Geletterdheid onder God se volk
IN ANTIEKE tye was daar ’n hoë mate van geletterdheid onder God se volk. Moses het sowat 3500 jaar gelede die eerste vyf boeke van die Bybel geskryf. Sy opvolger, Josua, het die opdrag gekry om die Skrif “dag en nag” te lees ten einde voorspoedig te wees in die toewysing wat God hom gegee het. En God het opdrag gegee dat die Israelitiese konings, met hulle troonbestyging, vir hulleself ’n afskrif van die Wet maak en daagliks daarin lees.—Josua 1:8, vgl. NW; Deuteronomium 17:18, 19.
Die vermoë om te lees en te skryf was nie tot die nasie se leiers beperk nie. Hoewel die opdrag aan die Israeliete om God se bevele op hulle huise se deurkosyne te “skryf” blykbaar figuurlik was, het dit te kenne gegee dat die volk geletterd was. Amos was ’n skaapboer en Miga was ’n profeet uit ’n plattelandse dorpie; tog het albei Bybelboeke geskryf.—Deuteronomium 6:8, 9; Amos 1:1; Miga 1:1.
Jesus het tot al die geïnspireerde boekrolle van die Hebreeuse Geskrifte in die sinagoges toegang gehad, waar hy by een geleentheid in die openbaar gelees en die teks op homself toegepas het. Sy apostels was ook geletterd, en in hulle geskrifte het hulle honderde kere uit die Hebreeuse Geskrifte aangehaal en daarna verwys.—Lukas 4:16-21; Handelinge 17:11.
God se volk vandag
Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Maak dissipels van al die nasies . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Hy het ook voorspel dat die “evangelie van die koninkryk . . . verkondig [sal] word in die hele wêreld”.—Mattheüs 24:14; 28:19.
Soos die Christene in die eerste eeu voer Jehovah se Getuies vandag hierdie opdrag ywerig uit deur die onderrigting- en predikingswerk mondelings te doen. Hulle versprei ook die goeie nuus van die Koninkryk in gedrukte vorm. Sedert 1920 het Jehovah se Getuies meer as negemiljard Bybels, boeke, tydskrifte en traktate in meer as 200 tale gedruk en versprei.
Miljoene mense oor die hele aarde het gunstig gereageer en dissipels van Christus geword. Onder hulle is manne en vroue wat nie kan lees of skryf nie. Hierdie ongeletterdes is nie minderwaardige Christene nie—baie van hulle dien God al dekades lank getrou, hulle het godsdiensvervolging verduur en het hulle liefde teenoor Jehovah betoon deur sy gebooie te bewaar.—1 Johannes 5:3.
Baie van hulle smag daarna om te lees en te skryf, want hulle besef dat geletterdheid hulle kan help om hulle aanbidding van God in ’n groter mate te vervul. By vergaderinge wil hulle volg wanneer die Bybel en Christenpublikasies gelees word, en hulle wil die woorde van die liedere lees sodat hulle saam met hulle geestelike broers en susters kan sing. By die huis wil hulle hulleself en hulle gesin baie graag deur middel van Bybelstudie opbou. In die bediening smag hulle daarna om ander die waarheid van God se Woord te leer, sonder dat hulle op iemand anders moet staatmaak om dit vir hulle te lees.
Mense word geleer om te lees
Jehovah se Getuies het aan hierdie behoefte gehoor gegee en reëlings getref om geletterdheid deur hulle gemeentes en op ’n persoonlike grondslag te help bevorder. Hulle het wêreldwyd al tallose manne en vroue geleer lees en skryf. In Nigerië alleen het Jehovah se Getuies meer as 23 000 mense geleer lees en skryf. Een van hulle is Effor. Hy vertel:
“Ek het in 1950, toe ek 16 jaar oud was, begin lees en skryf. Die lees-en-skryf-klas is deur Jehovah se Getuies aangebied. Ons het ’n handboek van die Wagtoringgenootskap gebruik en het leestoewysings gekry om by die huis te oefen.
“My ongeletterdheid was vir my soos ’n siekte. Ek wou die Bybel aan my broers en vriende verduidelik, maar omdat ek nie kon lees en skryf nie, kon ek dit nie goed doen nie. My begeerte om vir ander te preek en hulle te onderrig om Christus se dissipels te word, het my beweeg om te leer. Ek het op alles geskryf wat ek in die hande kon kry, selfs op meelpiesangblare. My begeerte om te lees en te skryf was so groot dat ek selfs in my drome aangehou oefen het om te lees en te skryf. Ek het ander gevra om my te help; ek was nie skaam daaroor nie. Ek onthou nog hoe ek briewe vir vriende geskryf het en die briewe vir skoolkinders gegee het om na te sien.
“Ek was ’n jaar lank in die gemeente se lees-en-skryf-klas. Daarna is ek
aangewys om die klas te onderrig. Dit het my die geleentheid gebied om baie ander te help.
“Hierdie skool het my in so ’n mate gehelp dat ek deur die jare heen die voorreg gehad het om die Genootskap se dramas uit Engels in Isoko, my moedertaal, te vertaal. Afgesien daarvan dien ek al sedert die sestigerjare as ’n gemeentelike opsiener. Gedurende die tagtigerjare het ek as ’n waarnemende reisende opsiener van Jehovah se Getuies gedien. Ek het ook die voorreg gehad om die Pionierdiensskool [’n skool vir voltydse bedienaars] te hou en het die Koninkryksbedieningskool [’n skool vir Christen- ouere manne] al twee keer onderrig. Ek weet dat ek nooit al hierdie voorregte sou geniet het as ek nog steeds ongeletterd was nie.
“Hoe waardeer ek tog hierdie reëling om die nederiges te leer lees en skryf! Wanneer ek saans gaan slaap, dank ek Jehovah steeds dat ek in hierdie moderne wêreld nie meer ’n ongeletterde is nie.”
Ons Skepper, Jehovah God, het die mensdom genadiglik met die vermoë begaaf om te lees en te skryf. Maar hierdie vaardighede word nie sonder moeite aangeleer nie. Die grootste beloning daaraan verbonde om te leer lees en skryf, is dat jy God se Woord kan neem en dié Goddelike opdrag kan gehoorsaam: “Jy moet dit dag en nag met gedempte stem lees.”—Josua 1:8, NW.
[Venster op bladsy 9]
Hoe jy jou kinders kan help om ’n liefde vir lees te ontwikkel
● Stel die voorbeeld deur self gereeld te lees. Ouers wat lees, sal waarskynlik kinders hê wat lees.
● Praat van kleins af met jou baba. Blootstelling aan ’n betekenisvolle taal help kinders om woorde en begrippe te verstaan wat dit vir hulle makliker sal maak om te leer lees.
● Lees gereeld vir jou kinders. Wanneer klein kindertjies op hulle ouers se skoot sit en daar vir hulle gelees word, kry hulle die boodskap dat woorde en boeke goed is, selfs al is hulle nog nie oud genoeg om die storie wat gelees word te verstaan nie. Hou aan om vir jou kinders te lees nadat hulle self leer lees het. Onderwysers leer kinders hoe om te lees, maar ouers kan baie daartoe bydra dat kinders dit geniet om te lees. Kinders geniet dit om hulle gunstelingstories oor en oor te hoor.
● Sorg dat daar boeke by die huis is wat jou kinders kan lees.
● Moedig jou kinders aan om te skryf. ’n Kind wat skryf, is gewoonlik ook ’n leser.
● Kies ’n bepaalde tyd om daagliks as ’n gesin saam te lees. Neem beurte om te lees en bespreek dan saam wat julle gelees het. Hierdie tye moet aangenaam en opbouend wees.
[Prent op bladsy 8]
Godvresende manne in antieke tye het geweet hoe om te lees en te skryf