Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 3/22 bl. 16-18
  • Hoe kan ek dit vermy om met onsedelikheid te speel?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek dit vermy om met onsedelikheid te speel?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Bly op jou hoede’
  • Stel perke
  • ‘As jy my liefhet, sal jy dit doen’
  • Wanneer jy meegevoer geraak het
  • Hoe ver is te ver?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Is dit werklik so verkeerd om met onsedelikheid te speel?
    Ontwaak!—1994
  • Hoe om ’n sukses te maak van ’n romantiese verhouding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Hoe ver is “te ver”?
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 3/22 bl. 16-18

Jong mense vra . . .

Hoe kan ek dit vermy om met onsedelikheid te speel?

“Ek het altyd gedink dat dit nie verkeerd is om iemand te omhels en te liefkoos nie, dat dit net ’n manier is om my diepe gevoelens en liefde te betoon. Ek het gedink dat ek kon ophou voordat ek iets doen wat werklik ernstig is, soos om hoerery te pleeg. Maar ek was so verkeerd.” Dit was die woorde van ’n jong vrou met die naam Valerie wat haar aan geslagsonsedelikheid skuldig gemaak het.a

JONG Christene weet dat die Bybel voorhuwelikse geslagsomgang veroordeel (1 Korinthiërs 6:9, 10). Maar sommige besef dalk nie dat die Bybel dit ook veroordeel om met geslagsonsedelikheid te speel nie—om jou intimiteite te veroorloof wat ongetwyfeld net vir getroude paartjies bedoel is (Galasiërs 5:19).b Beteken dit dat dit verkeerd is om jou liefde op ’n fisiese manier uit te druk? Glad nie.

Die Bybel vertel die verhaal van ’n Sulammitiese meisie en ’n herderseun wat verloof was. Hulle hofmakery was onberispelik kuis en sedelik. Tog het hulle hulle klaarblyklik sekere liefdeblyke veroorloof voordat hulle getroud is (Hooglied 1:2; 2:6; 8:5). Vandag meen sommige paartjies wat mekaar die hof maak eweneens dat dit gepaste liefdeblyke is om hande te hou en mekaar te omhels wanneer dit lyk asof hulle beslis gaan trou.c

Dit is selfs vir ’n paartjie met eerbare bedoelings só maklik om meegevoer te raak en dan met geslagsonsedelikheid te begin speel. Hoe kan hulle dit vermy?

‘Bly op jou hoede’

In Psalm 119:9 (NW) het die psalmis gevra: “Hoe sal ’n jong man sy pad reinig?” Die antwoord? “Deur op sy hoede te bly ooreenkomstig u woord.” Een manier om op jou hoede te bly, is deur te let op wie jou vriende is. “My vriende oefen voortdurend druk op my uit om geslagsomgang te hê”, sê een Amerikaanse seun met die naam Nakia. Die Bybel waarsku: “Wie hom met dwase ophou, word self sleg” (Spreuke 13:20, NAV). ’n Tydskrif vir jongmense het dus goeie raad gegee toe dit gesê het: “Lê jou daarop toe om nuwe vriende te maak wat dieselfde waardes as jy het.”

Nog ’n manier waarop jy op jou hoede kan wees, is deur gevaarlike situasies te vermy. Let op wat gebeur het toe die Sulammitiese meisie se herderskêrel haar genooi het om op ’n romantiese wandeling te gaan. Sy beweegrede was heel onskuldig; hy wou net die prag van die lente saam met haar geniet het. Die Sulammitiese meisie se ouer broers was nietemin ‘toornig op haar’. Dis nie dat hulle die paartjie nie vertrou het nie. Maar hulle was terdeë bewus van die versoekings waaraan die paartjie blootgestel kon word as hulle in ’n romantiese situasie alleen gelaat was. Die oplossing? Die ouer broers het ’n stokkie voor die paartjie se romantiese planne gesteek en hulle suster harde werk gegee wat haar besig sou hou.—Hooglied 1:6; 2:8-15.

Dit is vandag steeds gevaarlik vir ’n paartjie om in ’n romantiese situasie alleen te wees. ’n Tienermeisie wat ons Mary sal noem, sê: “Wanneer ons uitgegaan het, het ons gewoonlik ’n chaperon gehad.” By een geleentheid was hulle egter alleen in ’n woonstel. “Ons het meegevoer geraak. Dit was net ons eie dwaasheid wat dit laat gebeur het. Ons het gedink dat ‘dit nooit met ons sal gebeur nie’. Wel, nou weet ek dat jy te alle tye ’n chaperon móét hê, ongeag wat die omstandighede is. Tref ander reëlings as julle nie iemand kan kry om saam met julle te gaan nie. Ons was nie op ons hoede nie.”

Wees op jou hoede! As jy iemand die hof maak, moet julle afsprake sorgvuldig beplan word. Gaan indien moontlik in groepe uit of dring daarop aan om ’n chaperon saam te neem. Vermy gevaarlike situasies, soos om alleen in ’n geparkeerde motor of in ’n woonstel te wees. Dit is gewoonlik veiliger om mekaar se geselskap tydens besoeke aan museums, restaurante, skaatsbane, ensovoorts te geniet. Jy kan gerus ook die woorde in Hosea 4:11 in gedagte hou: “Wyn en soetwyn neem die goeie beweegrede weg” (NW). Aangesien alkohol geneig is om ’n mens se inhibisies te verswak, is dit verstandig om baie versigtig te wees wanneer jy dit gebruik, al is jy wetlik oud genoeg om te drink.

Stel perke

Spreuke 13:10 gee ander belangrike raad wanneer dit sê: “By dié wat saam beraadslaag, is wysheid” (NW). Moenie eers begin perke stel wanneer julle in die een of ander romantiese situasie is waar julle emosies reeds opgewek is nie. Dit sal verstandig wees as ’n paartjie wat mekaar die hof maak voor die tyd perke stel en ’n eerlike gesprek voer oor watter liefdeblyke hulle as gepas beskou. Maar albei moet die beginsel in Efesiërs 4:25 toepas: “Spreek die waarheid, elkeen met sy naaste.”

Veronderstel ’n jong vrou meen byvoorbeeld dat haar verhouding met ’n jong man die stadium bereik het waar ’n goeienagsoen gepas is. Maar die jong man meen dalk dat ’n soen eenvoudig te veel van ’n versoeking vir sy emosionele samestelling sal wees. Nogtans doen hy dit teen sy beterwete omdat hy verwerping vrees of miskien verplig voel om haar te behaag. Maar hoe verleë dit hom ook al laat voel, moet hy die waarheid spreek en sê wat sy ware gevoelens in hierdie opsig is. Aangesien Christelike liefde ‘nie sy eie belang soek nie’, moet elkeen die ander se gevoelens—en gewete—in verband met hierdie saak respekteer (1 Korinthiërs 13:5; 1 Petrus 3:16). Ons gee toe dat dit moeilik kan wees en ’n mens verleë kan laat voel om oor so ’n sensitiewe onderwerp te gesels, veral as dit tydens die vroeë stadium van hofmakery is. Maar dit kan baie daartoe bydra om te keer dat ernstige probleme later ontstaan. Dit is interessant dat julle vermoë om oor hierdie sake te gesels en tot ’n vergelyk te kom ook ’n aanduiding kan wees van hoe sterk die moontlikheid is dat julle verhouding tot ’n goeie huwelik sal lei.

‘As jy my liefhet, sal jy dit doen’

Maar ten spyte van die beste bedoelings word ’n situasie soms té hartstogtelik. Dan is dit die tyd om te praat! Jy moet vriendelik dog ferm as ’t ware briek aandraai. Loop liewer as dit nodig is. (Vergelyk Spreuke 23:2.) Sê nou die persoon met wie jy uitgaan, weier om redelike perke te respekteer en hou aan om druk op jou uit te oefen om te ver te gaan? Dit is betreurenswaardig dat sommige jongmense toegelaat het dat hulle deur sulke holruggeryde opmerkings om die bos gelei is, soos: ‘As jy my liefhet, sal jy dit doen’ of ‘Almal doen dit’ of selfs ‘Ons gaan tog binnekort trou, wat is dus fout daarmee?’ Soos in Bybeltye is daar diegene wat ander ‘deur die gladheid van hulle lippe’ probeer verlei. (Spreuke 7:21; vergelyk Psalm 5:10.) Moenie aan sulke intimidasie toegee nie!

Eerstens sal iemand wat jou regtig liefhet nooit druk op jou uitoefen om iets te doen wat jou Christelike gewete sal skend of jou ongemaklik sal laat voel nie (1 Korinthiërs 13:5). Tweedens is dit beslis nie waar dat ‘almal dit doen’ nie. En selfs al het almal hoerery gepleeg, sal dit nouliks beteken dat jy dit moet doen. Onthou die beginsel in Exodus 23:2: “Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie.”

Wat beloftes van ’n huwelik betref, gee die Skrif nêrens aan verloofde paartjies die reg om hulle soos getroude mense te gedra nie. Daarbenewens stem die statistiek in die boek The Compleat Courtship deur Nancy Van Pelt ’n mens tot nadenke: “Meer as 33 persent van die meisies wat seksueel ervare is, het die eerste keer wat hulle geslagsomgang gehad het, geglo dat hulle met die ou gaan trou—maar min van hulle het wel. Daarenteen het slegs 7 persent van die jong mans wat seksueel aktief was, gedink dat hulle met die jong vrou gaan trou. Een van twee dinge het gebeur—óf sy het haarself bedrieg óf hy het nie die waarheid gepraat nie. Besluit maar self.” ’n Wyse spreuk sê: “Wie ervaring kortkom, glo alles wat gesê word; ’n verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee.”—Spreuke 14:15, NAV.

Wanneer jy meegevoer geraak het

’n Duitse jong man met die naam Thomas erken: “Ek het ’n meisie gehad met wie ek vas uitgegaan het en ons het taamlik ver gegaan. Maar dis asof ons altyd betyds kon ophou. Dit het my laat dink dat ek myself kon beheer.” Hierdie illusie het veroorsaak dat hy hom aan geslagsonsedelikheid skuldig gemaak het. Onthou die Bybel se waarskuwing: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”—1 Korinthiërs 10:12.

Sê nou ’n paartjie maak hulle wel aan verkeerde gedrag skuldig? ’n Jong man met die naam John sê: “Toe my verloofde en ek begin uitgaan het, was ons gedrag rein en ons het dit op ’n hoë vlak gehou. Maar eenkeer het ons mekaar begin soen en liefkoos—en ons amper aan hoerery skuldig gemaak. Dit was toe dat ek besluit het om met een van die ouere manne in my gemeente te praat.” Ja, wanneer ’n paartjie toelaat dat dinge só ver gaan, het hulle albei hulp nodig! Moenie jouself bedrieg en dink jy kan die probleem alleen oplos nie. ’n Jong persoon erken: “Ek het gebid: ‘Help ons om dit nie weer te doen nie.’ Soms het dit gewerk, maar ’n paar keer het dit nie.” Die Bybel gee dus goeie raad wanneer dit sê: ‘Roep die ouderlinge van die gemeente in’ (Jakobus 5:14). Hierdie Christenopsieners kan julle al die nodige raad, advies of teregwysing gee om julle verhouding met mekaar—en, nog belangriker, met God—op die regte spoor terug te bring.

Dit is egter veel beter om die gepaste voorsorg te tref, voor die tyd perke te stel en vasbeslote te wees om in God se oë rein te bly. Sodoende kan jy rampspoed voorkom.

[Voetnote]

a Party van die name is verander.

b Sien die artikel “Jongmense vra . . . Hoe ver is ‘te ver’?” in ons nommer van 22 Oktober 1993.

c In sekere dele van die wêreld word openbare liefdeblyke tussen ongetroudes as swak smaak en as onbetaamlik beskou. Christene is versigtig om hulle nie só te gedra dat hulle ander in enige opsig laat struikel nie.—2 Korinthiërs 6:3, vgl. NW.

[Prent op bladsy 17]

’n Verstandige paartjie sal nee sê vir ongepaste liefdeblyke

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel