardie teken sluit in dat daar oorloë, voedseltekorte en peste sal wees en dat die liefde van die meeste sal verkoel.—Matteus 24:3-14; 2 Timoteus 3:1-5.

Die aardbewing in Kobe is net verdere bewys dat ons in die laaste dae van hierdie wêreld lewe. Gelukkig is dit ’n deel van Jesus se teken wat nou vervul word en wat bewys dat hierdie wêreld binnekort deur ’n regverdige nuwe wêreld vervang gaan word.—1 Johannes 2:17.

[Voetnoot]

a Sien die Ontwaak! van 22 April 1993, bladsye 25-7.

[Prent op bladsy 23]

Takao Djingoedji het sy gesin in hierdie puinhope verloor

[Prent op bladsy 24]

’n Spoorwegstasie wat vernietig is

[Prente op bladsy 24, 25]

’n Oorpad wat ineengestort het

[Prent op bladsy 26]

Getuies het gou ’n noodlenigingsprogram vir slagoffers in werking gestel

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel