Deur geloof in God beskerm
DIT was Mei 1945 en die Tweede Wêreldoorlog het so pas in Europa ten einde geloop. Ek het net twee dae tevore by die huis in Chojnice, Pole, aangekom. Die reis het byna twee maande geduur, aangesien ek moes loop en ek by etlike plekke langs die pad aangegaan het om mense te besoek. Ek was die vorige twee jaar in die Stutthof-konsentrasiekamp, naby Danzig (nou Gdansk).
Ek, my ma en my twee susters het in die sitkamer gesit en kuier. Daar was ’n klop aan die voordeur en Elaine, my oudste suster, het gevra om verskoon te word om te gaan kyk wie by die deur is. Ons het nie veel aandag geskenk totdat ons haar hoor gil het nie. Ek het dadelik uit die stoel opgespring en deur toe gehardloop. Daar het Wilhelm Scheider en Alfons Licznerski gestaan, twee mede-Christene wat ek gedink het gesterf het kort nadat ek hulle laas gesien het.
Nadat ek ’n lang ruk oopmond in ongeloof na hulle gestaar het, het broer Scheider gevra of ek hulle dan nie gaan innooi nie. Ons het mekaar die res van die dag tot laat die aand weer van vooraf leer ken en teruggedink aan hoe Jehovah God ons gedurende ons gevangenskap beskerm het. Voor ek julle ’n paar van hierdie ondervindinge vertel, wil ek verduidelik hoe ek in die konsentrasiekamp beland het.
My geloof word op ’n vroeë ouderdom getoets
My ouers het in 1923, omstreeks die tyd toe ek gebore is, Bybelstudente geword (soos Jehovah se Getuies toe genoem is). Die jare voor die Tweede Wêreldoorlog was nie vir die Getuies maklik nie. Die Katolieke godsdiens is op skool geleer, en die Getuies is hardvogtig behandel. Die ander kinders het gedurig op my gepik, en die onderwyser het altyd saam met die kinders teen my kant gekies. Die predikingswerk was ook moeilik. Terwyl ons eenkeer in die nabygeleë dorp Kamien gepreek het, het minstens honderd dorpsmense sowat 20 van ons Getuies omsingel. Poolse soldate het net betyds opgedaag om ons teen die oproerige skare te beskerm.
Die vervolging het toegeneem toe Duitsland Pole in September 1939 binnegeval het. Ek is uiteindelik in 1943 deur die Gestapo gearresteer omdat ek geweier het om in die Duitse Leër te dien. Terwyl ek in aanhouding was, het die Gestapo my ondervra en my sover probeer kry om hulle die name van ander Getuies in die gebied te gee. Toe ek weier, het die Gestapo-agent vir my gesê dat ek waarskynlik in ’n konsentrasiekamp sou sterf.
Ek is eers na die tronk in Chojnice gestuur, waar ’n paar tronkbewaarders my met ’n rubberstok geslaan het om my te probeer dwing dat ek my vasberadenheid om aan Jehovah getrou te bly, prysgee. Hierdie slae het tussen 15 en 20 minute geduur, waartydens ek die heeltyd vurig gebid het. Teen die einde van die slae het een van die tronkbewaarders gekla dat hy vóór my uitgeput sou raak.
Hoe vreemd dit ook al mag klink, ná die eerste paar houe het ek hulle werklik nie meer gevoel nie. Dit was eerder asof ek hulle net kon hoor, dit was soos tromslae in die verte. Jehovah het my beslis beskerm en my gebede verhoor. Tyding van die slae het vinnig deur die tronk versprei, en party het my “’n man van God” begin noem. Ek is kort daarna na die Gestapo-hoofkwartier in Danzig gestuur. ’n Maand later is ek na die Stutthof-konsentrasiekamp geneem.
Die lewe in Stutthof
By ons aankoms is ons beveel om voor die barakke aan te tree. ’n Kapo (’n gevangene aan wie toesig oor ander gevangenes gegee is), het na die krematorium se drie yslike skoorstene gewys en vir ons gesê dat ons binne drie dae in die hemel by ons God sou wees. Ek het geweet dat broer Bruski, van ons gemeente in Chojnice, na Stutthof gestuur is en ek het hom dus probeer opspoor. Maar ’n medegevangene het my vertel dat hy ongeveer ’n maand tevore gesterf het. Ek was so verpletterd dat ek letterlik neergeval het. Ek het gemeen dat as broer Bruski gesterf het, ’n Christen wat fisies en geestelik sterk was, ek beslis ook sou sterf.
Ander gevangenes het my na die barak toe teruggehelp, en dit is toe dat ek broer Scheider die eerste keer ontmoet het. Ek het later verneem dat hy voor die oorlog Pole se takopsiener was. Hy het lank met my gesels en het verduidelik dat as ek geloof in Jehovah sou verloor ek wel sou sterf! Dit het vir my gevoel asof Jehovah hom gestuur het om my te versterk. Ja, hoe waar is die spreuk tog wat sê: “Die broer word gebore met die oog op die nood”!—Spreuke 17:17.
My geloof was nie op daardie tydstip baie sterk nie en broer Scheider het Hebreërs 12:1 onder my aandag gebring. Christene word daar vermaan om op te pas vir die sonde wat hulle maklik verstrik, naamlik ’n gebrek aan geloof. Hy het my gehelp om terug te dink aan sommige van die getroues waarvan Hebreërs hoofstuk 11 praat en my aangemoedig om my geloof noukeurig met hulle s’n te vergelyk. Ek het van toe af so na as moontlik aan broer Scheider gebly, en hoewel hy 20 jaar ouer as ek was, het ons intieme vriende geword.
Eenkeer het ’n groot vent met ’n groen driehoek (wat beteken het dat hy ’n misdadiger was) my beveel om op ’n tafel te klim en vir die gevangenes oor Jehovah te preek. Toe ek dit begin doen, het ander gevangenes met my die gek begin skeer. Maar die groot vent het na hulle toe gegaan en hulle stilgemaak—almal was bang vir hom. Gedurende die res van die week het hierdie groot ou my op die tafel laat klim om te preek wanneer ons smiddags en saans bymekaargekom het om te eet.
Die volgende week is party van die gevangenes, ek inkluis, na ander barakke toe gestuur. ’n Ander gevangene met ’n groen driehoek het my genader en gevra waarom my God my na hierdie “hel” toe gestuur het. Ek het geantwoord dat dit was om vir die ander gevangenes te preek en dat dit my geloof op die proef gestel het om hier te wees. Terwyl ek saam met hierdie gevangenes was, is ek toegelaat om twee weke lank elke aand vir hulle te preek.
Eendag het ’n kapo ’n medegevangene beveel om my te slaan. Hy het geweier en dus die gevaar geloop om self geslaan te word. Toe ek hom gevra het waarom hy my nie geslaan het nie, het hy gesê dat hy beplan het om selfmoord te pleeg, maar dat hy na een van my preke geluister het, en dit het hom van plan laat verander. Hy was van mening dat ek sy lewe gered het en dat hy nie iemand kon slaan wat dit gedoen het nie.
Ons geloof word tot die uiterste beproef
Gedurende die winter van 1944 het die Russe Stutthof genader. Die Duitse kampoffisiere het besluit om die gevangenes te verskuif voor die Russe daar aankom. Die Duitsers het sowat 1900 van ons gevangenes na Słupsk laat begin marsjeer. Toe ons halfpad was, was daar net ongeveer 800 van ons oor. Gedurende die mars het ons baie skietery gehoor, die ander is dus blykbaar geskiet of het ontsnap.
Aan die begin van die trek is elkeen van ons ’n halwe kilogram brood en ’n kwart kilogram margarien gegee. Baie het onmiddellik alles geëet wat hulle gekry het. Ek het myne egter so goed as wat ek kon gerantsoeneer omdat ek geweet het dat die reis ongeveer twee weke kon duur. Daar was net omtrent tien Getuies onder die gevangenes, en ek en broer Scheider het by mekaar gebly.
Op die tweede dag van die reis het broer Scheider siek geword. Van toe af moes ek hom so te sê dra, want as ons gaan staan het, sou ons geskiet word. Broer Scheider het vir my gesê dat Jehovah sy gebede verhoor het deur my daar te hê om hom by te staan. Teen die vyfde dag was ek so moeg en honger dat ek gevoel het asof ek nie ’n tree verder kon gaan nie, wat nog te sê om broer Scheider te dra. Hy was ook besig om al hoe swakker te word weens ’n gebrek aan kos.
Vroeg daardie middag het broer Scheider vir my gesê dat hy ’n draaitjie moes loop, en ek het hom dus tot by ’n boom gedra. Ek was op die uitkyk om seker te maak dat ons nie deur Duitse wagte raakgesien word nie. Ná ongeveer ’n minuut het broer Scheider omgedraai met ’n brood in sy hande. “Waar kom dit vandaan?” het ek gevra. “Het dit uit die boom geval of iets?”
Hy het gesê terwyl ek met my rug na hom toe gestaan het, het ’n man na hom gekom en die brood vir hom gegee. Dit was vir my merkwaardig, aangesien ek niemand gesien het nie. Ons was toe al so honger dat ons nie vrae gevra het oor hoe dit daar gekom het nie. Maar ek moet sê, die versoek om ons daaglikse brood wat Jesus ons geleer het, het daarna vir my baie meer betekenis gehad (Mattheüs 6:11). Ons sou nie nóg ’n dag sonder daardie brood kon bly lewe het nie. Ek het ook aan die psalmis se woorde gedink: “Nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.”—Psalm 37:25.
Ná ongeveer ’n week, amper halfpad na Słupsk, het ons by ’n Hitler-jeugkamp aangekom. Daar sou ons en gevangenes van ander kampe by mekaar aansluit. Broer Licznerski het buiktifus opgedoen en is in ’n spesiale barak saam met ander siek gevangenes geplaas. Ek het elke aand uit die barak gesluip waarin ek was en na broer Licznerski toe gegaan. As die Duitsers my gesien het, sou hulle my geskiet het, maar dit was vir my belangrik om te doen wat ek kon om sy koors af te bring. Ek het ’n lap natgemaak, by hom gesit en sy voorkop afgevee. Daarna het ek na my eie barak toe teruggesluip. Broer Scheider het ook buiktifus opgedoen en is in die barak saam met broer Licznerski geplaas.
Daar is vir ons gesê dat die Duitsers van plan was om ons na die Oossee te neem, ons op ’n boot te laai en na Denemarke te neem. Die Russe het egter al hoe nader gekom. Namate die Duitsers bang geword en begin vlug het, het die gevangenes die geleentheid aangegryp om te ontsnap. Die Duitsers het my beveel om te gaan, maar aangesien broer Scheider en broer Licznerski te siek was om te loop en ek hulle nie kon dra nie, het ek nie geweet wat om te doen nie. Ek het dus gegaan, en gebid dat Jehovah na hierdie dierbare metgeselle sou omsien.
’n Uur nadat ek daar weg is, het die Russe die kamp binnegekom. ’n Soldaat het broer Scheider en broer Licznerski daar gevind en ’n Duitse vrou wat op ’n nabygeleë plaas gewoon het, beveel om hulle elke dag hoendersop te gee totdat hulle gesond was. Die vrou het vir die soldaat gesê dat die Duitsers al haar hoenders gevat het. Hy het toe vir haar gesê dat as sy hierdie mans nie kos gee nie, hy haar sou doodmaak. Sy het toe sommer baie gou hoenders in die hande gekry en my dierbare broers het vinnig begin aansterk!
Voortdurende loutering van ons geloof
Terwyl ons in my ma se sitkamer gesit het, het ons tot die vroeë oggendure oor hierdie en ander ondervindinge gesels. Die broers het ’n paar dae gebly en het toe verder gegaan na hulle eie huise toe. Broer Scheider is op kragtige wyse deur Jehovah gebruik om die predikingswerk in Pole te herorganiseer en het baie van sy vorige verantwoordelikhede hervat. Weens die oorname deur die Kommuniste het die predikingswerk egter baie moeilik geraak.
Getuies is keer op keer gearresteer omdat hulle God se Koninkryk verkondig het. Ek was dikwels onder hulle en is deur presies dieselfde mense ondervra wat my van die Nazi’s bevry het. Toe het ons besef waarom die owerheid so vertroud was met ons bedrywighede. Die Kommuniste het gereël dat spioene ons organisasie insypel sodat hulle ons noukeurig kon dophou. Die insypeling was só suksesvol dat duisende Getuies in een nag in 1950 gearresteer is.
Mettertyd het my vrou Helena en ons groeiende gesin besluit om na die Verenigde State te verhuis. Ons het in 1966 daar aangekom. Terwyl ons Brooklyn, New York, besoek het, kon ek inligting aan verantwoordelikes by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies gee wat hulle gehelp het om vas te stel wie deur die Kommuniste in die organisasie geplaas is.—Vergelyk Handelinge 20:29.
Ek is nou 70 jaar oud en woon in die staat Colorado, waar ek as ’n ouere man in ’n plaaslike gemeente dien. Weens my verslegtende gesondheid kan ek nie meer dinge doen soos voorheen nie. Maar ek geniet dit nog baie om met mense oor Jehovah se Koninkryk te praat. Wanneer ek saam met die jongeres in die bediening werk, maak ek ook van die geleentheid gebruik om hulle te help besef dat ongeag watter teëspoed hulle teëkom, Jehovah altyd daar is om sy krag uit te oefen ten behoewe van diegene wat hulle geloof volkome in hom stel.
Wanneer ek op my lewe terugkyk, besef ek dat Jehovah my en my vriende uit gevaarlike situasies gered het. Hierdie gebeurtenisse het my geloof in sy beskermende sorg beslis versterk. Daar bestaan by my geen twyfel nie dat hierdie stelsel van dinge binnekort tot ’n einde gaan kom in die vinnig naderende “groot verdrukking” en dat oorlewendes die wonderlike vooruitsig sal hê om hierdie aarde tot ’n wêreldwye paradys te herstel.—Openbaring 7:14; 21:3, 4; Johannes 3:16; 2 Petrus 3:13.
Ek sien daarna uit om ’n deel te hê aan hierdie wonderlike herstel van die aarde tot ’n paradystoestand, en jy kan ook as jy Jehovah se wil na jou beste vermoë doen en vertroue in sy belofte stel om diegene te beskerm wat geloof in hom beoefen.—Soos vertel deur Feliks Borys.
[Prent op bladsy 20]
’n Jaar ná ek uit die konsentrasiekamp gekom het
[Prent op bladsy 23]
Saam met my vrou, Helena