Vername handelstede
EERTYDSE Babilon is in die Bybel “die stad van koopmans” genoem (Esegiël 17:4, 12). Daardie benaming sou ook gepas gewees het vir eertydse Tirus, wat vandag bekend staan as Sur, ’n hawestad aan die Middellandse See tussen Beiroet (Libanon) en Haifa (Israel).
Volgens een bron was Tirus “ongeveer sedert die jaar 2000 v.C. ’n vername Fenisiese hawestad”. Teen die tyd dat die Israeliete die Beloofde Land in ongeveer 1467 v.G.J. verower het, was Tirus ’n vername seemoondheid. Sy seevaarders en handelsvlote het beroemd geraak vir hulle reise na afgeleë plekke.—1 Konings 10:11, 22, vgl. NAV.
’n Magtiger vloot
“Heers, Britannia, heers oor die golwe”, het die 18de-eeuse Skotse digter James Thomson oor die vloot geskryf wat gehelp het om die Britse Ryk een van die grootste handelsreuse tot nog toe te maak. “Seemag het Brittanje se onoorwinbaarheid, die sekuriteit van haar vorstelike besittings en die vreedsame uitbreiding van haar wêreldwye handelsbelange gewaarborg.”—The Cambridge Historical Encyclopedia of Great Britain and Ireland.
Namate Brittanje se ryk uitgebrei het, het sy handel wêreldwye afmetings aangeneem. Vanaf 1625 tot 1783 het sy invoer met ongeveer 400 persent toegeneem en sy uitvoer met meer as 300 persent. Teen 1870 het Britse fabrieke meer as ’n derde van die wêreld se fabrieksware geproduseer. Toe dit duidelik geword het dat die pond sterling die internasionale handel oorheers, het Londen die wêreld se ongeëwenaarde finansiële sentrum geword.
Vandag beteken Londen verskillende dinge vir verskillende mense. Musiekliefhebbers dink aan opera by Covent Garden of aan die Royal Festival Hall, sportliefhebbers aan Wembley en Wimbledon en teatergangers aan die West End. Modebewustes dink óf aan Savile Row óf aan Carnaby Street, geskiedenisstudente aan die Londense Toring en die Britse museum, terwyl liefhebbers van praal—én van skinderpraatjies en skandale—moontlik aan die Britse Hoërhuis en Buckingham-paleis dink.
Vreemd genoeg, nie een van hierdie toeriste-attraksies is in die stad Londen self geleë nie. Londen, wat sommer as die Stad bekend staan, is die handelsmiddelpunt van ’n metropolitaanse gebied wat uit tientalle voorstede bestaan. Die Bank van Engeland, wat met toegeneentheid as die Ou Dame van Threadneedlestraat bekend staan, word binne “die Vierkante Myl” van Londen aangetref. Dit is in 1694 deur ’n parlementêre wet ingelyf en is een van die wêreld se oudste sentrale banke. Hierdie invloedryke instansies dien as bankiers vir die regering, reguleer handelsbanke se werksaamhede en oefen dikwels ’n groot invloed uit op die ekonomiese staatsbeleid, aangesien dit die geldvoorraad en krediet kontroleer. Die Effektebeurs en die nabygeleë Lloyd’s of London, die internasionale versekeraars, word ook in die Stad aangetref.
Hoewel die Stad gedurende die sestigerjare vanweë sy sorgelose lewenstyl Jolige Londen genoem is, het hy nietemin gedurende sy bykans 2000 bestaansjare ook smart geken. In 1665 het ongeveer 100 000 mense aan die Groot Plaag—’n builepesepidemie—gesterf en ’n jaar later het die Groot Brand die Stad feitlik uitgewis. Meer onlangs het 30 000 van Londen se inwoners in aanvalle deur Duitse bomwerpers gedurende die Tweede Wêreldoorlog omgekom en is 80 persent van sy huise verwoes of beskadig.
Ingehaal deur ’n jongeling
Die stad New York, wat in 1624 deur Nederlandse koloniste gestig en Nieu-Amsterdam genoem is, is in vergelyking met Londen net ’n jongeling. Maar vandag is dit een van die wêreld se grootste en besigste hawestede; ’n industriële, handel- en finansiële sentrum en die setel van baie van die wêreld se grootste banke en finansiële instellings. As handelsentrum oortref dit Amsterdam sowel as Londen. Asof simbolies van hierdie opgang stoot die twee torings van New York se Wêreldhandelsentrum, wat in 1993 deur ’n terroristebom geskud is, steeds trots hulle koppe 110 verdiepings die lug in.
Soos die nasie waarvan dit die grootste stad is, is New York ’n mengelmoes van nasionaliteite. Sedert 1886 wink die Vryheidstandbeeld in sy hawe immigrante na ’n wêreld vol beloftes van vryheid en gelyke kanse.
Party van New York se strate is meer as net name. Broadway is byvoorbeeld die simbool van teatervermaak en bepaal standaarde en gee die toon aan sodat die hele wêreld daardeur beïnvloed word. En wat van Wall Street? In 1792 het ’n groep van 24 makelaars daar onder ’n koeëlblomplataan bymekaargekom om die stigting van die New Yorkse Effektebeurs te bespreek. Die Effektebeurs, wat amptelik in 1817 gestig is, is tans die wêreld se grootste mark vir effekte en staan meestal vandag net as Wall Street bekend.
Broadway bied opwindende vermaak aan, maar wat ware drama betref, kan dit Wall Street nie oortref nie. In Oktober 1987, toe Wall Street se aandele die verste en vinnigste tot nog toe in die geskiedenis geval het, het die aandele van al die ander 22 grootste effektemarkte oor die hele wêreld ook geval. ’n “Gevoel van naderende onheil” het geheers—het ’n verslaggewer geskryf—wat aangewakker is deur nuus van “onrusbarende prysdalings in al die vroeë markte: Tokio, Hongkong, Londen, Parys en Zürich”.
’n Wankelrige Wall Street, ’n wankelrige Wêreldhandelsentrum—wat voorspel dit vir die wêreldhandel?
“Muur-tot-muur-mense”
Hongkong is so dig bevolk dat sy bevolking eenkeer heel gepas as “muur-tot-muur-mense” beskryf is. In die Mong Kok-gebied woon daar 140 000 mense per vierkante kilometer! ’n Groot stuk grond is al drooggelê, en tog woon ongeveer 1 persent van die bevolking steeds letterlik op die water! Hulle staan plaaslik as Tanka bekend en woon in jonke of bote, net soos hulle voorvaders wat vissers was en wat gedurende die tweede millennium v.G.J. van noordelike China af gekom en ’n vissersdorpie daar begin het.
In die middel van die 19de eeu het die Britte gekom en dadelik besef dat Hongkong strategies geleë is en handelsmoontlikhede inhou. Sy uitstekende hawe was toeganklik van die ooste sowel as die weste af en was op die vernaamste handelsroetes tussen Europa en die Verre-Ooste geleë. As gevolg van die twee Opiumoorloë (1839-42 en 1856-60) was China verplig om Hongkong-eiland en dele van die Kowloonse Skiereiland aan die Britte af te staan, en hierdie gebiede het gevolglik ’n Britse kolonie geword. In 1898 is die hele gebied, sowel as die Nuwe Gebiede in die noorde, 99 jaar lank aan Brittanje verhuur. In 1997, wanneer die huurkontrak verstryk, sal Hongkong aan China teruggegee word.
Soos dit ’n stad betaam wat deur National Geographic “die wêreld se derde grootste finansiële sentrum en elfde grootste handelsekonoom” genoem word, spits Hongkong hom daarop toe om geld te maak en dit uit te gee. “Mag jy met welvaart geseën word”, is die gebruiklike groet gedurende die viering van die nuwe maanjaar. En blykbaar is baie van sy inwoners wel geseënd sodat die tydskrif kan sê dat “Hongkong meer konjak per capita verbruik en met meer Rolls-Royces per [hektaar] spog as enige ander plek op aarde”.
Hierdie vooruitgang kon nouliks voorsien word gedurende die Tweede Wêreldoorlog, toe die handel in Hongkong drasties verswak het, voedsel skaars was en soveel inwoners na China se binneland gevlug het dat die bevolking met meer as die helfte afgeneem het. Ná die oorlog het die stad só begin vooruitgaan dat dit ’n Asiatiese ekonomiese supermoondheid geword het. Sy produkte geniet goeie aftrek op die wêreldmark omdat betreklik goedkoop arbeid en grondstowwe die koste laag hou. Teen 1992 het sy uitvoere só vinnig gestyg dat dit byna 45 keer meer as in 1971 was.
Watter uitwerking sal dit op die handel, politiek en maatskaplike lewe hê wanneer Hongkong in 1997 aan China teruggegee word? Party inwoners en sakemanne is onrustig en het verhuis. Ander het gebly, maar het moontlik reeds hulle geld weggesit op ’n plek waar hulle reken dit veiliger sal wees.
“’n Wêreldwye beleggingskluis”
Gedurende die 17de eeu het Switserland ’n beleid van politieke neutraliteit aangeneem, ’n beleid wat hy nie altyd met welslae kon handhaaf nie. Daar word nietemin gereken dat geld wat daar belê word betreklik veilig is. Die Switserse bankwese handhaaf ook volkome vertroulikheid. Mense wat dus—om watter rede ook al—hulle fortuin geheim wil hou, kan so te sê naamloos bly.
Zürich is die middelpunt van hierdie geldsake. Met ’n metropolitaanse bevolking van meer as 830 000 is hy Switserland se grootste stad. Hy is eeue lank bevoordeel vanweë sy strategiese ligging op Europese handelsroetes, en vandag staan hy aan die spits van die hedendaagse internasionale finansiewese. Trouens, professor Herbert Kubly noem Zürich se hoofstraat “die bank van die Europese Vasteland en ’n wêreldwye beleggingskluis”.
Zürich het ook naam gemaak wat godsdienstige verwikkelinge betref. ’n Katolieke priester genaamd Huldrych Zwingli het in 1519 daar ’n reeks preke gelewer wat ’n geskil met die stad se Katolieke biskop tot gevolg gehad het. In 1523 is daar verdere debatte gehou, en Huldrych Zwingli het die oorwinning behaal. Namate die Switserse Protestantse Hervorming vaart gekry het, het ander groot Switserse stede hulle aan Huldrych Zwingli se kant geskaar en verdedigers van sy vorm van Protestantisme geword.
Albert Einstein was ’n meer onlangse “seun” van Zürich en word as een van die geskiedenis se grootste wetenskaplike geeste beskou. Hoewel Einstein in Duitsland gebore is, het hy in Zürich in die fisika en wiskunde gestudeer. In 1905 het ’n tesis wat hy uitgegee het selfs aan hom ’n Doktorsgraad in die Filosofie aan die Universiteit van Zürich besorg. Sy prestasies pas by Switserland se lang tradisie van wetenskaplike voortreflikheid, waartoe Zürich grootliks bygedra het. Zürich se Federale Instituut vir Tegnologie het meer Nobel-pryswenners opgelewer as enige ander wetenskaplike skool ter wêreld.
Maar ondanks sy rykdom en godsdienstige en wetenskaplike erfenis is Zürich nie sonder probleme nie. Verlede Mei het The European nie juis ’n mooi beeld van die stad geskilder nie. Dit het gesê dat hoewel “die stad se berugte Naaldepark, wat vroeër ’n internasionale magneet vir dwelmslawe was”, gesluit is, die dwelmbedryf bloot na ’n gebied verskuif het wat as Kreis 5 bekend staan. Hierdie gebied, sê die berig, “verteenwoordig dít wat Switserland desperaat probeer verbloem—werkloosheid, haweloosheid, alkoholisme, ’n gesindheid van onverskilligheid, behuisingsprobleme en, die allerergste, dwelmmisbruik”.
Vreemd genoeg, die dwelmmisbruikprobleem verbind Zürich met New York en Hongkong. Meer as 80 persent van die heroïen wat in die stad New York ingesmokkel word, kom waarskynlik van die Goue Driehoek-gebied van noordelike Myanma, Thailand en Laos af, waar geheime genootskappe in Hongkong, wat as triades bekend staan, diep betrokke is by die dwelmhandel.a Gevolglik beland baie van die dollars wat die Hongkong-triades verdien vanweë heroïenverkope aan verslaafdes in New York waarskynlik in bankrekeninge in Zürich.
Die vername handelstede, wat heel gepas deur Londen, Zürich, Hongkong en die stad New York verteenwoordig word, het baie in gemeen met die eertydse Tirus. Tirus, wat ten koste van ander gefloreer het, se sukses in die handelswêreld het ydelheid en trots aangemoedig en het uiteindelik tot ’n ramp gelei.
Sal hedendaagse handelsentrums enigsins beter vaar? Is hulle grondslag sonder gebreke? Die bewyse toon dat hulle geensins beter sal vaar as die stede wat in ons volgende nommer bespreek gaan word nie.
[Voetnoot]
a Triade verwys na ’n driehoek wat deur een van hulle voorlopers gebruik is om die eenheid van die hemel, die aarde en die mens voor te stel. Geheime Chinese genootskappe bestaan al 2000 jaar lank; hedendaagse weergawes daarvan dateer uit die 17de eeu. Hoewel hulle oorspronklik polities van aard was, is hulle nou misdadigerbendes. Daar word gesê dat hulle “in beheer is van ’n wêreldwye ledetal van 100 000 of meer” en die tydskrif Time haal ’n lid van die polisiemag in Hongkong aan wat gesê het: “Triades voorsien ’n veilige hawe vir georganiseerde misdaad.”
[Prent op bladsy 10]
Hongkong