Hulp aan diegene met vigs
“VIGS tref leraar, hy vind geslote deure” was die opskrif van ’n artikel in The New York Times. Die koerant het oor ’n Baptiste-leraar geskryf wie se vrou en twee kinders met die vigs-virus besmet is deur ’n bloedoortapping wat in 1982 aan haar toegedien is (die kinders is in haar baarmoeder besmet). As gevolg van die siekte is hy en sy gesin daarna afgeraai om na die onderskeie Baptiste-kerke toe te gaan. Aangesien hy ontnugter is, het hy nie meer kerk toe probeer gaan nie en het die Baptiste-bediening verlaat.
Hierdie man se teleurstelling in sy kerk se reaksie laat ’n paar vrae ontstaan: Gee God om vir siek mense, ook vir diegene wat vigs het? Hoe kan hulle gehelp word? Watter voorsorgmaatreëls moet getref word wanneer Christelike vertroosting aan diegene verleen word wat vigs het?
God se liefde vir die geteisterdes
Die Bybel toon dat die almagtige God innige empatie betoon aan diegene wat lyding verduur. Toe Jesus op die aarde was, het hy ook opregte medelye aan die siekes betoon. En God het hom die krag gegee om mense van al hulle siektes te genees, soos die Bybel ons meedeel: “Ondertussen kom daar groot menigtes na Hom met kreupeles, blindes, stommes, gebreklikes en baie ander by hulle, en hulle het dié by die voete van Jesus neergesit, en Hy het hulle gesond gemaak.”—Mattheüs 15:30.
God het natuurlik nie vandag aan iemand op aarde die krag gegee om mense op wonderbaarlike wyse te genees soos Jesus gedoen het nie. Maar Bybelprofesieë toon dat binnekort, in God se nuwe wêreld, ‘geen inwoner sal sê: Ek is siek’ nie (Jesaja 33:24). Die Bybel belowe: “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie” (Openbaring 21:4). God het vanweë sy groot liefde vir mense voorsiening gemaak vir ’n blywende genesing van alle siektes, vigs inkluis.
Psalm 22:25 sê van God: “Hy het die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en sy aangesig vir hom nie verberg nie; maar Hy het gehoor toe dié Hom aangeroep het om hulp.” God se liefde is daar vir diegene wat hom opreg om hulp aanroep.
Wie doen die vigs-virus op?
Vigs is ’n siekte wat hoofsaaklik weens ’n lewenswyse ontstaan. Talle besmette mense stem agterna saam met Psalm 107:17, wat sê: ‘Die wat dwase was, is vanweë die weg van hulle oortreding en weens hulle ongeregtighede gepynig.’
Wanneer iemand Bybelstandaarde prysgee en hom aan geslagsgemeenskap buite God se huweliksreëling skuldig maak, word die gevaar om vigs op te doen of om ander daarmee te besmet ’n werklikheid. Wanneer persone spuitnaalde deel om dwelms binneaars toe te dien, kan hulle ook vigs opdoen en die virus dalk aan ander oordra. Daarbenewens het talle vigs opgedoen deur middel van bloedoortappings van besmette skenkers.
Dit is egter tragies dat ’n ongelooflike aantal onskuldige mense met die vigs-virus besmet word en dat dit op verskeie maniere gebeur. Talle getroue huweliksmaats doen byvoorbeeld, sonder hulle eie toedoen, vigs op deur geslagsgemeenskap met hulle besmette huweliksmaat te hê. Dan is daar ook, veral in sommige gebiede, ’n onrusbarende persentasie babas wat die vigs-virus van hulle besmette moeders kry, wat die pasgebore baba wat vigs het een van die tragiesste slagoffers maak. Mediese personeel en ander het ook die siekte weens ongelukke opgedoen toe hulle met besmette bloed gewerk het.
Hoe iemand ook al vigs opdoen, die Skrif sê duidelik dat God nie daarvoor verantwoordelik is as hierdie dodelike siekte oorgedra word nie. Hoewel die meerderheid van diegene wat vandag met vigs besmet is dit oor hulleself gebring en ander besmet het deur gedrag wat nie in ooreenstemming met Bybelstandaarde is nie, is die persentasies besig om te verander en toon dit dat daar ’n groter aantal onskuldige slagoffers, soos babas en getroue huweliksmaats, is.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê dat vroue regoor die wêreld nou amper net so dikwels as mans met die vigs-virus besmet word en dat die meerderheid nuwe besmettings teen die jaar 2000 dié van vroue sal wees. Gesondheidswerkers in Afrika sê dat 80 persent van die vigs-gevalle in Afrika “deur heteroseksuele omgang oorgedra word en dat bykans al die ander van moeder na kind gedurende swangerskap of tydens geboorte oorgedra word”.
Maar hoewel God gekant is teen enige oortreding van sy wette, en dit sluit oortredings in wat sulke lyding tot gevolg het, sal hy nie op hom laat wag om simpatie te betoon aan almal wat só geteister word nie. Selfs diegene wat vigs deur verkeerde dade opgedoen het, kan by God se barmhartigheid baat vind deur berou te toon en hulle verkeerde dade te staak.—Jesaja 1:18; 1 Korinthiërs 6:9-11.
Wat ons tans daaroor weet
Vigs is ’n wêreldwye gesondheidsprobleem. Terwyl navorsers mense verseker dat “HIV nie ’n virus is wat maklik oorgedra word nie”, is dit ’n skrale troos vir die miljoene wat dit reeds het en vir die ontelbare miljoene wat dit gaan kry in die jare wat nog voorlê. Die feite toon dat dit oor die hele aarde versprei.
Waar dit die gewone maniere opsom waarop vigs versprei word, sê een publikasie: “Feitlik alle HIV-besmettings word deur seksuele kontak of blootstelling aan besmette bloed oorgedra.” ’n Verslag haal die gevolgtrekkings aan waartoe die meerderheid in die mediese beroep gekom het, en sê: “Vir besmetting om plaas te vind, moet liggaamsvloeistowwe (byna altyd bloed of sperma) van ’n besmette persoon na ’n onbesmette persoon se liggaam oorgedra word.”
Die uitdrukkings “feitlik alle” en “byna altyd” erken egter dat daar uitsonderings kan wees. Hoewel diegene in die mediese veld dus vandag bekend is met die oorgrote meerderheid van maniere waarop vigs oorgedra word, is dit in ’n baie klein persentasie van gevalle moontlik nie bekend hoe die virus opgedoen word nie. Daarom is dit steeds nodig om versigtig te wees.
Hoe sal jy reageer?
Ongeveer 12 tot 14 miljoen mense in alle wêrelddele is reeds met die vigs-virus besmet. En na raming sal miljoene meer teen die jaar 2000 besmet wees. Dus het jy dalk al met mense in aanraking gekom wat hierdie siekte het, of dit sal dalk binnekort gebeur. In enige groot stad is toevallige kontak met sulke mense byvoorbeeld daagliks moontlik by die werk en in restaurante, teaters, sportarenas, busse, moltreine, vliegtuie en treine, sowel as ander kontak in die openbaar.
Dit sal dus al hoe meer gebeur dat Christene vigs-lyers ontmoet en daartoe beweeg word om hulle te help as hulle graag die Bybel wil studeer, Christelike vergaderinge wil bywoon en hulle mettertyd aan God wil toewy. Hoe moet Christene in hierdie behoeftes van vigs-slagoffers voorsien? Is daar praktiese voorsorgmaatreëls wat tot voordeel van die vigs-lyer en diegene in die Christengemeente getref kan word?
Volgens die huidige konsensus word vigs nie deur toevallige kontak oorgedra nie. Dit lyk dus asof ’n mens nie uitermate bang hoef te wees om in die geselskap van iemand te wees wat vigs het nie. En aangesien vigs-lyers ’n baie swak immuunstelsel het, moet ons versigtig wees dat hulle nie die gewone virusinfeksies kry wat ons dalk het nie. Só ’n gewone siekte kan baie nadelig vir hulle liggaam wees.
Weens die lewensgevaarlike aard van vigs is dit verstandig om sekere redelike voorsorgmaatreëls in gedagte te hou wanneer ons ’n vigs-lyer in ons persoonlike omgang of in die Christengemeente verwelkom. Hoewel daar eerstens geen aankondiging gemaak moet word nie, sal ons dalk een van die ouere manne in die gemeente van die situasie in kennis wil stel sodat hy voorbereid kan wees om ’n vriendelike en gepaste antwoord aan enigeen te gee wat dalk navraag doen omtrent die saak.
Aangesien die virus deur ’n besmette persoon se bloed oorgedra kan word, sal dit verstandig wees as gemeentes sogenoemde universele voorsorgmaatreëls toepas wanneer ruskamers en plekke waar daar gemors is, skoongemaak word, veral as daar bloed by betrokke is. “Universele voorsorgmaatreëls” is ’n term wat deur die mediese beroep gebruik word om ’n stel reëls te beskryf waar alle bloed van enigiemand as besmet en potensieel gevaarlik beskou word en daar derhalwe op ’n sekere manier daarmee gewerk word. Aangesien die Koninkryksaal ’n openbare plek is, is dit dalk verstandig om skoonmaakbenodigdhede sowel as ’n voorraad rubber- of vinielhandskoene beskikbaar te hê sodat die nodige skoonmaakwerk op ’n veilige en doeltreffende manier gedoen kan word. ’n Oplossing waarvan 10 persent ’n bleikmiddel (Jik) is, word gewoonlik aanbeveel indien bloed gemors is.
Wanneer ons met ander omgaan, met vigs-lyers inkluis, word ons as Christene aangemoedig om Jesus se voorbeeld na te volg. Die medelye wat hy gehad het vir dié wat geteister was en wat nogtans opreg was in hulle begeerte om God te dien, is vir ons gepas om na te volg. (Vergelyk Mattheüs 9:35-38; Markus 1:40, 41.) Maar aangesien vigs op die oomblik ’n ongeneeslike siekte is, is dit gepas dat ’n Christen redelike voorsorgmaatreëls tref wanneer hy ook al simpatieke hulp verleen aan diegene wat daaraan ly.—Spreuke 14:15.
Vigs-slagoffers kan ook help
Die verstandige vigs-lyer besef dat ander sensitief is oor hierdie siekte. Daarom sal dit beter wees as die vigs-slagoffer uit respek vir die gevoelens van diegene wat behulpsaam wil wees nie liefdebetonings in die openbaar maak soos om iemand te druk of te soen nie. Al is daar min of geen moontlikheid dat sulke gebare die siekte kan oordra nie, sal hierdie onthouding toon dat die slagoffer ander in ag neem, wat sodoende soortgelyke wedersydse bedagsaamheid sal aanmoedig.a
Aangesien die persoon wat vigs het, besef dat baie ’n vrees vir die onbekende het, moet die persoon nie aanstoot neem as hy of sy nie dadelik na mense se huise uitgenooi word nie of as dit lyk asof ’n ouer nie toelaat dat ’n kind in noue aanraking met hom of haar kom nie. En as een van die Gemeentelike Boekstudies by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies gehou word, is dit dalk verstandig van die persoon met vigs om dit eerder uit eie keuse daar by te woon, pleks van in ’n huis, tensy daardie persoon die situasie met die huisbewoner bespreek het.
Vigs-draers moet ook uiters besorg wees oor hulle kontak met ander wanneer hulle byvoorbeeld ’n aktiewe hoes het wat met slym gepaardgaan en hulle weet dat hulle tering het. In so ’n geval moet hulle die gemeenskap se gesondheidsriglyne met betrekking tot afsonderingsprosedures toepas.
’n Ander situasie waar ’n onskuldige persoon besmet kan raak, is deur met iemand te trou wat onwetend met die vigs-virus besmet is. ’n Mens moet veral sorg aan die dag lê onder omstandighede waar een of albei voornemende huweliksmaats voorheen promisku was of spuitnaalde tydens dwelmmisbruik gebruik het voordat hulle juiste kennis van God se Woord opgedoen het. Aangesien daar ’n toenemende aantal mense is wat asimptomatiese HIV-infeksie het (dit wil sê nog geen uiterlike simptome nie), sal dit nie verkeerd van ’n individu of besorgde ouers wees om te vra dat die aanstaande huweliksmaat voor die verlowing of huwelik ’n vigs-bloedtoets laat doen nie. Weens die verwoestende, noodlottige aard van hierdie siekte moet ’n voornemende huweliksmaat nie aanstoot neem as so ’n versoek gedoen word nie.
As die toets positief is, sal dit onvanpas wees as die besmette party druk op die voornemende huweliksmaat uitoefen om die hofmakery of verlowing voort te sit as die voornemende huweliksmaat nou die verhouding wil beëindig. En dit sal verstandig wees indien enigeen wie se vorige lewenswyse hom in ’n hoërisikogroep geplaas het, asook enigeen wat promisku was of dwelms binneaars gebruik het, hom uit vrye wil laat toets vóór hy ’n hofmakery begin. Sodoende kan baie hartseer vermy word.
As Christene wil ons dus met medelye optree en nie mense vermy wat vigs het nie, maar ons sal terselfdertyd besef dat individuele gevoelens oor hierdie sensitiewe onderwerp moontlik verskil (Galasiërs 6:5). Met ’n siekte soos vigs is al die feite nog nie bekend nie, en baie mense sal dalk ’n bietjie aarsel om hulle by hierdie betrokke geskille in te laat. Ons sal dus ’n gebalanseerde beskouing van die saak hê as ons voortgaan om vigs-slagoffers in die Christengemeente te verwelkom en om liefde en hartlikheid aan hulle te toon, terwyl ons terselfdertyd redelike voorsorgmaatreëls sal tref om ons en ons gesin teen die siekte te beskerm.
[Voetnoot]
a Wat moet iemand wat weet dat hy of sy vigs het, doen wanneer hy of sy ’n gedoopte Getuie van Jehovah wil word? Uit respek vir ander se gevoelens sal dit dalk verstandig van hulle wees om te vra dat hulle privaat gedoop word, hoewel daar geen bewyse is wat toon dat vigs al in swembaddens oorgedra is nie. Hoewel baie eerste-eeuse Christene tydens groot openbare byeenkomste gedoop is, is ander vanweë verskillende omstandighede in ’n privater omgewing gedoop (Handelinge 2:38-41; 8:34-38; 9:17, 18). ’n Ander alternatief sal wees om die kandidaat wat vigs het laaste te doop.
[Venster op bladsy 13]
My hart het na haar uitgegaan
Terwyl ek eendag aan die openbare bediening deelgeneem het, het ek ’n jong vrou van ongeveer 20 genader. Haar groot bruin oë het so hartseer gelyk. Aangesien ek ’n gesprek oor God se Koninkryk wou begin, het ek haar een van die traktate in my hand aangebied. Sy het sonder aarseling Vertroosting vir dié wat aan depressie ly gekies. Sy het eers na die traktaat en toe na my gekyk en sonder emosie gesê: “My suster het so pas aan vigs gesterf.” Voor ek nog my meegevoel klaar kon betuig, het sy gesê: “Ek is ook besig om aan vigs te sterf en ek het twee klein kindertjies.”
My hart het na haar uitgegaan en ek het uit die Bybel vir haar gelees van die toekoms wat God aan die mensdom beloof. Sy het toe teëgekap: “Waarom sal God nóú vir my omgee as ek my nooit aan hom gesteur het nie?” Ek het haar vertel dat sy deur ’n studie van die Bybel sou uitvind dat God almal verwelkom wat opreg berou het en leer om geloof in hom en in sy Seun se losprysoffer te stel. Sy het geantwoord: “Ek weet wie jy is. Jy is van die Koninkryksaal onder in die straat—maar sal iemand soos ek by julle Koninkryksaal welkom wees?” Ek het haar verseker dat sy beslis welkom sal wees.
Toe sy uiteindelik verder loop, met die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n? en haar traktaat wat sy styf vasgehou het, het ek gedink: ‘Ek hoop sy vind die vertroosting wat slegs God kan gee.’