Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 4/22 bl. 24-27
  • Jemen—’n land vol verrassings

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jemen—’n land vol verrassings
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die wierookroete
  • Eeue van agteruitgang
  • ’n Kykie na Jemen se hoofstad
  • Die inwoners van Jemen
  • Geskenke wat geskik is vir ’n koning
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • ’n Besoek wat ryklik beloon is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Ontwaak!—1994
g94 4/22 bl. 24-27

Jemen—’n land vol verrassings

DIE Arabiese skiereiland! Wanneer mense aan hierdie eksotiese deel van die wêreld dink, roep hulle hulle dikwels sandduine, kamele en karavane voor die gees. Maar hoewel woestynduine en snikhete temperature wel die grootste deel van hierdie streek kenmerk, het dit ook ander kenmerke wat jou heel moontlik sal verras.

Neem die land Jemen as voorbeeld, die elmboog van die land wat oorkant die Rooi See en die Golf van Aden geleë is. Jemen is alles behalwe ’n onvrugbare landstreek van sand; inteendeel, dit is ’n land van berge en canyons; ’n land van druiwe, appelkose en ander vrugte wat jou mond laat water; ’n land van fassinerende argitektuur. Hoewel die skroeiende hitte van die woestyn die kusstrook van Jemen wel verdor, sal dit jou dalk verbaas om uit te vind dat sy hooglande ’n aangename, gematigde klimaat geniet. Vir Christene is die land se ryk geskiedenis—’n geskiedenis wat tot Bybeltye teruggaan—egter van besondere belang.

Die wierookroete

In die ou tyd het groot rykdom na hierdie deel van die wêreld gekom deur middel van ’n natuurfrats—die passaatwinde van die Indiese Oseaan wat dou na die suidkus van Arabië gebring het. Hierdie vogbelaaide winde het gehelp om volmaakte groeitoestande te skep vir die harpuisagtige bome waarvan die bas die gom afskei wat wierook genoem word.a Wanneer wierook gebrand word, gee dit ’n welriekende geur af wat dit gesog maak vir gebruik tydens godsdiensplegtighede. Die land wat nou Jemen genoem word, het vanweë die wierookhandel baie belangrik geword.

Jemen was ook die moontlike ligging van die eertydse stad Ofir—eens die bron van die heel fynste goud (Job 22:24; 28:15, 16; Psalm 45:10). Wat ook al die geval, Jemen was die kruispad vir eertydse karavane wat goud, wierook en speserye na verafgeleë plekke, soos eertydse Palestina en Tirus, vervoer het (Esegiël 27:2, 22-25). Dit het nie net vir die handelaars groot rykdom in die sak gebring nie, maar ook vir die verskeie koninkryke wat langs die roete geleë was en heffings aan karavane opgelê het.

Die koninkryk van Skeba, wat vermoedelik in die oostelike deel van hedendaagse Jemen geleë was, het die karavaanroete begin oorheers. Dit het beroemd geword vanweë die handel in wierook, mirre, goud, edelgesteentes en ivoor (Jesaja 60:6). In Salomo se tyd het die koningin van Skeba van “die eindes van die aarde” af gereis om daardie koning se wysheid eerstehands te hoor (Mattheüs 12:42). Volgens die geskiedkundige Bybelverslag het sy na Jerusalem toe gegaan met “’n baie groot trek, met kamele wat speserye en ’n menigte goud en edelgesteentes dra” (1 Konings 10:1, 2). Hierdie eertydse koningin lewe vandag steeds voort in die geheue van die Jemeniete. Hoewel sy nie in die Koran genoem word nie, word sy volgens Islamitiese oorlewering Bilqīs genoem—’n naam wat op baie handelsprodukte in Jemen verskyn.

Eeue van agteruitgang

Jemen het eeue lank groot rykdom geniet, in so ’n mate dat die Romeine dit die Latynse naam Arabia felix, of “Gelukkige Arabië”, gegee het. Maar toe die Romeine die afvallige Christendom die staatsgodsdiens gemaak het, het die aanvraag na wierook afgeneem. Jemen se agteruitgang is verder bespoedig deur die rampspoedige ineenstorting van die groot dam by Marib—die middelpunt van ’n groot besproeiingstelsel wat hierdie streek sedert die agtste eeu v.G.J. besproei het.

Jemen was ’n kort rukkie weer op die voorgrond vanweë die toenemende gewildheid van nog ’n verbruiksartikel—koffie. Omstreeks 1610 het die Europeërs die aangename aroma en smaak van hierdie eksotiese bone van Jemen se hoogland ontdek. Die stad Mokka, aan die suidelike deel van die Rooi See, het die vernaamste hawestad vir koffie-uitvoer geword. “Mokka” het dus sinoniem met Arabiese koffie en ’n bekende woord in die Noordelike Halfrond geword.

Dit was egter nie lank voordat koffieplante uitgevoer en met welslae in ander lande gekweek is nie. Die stad Mokka het as gevolg hiervan begin agteruitgaan. Hoewel koffie steeds ’n belangrike uitvoerproduk van Jemen is, is die stad Mokka vandag weinig meer as net ’n rustige vissershawe.

’n Kykie na Jemen se hoofstad

Hoewel Jemen se vroeëre glorie verdwyn het, het dit steeds talle bekorende—en verrassende—kenmerke. Die hoofstad, Sanaa, is geleë op ’n hoë plato van meer as 2000 meter hoog en geniet ’n aangename, gematigde klimaat. Die meerderheid van Jemen se 12 miljoen inwoners—wat ongeveer ’n derde van die bevolking in die hele Arabië uitmaak—woon nie in die skroeiwarm woestyn nie, maar op hierdie plato en op die baie berge wat oor hierdie land versprei is.

Sanaa is duisende jare oud en sy oudheid kan duidelik aan sy argitektuur gesien word. Klipgeboue is versier met wit siersels om die vensters, boë met traliewerk daarin en veelkleurige glasmosaïeke. In sekere dele van die stad staan ou en nuwe geboue langs mekaar, feitlik ononderskeibaar. Maar in die doolhof van die ou deel van Sanaa kan geboue—waarvan sommige agt of meer verdiepings hoog is—gesien word wat ongetwyfeld al baie eeue lank bestaan.

Wanneer jy die ou deel van Sanaa verlaat, gaan jy deur die enorme Middeleeuse hek en volg die kronkelpad deur die bergagtige platteland. Met ronde woontorings van vier of meer verdiepings hoog en met beskermende mure wat sonder sement of messelklei gebou is, lyk elke dorpie soos ’n groot kasteel wat tot in die berg gebou is. Trouens, sommige dorpies smelt so goed saam met hulle omgewing dat hulle slegs van naderby gesien kan word.

Jy is dalk verbaas dat mense op sulke groot hoogtes kan woon. Maar wanneer jy nog verder boontoe kyk, sien jy ’n ander reeks vestingagtige nedersettings wat selfs hoër geleë is. Ommuurde terrasse teen die steil hange omring hierdie bergdorpies.

Die inwoners van Jemen

Westerse besoekers verwag wel dat die Jemenitiese inwoners eksoties moet wees. Maar die werklikheid kan selfs hulle verwagtinge oortref. Stamlede wat in die berge woon, kan taamlik dreigend lyk wanneer jy hulle die eerste keer sien. Hulle dra die fuuta, ’n kledingstuk, soos ’n romp, wat hulle omhang en ’n wye gordel waarin ’n baie opsigtelike dolk ingesteek word. In die dorpies dra baie selfs groot masjiengewere oor hulle skouers.

Ja, die Jemenitiese mans is trots op hulle wapens. Hele markpleine word vir die verkoop van jambiyya, ’n krom dolk, opsygesit. Seuns dra hierdie soort dolk gewoonlik van 14-jarige ouderdom af as ’n teken van manlikheid. Maar jy sien selfs seuntjies wat dit dra. Die dolk se hef kan van plastiek, hout of van baie duur renosterhoring gemaak word, en die skede is dikwels met pragtige silwerwerk versier. Die lem is taamlik skerp. Gelukkig dien die messe hoofsaaklik as versiering. Die Jemenitiese mans is eintlik heel gasvry en waardeer dit as besoekers ’n geselsie probeer aanknoop.

Die Jemenitiese vroue lyk nie minder eksoties vir die Westerse oog nie. Hulle dra donker kleure en is heeltemal versluier, jy sien nie eens hulle oë nie. Hulle lei nie ’n maklike lewe nie. In die dorpies in die berge werk die vroue lank en hard om water, voer vir die diere en brandhout aan te dra. Dit is ’n tradisie om groot gesinne te hê.

’n Besoek aan die markte gee jou nog ’n geleentheid om te sien hoe hierdie interessante mense lewe. Die speserywinkels het aangename geure. Jou mond water as jy die granate, perskes, appelkose, druiwe en amandels sien. Vakmanne is besig om met leer, goud, silwer en ander metale te werk.

In die markplein kan jy ook talryke soeks, of markte, kry wat khat-blare verkoop. Wanneer jy khat kou of suig, is dit soos ’n ligte stimulant; sommige sê dit is gewoontevormend. Nietemin maak die kou van khat ’n belangrike deel van die Jemenitiese lewe uit. Groot dele van die berghange word vir die kweek van khat gebruik. Groepe mans sal die blare ure lank kou terwyl hulle in ’n gesprek gewikkel is. Sommige kou khat ook terwyl hulle werk—of selfs terwyl hulle ’n voertuig bestuur.

Maar die kou van khat is ’n baie duur gewoonte wat ’n Jemenitiese gesin tot ’n derde van hulle inkomste kan kos. En party wys selfs op die gesondheidsgevare, waaronder misvormde wange, slaap- en eetlusversteurings en ingewandsiektes. Sekere regeringsamptenare keur dus hierdie verslaafmiddel af. Maar tot dusver is daar min aanduidings dat khat besig is om sy houvas op die Jemenitiese inwoners te verloor.

Daar is egter bewyse dat die tradisionele lewenswyse vir Westerse modernisasie begin plek maak. Talle mans het die land verlaat om in die buiteland te gaan werk. Party gesinne het na die stede verhuis, waar jongmense aan die invloed van ingevoerde musiek en buitelandse video’s blootgestel word. Dit is te begrype dat nie almal gretig is om te sien dat hulle land ’n oorgang tot die moderne wêreld maak nie.

Daarom sal dit interessant wees om te sien wat die toekoms vir hierdie land inhou. Betreklik min is al gedoen om meer aangaande die land se argeologiese ruïnes te wete te kom, en miskien sal toekomstige opgrawings sommige van die fassinerende geheime van Jemen se befaamde verlede openbaar. Intussen gee Jemen die avontuurlustige reisiger meer as genoeg rede om hierdie land van verrassings te besoek.—Bygedra.

[Voetnote]

a Hierdie bome behoort tot die klas Boswellia, ’n boomsoort wat aan die terpentynboom verwant is.

[Prent op bladsy 24, 25]

Bab-el-Jemen, Sanaa se hek na die ou deel van die stad

[Prent op bladsy 26]

Regs: ’n Dolkmark in Sanaa

[Prent op bladsy 26]

Onder: Klein dorpies smelt saam met hulle omgewing

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel