Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 8/22 bl. 19-21
  • Dissipline was my behoud

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dissipline was my behoud
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek kom voor uitdagings te staan
  • Die lewe in ’n ander wêreld
  • Die huwelik en ’n gesin
  • Vrae bly steeds onbeantwoord
  • Antwoorde word uiteindelik voorsien
  • Verenig in ware aanbidding
  • Ek het ware rykdom in Australië gevind
    Ontwaak!—1994
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • “Streef altyd na wat goed is”
    Ons Koninkryksbediening—2002
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 8/22 bl. 19-21

Dissipline was my behoud

TOE ek vier jaar oud was, het my ouers my by ’n kallistenieklas ingeskryf. Dit het oefening vereis, en ek moes met ander meisies saamwerk. Ek het kort daarna begin oefen om ’n danseres te word. Dissipline het ’n deel van my lewe geword.

My ouers was streng en het van hulle kinders verwag om beleef, gehoorsaam en eerbiedig te wees. Ek het soms gedink dat hulle onredelik was, maar as ek nou terugkyk—noudat ek self drie kinders grootgemaak het—besef ek die waarde van dissipline. Ek is werklik dankbaar teenoor my ouers omdat hulle so baie omgegee het.

Die vroeë opleiding wat ek in selfdissipline, sowel as in spanwerk, gekry het, het my later in die lewe gehelp.

Ek kom voor uitdagings te staan

Op agtjarige ouderdom het ek rumatiekkoors gekry, ’n siekte wat my in die bed laat bly het. Ek het verskriklike pyn in albei knieë ondervind, en ek is 12 maande lank nie toegelaat om te loop nie. My liefdevolle gesin het my oral gedra. Niemand het gedink dat ek weer sou kon dans nie. Maar veral danksy die sorg wat ek van my ouers ontvang het, tesame met die bekwaamheid en geduld van ons huisdokter, het ek volkome herstel en na my dansery teruggekeer, meer vasbeslote as ooit om die beste te wees.

My ouers het my op die ouderdom van 16 toegelaat om die gewone skool te verlaat sodat ek my loopbaan as ’n danseres kon voortsit. Ek het dit met ywer en geesdrif gedoen. Mettertyd het ek opleiding in klassieke ballet ontvang. Dit het meer selfdissipline as ooit tevore geverg. Drie en ’n half jaar lank het ek gestudeer en ses dae per week geoefen.

Toe ek 19 was, is oudisies vir die Australiese Balletskool gehou. Mededinging om aanvaarding by hierdie hoogaangeskrewe skool was straf. Slegs ’n paar sou uit die hele Australië gekies word. Tot my vreugde was ek een van dié wat gekies is. Ek het dus 18 maande van intense opleiding begin. Die skool het ballet-, mimiek-, drama- en kunsklasse ingesluit. Ballet is ’n grasieuse dansvorm, maar dit vereis ware krag om dit maklik te laat lyk. Daarom het ons ’n oefenprogram in ’n gimnasium gevolg om ons bene te versterk.

Uiteindelik, in Junie 1970, is oudisies vir die Australiese Balletgeselskap gehou. Ek is weer gekies en het binne ’n week by die geselskap aangesluit.

Die lewe in ’n ander wêreld

Amper nog voordat ek geweet het wat gebeur, was ek vir die eerste keer in my lewe weg van die huis af en het ek my in ’n heel ander omgewing bevind. Ons geselskap het deur Australië getoer, en toe het ons na Asië gegaan. Dit was soos om in ’n ander wêreld met sy eie reëls en standaarde te leef. Daar was lang veeleisende dae en nagte van werk, sowel as seer, bloeiende voete vol blase. Maar die opvoerings het die harde werk die moeite werd gemaak. Dit was wonderlik daar voor op die verhoog.

Nadat ons na Australië teruggekeer het, het ’n griepepidemie die geselskap getref, wat baie van ons buite aksie gestel het. Ek kon drie maande lank nie dans nie. Toe ek na die balletgeselskap teruggekeer het, het ek dit moeilik begin vind om die lewe van ’n danseres te hanteer—die voortdurende strewe na volmaaktheid en die beperking van enige soort sosiale bedrywighede buiten ballet, aangesien tyd en moegheid ’n sosiale lewe verhinder het. Sou dit, ná al my jare van oefening, die einde van my loopbaan beteken?

Ek het vreemde, deurmekaar gevoelens begin ondervind. Ek het diep in myself gekeer geraak en het my afgesonder. Uiteindelik, omtrent ’n jaar later, het ek ’n ernstige allergiese siekte opgedoen wat urtikaria genoem word. My hele liggaam was uiteindelik as gevolg daarvan met opgeswelde, jeukerige, rooi knoppies oortrek. Dit was die einde—ek het uit die Australiese Balletgeselskap bedank. Baie maande het verbygegaan voor ek herstel het. My ouers het my weer eens versorg tot ek gesond was.

Die huwelik en ’n gesin

In 1974 het ek ’n gawe jong man ontmoet. Hy was ’n akteur wat sy eie sakeonderneming besit het. Ons is getroud en het deur die hele Europa gereis. Nadat ons na Australië teruggekeer het, is ons eerste kind, Justin, in 1976 gebore. Ons het later na Perth, die hoofstad van Wes-Australië, verhuis en ’n hotel gekoop. Wat ’n verandering in lewenswyse het dit tog tot gevolg gehad!

Die werklas was enorm, aangesien ons die hotel self probeer bestuur het. Ek het soggens vieruur opgestaan en het soms eers die volgende oggend opgehou werk. Die druk is vererger deur ’n sterk demoniese invloed in die hotel. Dit het ons lewe stadig maar seker geraak, veral die lewe van my dierbare man. Ons het gevolglik ná drie jaar, weens huweliks- en geldelike probleme, besluit om die hotel te verkoop en ons huwelik te probeer red.

Ons gesin het tot vyf gegroei met die geboorte van ons twee dogters, Bianca en Victoria. Die hotel het nie gou verkoop nie, en dit was gedurende hierdie tyd dat ek my tot God om hulp begin wend het. Ek het die Onse Vader-gebed onthou wat ek as kind uit die kop geleer het. Ek het voortdurend daaraan gedink en het dit die hele tyd gesê.

Die hotel is uiteindelik verkoop. My man is egter aan ’n slagaarbreuk dood, net drie weke voor ons van Perth af na Melbourne sou vertrek. Hy was net 32. Ek was oorstelp van droefheid, en dit het nie afgeneem toe ’n Katolieke priester in Melbourne vir my gesê het dat ek, as gevolg van die probleme wat my man met die demone gehad het, ongetwyfeld ook hulle slegte invloed gehad het nie. Hy het gevolglik “heilige” water oral oor my en die kinders gesprinkel, asook in al die vertrekke van my ma se huis, waar ons gebly het.

Vrae bly steeds onbeantwoord

Etlike jare het verbygegaan en ek het aangehou om vrae oor God te vra, maar het geen bevredigende antwoorde van my Katolieke godsdiens gekry nie. Ek het toe besluit dat ons gesin van Melbourne na die warmer klimaat van Queensland sal trek. Daar, in Brisbane, het ons diep betrokke by kerkbedrywighede geraak. Die kinders het Katolieke skole bygewoon en ons almal het gereeld kerk toe gegaan, gevas, die Rosekrans gesê en het alles gedoen wat ek gedink het God van ons vereis.

Aangesien ek nie antwoorde op my vrae gekry het nie, het ek besluit om elke dag persoonlik ’n deel van die Bybel te lees om te sien of ek nie self die antwoorde kon vind nie. Uiteindelik het ek Matteus 7:7 gelees wat my verstom het. Dit het eenvoudig gesê dat ’n mens moet aanhou vra en aanhou soek. ‘Dit is maklik’, het ek gedink. Dit is dus presies wat ek gedoen het. Ek het aangehou om God om hulp te vra sodat ek antwoorde op my vrae kon kry.

Antwoorde word uiteindelik voorsien

As ek nou terugkyk, kan ek sien dat dit geen toeval was dat Jehovah se Getuies my kort daarna besoek het nie. Wat hulle gesê het, het wonderlik geklink. Hoewel ek belangstellend geluister het, het ek nie besef dat dit juis dít was waarna ek gesoek het nie. Ek het dus ná ’n paar keer vir die vroue wat my besoek het, gesê dat hulle nie weer hoef te kom nie.

Ek was destyds, vroeg in 1987, baie besig. Die opknappingswerk aan my huis was byna voltooi en ’n goeie verwer was nodig om alles af te rond. Die bouer het ’n vriendelike, beleefde en hulpvaardige jong huisverwer met die naam Peter aanbeveel. Peter het liefdevol van sy vrou en kinders gepraat en het na ’n eerbare, opregte mens gelyk. Ek wou ook so lyk en het hom gevolglik een oggend, terwyl hy hom op ’n plank gebalanseer het, gevra: “In watter kerk is jy?”

Toe ek uitvind dat hy een van Jehovah se Getuies is, het ek hom met vrae lastig geval vandat hy in die oggend by die werk aangekom het totdat hy uitgeput in die middag weggegaan het. En hy kon hulle almal beantwoord. Ek het dag en nag begin studeer en die Bybel het begin lewe. Ek was verheug en het tot ’n tuisbybelstudie vir die hele gesin ingestem. Dit was die opwindendste tyd van ons lewe weens die vreugde van die wete dat ons die waarheid gevind het.

Ons het ontslae geraak van al die gemors—van ons gedagtes en besittings wat met afgodediens verband gehou het. Ons het sakke vol uit die huis verwyder en na die ashoop gestuur. Kort voor lank is my kinders vriendelik versoek om die Katolieke skole te verlaat. Die feit dat hulle van Jehovah getuig het, is nie waardeer nie.

Verenig in ware aanbidding

Ons vier is nou gedoopte Getuies. Justin en Bianca is klaar met skool en dien as voltydse pioniers. Victoria is 16 en is nog op skool. En ek is in my sesde jaar van pionierdiens.

Ons was ses jaar in ’n gemeente in Brisbane, waar ek twee dierbare bejaarde vroue gehelp het, wat hulle lewe binne ’n kort tydjie aan Jehovah God toegewy het. In 1994 het ons na ’n gebied getrek waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig was. Ons dien nou in ’n klein plattelandse dorpie met die naam Charleville, in die suidweste van Queensland. Ons velddiensgebied dek ’n ontsaglike area, ongeveer so groot soos Australië se eilandstaat Tasmanië!

As ek aan my kinderjare en my opleiding terugdink, besef ek hoeveel ek by dissipline baat gevind het. Dit het my gehelp om Bybelbeginsels toe te pas en om die nodige veranderinge in my lewe aan te bring. Om nou deur Jehovah gedissiplineer te word, bring voorwaar groot vreugde mee en die hoop op eindelose seëninge vir my en my geliefde gesin.—Spreuke 6:23; 15:33.—Soos vertel deur Sue Burke.

[Prent op bladsy 21]

Saam met my drie kinders

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel