Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 3/22 bl. 6-11
  • Is die arbeider sy loon werd?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is die arbeider sy loon werd?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dié wat ons kinders leer
  • En dan is daar sport
  • Probleme in hedendaagse sport
    Ontwaak!—1991
  • Spansport—is dit goed vir my?
    Ontwaak!—1996
  • Wat behoort ek omtrent steroïede te weet?
    Ontwaak!—2005
  • Die onderwys—Die opofferings en die gevare
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 3/22 bl. 6-11

Is die arbeider sy loon werd?

KYK ’n bietjie na hulle! Dit lyk of hulle beswaarlik aan die lewe bly—hulle woon dikwels in haglike omstandighede en het baie keer net die allernodigste, hoewel baie van hulle in welvarende lande woon en gesinne daar grootmaak. Hulle is die trekarbeiders, waarvan daar in die Verenigde State alleen tot vyfmiljoen is, en hulle pluk die vrugte en groente vir sommige van die land se grootste maatskappye.

Kyk hoe swoeg hulle gehawende en seer liggame in die skroeiende hitte. Kyk hoe probeer hulle regop kom nadat hulle ure lank in ’n gebukte posisie groente gepluk het wat die rakke en houers van winkels en supermarkte ver daarvandaan sal versier. Van sonop tot sononder, ses en sewe dae per week, sal hulle daar wees. Kyk na die kinders wat langs hulle ouers en dikwels langs hulle bejaarde grootouers werk. Baie van die kinders word op ’n vroeë ouderdom uit die skool geneem omdat hulle ouers seisoen ná seisoen agter die gesaaides aan trek wat gereed is om geoes te word. Dít alles net om ’n eenvoudige bestaan te maak.

Pla die aanhoudende geraas van vliegtuie wat laag vlieg jou terwyl jy kyk hoe hierdie arbeiders in die landerye swoeg? Laat die giftige plaagdoders uit die vliegtuig se spuitkoppe jou oë brand en laat dit jou vel pyn en jeuk? Is jy bang vir die kort- en langtermyngevare wat dit vir jou inhou? Die werkers is. Die spuitstof is permanent op hulle klere, in hulle neusgate en in hulle longe. Hulle kyk toe terwyl hierdie dodelike chemikalieë hulle kinders en bejaarde ouers aantas. Hulle sien hoe gesinslede en medewerkers vanweë vergiftiging deur die plaagdoder op ’n vroeë ouderdom nie meer kan werk nie.

Een kind, wat nou in haar vroeë tienderjare is, is met ’n ontwrigte heup gebore, met geen borsspiere aan die regterkant nie en met die een kant van haar gesig wat verlam is. Haar pa meen dat haar misvormdheid veroorsaak is deur plaagdoders wat op aarbeilanderye gespuit is terwyl haar ma swanger was. Na berig word, het net die blootstelling aan plaagdoders ’n uitwerking op 300 000 arbeiders per jaar en het trekarbeiders ’n ongeskiktheidsyfer wat vyf keer hoër is as dié van arbeiders in enige ander nywerheid.

As dit jou nie ontroer net deur te sien hoe hulle in die landerye swoeg of die smerige omstandighede te sien waarin hulle woon nie, luister dan na hulle woorde. “Hierdie werk maak jou doodmoeg”, sug een ma van sewe kinders ná ’n lang, harde dag in die landerye. “Ek sal waarskynlik net was en bed toe gaan. Ek het tot ná 4 uur vanoggend geslaap en het nie genoeg tyd gehad om middagete te maak nie; dus het ek nog nie geëet nie. Nou is ek te uitgeput om te eet.” Haar hande is vol blase. Dit sal pynlik wees om met ’n vurk of ’n lepel te eet.

“[Ons kinders] help ons soms oor naweke”, het ’n ander ma gesê, “en hulle weet hoe dit is om in die landerye te werk. Hulle wil dit nie vir ’n bestaan doen nie. . . . Ek het steeds die splinters in my hande wat ek gekry het toe ek verlede winter lemoene gepluk het.” Haar man het gesê: “Ons werk van sonop tot sononder, ses dae per week. . . . Maar ons sal dit waarskynlik ons hele lewe lank doen. Wat anders kan ons doen?” Die egpaar verdien saam ’n skamele $10 000 per jaar—volgens Amerikaanse standaarde is dit die bestaansminimum.a

Arbeiders is bang om te kla uit vrees dat hulle hulle werk sal verloor. “As jy kla”, het een gesê, “sal hulle jou nie weer werk gee nie.” Baie van die trekarbeiders is mans en vaders wat hulle gesin moes agterlaat om te gaan waar daar gesaaides is aangesien behuising, wat dikwels sintelsteen-kasernes is waarin tot 300 arbeiders woon, te vuil en beknop vir die ander lede van hulle gesin is. “Dit sal aangenaam wees as ek die hele jaar deur by [my gesin] kan woon”, het een vader gesê, “maar dis my werk dié.” “Ons skraap reeds die laaste krummels bymekaar”, het iemand anders gesê. “Dinge kan nie slegter gaan nie; dus moet dit beter gaan.” Om skande by skade te voeg, is baie van hulle ook onderaan die salarisskaal. Vir sommige lyk $10 000 per jaar vir ’n arbeidergesin onbereikbaar, ’n salaris wat hulle nie kan hoop om te verdien nie. “Boere kan Derdewêreldlone betaal en enige arbeiders wat nie presies doen soos daar vir hulle gesê word nie eenvoudig wegjaag”, het die tydskrif People Weekly geskryf. “Die arbeider is sy loon werd”, het Jesus gesê (Lukas 10:7). Trekarbeiders wonder seker wanneer hierdie beginsel in hulle lewe sal geld.

Dié wat ons kinders leer

Beskou nou diegene wie se beroep van hulle vereis om kinders en volwassenes die onderdele van ’n basiese opvoeding te gee deur hulle te leer lees, skryf en spel en hulle rekenkunde, basiese wetenskap en gedrag in die werksplek te leer. In instellings vir hoër onderwys onderrig opvoedkundiges ander in die regte, medisyne, chemie, ingenieurswese en in rigtings in die hipertegnologie—vakgebiede wat in hierdie rekenaar- en ruimte-eeu die winsgewender beroepe insluit. Sal hierdie opvoedkundiges nie vanweë die uiterste belang van die onderwys ’n vername plek beklee onder diegene wat dit verdien om lone te ontvang wat geskik is vir die onskatbare dienste wat gelewer word nie? Wanneer hulle vergelyk word met mense wie se lone blykbaar buite verhouding hoog is met die werk wat hulle doen, lyk dit of die gemeenskap ’n lae waarde aan die onderwysberoep heg.

Laat gedurende hierdie 20ste eeu het die onderwys op party plekke ’n hoërisikoberoep geword, nie net in hoërskole nie, maar ook in primêre skole. In sommige plekke word onderwysers aangeraai om in die klaskamers en op die speelgrond ’n stok te dra om hulle teen opstandige kinders te beskerm. Skoolkinders van alle ouderdomme dra vuurwapens en messe by hulle en in hulle kosblik.

Onderwysers, mans sowel as vroue, is al deur leerlinge aangerand. In onlangse jare het meer as 47 000 onderwysers en 2,5 miljoen leerlinge in middelbare skole slagoffers van misdaad geword. “Die probleem bestaan oral”, het die onderwyserskoerant NEA Today gesê, “maar dit is erger in stedelike gebiede, waar die kans dat ’n onderwyser by die skool aangeval sal word jaarliks 1 uit 50 is.” Die algemene gebruik van dwelms en alkohol in skole het die frustrasie van onderwysers laat toeneem.

Asof dit nie genoeg is nie, word daar in sommige gebiede van onderwysers verwag dat hulle deur hulle hele loopbaan moet studeer en hulle vakansietyd moet gebruik om gevorderde kursusse te volg of byeenkomste of seminare vir onderwysers in hulle vakgebied by te woon. Maar sal dit jou verbaas om te hoor dat die lone vir skoolopsigters—diegene wat daarvoor verantwoordelik is om skole skoon en in stand te hou—in sommige groot stede in die Verenigde State tot $20 000 hoër as onderwysers s’n kan wees?

Salarisse vir onderwysers wissel van land tot land, van staat tot staat en van streek tot streek. In sommige lande is onderwysers se salarisskaal die laagste van alle beroepe. Na berig word, is opvoedkundiges se lone selfs in welvarender lande onbillik as ’n mens die verantwoordelikheid wat op hulle skouers rus in aanmerking neem.

Volgens ’n berig in The New York Times het een kritikus van die salarisskaal van onderwysers en opvoedkundiges gesê: “In die Verenigde State was beroepe waartoe mense hulle geroepe voel, soos die onderwys . . . , nog altyd baie swak vergoed of beloon. Die publiek het nog altyd gedink: ‘Wel, dis wat hulle [interesseer], dis wat hulle graag doen.’ Ek dink nie dat dit baie billik is nie, en ek dink nie dat dit baie intelligent is nie.” Beskou as voorbeeld hierdie berig wat in The New York Times gepubliseer is: “Salarisse vir Kollege- en Universiteitsfakulteite het gedurende die akademiese jaar 1991-92 teen die laagste tempo in 20 jaar gestyg”, gemiddeld 3,5 persent. “Wanneer die 3,5 persent verhoging vir inflasie aangepas word”, het ’n navorser gesê, “het salarisse teen ’n onbeduidende 0,4 persent gestyg.” Daar is al hoe meer besorgdheid dat talle verantwoordelike opvoedkundiges dalk vanweë die lae salarisse wat hulle ontvang, genoodsaak sal wees om die onderwysberoep te verlaat vir poste waar hulle meer betaal sal word.

En dan is daar sport

’n Kontrasterende voorbeeld van salarisse wat buitensporig is, is die sportwêreld. Hoe beskou die trekarbeiders wat die bestaansminimum verdien en die opvoedkundiges wat onbillike salarisse ontvang die buitensporige netto betaling van sportfigure?

Wat van die gemiddelde polisieman wat sy rondtes doen en die brandweerman wie se lewe deur brandalarms beheer word—mense wat elke dag hulle lewe in hulle werk waag? Glimlag hulle goedkeurend oor die buitensporige salarisse wat beroepsatlete betaal word omdat hulle as sterre verheerlik word? In die Verenigde State is meer as 700 polisiebeamptes al gedurende die laaste dekade in die loop van hulle pligte doodgemaak. Die sterftesyfer onder brandweermanne is ook hoog. En tog word daar allerweë erken dat hierdie hoogs opgeleide beroepsmense veels te min betaal word. Sal hulle nie die waarde wat die gemeenskap aan hulle beroep en lewe heg, bevraagteken nie?

Neem byvoorbeeld bofbal—’n groot trekpleister vir sportliefhebbers in die Verenigde State, Kanada en Japan. In die Verenigde State verdien meer as 200 hoofligaspelers oor ’n miljoen dollar per jaar. Aan die einde van 1992 se bofbalseisoen het 100 spelers kontrakte onderteken wat waarborg dat hulle $516 miljoen sal ontvang. Van hierdie spelers het 23 ooreenkomste ter waarde van meer as $3 miljoen per jaar onderteken. Hierdie ongelooflike lone van minder bekende spelers word oorskadu deur dié van spelers wat meer op die voorgrond is, wat kontrakte vir meer as $43 miljoen vir ses jaar se spel en $36 miljoen vir vyf jaar se spel onderteken. Elke jaar styg die salarisse vinnig, en nuwe rekords word opgestel vir die hoogste salarisse wat in die bofbalgeskiedenis uitbetaal is. Voetbalspelers se salarisse het ook met ’n gemiddelde van $500 000 die hoogte ingeskiet.

Hierdie salarisse laat die vraag ontstaan: Kan die gemiddelde leser hom voorstel dat hy ’n weeklikse tjek vir $62 500 ontvang? “Tog is dit presies wat al daardie miljoendollar-agterspelers in die Nasionale Voetballiga elke week gedurende die 16 week lange seisoen ontvang”, het The New York Times berig. “Of wat van ’n bofbalspeler wat $2 miljoen per jaar verdien en elke tweede week ’n salaristjek vir $75 000 ontvang? Nadat belasting afgetrek is, het hy $50 000 om hom tot die 15de van die maand uit te help.” Dit sluit nie die geld in wat die sportster betaal word vir die promosie van produkte, bofballe waarop sy handtekening is, handtekeninge vir bewonderaars en vergoeding vir optredes nie, wat altesaam miljoene kan tel. Weer eens, wat moet die onderbetaalde onderwyser dink wanneer hy of sy in een jaar minder verdien as wat ’n atleet in ’n enkele wedstryd kan verdien?

Vanweë die mag van televisie het beroepspelers in gholf, tennis, basketbal en yshokkie ook geld soos bossies begin maak. Sterre op hierdie gebiede se inkomste tel soms in die miljoene. ’n Ses jaar lange kontrak vir $42 miljoen is deur ’n vername yshokkiespeler onderteken. ’n Ander yshokkiespeler kry $22 miljoen oor ’n tydperk van vyf jaar, wat ’n gemiddeld van $4,4 miljoen per seisoen is selfs as hy vanweë ’n besering of siekte nooit vir sy span ’n paar ysskaatse hoef aan te trek nie.

In een tenniswedstryd tussen twee van die beste beroepspelers, ’n man en ’n vrou—wat as die “Stryd tussen die geslagte” geadverteer is—het die twee dit op die tennisbaan vir ’n wenprys van $500 000 teen mekaar uitgeveg. Hoewel die man die prys gewen het, het hulle albei volgens berig “aansienlike vergoeding vir hulle optrede ontvang, en al is die bedrae nie aangekondig nie, het elkeen na raming enigiets van $200 000 tot $500 000 gekry”.

In lande soos Brittanje, Italië, Japan en Spanje, om maar ’n paar te noem, het die salarisse van beroepsatlete handuit geruk—verregaande bedrae van miljoene rande. Dit alles het daartoe aanleiding gegee dat een van die beste beroepstennisspelers die salarisse van die negentigerjare “onwelvoeglik” genoem het.

Maar dit wil nie sê dat beroepsatlete enigsins skuld dra vir hierdie hoë salarisse nie. Dit is die spaneienaars wat talent probeer verkry. Die spelers neem eenvoudig wat aangebied word. Dit is die spelers wat die bewonderaars lok om die spanne te ondersteun. Gedurende die bofbal- en voetbalseisoene van 1992 was daar byvoorbeeld in baie stadions rekordbywonings. Dít en televisieregte het selfs groter inkomste vir die eienaars verdien. Gevolglik redeneer sommige dat die spelers bloot hulle regmatige deel ontvang.

Die buitensporige salarisse wat betaal word om ’n bal oor ’n net, tot in ’n gaatjie of uit ’n speelveld te slaan, in teenstelling met die uiters swak lone van trekarbeiders wat lang ure onder ’n warm son swoeg om ons kos te oes, illustreer die droewige sin van die waardes van ’n welvarende gemeenskap.

Beskou in teenstelling hiermee ’n ander studie, die karakterskets van nog ’n bekende beroepsman. Die Amerikaanse wetenskaplike Jonas Salk en sy medenavorsers het navorsing oor ’n entstof teen polio gedoen en het met minder as $2 miljoen tot hulle beskikking lang ure in ’n laboratorium geswoeg en die een entstof ná die ander geformuleer en dit oor en oor getoets. In 1953 het Jonas Salk bekendgemaak dat hulle ’n proef-entstof ontwikkel het. Hy, sy vrou en hulle drie seuns was onder die eerstes op wie die entstof getoets is. Daar is bevind dat die entstof veilig en doeltreffend is. Vandag is polio feitlik uitgeroei.

Jonas Salk het baie eerbewyse vir sy uitstaande bydrae tot die voorkoming van hierdie dodelike en verlammende siekte ontvang. Nietemin het hy geweier om enige kontantbelonings te aanvaar. Hy het na sy laboratorium teruggekeer om die entstof te verbeter. Sy eintlike beloning was klaarblyklik nie geld nie, maar voldoening in die wete dat kinders en ouers nie meer hierdie ernstige gevaar hoef te vrees nie.

Veronderstel ten slotte dat jy van die vooruitsigte op die ewige lewe in ’n paradysaarde geleer word waar daar nooit weer siekte, kwale en droefheid sal wees nie. Dink net watter groot salarisse daardie onderrigters van sulke goeie nuus redelikerwys kon verdien. Tog is daar sulke onderrigters, en hulle gee gratis onderrigting! Hulle aanvaar geen geldelike beloning nie! Toe Jesus gesê het dat ‘die arbeiders hulle loon werd is’, het hy nie van salarisse vir hierdie onderrigters van die goeie nuus gepraat nie (Lukas 10:7). Hy het gesê dat hulle die noodsaaklike dinge sou ontvang. Aan sulkes het hy ook gesê: “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee” (Mattheüs 10:8). Wat sal hulle beloning wees? A!, presies wat Jesus, die grootste mens wat nog geleef het, beloof het—die ewige lewe op ’n gereinigde paradysaarde. Salarisse wat miljoene der miljoene beloop, kan dit nie oortref nie!

[Venster op bladsy 9]

Geld, roem of dwelms—Watter een?

Die aantrekkingskrag van roem en van miljoene rande wat in beroepsport verdien kan word, het daartoe aanleiding gegee dat jongmense hulle tot die gebruik van anaboliese steroïede wend om in ’n buitengewoon kort tydjie yslike liggame en bultende spiere te bou. Dr. William N. Taylor, ’n lid van die Amerikaanse Olimpiese Dwelmbeheerprogram, het gewaarsku dat die gebruik van hierdie dwelms “epidemiese afmetings” aangeneem het. Daar word beraam dat nagenoeg 250 000 adolessente in die Verenigde State alleen steroïede gebruik.

“Die druk om steroïede op universiteit te gebruik, is ongelooflik”, het een beroepsvoetbalspeler gesê. “Atlete dink nie 20 jaar vooruit aan watter probleme daar kan wees as hulle steroïede gebruik nie. Hulle dink nie eers 20 dae vooruit nie, veral nie op universiteitsvlak nie. Die manier waarop ’n atleet dink, veral op ’n jong ouderdom, is: Ek sal enigiets doen om ’n groot atleet te wees.”

“As ek ’n voetbalspeler wil wees”, het iemand gesê wat graag ’n beroepsvoetbalspeler wou word, “móét ek steroïede gebruik. . . . Daar is soveel mededinging in die gimnasium. Jy wil elke jaar groter en sterker wees—jy sien hoe ander ouens al hoe groter en sterker word, en jy wil ook. Daardie denkwyse begin jou oorheers.” Maar ten spyte van daardie gevoel het hierdie atleet, sonder die gebruik van steroïede, geword wat hy beoog het om te word—’n beroepsvoetbalspeler. Hy meen dat steroïede “gevaarliker vir die spel as straatdwelms” is.

Nie net dokters nie, maar ook diegene wat die uiters nadelige uitwerkings van steroïede en ander opkikkers ondervind het, het al boekdele hieroor geskryf. Die ernstigste reaksies het die dood tot gevolg gehad.

[Voetnoot]

a $1 is naastenby gelyk aan R3,32.

[Prent op bladsy 7]

Trekarbeiders oes knoffel in Gilroy, Kalifornië

[Erkenning]

Camerique/H. Armstrong Roberts

[Prent op bladsy 8]

Beklee onderwysers nie ’n vername plek onder diegene wat hulle loon werd is nie?

[Prent op bladsy 10]

Meer as 200 hoofliga-bofbalspelers in die Verenigde State verdien oor ’n miljoen dollar per jaar

[Erkenning]

Focus On Sports

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel