Wanneer bedrywighede verslawend word
VERSLAWING aan middels en verslawing aan bedrywighede is soos twee treine wat in dieselfde rigting op dieselfde spoor beweeg.a Elkeen het dieselfde bestemming of doel: om ’n mens beter te laat voel en pynlike gevoelens te verberg. Laat ons ’n paar voorbeelde van verslawing aan bedrywighede ondersoek.
Verslawing aan werk
Verslawing aan werk is al die beskaafde verslawing genoem. Werkslawe is op stuk van sake uitstekende werknemers. Maar in hulle binneste is daar dalk ’n leemte. Werk kan óf ’n afleiding van pynlike gevoelens óf ’n obsessiewe strewe na goedkeuring wees.
Ys is vir die ysskaatser ’n beskerming sodat hy nie in water verdrink nie; werk is vir die werkslaaf ’n beskerming sodat hy nie in gevoelens verdrink nie. Soos die ysskaatser kan die werkslaaf ’n skitterende vertoning lewer. Maar dit is alles oppervlakkig. Wat skuil dikwels daaronder? Linda T. Sanford, ’n raadgewer oor geestesgesondheid, skryf: “Wanneer die werkslaaf nie in werk verdiep is nie, word hy of sy moontlik deur gevreesde gevoelens van depressie, angs, woede, wanhoop en leegheid oorweldig.”
Die diepgewortelde kompulsie van baie werkslawe dui daarop dat dit ’n langtermynkaraktertrek kan wees wat moontlik met ’n mens se opvoeding verband hou. Dit was die geval met ’n vrou wat ons Mary sal noem. Vandat sy ses was, het sy haar alkoholis-pa se liefde probeer verdien deur kos te kook en in die huis te werk. “Dit het ’n kompulsie geword”, sê sy. “Ek het gedink dat hy my sal liefhê as ek meer of beter doen. Al wat ek gekry het, was kritiek.”
As volwassene worstel Mary steeds met hierdie verkeerde denke. “Ek voel in my binneste steeds waardeloos”, erken sy. “Ek dink steeds dat ek liefde moet verdien, dat ek niks werd is nie tensy ek iets doen. Tydens sosiale geleenthede put ek myself uit deur kos te kook en op te dien, asof ek my reg probeer verdien om daar te wees.”
Vir diegene soos Mary is ’n gebalanseerde beskouing van werk noodsaaklik. Die Bybel praat goedkeurend van harde werk (Spreuke 6:6-8; 2 Thessalonicense 3:10, 12). Jehovah God self is produktief (Psalm 104:24; Johannes 5:17). Maar hy is nooit kompulsief nie. Jehovah het gesien dat sy skeppingswerke goed was, nie net toe hulle voltooi was nie, maar selfs tydens die skeppingsproses.—Genesis 1:4, 12, 18, 21, 25, 31; vergelyk Prediker 5:17.
Jehovah God se Meesterwerker, sy Seun, Jesus, het eweneens persoonlike bevrediging in sy werk weerspieël (Spreuke 8:30, 31, NW). Jesus het sy navolgers belowe dat hulle ook verkwikking sou vind deur saam met hom te werk. Saam het hulle aan ’n baie belangrike toewysing gewerk. Maar dit het hulle nie verhinder om te rus nie.—Mattheüs 11:28-30, NW; Markus 6:31; vergelyk Prediker 4:6.
’n Ouer het dalk te kenne gegee dat jou waarde as persoon van jou prestasies afhang of dat liefde teruggehou sou word totdat dit verdien is. Jy sal verlig wees om te weet dat dit nie Jehovah se beskouing van behoorlike ouerskap is nie. Sy Woord gee hierdie raad: “Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word [“minderwaardig voel”, The Amplified Bible] nie” (Kolossense 3:21). Jehovah is nie iemand wat liefde van ’n mens weerhou totdat dit verdien is nie. Sy liefde is nie iets wat hy gee eers nadat iemand hom begin liefkry en dien nie. Die Bybel sê inderdaad vir ons dat “Hy ons eerste liefgehad het”, ja, selfs “toe ons nog sondaars was”, het God die inisiatief geneem deur ons lief te hê (1 Johannes 4:19; Romeine 5:6-8). Daarbenewens kritiseer Jehovah nie ons opregte pogings om sy wil te doen nie. Daarom word ons diens aan hom ’n ongeveinsde uitdrukking van ons liefde vir hom.
Televisieverslawing
Sommige noem oormatige TV-kykery ’n verslawing. “Die televisie”, skryf Marie Winn in The Plug-In Drug, “stel die kyker op ’n baie soortgelyke manier as dwelms en alkohol in staat om van die werklikheid te vergeet en ’n genoeglike en passiewe verstandelike toestand binne te gaan.”
Daar is natuurlik niks daarmee verkeerd om—tydelik—van die lewe se verantwoordelikhede afgelei te word nie. Maar sommige kykers keer nooit na die werklikheid terug nie. Een eggenoot wat skielik nie meer TV kon kyk toe die stel gebreek het nie, het erken: “Ek dink my verstand was al daardie jare heeltemal afgestomp. Ek was voor daardie masjien vasgenael en kon om die een of ander rede nie loskom nie.” ’n Seun met die naam Kai beskryf ’n soortgelyke kompulsie: “Ek wil nie soveel televisie kyk nie, maar ek kan dit nie verhelp nie. Dit dwing my om daarna te kyk.”
Oormatige TV-kykery belemmer denkvermoë. Die Bybel beveel mediterende bepeinsing aan, wat ’n mate van afsondering vereis (Josua 1:8; Psalm 1:2, 3; 145:5, NW; Mattheüs 14:23; Lukas 4:42; 5:16; 1 Timotheüs 4:15, NW). Dit skrik baie mense af. Hulle raak baie senuweeagtig wanneer hulle deur stilte omring is. Hulle is bang om alleen met hulle eie gedagtes te wees. Hulle soek naarstiglik na enigiets om die leemte te vul. Die TV word ’n vinnige oplossing. Maar die TV is hoogstens net ’n plaasvervanger vir die werklike lewe.
Kompulsiewe dobbelary
Dobbelary spruit uit hebsug. Maar kompulsiewe dobbelary is dikwels baie meer as ’n geldsaak.b “Ek het die euforiese gevoel nodig gehad om aan die werklikheid te ontsnap”, sê Nigel. “Dit was presies soos om ’n dwelm te gebruik.” Vir die kompulsiewe dobbelaar is die dobbelproses op sigself dikwels ’n beloning. Die gevolge is nie ter sake nie. Nigel het sy vriende verloor. Ander verloor hulle familie. Baie verloor hulle gesondheid. En feitlik almal verloor hulle geld. Maar min mense hou daarmee op aangesien wen of verloor nie die kwessie is nie. Dit is die spel—die proses—wat ’n mens beter laat voel en soos ’n dwelm ’n euforiese gevoel teweegbring.
Dobbelary bied dalk afleiding vir die lewe se probleme, maar dit sal hulle nie laat verdwyn nie. ’n Man wat ernstig gewond is, het meer as net ’n pynstiller nodig. Sy wonde moet behandel word. As daar wonde is wat veroorsaak het dat ’n persoon begin dobbel het, moet hy hulle identifiseer en behandel. Dit verg moed, maar op die ou end is dit die moeite werd.
Breek los
Wanneer iemand van enige verslawing wil losbreek, kan die innerlike angs wat dikwels die verslawing aanblaas, nie verontagsaam word nie. Die verslaafde moet die probleem by sy oorsprong probeer behandel. Dit is ’n uitdaging. “’n Mens keer nie sommer net jou rug op 30 jaar van dwelms en alkohol nie”, sê een voormalige verslaafde, “veral nie wanneer jou verslawing ’n diepliggende probleem versteek het nie.”
Dit is nietemin die moeite werd om van verslawing los te breek. Mary, die kompulsiewe werker na wie daar vroeër verwys is, beskryf dit goed. “Jare lank”, sê sy, “het ek van dinge af weggehardloop waarvoor ek bang was. Maar noudat ek aan daardie dinge werk, is dit verbasend hoe klein hulle geword het.”
Dit was al die ondervinding van baie wat verslawing met welslae oorkom het. Pleks van “slawe van vernietigende gewoontes” te bly, het hulle om “krag wat die normale te bowe gaan”, gebid sodat hulle die uitdaging om verslawing te oorwin met welslae die hoof kan bied.—2 Petrus 2:19, Today’s English Version; 2 Korinthiërs 4:7, NW.
[Voetnote]
a Daar is baie meningsverskille oor wat verslawing genoem kan word en wat nie. Sommige verkies dit om verslawende bedrywighede “kompulsies” te noem. In hierdie artikels het ons die rol van verslawing as ’n emosionele “ontvlugtingsmiddel” ondersoek. Aangesien bedrywighede vir dieselfde doel gebruik kan word, sal ons in hierdie artikel daarvan as “verslawings” praat.
b In teenstelling met werk en TV-kykery vermy Christene dobbelary, in al sy vorme, heeltemal. (Vergelyk Jesaja 65:11.) Vir meer inligting sien die Ontwaak! van 8 Junie 1992, bladsye 3-11.
[Lokteks op bladsy 9]
‘Die term verslawings kan op alle soorte kompulsiewe gedrag toegepas word.’—Dr. J. Patrick Gannon.
[Prent op bladsy 10]
’n Werkslaaf se werk is blykbaar vir hom belangriker as sy gesin
[Prent op bladsy 10]
Dobbelary kan ’n mens beter laat voel en soos ’n dwelm ’n euforiese gevoel teweegbring