Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 2/22 bl. 14-15
  • ’n Walvis? ’n Dolfyn?—Nee, dit is ’n wolfyn!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Walvis? ’n Dolfyn?—Nee, dit is ’n wolfyn!
  • Ontwaak!—1994
  • Soortgelyke materiaal
  • Die dolfyn op ons drumpel
    Ontwaak!—1998
  • Op soek na dolfyne in Nieu-Seeland
    Ontwaak!—2002
  • Die dolfyn se sonar
    Is dit ontwerp?
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 2/22 bl. 14-15

’n Walvis? ’n Dolfyn?—Nee, dit is ’n wolfyn!

Deur Ontwaak-medewerker in Hawaii

DIE geboorte van ’n wilde dier in gevangenskap is altyd ’n opwindende gebeurtenis. Maar 15 Mei 1985 was ’n buitengewoon spesiale dag by die Sea Life Park in Hawaii.

Die verwagtende moeder was ’n Atlantiese bottelneusdolfyn wie se Hawaise naam Punahele (uitspraak: Poo-nah-hayʹlay) “Geliefde vriend” beteken. Punahele was besonder groot in die laaste stadiums van haar swangerskap. Die personeel van die park het dus reeds vermoed dat daar iets ongewoons aan die gang is. Hulle vermoedens is bevestig toe Punahele se kleintjie gebore is. Sy is Kekaimalu genoem (uitspraak: Kay-kai-mahʹloo). Kekaimalu was nie net donkerder as ’n dolfyn nie, maar haar snoet was ongewoon kort.

Toe maak Kekaimalu haar bek oop.

’n Atlantiese bottelneusdolfyn is veronderstel om 88 tande te hê. Maar Kekaimalu se glimlag het slegs 66 tande gewys—en hulle was opsigtelik groot. Wat het gebeur?

Die pasgeborene se ma het daagliks saam met verskeie ander dolfyne in die Whaler’s Cove-vertoning by die Sea Life Park opgetree. Een van haar medesterre was ’n 18-jarige valsmoordvis van 900 kilogram.a Ná elke dag se vertonings is die waterkunstenaars toegelaat om vrylik in een tenk rond te swem.

Wel, die onverwagse gevolg was Kekaimalu—’n dier wat half-dolfyn en half-walvis is. Die personeel van die park het met groot genot hierdie skaars hibride ’n “wolfyn” genoem. Haar 66 tande het die verskil tussen haar dolfynma se 88 tande en die 44 tande van haar walvispa gedeel. Hoewel haar donker kleur en grootte haar walvisafkoms onmiskenbaar verraai, beskryf parkbeamptes haar as “’n unieke mengsel van albei ouers”. Haar spits snoet, of voëlagtige bek, lyk soos ’n dolfyn s’n, maar is ietwat korter.

Die enigste ander wolfyn waarvan ons weet, is in 1981 by ’n oseanarium in Japan gebore. Dié hibride is ’n paar maande later dood. Sou Kekaimalu se vooruitsigte enigsins beter wees?

Die babawolfyn van 16 kilogram het gesond gelyk en normaal begin drink. Die Honolulu Star Bulletin and Advertiser het kort ná Kekaimalu se geboorte ’n parkbeampte se kommentare aangehaal en gesê: “Die kleintjie se kanse om tot volwassenheid te groei, is nie so groot soos dié van haar enkelspesie-niggies en -nefies nie . . . Hibrides word gewoonlik doodgebore of ontwikkel kwale en gaan op ’n jong ouderdom dood. Gelukkig . . . is Punahele ’n ervare en liefdevolle moeder wat al twee ander dolfyntjies [by Sea Life Park] grootgemaak het.” Die beampte het gesê: “Sy is baie aanpasbaar; sy is regtig ’n goeie moeder.” Punahele se reputasie as ’n moeder was toe goed gegrond.

Kekaimalu is nou al meer as sewe jaar oud. In vergelyking met haar 300 kilogram lyk haar dolfynma soos ’n dwergie. En ná ’n paar jaar as ’n kunstenaar by Whaler’s Cove het die wolfyn, wat toe vyf jaar oud was, en wat baie vermoed het steriel was, in Junie 1990 geskiedenis gemaak. Sy het self ’n ma geword. “Die algemene opvatting is dat hibrides steriel is”, het Marlee Breese, die kurator van soogdiere by die Makapuu-inrigting, gesê. “Maar Kekaimalu is alles behalwe steriel.” Ongelukkig het haar eersteling—een kwart walvis en drie kwart dolfyn—net ’n week gelewe.

Kekaimalu het blykbaar nie geweet hoe om haar kleintjie te soog nie. “Ek dink nie die feit dat sy ’n hibride is, het enigiets daarmee te doen nie”, sê Marlee Breese. Sy meen dat Kekaimalu waarskynlik nie haar kalf gesoog het nie omdat sy jonk was en nie geweet het hoe om te werk te gaan nie. “Hierdie diere bereik gewoonlik tussen 8 en 10 jaar geslagsrypheid”, sê Marlee Breese. Kekaimalu was met die geboorte van haar eerste kalf net vyf jaar oud.

Op 8 November 1991 het Kekaimalu aan ’n tweede kalf geboorte gegee. Maar hierdie keer was die personeel gereed. Nadat hulle haar 24 uur lank dopgehou het om te sien of die wolfynma die inisiatief sou neem om haar kalf self te soog, het hulle tussenbeide getree. Kekaimalu is in ’n draagmat uit die water gelig en met behulp van ’n borspomp wat vir vroue gebruik word, gemelk. ‘Dit was veral belangrik om die ma se eerste melk te kry’, verduidelik Marlee Breese, ‘aangesien dit teenliggaampies aan die kalf oordra.’ Weke lank het die personeel die ma gereeld een keer per dag gemelk en ongeveer ’n liter melk van haar gekry.

Die wolfyn se melk is toe met ’n mensgemaakte melkformule gemeng. Dit was in Florida, VSA, ontwikkel tydens ’n poging om ’n dolfyn wat uitgespoel het te red. Die babawolfyn is van sesuur in die oggend tot middernag elke twee en ’n half uur deur ’n maagbuis gevoed. Sy het ongeveer ’n halwe kilogram per dag swaarder geword. Tussen die voedingstye het ouma, mamma en baba in ’n groot tenk saamgespeel.

Ten tye van die skryf van hierdie artikel lyk die oorlewingsvooruitsigte goed vir die wêreld se enigste kleindogter van ’n walvis en ’n dolfyn waarvan ons weet. Dalk volg sy eendag die familietradisie en tree in die Whaler’s Cove-vertonings op. Intussen is die wêreld nog ’n fassinerende kykie gegee in die verstommende potensiaal vir verskeidenheid wat God in sy skepping ingebou het.

[Voetnote]

a Volgens ’n Sea Life Park-publikasie “word valsmoordvisse se naam ontleen aan die letterlike vertaling van hulle wetenskaplike naam (Pseudo = vals, Orca = ’n tipe walvis) en hulle is nou verwant aan die bekende moordvisse wat by baie oseanariums te sien is”.

[Prent op bladsy 15]

’n Wolfyn met haar dolfynmetgeselle

[Erkenning]

Monte Costa, Sea Life Park Hawaii

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel