Ons beskou die wêreld
Bloedoortappingskandaal
Duitsland, wat meer bloedprodukte per persoon as enige ander land verbruik, is geruk deur ’n skandaal wat “een van die wêreld se betroubaarste mediese fasiliteite ’n teiken vir kritiek gemaak het”, berig die koerant Süddeutsche Zeitung. ’n Maatskappy wat bloed verwerk en al ’n paar jaar lank groot hoeveelhede bloedprodukte wat nie behoorlik getoets is nie aan hospitale verkoop het, is by die skandaal betrokke. Duisende hospitaalpasiënte wat hierdie produkte gebruik het, is gevolglik aan die risiko van HIV-besmetting blootgestel. Die Bondsminister van Gesondheid Horst Seehofer het voorgestel dat “enigeen wat wil seker maak dat hy nie tydens ’n operasie HIV deur besmette bloed of plasmaprodukte opgedoen het nie” hom moet laat toets. Die Zeit berig dat “71 persent van die bevolking nou bang is dat hulle vigs uit ’n bloedoortappingsak sal opdoen”.
Gevra: monnike
Vir die eerste keer in Japan se godsdiensgeskiedenis gaan monnike in die openbaar gewerf word. “Enigeen wat vroom en nie wêreldsgesind is nie, kan ’n opperpriester word”, het ’n hooggeplaaste monnik van die Boeddhistiese Tendai-sekte gesê. Die sekte beplan om “’n toelatingseksamen” te hê vir aansoekers wat in 1995 sal begin. Volgens ’n amptenaar van die sekte is min godsdienskennis nodig om die eksamen te slaag. Volgens tradisie het priesters se seuns hulle vader se posisie as tempelpriester oorgeneem. “Maar deesdae is priesters se seuns in alle sektes glo onwillig om monnike te word”, berig die Mainichi Daily News. Hiroeë Takagi, ’n godsdiensdeskundige, het oor hierdie tendens kommentaar gelewer en gesê: “Noudat die stelsel van oorerwing verbrokkel, is Boeddhistiese sektes bekommerd oor die tekort aan jongmense wat priesters wil word.”
Sprinkane keer terug
Egipte se agtste plaag, sprinkane, “is weer besig om op Afrika toe te sak”, berig die koerant The Weekly Mail & Guardian. In Jemen is 80 000 hektaar reeds geplunder, en swerms het in Tsjaad, Niger en Mali aangekom. ’n Woordvoerder vir ’n landboukundige navorsingseenheid het gesê die skade dreig om veel groter te wees as die swaar plaag van 1986-87 wat gewasse in 28 lande in Noord-Afrika uitgewis het. Hy het bygevoeg: “As die ekologiese toestande gunstig bly vir die sprinkane kan die swerms in ’n enkele geslag (45 dae) vertiendubbel.” Die sprinkane kan in 1994 al die voedselgewasse in die Sahel aanval.
Voorkoming van selfmoord
“Selfmoord onder jongmense neem toe”, berig die Brasiliaanse koerant O Estado de S. Paulo. ’n Studie deur Brasilië se Departement van Justisie toon dat “liefdesteleurstellings, alkoholisme en geldelike probleme naas siekte die vernaamste oorsake van selfmoord is”. Aangesien familielede en vriende se hulp noodsaaklik vir die voorkoming van selfmoord is, stel die psigiater Christian Gauderer voor: “Moenie die moontlikheid [van selfmoord] oor die hoof sien nie.” En aangesien kommunikasie die spanning kan verlig, moet jy “vra waarom die persoon depressief is, waarom hy homself om die lewe wil bring en hoe hy van plan is om dit te doen”.
Swangerskap ná menopouse?
Is swangerskap moontlik ná die menopouse? Volgens ’n mediese berig in die Paryse koerant Le Figaro wil dit so voorkom. Die berig sê dat “daar blykbaar al hoe meer vroue is wat vind dat hulle swanger is nadat daar bevestig is dat hulle in hulle menopouse is”. Die Franse studie, waarby 6000 ginekoloë en verloskundiges betrokke was, het getoon dat ’n vrou se kanse op swangerskap in haar menopouse aansienlik groter is as sy HVT (hormoonvervangingsterapie) ontvang. Volgens statistiek het hierdie vroue al gemiddeld twee jaar lank opgehou menstrueer, het die meerderheid betreklik vroeg in hulle menopouse gegaan en het 71 persent HVT ontvang. Dit is interessant dat dr. Christian Jamin, wat aan die hoof van die studie gestaan het, gesê het dat elke vrou die potensiaal het om selfs ná menopouse ’n kind te hê.
Pous Johannes XXIII het Mussolini geprys
Dit lyk asof daar nou al ’n ruk lank ’n stryd in die Katolieke Kerk heers tussen dié wat pous Johannes XXIII se heiligverklaring goedkeur en dié wat dit afkeur. Dit is onlangs rugbaar gemaak dat Johannes XXIII, voordat hy pous geword het, Benito Mussolini, Italië se Fascistiese leier gedurende die dertiger- en veertigerjare, in ’n aantal briewe geprys het wat uit die dertigerjare dateer. Die destydse, toekomstige pous het gesê dit lyk asof Mussolini deur die “Voorsienigheid” gelei word. Hierdie briewe is jare gelede gepubliseer, maar die redakteur, die gewese persoonlike sekretaris van Johannes XXIII, het die lof wat die Fascistiese diktator toegeswaai is, gesensor om—soos hy nou sê—‘politieke uitbuiting te voorkom’. Party meen dat die gesensuurde uittreksels nou eers rugbaar gemaak is om die verrigtinge te keer wat daartoe kan lei dat Johannes XXIII deur die huidige pous as “geseënd” verklaar word. Die Milanese koerant Corriere della Sera wys daarop dat die bekendmaking van daardie uittreksels in elk geval “nie veel meer sê as wat reeds bekend was omtrent die geestelike owerhede se gesindheid ten opsigte van Fascisme nie”.
Vlambare reënwoude
Brande in Oos-Kalimantan, Indonesië, het gedurende die droogtejare van 1983 en 1991 ’n woudgebied van 3,5 miljoen hektaar verwoes. Maar brande in die vogtige Amasonereënwoude bied ’n veel groter rede tot kommer. Waarom? Gewoonlik kan die reënwouddak die vogbelaaide lug daaronder doeltreffend vaskeer en die woud só vogtig hou dat dit nie kan vlam vat nie. Gedurende die afgelope vyf jaar, berig die Manchester Guardian Weekly, is die oostelike Amasonewoud met ’n netwerk van paaie oortrek namate houtkappers prysmahoniebome gesoek en afgesaag het, en die vogtige lug ontsnap. Die boomtakke en -krone wat die houtkappers nie wil hê nie, lê op die grond en word verbrand, en dit stel die woud aan gevaar bloot. Volgens een opname word tot 56 persent van die wouddak vernietig as ’n skrale 2 persent van die bome afgesaag word. Brasiliaanse boere het gesê dat vlamme al oor ’n gebied van vyf kilometer deur die staande bome gestrek het.
Sampioene word deur uitwissing bedreig
“Een derde van die ongeveer 4400 sampioensoorte wat in Duitsland aangetref word, verskyn op die lys van spesies wat deur uitwissing bedreig word”, sê die Frankfurter Allgemeine Zeitung. Trouens, wetenskaplikes waarsku dat daar ’n gevaar bestaan dat nie net die sampioen nie, maar ook baie ander swamsoorte in Europa sal uitsterf. Waarom? Dit wil voorkom asof besoedeling en oorbenutting swaar verliese veroorsaak. Ander lewensvorme, soos eike- en dennebome en ’n groot verskeidenheid van kewers, is van die swamme afhanklik vir oorlewing. ’n Algemene verdwyning van die swamme sal dus ’n ekologiese ramp tot gevolg hê.
’n Wetenskaplike grondslag vir geloof
“Dit ís moontlik om ’n wetenskaplike te wees en te glo dat daar ’n God is”, sê die Suid-Afrikaanse koerant The Star. Die artikel het verslag gedoen van ’n 90 minuut lange lesing deur professor David Block, ’n sterrekundige aan die Universiteit van die Witwatersrand. Professor Block het verduidelik dat die wetenskap “die goeie harmonie en balans” van die heelal bevestig. Vir professor Block en baie ander wetenskaplikes is dit ’n duidelike bewys van doelgerigte ontwerp, wat weer duidelik toon dat daar ’n Ontwerper moet wees. Volgens The Star kom professor Block tot die slotsom dat daar soveel oorweldigende bewyse is dat God bestaan “dat iemand wat nie in ’n Skepper glo nie meer geloof nodig sal hê as iemand wat wel [in ’n Skepper glo]”.
Egiptiese monumente word bedreig
Antieke monumente oor die hele Egipte word deur stygende grondwater bedreig. Vierhonderd geskiedkundige monumente in Kaïro, sowel as monumente wat baie verder suid geleë is, soos die Tempel van Luxor, is in gevaar. Die Sfinks het reeds ’n poot verloor, berig The UNESCO Courier. Die probleem is gedeeltelik te wyte aan die bou van die Aswân- Hoë dam, wat sorg dat die Nyl se water bly vloei en dat die watervlak hoog bly. Voordat die dam gebou is, het die rivier nege maande van die jaar geen water gekry nie en het die vlak laag gedaal. Nog ’n oorsaak is Kaïro se honderdjarige rioleringstelsel, wat lek en dikwels oorloop. Wanneer die water ’n gebou se fondament binnedring, word dit deur kapillariteit verskeie meters hoog in die bouwerk opgesuig, waar chemiese reaksies plaasvind om soute te vorm wat die mure beskadig.
Is dít geregtigheid?
“Michael Charles Hayes het vier mense tydens ’n woeste skietery in Noord-Carolina doodgemaak—en die gesinne van sy slagoffers kla dat hy nou op onkoste van belastingbetalers beter lewe as wat hy ooit vantevore gelewe het”, sê ’n berig van die Associated Press. Michael Hayes is kranksinnig verklaar en in ’n staatsielsieke-inrigting opgeneem en is nou geregtig op ’n ongeskiktheidspensioen van die welsyn en ontvang $536 (R1780) per maand. Hiermee kon hy ’n motorfiets, ’n klomp klere en ’n hele kamer vol duur stereo- en videotoerusting koop, aangesien die behuising en kos wat die ongeskiktheidsvoordele veronderstel is om te dek reeds aan hom voorsien word. Die regering voorsien jaarliks ongeveer $48 miljoen (R159 miljoen) aan misdadigers wat kranksinnig verklaar is. Die aanklaer Vincent Rabil noem dit ’n “eienaardige verdraaiing van geregtigheid” en voeg by: “Belastingbetalers betaal die moordenaar. Dit het geen sin nie.”