Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 2/22 bl. 16-19
  • Die Australiese inboorlinge—’n Unieke volk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Australiese inboorlinge—’n Unieke volk
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeë lewe in Australië
  • Musiek en jag
  • Inboorlingkuns
  • Inboorlingtale
  • Gunstige reaksie op ’n wonderlike hoop
  • My liefde vir die aarde sal vir ewig bevredig word
    Ontwaak!—1998
  • Die didgeridoo en sy fassinerende ritmes
    Ontwaak!—1997
  • Die soeke na verdienstelikes in Australië se Agterveld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Is dit werklik ’n boom?
    Ontwaak!—2008
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 2/22 bl. 16-19

Die Australiese inboorlinge—’n Unieke volk

Deur Ontwaak!-medewerker in Australië

AUSTRALIË kan as ’n unieke land beskryf word, met sy pragtige buideldier, die kangaroe, en sy mollige koala, wat baie tuis is waar hy hoog bo in die talryke bloekombome sit. Maar die oorspronklike setlaars, wat as die Australiese inboorlinge bekend staan, is selfs ongewoner as die land.

Toe die eerste Europese setlaars teen die einde van die 18de eeu daar aangekom het, was die Australiese inboorlingbevolking volgens skatting 300 000. Tweehonderd jaar later is daar volgens ’n 1991-sensus minder as 230 000 inboorlinge uit ’n totale Australiese bevolking van byna 17 miljoen.

Wie is hierdie oorspronklike inwoners van Australië? Waarvandaan het hulle gekom? Waarom kan hulle as uniek beskryf word? En watter hoop vir die toekoms geniet baie van hulle nou?

Vroeë lewe in Australië

Die meeste antropoloë stem saam dat die Australiese inboorlinge oorspronklik van Asië af gekom het. Hulle het waarskynlik tydens die laaste fase van hulle migrasie per vlot of boot van Suidoos-Asië gereis en aan die noordkus van Australië geland. “Hulle was nie algehele nomades nie”, verduidelik Malcolm D. Prentis in sy boek A Study in Black and White, “maar eerder halfnomadies: dit wil sê, hulle het op verskillende, tydelike terreine binne hulle eie afgebakende gebied kamp opgeslaan.”

Die Australiese inboorlinge was buitengewone natuurbeskermers wat baie goed na die omgewing omgesien het. ’n Inboorling het verduidelik: “Ons het ons grond bewerk, maar op ’n ander manier as die wit man. Ons het ons grond probeer benut; hulle het dit skynbaar uitgebuit. Ek is geleer om te bewaar, om nooit te vernietig nie.”

Malcolm Prentis het saamgestem: “Die welsyn van die flora en fauna het met dié van die inboorlinggroep verband gehou: welvaart vir die een het welvaart vir die ander beteken. Dit was prakties: florerende kangaroes het byvoorbeeld beter kosvoorrade vir die inboorlinge beteken, maar as te veel kangaroes doodgemaak is, was dit op die lange duur tot nadeel van die inboorlinge.”

Die inboorlinge het ook op ander gebiede uitgeblink. Die taalkundige R. M. W. Dixon het in sy boek The Languages of Australia gesê: “Maar wat sosiale organisasie betref, is dit eerder die Europeërs wat blykbaar primitief was in vergelyking met die Australiese inboorlinge; al die Australiese stamme het uitgebreide en goed geartikuleerde verwantskapstelsels gehad met noukeurige reëls vir troubaarheid en vir aangewese rolle wat allerhande sosiale geleenthede betref.”

Musiek en jag

’n Musiekinstrument wat eie aan die inboorlinge is, word die didgeridoo genoem. Die woord beteken letterlik “brompyp”, wat ’n gepaste beskrywing is van die klank wat dit voortbring. Die didgeridoo speel nie die melodie nie, maar sorg vir ’n soort bas en ritme tydens seremoniële samekomste en nagdanse, wat as corroborees bekend staan. Die instrument verskaf gewoonlik ’n dreunende agtergrond vir ’n sanger met sy slaanstokkies.

Didgeridoos word van hol boomtakke gemaak wat noukeurig uitgesoek word. Die gewildste lengte is van 0,9 tot 1,5 meter, maar sommige instrumente is tot 4,5 meter lank. Die een punt van die instrument rus gewoonlik op die grond, terwyl die speler sit en deur die ander punt blaas, wat hy met albei hande teen sy mond hou.

Aangesien die diep, resonante klank van die instrument nie onderbreek word nie, moet die speler in die mondstukpunt blaas terwyl hy terselfdertyd ’n vars voorraad lug deur sy neus inasem sonder om die klank enigsins te onderbreek. Dit is ’n vaardigheid soortgelyk aan dié wat deur ’n musikant baasgeraak moet word wat ’n tuba bespeel. Dit staan onder spelers van blaasinstrumente as sirkulêre, of sikliese, asemhaling bekend en is ’n vaardigheid wat nie maklik baasgeraak word nie.

Tydens hulle jagtogte het die inboorlinge goed gebruik gemaak van iets anders wat uniek is—die boemerang. Dit is as ’n jaginstrument en ’n oorlogswapen onder die inboorlinge ontwikkel. Maar vir baie hedendaagse toeriste het dit net nog ’n bekende simbool van Australië geword. Die bekendste boemerangs is geboë wapens wat na die gooier toe terugkeer as dit reg gegooi word. Daar is egter party soorte wat nie na die gooier toe terugkeer nie. Hulle staan eintlik as kylies, of moordstokke, bekend.

Inboorlingkuns

Die inboorlingkultuur het aanvanklik geen geskrewe vorm van kommunikasie gehad nie. Kevin Gilbert, ’n inboorlingdigter en -kunstenaar, het dit só verduidelik: ‘Kuns was die doeltreffendste kommunikasietaal vir die inboorlinge en is oral en altyd verstaan.’ Hy het gesê: “Kuns is ’n doeltreffender vorm van kommunikasie en het meer betekenis as die geskrewe woord.”

Visuele en uitvoerende kunskommunikasie het dus ’n onafskeidbare deel van die inboorlinge se lewenswyse geword. Dit het beteken dat hulle kuns aan twee doeleindes beantwoord het: Dit was ’n manier waarop mondelinge kommunikasie versterk is, en dit het ook as ’n geheuehulp gedien om verhale van stamgeskiedenis en tradisionele godsdienssake te onthou.

As gevolg van die afwesigheid van skilderdoek, papier en so meer is die inboorlingkuns op rotse, in grotte en op bas geverf. Die oorheersing van aardse kleure is opvallend in al hulle kunsvorme. Hulle het kleure gebruik wat oorheersend was in die gebied waar die skilderwerk geskep is. Die verf is van natuurlike stowwe gemaak.

Die mees ongewone kenmerk van hulle kuns is waarskynlik die feit dat amper al die skilderwerk uit kolletjies en lyne bestaan. Selfs agtergronde, wat aanvanklik as ’n enkele kleur voorkom, onthul by nadere ondersoek ’n ingewikkelde patroon met kolletjies van verskillende kleure.

’n Werkgroephandleiding met die titel Marketing Aboriginal Art in the 1990s sê gedurende die tagtigerjare het “inboorlingkuns . . . ’n betekenisvolle sprong van ‘etnografiese kuns’ tot ‘kommersiële beeldende kuns’ gemaak”. Ander vertel van die aanvraag na hierdie akrielverfskilderkuns in die kolletjies-styl en prys die toenemende gewildheid daarvan.

Inboorlingtale

Blanke Australiërs het oor die algemeen wanbegrippe wat inboorlingtale betref. Sommige dink byvoorbeeld dat daar net een inboorlingtaal was en dat dit baie primitief was en net uit ’n paar kreune en steune bestaan het. Maar dit is alles behalwe die geval!

Daar was in werklikheid vroeër nagenoeg 200 tot 250 inboorlingtale. Meer as die helfte hiervan het egter al uitgesterf. Vandag word net ongeveer 50 van hierdie tale deur groepe van 100 of meer inboorlinge gepraat. En die getal inboorlingtale wat deur 500 of meer mense gepraat word, is nou minder as 20.

Pleks van primitief te wees, is die spreektaal van die Australiese inboorlinge grammatikaal hoogs ontwikkel. In sy boek The Languages of Australia het professor Dixon geskryf: “Onder die 5000 of meer tale wat vandag wêreldwyd gepraat word, is daar geen taal wat as ‘primitief’ beskryf kan word nie. Elke taal wat aan die mens bekend is, het ’n ingewikkelde struktuur sodat ’n beskrywing van die hoofpunte van sy grammatika ’n paar honderd bladsye beslaan; elke taal het duisende leksikale woorde wat daagliks gebruik word.”

Barry J. Blake het op ’n soortgelyke trant oor inboorlingtale geskryf: “Hulle is hoogs ontwikkelde instrumente van kommunikasie, elkeen net so geskik om inboorlingervaring te beskryf soos wat Engels en Frans is om Europese ervaring te beskryf.” Die inboorlingjoernalis Galarrwuy Yunupingu het hierdie gevolgtrekking ondersteun en gesê: “Baie min wit mense het al ooit probeer om ons taal te leer en dit is nie moontlik om ons verwantskap met die land van ons voorouers in Engels te beskryf nie.”

In die 19de eeu is dele van die Bybel in twee inboorlingtale vertaal. Die Evangelie van Lukas is in die Awabakaltaal vertaal en dele van Genesis, Exodus en die Evangelie van Mattheüs is in die Narrinyeritaal vertaal. Dit is interessant dat hierdie vertalings die naam van die almagtige God as “Yehóa” en “Jehovah” weergegee het, met variasies van die naam soos wat die sinsleer van die taal vereis het.

Vandag word daar baie klem gelê op die herstel van Australiese inboorlingtale, en groter bewustheid van die waarde, rykheid en die prag van hierdie tale word onder Australië se nie-inboorlingbevolking aangemoedig. Daarom is baie nou bly om te verneem dat die Australiese Minister van Inboorlingaangeleenthede goedkeuring gegee het dat woordeboeke in 40 inboorlingtale uitgegee word. Dit sal nie net die tale insluit wat tans gepraat word nie, maar ook baie wat nie meer gebruik word nie en uit argiewe en ander geskiedkundige bronne nagevors moet word.

Gunstige reaksie op ’n wonderlike hoop

Toe blankes teen die einde van die 18de eeu na Australië gekom het, het hulle die inboorlingbevolking byna heeltemal uitgeroei. Vandag is daar egter verskeie plattelandse dorpe met ’n groot persentasie inboorlinginwoners en is daar steeds ’n paar nedersettings wat net uit Australiese inboorlinge bestaan, en hoofsaaklik in die agterveldgebiede geleë is. Die lewe is vir hierdie mense dikwels donker. “Ons behoort nie meer tot die verlede nie,” het ’n Australiese inboorling geskryf, “maar het ook nie ’n bevredigende plek in die hede nie.” Maar sy het bygevoeg: “Die toekoms hou vir baie van ons ’n hoop in.”

Die rede hiervoor is dat talle oorspronklike inwoners van Australië hulle nou verheug om in die Bybel te lees—miskien in hulle eie taal—dat die goddelose binnekort nie meer daar sal wees nie en dat die aarde teruggegee sal word aan dié mense wat baie goed daarna sal omsien (Psalm 37:9-11, 29-34; Spreuke 2:21, 22). Die Koninkryk van God sal dit tot stand bring. Hierdie Koninkryk, waarvoor Jesus Christus ons leer bid het, is ’n werklike, hemelse regering (Mattheüs 6:9, 10). Baie inboorlingmanne en -vroue is nou besig om ander van die wonderlike seëninge te vertel wat God se Koninkryk vir die mensdom gaan bring.—Openbaring 21:3, 4.

Een inboorling het met betrekking tot baie van haar mede-Australiërs verduidelik: “Hulle besef dat ’n beskouing wat wit mense, inboorlinge en die meeste ander mense op aarde gemeen het, verkeerd is. Dit is dat Australië aan die inboorlinge behoort op grond van oorspronklike ontdekking of aan die wit mense op grond van verowering. Nie een is waar nie. Dit behoort aan Jehovah God op grond van skepping.”—Openbaring 4:11.

Ja, Australië en die res van die wêreld behoort aan ons Skepper, Jehovah God. En ter vervulling van die gebed wat Jesus ons geleer het, sal God se Koninkryk kom en sal die hele aarde in ’n wêreldwye paradys verander word wat bewoon sal word deur mense van alle rasse en nasionaliteite wat die ware God liefhet en dien.

[Prent op bladsy 17]

Die “didgeridoo” is ’n musiekinstrument wat eie aan die Australiese inboorlinge is

[Prent op bladsy 17]

’n Uitstalling van Australiese inboorlingkuns

[Erkenning]

By Courtesy of Australian Overseas Information Service

[Prent op bladsy 18]

Baie Australiese inboorlinge verkondig nou die goeie nuus van God se Koninkryk aan ander

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel