Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 9/8 bl. 3-4
  • ’n Veranderende kerk in Frankryk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Veranderende kerk in Frankryk
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dinge het verander
  • Is die getroues werklik so getrou?
  • Die kerk—veranderinge en verwarring
    Ontwaak!—1993
  • Waarom verloor die kerk sy invloed?
    Ontwaak!—1996
  • Waarom die “diep kommer?”
    Ontwaak!—1990
  • Hoe moet Christene die mis beskou?
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 9/8 bl. 3-4

’n Veranderende kerk in Frankryk

Deur Ontwaak!-medewerker in Frankryk

“‘Byna niemand gaan meer kerk toe nie. Elke oggend lees ek die mis vir mossies en spinnekoppe. Verlede jaar het ek een doopplegtigheid en 26 begrafnisse gehou. Wat dink jy daarvan? Nie eers een huwelik nie.’ Toe [hierdie priester] oorspronklik in La Bastide [in Suid-Frankryk] aangekom het, het 85 kinders katkisasieklasse bygewoon. Vandag is daar altesaam vyf wat dit bywoon. Daar is net een seminaris in die bisdom, en 120 gemeentes het nie ’n priester nie.” —’n Priester, soos aangehaal deur die Paryse dagblad Le Figaro.

“Wie sal besluit om die Gregoriaanse gesange, die pragtige lofsange, . . . die geblomde altare, die rituele gewade, die wierook, die orrels en die gemeentelike priesters op die preekstoel aan Katolieke terug te gee? . . . ’n Langverlore Katoliek, wat besluit om na die kudde terug te keer, is soos die verlore seun. Maar vandag sal hy nie die hartlikheid van sy vader se huis vind nie, maar ’n parkeerterrein wat met luidsprekers toegerus is.”—Geneviève Dormann, in Le Figaro Magazine.

SEDERT die einde van die sewentigerjare was daar aansienlike veranderinge vir Katolieke wat met Protestante trou. Tot 1966 moes die Katolieke huweliksmaat ’n eed op skrif stel waarin hy of sy verklaar dat enige kinders wat uit die huwelik gebore word as Katolieke grootgemaak sou word. Die Protestantse man of vrou moes ook hierdie ooreenkoms onderteken. Deesdae is die kerk toegeefliker. Die huweliksplegtigheid kan in ’n Protestantse of ’n Katolieke kerk plaasvind in die teenwoordigheid van ’n geestelike van een of albei die godsdienste.

“Sedert Vatikaan II het die Katolieke Kerk nie net ’n nuwe openbare beeld nie, maar hy beskou homself in ’n ander lig. . . . Die kerk is nou minder pretensieus, nader aan ander Christelike godsdienste, hy erken gewetensvryheid en sê dat hy ‘tot diens van die wêreld’ is.”—Die Franse dagblad Le Monde.

Die Katolieke Kerk ondergaan al ’n paar dekades lank, en veral sedert Vatikaan II, talle veranderinge. Hoe beskou sy getroue ondersteuners en die geestelikes hierdie veranderinge?

Dinge het verander

In die vroeë sestigerjare het kardinaal Feltin, die aartsbiskop van Parys, die priesters in sy bisdom toegelaat om hulle priesterkleed te bêre en meer sekulêre klere te dra, selfs ’n gewone pak met ’n klein kruis op die lapel. Die Rooms-Katolieke priesterkleed het feitlik van die Franse toneel af verdwyn, en is net deur tradisievaste priesters gedra. Katolieke is ongeveer dieselfde tyd die geleentheid gebied om die mis op ’n Saterdagaand pleks van ’n Sondagoggend by te woon.

Die Liturgie, wat eeue lank dieselfde gebly het, het talle veranderinge ondergaan. Moderne liedere is by die mis gevoeg, hoewel nie almal daarmee tevrede was nie. Die kerkaltaar is omgedraai sodat die priester nie meer gedurende die seremonies met sy rug na sy kudde staan nie. Maar een van die merkwaardigste veranderinge in die Katolieke Liturgie was dat die mis nou in die landstaal behartig is. Dit het daartoe gelei dat die mis feitlik nooit meer in Latyns behartig word nie.

François, Maryse en Gilles is voorbeelde van hoe party vroom Katolieke op hierdie situasie gereageer het. François het sterk daaroor gevoel dat die mis in Frans gelees word. Hy het gesê: “Jy kon ten minste verstaan wat die priester sê.” Maryse was nie ten gunste van hierdie verandering nie, omdat die mis, in haar woorde, “voorheen mooier was”. Gilles het net soos Maryse gevoel. Hy het gesê: “Toe ons van Latyn na Frans verander het, het dit vir my soos troubreuk gevoel.”

Baie van die Katolieke wat ten gunste van hierdie veranderinge is, meen dat dinge nie genoeg verander het nie. Party wil hê dat die kerk ’n aktiewer rol in wêreldaangeleenthede moet speel. Ander is ten gunste daarvan dat priesters moet kan trou en selfs dat vroue georden word.

Is die getroues werklik so getrou?

Hierdie veranderinge het meer as net die kerkritus geraak. In baie lande was daar ’n groot afname in kerkbywoning. Die aantal Franse Katolieke wat die mis ten minste een keer per maand bywoon, het byvoorbeeld gedurende die afgelope 25 jaar van 45 persent tot 20 persent afgeneem. Dit is nou uit die mode om gereeld by ’n priester te gaan bieg. Volgens ’n onlangse opname gaan slegs 14 persent van die Franse bevolking ten minste een keer per jaar bieg, in vergelyking met 51 persent in 1952.

Toesig oor die kudde het ook ’n groot probleem geword. Die geestelikes raak oud. Priesters wat uittree of sterf, word nie vervang nie. Dit het tot gevolg dat die lekedom meer aktief aan aanbidding begin deelneem het.

Die tekort aan priesters is ’n veel groter krisis in die plattelandse gebiede. Honderde plattelandse gemeentes in Frankryk is sonder priesters, en baie van die getroues reis na nabygeleë dorpies vir die Sondagmis of moet tevrede wees met wat die kerk in Frankryk ADAP, Les Assemblées Dominicales en L’Absence de Prêtres (Sondagvergaderinge in die afwesigheid van ’n priester) noem. Hoe voel mense oor hierdie vergaderinge wat nie meer as ’n mis beskou kan word nie? ’n Non het openhartig oor die situasie in Sentraal-Frankryk gesê: “Mense vra nie werklik enigiets nie. As daar op ’n Sondag niks hier gehou is nie, sou hulle uiteindelik daarmee tevrede wees.”

Nuwe—gewoonlik charismatiese—Katolieke groepe is vir baie ’n teken van hoop. Maar hulle beïnvloed net ’n klein gedeelte van die getroue Katolieke en bied nie ’n oplossing vir wat die kerkkrisis genoem word nie.

Maar waarom vind hierdie veranderinge plaas? Wanneer het hulle begin? Wat het daartoe aanleiding gegee? Om hierdie vrae te beantwoord, moet ons kortliks die geskiedenis van die Katolieke Kerk oor die afgelope 30 jaar hersien.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel