Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 4/22 bl. 12-15
  • Hoe mense in vrede kan saamwoon

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe mense in vrede kan saamwoon
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek word gevange geneem
  • Waarom soveel onenigheid en haat?
  • Die lewe in gevangenskap
  • Hereniging met Jantina
  • ’n Keerpunt in my lewe
  • Ek maak geestelike vooruitgang
  • Na Duitsland, en daarna na ’n nuwe land
  • My strewe om ‘’n werker te wees wat hom oor niks hoef te skaam nie’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Ek kon altyd iets vir Jehovah doen
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Ek Het Geleer Om Op Jehovah Te Vertrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Korrespondensie met gevangenes
    Ons Koninkryksbediening—1989
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 4/22 bl. 12-15

Hoe mense in vrede kan saamwoon

DIT was September 1944, en die wêreld was vol haat. Die Tweede Wêreldoorlog het gewoed, en miljoene mense het vreeslik gely. Ek was ’n Duitse krygsgevangene in Frankryk.

Op ’n keer moes ek voor ’n vuurpeloton staan. Maar ná ’n rukkie het die voornemende teregstellers begin wegstap. Hulle het my net banggemaak. Ek het aan skok gely, maar was nietemin dankbaar dat ek lewe. ’n Paar weke later het hulle dit weer met my gedoen. Hoewel ek dit oorleef het, is talle medegevangenes óf tereggestel óf het hulle aan siekte en weens verhongering gesterf. Hoe het dit gebeur dat ek my in hierdie omstandighede bevind het?

Ek word gevange geneem

’n Paar maande vroeër, in Junie 1944, het Geallieerde troepe die Engelse kanaal oorgesteek en met welslae ’n gunstige aanvalsposisie op die Franse kus tot stand gebring. Toe hulle daarna uit hulle omsingelde posisie ontsnap en Noord-Frankryk binnegeval het, was die Duitse Leër verplig om terug te trek. Ek was ’n sersant-majoor in die Duitse Lugmag. In Augustus is ’n deel van ons afdeling, ek en 16 ander, deur die Franse ondergrondse beweging, wat as Maquis bekend gestaan het, gevange geneem. Ná ’n paar maande in een krygsgevangenekamp is ons na ’n ander kamp naby Montluçon in Suid-Frankryk verplaas.

Gevangenes is gedwing om fisiese arbeid te verrig, maar aangesien ek ’n offisier was, is ek daarvan vrygestel. Maar ek het aangebied om te werk en is in bevel van die kombuis geplaas. Eendag het ’n nuwe groep gevangenes daar aangekom, en onder hulle was ’n jong man uit my tuisdorp met die naam Willy Huppertz. Ek het die offisier in bevel gevra of Willy my in die kombuis kon help, en dit is so gereël.

Later het ek en Willy die soort vriendskap geniet wat alle mense in vrede kan verenig. Laat ek eers vertel van die teenstrydighede in die lewe wat my gepla het voordat ek verduidelik hoe ek van hierdie weg na vrede te wete gekom het.

Waarom soveel onenigheid en haat?

As ’n jong seun wat in Aachen, Duitsland, grootgeword het, was ek ontsteld oor die godsdiensonenigheid wat daar selfs in ons huis bestaan het. Pa was ’n Lutheraan, maar Ma was ’n Rooms-Katoliek. Ma het dus daarvoor gesorg dat ek en my suster in die Katolieke geloof onderrig word. Sedert my vroeë jare het ek gereeld na die Katolieke Kerk toe gegaan, hoewel ek nooit kon verstaan waarom Pa ’n ander geloof beoefen het nie. Met verloop van tyd het ek dikwels gewonder: ‘Waarom is daar soveel godsdienste as daar net een God is?’

Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het, is ek in die Duitse Lugmag opgeneem. Ná voorbereidende opleiding in Duitsland is ek na Wenen, Oostenryk, gestuur waar ek by ’n opleidingskorps vir nuwe rekrute aangesluit het. Toe, in Desember 1941, is ek na Noord-Holland (nou die Nederlande) gestuur. Daar het ek Jantina, ’n jong vrou van Den Helder, ontmoet. Hoewel ons lande vyande was wat in oorlog verkeer het, het ons op mekaar verlief geraak.

Kort voor lank, in April 1942, is ek skielik na La Rochelle in Suid-Frankryk verplaas. Teen daardie tyd het ek die rang van sersant-majoor beklee, en ons bataljon moes nuwe rekrute oplei en die plaaslike landingstrook beskerm. Gevolglik het ek in geen stadium van die oorlog aan ’n geveg deelgeneem nie. Hiervoor is ek dankbaar, want ek wou nooit enigiemand doodmaak nie.

Maar wat my gedurende daardie oorlogsjare ontstel het, was dat ek gesien het hoe geestelikes van bykans alle denominasies—Katolieke, Lutherane, Episkopale, ensovoorts—die vliegtuie en hulle bemanning geseën het voordat hulle op sendings vertrek het om hulle dodelike vrag neer te werp. Ek het dikwels gewonder: ‘Aan wie se kant is God?’ Tog het ek die kapelane nooit gevra nie, aangesien ek daarvan oortuig was dat hulle in elk geval nie geweet het nie.

Duitse soldate het ’n gordel gedra met ’n gespe (sien bladsy 12, links bo) waarop die woorde Gott mit uns (God met ons) geskryf was, maar ek het gewonder: ‘Waarom sal God nie met soldate aan die ander kant wees wat van dieselfde godsdiens is en dieselfde God aanbid nie?’

Die jare het verbygegaan, en die oorlog het voortgesleep. Ek kon af en toe Holland toe gaan om Jantina te sien, en die laaste keer was in Desember 1943 toe ons verloof geraak het. Teen 1944 het die oorlog ’n ander wending begin neem, en met die landing van die Geallieerde troepe in Frankryk het ons vir die eerste keer besef dat Duitsland die oorlog moontlik kan verloor. Dit was nogal ’n skok! Toe het daardie Augustus aangebreek toe 17 van ons gevange geneem is.

Die lewe in gevangenskap

Ons gevangenes in die kamp naby Montluçon is uiteindelik toegelaat om vir geliefdes te skryf. Ek en Jantina het sodoende weer met mekaar in aanraking gekom. Mettertyd het ek en verskeie ander gevangenes vrywillig aangebied om op ’n gemeenskapsplaas te werk waar ons steeds as krygsgevangenes beskou is. Ek het selfs gevind dat ek van die plaaslewe begin hou het. Dit was ’n taamlike verandering van lewenswyse vir ’n stadsjapie.

Die oorlog in Europa het in Mei 1945 ten einde geloop, maar die Franse regering het ons tot Desember 1947 as krygsgevangenes aangehou. Ons is toe die keuse gebied om óf by die Franse Vreemde Legioen aan te sluit óf om tot aan die einde van 1948 as vrywillige werkers in Frankryk aan te bly. Ek het laasgenoemde gekies en saam met verskeie ander gevangenes ’n plaasarbeider op ’n gemeenskapsplaas geword. Onder hierdie reëling het ons meer vryheid geniet as toe ons as krygsgevangenes op die plaas gewerk het. Maar ons was steeds ingeperk en aan beperkings onderhewig. Ons grootste vreugde was dus om pos van geliefdes af te ontvang.

Hereniging met Jantina

Eendag in 1947 het ek ’n brief van Jantina ontvang waarby sy onbewustelik ’n gedrukte lysie met verskeie huisnommers en ’n aantekening van boeke en tydskrifte gevoeg het. ‘Wel’, het ek gedink, ‘Jantina verdien ’n bietjie geld deur boeke te verkoop.’ Min het ek geweet dat Jehovah se Getuies met haar in aanraking gekom het en dat sy nou van huis tot huis gepreek en Bybellektuur versprei het, en nie besig was om ‘boeke te verkoop’ nie.

Kort daarna, in Desember 1947, het ons gevangenes ’n aangename verrassing ontvang—ons is vier weke menslikheidsverlof gegee om huis toe te gaan. Dit is natuurlik toegestaan op die voorwaarde dat ons na Frankryk sal terugkeer om ons werksverpligting na te kom. Jantina het van Holland af na Duitsland gereis om daardie weke saam met my en my ouers deur te bring. Soos jy jou kan voorstel, was dit vir ons ná vier jaar van skeiding ’n baie emosionele hereniging. Dit was toe dat ek uitgevind het waarvoor die gedrukte lysie was wat ek in haar brief gevind het. Jantina het vir my gesê dat sy een van Jehovah se Getuies is en het gretig aan my die wonderlike dinge verduidelik wat sy geleer het.

Hoewel dit wat sy gesê het na die waarheid geklink het, het ek vir haar gesê dat ek maar liewer ’n Katoliek sou bly. Ek kon nie sien hoe sy meer as die priesters kon weet wat jare lank godsdiens bestudeer het nie. En om sake te vererger, was my gesin nie ingenome met Jantina se nuwe opvattings nie. Trouens, hulle was baie daarteen gekant, en hulle vooroordeel het my beïnvloed.

’n Keerpunt in my lewe

Nadat my vier weke verlof verby was, het ek na Frankryk teruggekeer. Toe ek my klere uitpak, het ek ’n boek getiteld Verlossing tussenin gevind. Jantina het dit ingesit toe sy my tas gepak het. Om haar tevrede te stel, het ek daardie aand gaan sit en dit begin lees. Dit was nie lank voor ek tot my verbasing uitgevind het dat baie van die vrae waaroor ek gedurende my gevangenskap gedink het daarin beantwoord word nie. Ek kon skaars wag om die hele boek te lees.

’n Teks wat Jantina aangehaal het, het my bygeval: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Ek het inderdaad gevoel dat ek die waarheid aangaande baie dinge begin leer het. Alle mense behoort aan een familie, ongeag aan watter ras hulle behoort (Handelinge 17:26-28). Ware Christene het mekaar lief en veg nie en maak niemand dood soos ek soveel voorgewende Christene gesien doen het nie (Johannes 13:34, 35; 1 Johannes 3:10-12). Nasionalisme is dus onteenseglik ’n instrument van die Duiwel wat mense verdeel en ware broederskap verhinder.

Ek het begin insien dat ware vrede slegs sal kom wanneer alle mense die leringe van Jesus Christus toepas. Aangesien die nasies dit nooit sal doen nie, is die enigste hoop op vrede God se regering waarvoor Jesus sy navolgers geleer bid het (Mattheüs 6:9, 10). Hierdie dinge wat ek geleer het, het my reeds ’n gevoel van ware vryheid en tevredenheid laat ondervind. Hoe dankbaar was ek tog teenoor my dierbare Jantina dat sy die boek in my tas gepak het! Maar wat sou ek nou doen?

Ek maak geestelike vooruitgang

Wel, dit was nie nodig gewees dat ek my bekommer het nie. ’n Paar dae later het ’n man met die naam Lucien na die plaas toe gekom waar ek gewerk het en homself as ’n bedienaar van Jehovah se Getuies voorgestel. Hy het verduidelik dat hy deur die Getuies se takkantoor in Parys gevra is om op versoek van my verloofde met my in aanraking te kom. Lucien was ’n vriendelike, opregte man, en ek het dadelik op my gemak by hom gevoel. Teen hierdie tyd het ek gelukkig Frans vlot gepraat, en dit het sake baie vergemaklik.

Ek het ingestem dat hy met my ’n Bybelstudie hou, en Lucien en sy vrou, Simone, het my dus elke Sondag by die plaas opgelaai en vir die studie na hulle huis toe geneem. Daarna het ons ente gaan stap, waartydens ons oor Jehovah se wonderlike skepping gepraat het. Hulle was albei goeie onderrigters, en hulle het my ook iets gegee wat ek al so lank gemis het—ware vriendskap. Dít het ’n Franse egpaar my gegee—en ek het manne opgelei om bomme op hierdie mense te gooi en hulle dood te maak!

Ek het goeie vordering in my studies gemaak, en Lucien het my genooi om die jaarlikse herdenking van Christus se dood op 25 Maart 1948 by te woon. Ek was baie beïndruk deur hierdie eenvoudige, maar ernstige vergadering en het sedertdien nog nooit ’n Gedenkmaal oorgeslaan nie.

Jantina was verheug oor my geestelike vooruitgang, en sy het dus by my in Frankryk aangesluit. Daar is ons in November 1948 getroud. Lucien en Simone het vir ons ’n pragtige bruilofsmaal voorsien, en twee pioniers (voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies) het hierdie vreugdevolle geleentheid saam met ons geniet. Daardie onvergeetlike aand het my gevolgtrekking versterk dat die Getuies inderdaad die soort liefde openbaar wat Jesus gesê het sy ware dissipels sal identifiseer.—Johannes 13:35.

Na Duitsland, en daarna na ’n nuwe land

In Desember 1948 het ons na Duitsland teruggekeer, en die Christelike bediening het ons lewenswyse geword. Hoewel my gesin ons bedrywighede steeds teëgestaan het, het ons nie toegelaat dat dit ons keer nie. Ons het aangehou om sagmoedige, nederige mense te help om te leer wat die enigste manier is waarop die mensdom ware vrede en veiligheid kan geniet.

In 1955 het ek en Jantina na Australië verhuis. Ons het aanvanklik in die mooi eilandstaat Tasmanië, regoor die Bass-straat aan die suidelike punt van die uitgestrekte vasteland, gaan woon. Met die liefdevolle bystand en geduld van ons geestelike broers en susters daar, kon ons uiteindelik Engels by die tale voeg wat ons ken.

In 1969, nadat ons 13 jaar in Tasmanië deurgebring het, het ons na die noordelike staat Queensland verhuis, waar ons sedertdien woon. Ek dien tans as ’n Christen- ouere man in die plaaslike gemeente en koester Jantina se geselskap terwyl ons Jehovah saam dien. Wanneer ons ook al met vakansie na Duitsland teruggekeer het, het ons Willy Huppertz opgesoek en die Bybel met hom gestudeer. Uiteindelik het hy ook sy lewe daaraan toegewy om Jehovah te dien, en nou geniet ons die soort vriendskap wat alle mense in vrede kan verenig.

Wanneer ek op my lewe sedert daardie jare as ’n krygsgevangene in Frankryk terugkyk, is ek inderdaad dankbaar dat ek ons liefdevolle Skepper, Jehovah God, kon leer ken. Hoe dankbaar is ek tog nou dat Jantina die inisiatief geneem het om daardie Verlossing-boek in my tas te pak en toe aan die Getuies in Frankryk geskryf het om te reël dat hulle met my in aanraking kom! As gevolg hiervan is my eie lewe en ons lewe saam as man en vrou verryk en op baie maniere beloon.—Soos vertel deur Hans Lang.

[Prent op bladsy 15]

By Jantina vandag

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel