“Die wetenskap leer ’n les van die natuur”
DIE bogenoemde titel was ’n opskrif in The New York Times van 31 Augustus 1993. Die artikel het gesê dat ’n toenemende aantal wetenskaplikes wat nuwe stowwe ontwerp op die gebied van die biomimetika betrokke geraak het. Die Times definieer biomimetika as “die studie van die struktuur en funksie van biologiese stowwe as modelle vir stowwe wat kunsmatig geskep word”.
Die artikel het erken dat eenvoudige seediere en spinnekoppe stowwe maak wat baie beter is as soortgelyke stowwe wat hedendaagse wetenskaplikes kan maak. Die perlemoen haal byvoorbeeld kalsiumkarbonaat, die poeierige bestanddeel van kalk, uit water en maak baie dun plaatjies daarvan. Daarna bind die perlemoen baie van hierdie plaatjies met ’n pleister van proteïene en suikers. Dr. Mehmet Sarikaya sê dat die skulp se samestelling 30 keer sterker en harder is as die gewone kalsiumkarbonaat wat in die laboratorium gemaak word. Hy erken: “Ons beskik nie oor die tegnologie om die lae van die stof so dun te maak soos dit in die skulp is nie.”
Die sy van ’n spinnerak is eweneens sterker as staal en duursamer as nylon. Wetenskaplikes is besig om die sy te bestudeer in die hoop dat hulle vesel kan maak wat sterker is as Kevlar, die stof waarvan koeëlvaste onderbaadjies gemaak word. Maar die ingewikkelde vervaardigingsprosesse van die spinnekop is iets wat die mens tot nog toe nie kon dupliseer nie.
“Spinnekoppe vervaardig sy deur water as ’n oplosmiddel in die ope lug te gebruik, teen omliggende temperature en druk, en dit gaan deur al hierdie stadiums om ’n bestendige, watervaste spinnerak te word wat baie sterk is”, het dr. Christopher Viney van die Universiteit van Washington in Seattle gesê. “Maar as jy ’n sterk vesel soos Kevlar wil vervaardig, moet jy dit onder hoë druk doen en gekonsentreerde swawelsuur gebruik.” Hierdie wetenskaplike het dus erken: “Ons het baie om te leer.”
Dink hieroor na. As die beste van die mens se tegnologie nie kan vervaardig wat eenvoudige seediere en spinnekoppe kan doen nie, is dit tog redelik om te glo dat hierdie skepsele die produk van ’n verhewe intelligensie is, nie waar nie? Dit sal verstandig wees as ons die eer hiervoor aan die Groot Ontwerper gee—wie se werk hedendaagse wetenskaplikes probeer naboots—vir die weergalose vindingrykheid waarmee hy die aarde met sy skepsele gevul het.—Psalm 104:24.