Die geheime word ontsluier
NAMATE vroue ouer word, maak die menopouse deel van hulle lewe uit. Maar dit is iets wat al baie misverstaan is. Volgens die boek The Silent Passage—Menopause het 19de-eeuse verloskundiges geglo dat die menopouse “die vroulike senuweestelsel versteur en vroue van hulle persoonlike sjarme ontneem”.
Sulke misvattings duur voort. Gevolglik is baie vroue beangs en besorg oor die vooruitsig van die menopouse. Die boek Natural Menopause—The Complete Guide to a Woman’s Most Misunderstood Passage sê dat dit “een van die moeilikste take in ’n vrou se lewe” is om die sielkundige probleme wat daarmee gepaardgaan te oorkom.
In gemeenskappe waar jeugdigheid en ’n jeugdige voorkoms beklemtoon word, kan die begin van menopousale simptome dalk tot ’n misvatting aanleiding gee: ’n skielike einde aan jeugdigheid en die begin van die ouderdom. Sommige vroue het dus die menopouse begin vrees omdat dit blykbaar die drumpel van ’n nuwe, minder gewenste tydperk in hulle lewe verteenwoordig. Dit is selfs al deur sommige as ’n “gedeeltelike dood” beskou.
Hedendaagse vroue hoef nie in onkunde te ly terwyl hulle hierdie tydperk van die lewe ervaar nie. Die geheime van die menopouse word ontsluier. Verdere navorsing word gedoen en terapieë word ontwikkel om die oorgang makliker te maak. Tydskrifte, koerante en boeke lê hulle op die onderwerp toe en voorsien verduidelikings op vrae wat sommige eers skaam was om te vra. Die mediese beroep is ook meer ingelig oor die probleme wat vroue kan ondervind.
Waarom word daar soveel aandag aan hierdie onderwerp gegee? Omdat ’n beter begrip van die menopouse die vrese, die bygelowe en die frustrasies wat baie vroue het, uit die weg kan ruim. Vroue in baie lande leef langer en hulle wil die skynbare sameswering van stilswye oor die onderwerp verbreek en daaroor ingelig wees. Hulle wil eenvoudige, reguit antwoorde hê. En dit is reg so, aangesien baie van hulle meer as ’n derde van hulle lewe oor het ná die menopouse.
Demografiese patrone in die Verenigde State voorspel ’n toename van 50 persent oor die volgende dekade in die aantal vroue van menopousale ouderdom. Sulke vroue wil graag meer weet oor die gesondheidsrisiko’s, die warmgloede, die luimwisselings, die ongemak en die liggaamlike en emosionele veranderings. Waarom gebeur hierdie dinge? Eindig ’n vrou se produktiewe lewe by die menopouse? Verander die menopouse ’n vrou se persoonlikheid? Die volgende artikels sal hierdie vrae ondersoek.