Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 9/22 bl. 6-10
  • Die wordingsjare—Wat jy nou saai, sal jy later maai

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die wordingsjare—Wat jy nou saai, sal jy later maai
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Moeder en vader het albei deel aan die binding
  • Ons maai selfs nou al wat ons gesaai het
  • Kwantiteitstyd is nodig
  • Jehovah se reëling
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Ouers, bereik julle kind se hart
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Hoe om jou kinders te beskerm
    Ontwaak!—2007
  • Leer jou kind om godsvrug aan te kweek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 9/22 bl. 6-10

Die wordingsjare—Wat jy nou saai, sal jy later maai

’NBABA se brein is soos ’n spons wat dít absorbeer wat om hulle is. Binne twee jaar leer babas ’n ingewikkelde taal bloot deur dit te hoor. As die kind twee tale hoor, leer hy albei. Nie net taal nie, maar ook talent vir musiek en kuns, spierkoördinasie, sedelike waardes en ’n gewete, geloof en liefde en die drang om te aanbid—al hierdie dinge spruit uit vermoëns en potensiale waarmee ’n baba se brein vooraf geprogrammeer is. Hulle moet net inligting uit die omgewing ontvang om te kan ontwikkel. Daar is ook ’n geskikte tyd wanneer hierdie invoer van inligting die beste resultate sal lewer, en daardie geskikte tyd is gedurende die wordingsjare.

Die proses begin by geboorte. Dit word binding genoem. Die moeder kyk die baba liefkosend aan, praat op ’n kalmerende wyse met hom, druk hom teen haar vas en troetel hom. Moederinstinkte word opgewek omdat baba stip na haar kyk en veilig voel. As borsvoeding hier aan die begin plaasvind, is dit vir albei soveel te beter. Die baba se gesuig stimuleer melkvervaardiging. Weens die aanraking van sy vel word hormone afgeskei wat die moeder ná die bevalling minder laat bloei. Moedersmelk bevat teenliggaampies wat die baba teen infeksies beskerm. Binding vind plaas. Dit is die begin van ’n liefdevolle verhouding. Maar slegs die begin.

Die tweetal word gou ’n drietal wanneer die vader by hulle betrokke raak, iets wat hy beslis moet doen. “Elke kind het . . . ’n vader nodig”, sê dr. T. Berry Brazelton, “en elke vader kan ’n verskil maak. . . . Die moeders was geneig om sagkens en bedaard teenoor hulle babas op te tree. Daarenteen was die vaders speleriger, en hulle het, meer as die moeders, hulle babas gekielie en speels met die vinger gesteek.” Die babas wat so gekarnuffel word, gil opgewonde en kraai van plesier omdat dit vir hulle heerlike pret is en hulle meer wil hê. Dit is ’n voortsetting van die binding wat by geboorte begin, ‘’n liefdeband tussen die ouers en die kind wat gedurende die eerste agtien maande van ’n baba se lewe op sy maklikste gevorm word of verlore gaan’, sê dr. Magid, medeskrywer van die boek High Risk: Children Without a Conscience. Hy sê as dit verlore gaan, sal sulke kinders wanneer hulle groot is moontlik geen persoonlike verhoudings kan aanknoop of liefde kan betoon nie.

Moeder en vader het albei deel aan die binding

Hoe noodsaaklik is dit tog dat die moeder en die vader saamwerk om hierdie liefdeband, hierdie binding en geneentheid tussen ouers en kind, gedurende die wordingsjare, voor kleuterskool, te verstewig! Albei ouers moet baie drukkies en soentjies gee. Ja, pa’s ook! Men’s Health, Junie 1992, sê: “Drukkies en fisiese liefdeblyke deur ouers en kinders sal ’n kind heel waarskynlik in die toekoms welslae met vriendskappe, sy huwelik en loopbaan laat behaal, sê ’n studie van 36 jaar wat in die Journal of Personality and Social Psychology verskyn. Sewentig persent van die kinders met liefderyke ouers het op sosiale gebied goed gevaar in vergelyking met slegs 30 persent van die kinders met ouers wat nie liefderyk is nie; en daar is bevind dat Pa se drukkies net so belangrik soos Ma s’n is.”

Hou hom ook vas terwyl jy in ’n wiegstoel wieg. Lees vir hom terwyl hy veilig op jou skoot voel. Praat met hom en luister na hom, leer hom wat reg en verkeerd is en maak seker dat julle ’n goeie voorbeeld stel deur self hierdie beginsels toe te pas. En hou die kind se ouderdom die heeltyd in gedagte. Hou dit eenvoudig, hou dit interessant, maak dit pret.

Jou kind is van nature nuuskierig, wil graag dinge ontdek, alles omtrent sy omgewing leer. Om hierdie nuuskierigheid te bevredig, bestook die kind jou aanhoudend met vrae. Wat laat die wind waai? Waarom is die lug blou? Waarom word dit rooi wanneer die son sak? Beantwoord hulle. Dit is nie altyd maklik nie. Hierdie vrae is ’n geleentheid om jou kind te leer, om inligting in te voer, om hom miskien met waardering vir God en sy skepping te vervul. Word hy geboei deur ’n kewertjie wat op ’n blaar loop? Of ’n blommetjie se vorm? Of om te kyk hoe ’n spinnekop ’n web spin? Of net om in die grond te grawe? En moenie vergeet om hulle met storietjies te leer soos Jesus met sy gelykenisse gedoen het nie. Dan geniet hulle dit om te leer.

In baie gevalle moet albei ouers werk om ’n bestaan te kan maak. Kan hulle ’n spesiale poging aanwend om saans en naweke tyd saam met hulle kinders deur te bring? Kan die moeder moontlik halfdae werk sodat sy meer tyd saam met haar kinders kan deurbring? Daar is vandag baie enkelouers, en hulle moet werk om hulle en hulle kinders te onderhou. Kan hulle hulle inspan om saans en naweke soveel tyd moontlik aan hulle kinders te gee? In baie gevalle is moeders genoodsaak om weg van hulle kinders af te wees. Selfs as daar goeie redes daarvoor is, verstaan die kindjie dit nie en voel hy moontlik verlate. Dan moet ’n mens veral probeer om tyd vir jou kind uit te koop.

Wat is hierdie “kwaliteitstyd” waarvan ons hoor nou eintlik? Besige ouers bring moontlik al om die ander dag 15 of 20 minute saam met hulle kind deur, miskien ’n uur gedurende die naweek, en noem dit kwaliteitstyd. Is dit al wat die kind nodig het? Of is die doel daarvan om ’n ouer se gewete te sus? Of die gewete van ’n moeder wat werk omdat dit haar bevrediging verskaf, terwyl daar ’n leemte in haar kind se lewe is? Maar jy sê: ‘Ek is so besig dat ek werklik net nie daardie soort tyd het nie.’ Wat ’n jammerte en wat ’n droewige situasie tog vir jou sowel as jou kind, want daar is geen kortpad nie. Maak tyd gedurende die wordingsjare of wees voorbereid om ’n generasiegaping in die tienderjare te maai.

Dit is nie net die kind wat by ’n crèche gelaat word wat skade berokken word nie, maar ook die ouers ly moontlik skade as hulle die kind nie geniet terwyl hy grootword nie. Die kind verstaan nie altyd waarom hy alleen gelaat word nie; hy voel dalk verwaarloos, verstote, verlate, onbemind. Wanneer hy sy tienderjare bereik, het hy moontlik al maats gemaak in die plek van die ouers wat te besig is vir hom. Die kind kan selfs ’n dubbele lewe begin lei, een om sy ouers tevrede te stel en ’n ander vir sy eie plesier. Woorde, verduidelikings, verskonings—niks oorbrug die gaping nie. Wanneer ’n ouer nou skielik sê dat hy sy kind liefhet, is dit vir die kind wat verwaarloos is gedurende die jare toe hy sy ouers die nodigste gehad het moeilik om te glo. Liefdespraatjies klink nou vals; die woorde klink hol. Soos geloof, is voorgewende liefde sonder werke dood.—Jakobus 2:26.

Ons maai selfs nou al wat ons gesaai het

Selfsug neem toe in hierdie egoïstiese geslag, en dit kan veral aan die verwaarlosing van ons kinders gesien word. Ons kry kinders en sit hulle dan in ’n crèche. Sommige crèches deug moontlik vir kinders, maar baie deug nie, veral nie vir jong kinders nie. By sommige moet daar selfs ondersoek ingestel word na klagtes van seksuele misbruik van kinders. Een navorser het gesê: “Ons gaan beslis in die toekoms probleme hê wat vandag s’n na ’n teeparty sal laat lyk.” Vandag se “teeparty” is reeds verskriklik, soos die statistiek toon wat dr. David Elkind in 1992 gegee het:

“Swaarlywigheid in kinders en jongmense het gedurende die afgelope twee dekades met 50 persent toegeneem. Daar sterf jaarliks ongeveer tienduisend tieners in dwelmverwante ongelukke, en dit sluit nie die beseerdes en verminktes in nie. Een uit vier tieners drink al om die ander week te veel, en ons het tweemiljoen tieneralkoholiste.

“In Amerika word ’n miljoen tienermeisies per jaar swanger—twee keer soveel as in die daaropvolgende Westerse land, Engeland. Selfmoord onder tieners het gedurende die afgelope 20 jaar verdriedubbel en vyf- tot sesduisend tieners pleeg elke jaar selfmoord. Na raming openbaar een uit vier tienermeisies ten minste een eetversteuringsimptoom; gewoonlik dat hulle streng diëte volg. Die tweede hoogste manslagsyfer van enige ouderdomsgroep kom voor onder die groep wat tussen 14 en 19 jaar oud is.”

As die meer as 50 miljoen babas wat doodgemaak word terwyl hulle nog in die baarmoeder is by hierdie ontsettende statistiek gevoeg word, is vandag se “teeparty” onbeskryflik. Dr. Elkind het met die oog op gesinsverbrokkeling gesê: “Die vinnige sosiale verandering is rampspoedig vir kinders en jongmense wat standvastigheid en veiligheid nodig het vir gesonde groei en ontwikkeling.” ’n Skrywer oor egoïstiese selfsug het uit protes uitgeroep: “Maar niemand is bereid om die volgende vir egpare te sê nie: Kyk, julle moet getroud bly. As julle kinders het, bly getroud!”

Dit verg tyd om ’n kind lief te hê. Robert Keeshan, ’n omroeper vir kinders wat as Captain Kangaroo bekend gestaan het, het jare gelede gewaarsku teen die gevolge daarvan om jou tyd van jou kinders te weerhou. Hy het gesê:

“’n Kindjie, duim in die mond, pop in die hand, wag effens ongeduldig vir ’n ouer om huis toe te kom. Sy wil graag van die een of ander ervaring in die sandkis vertel. Sy is vol geesdrif om vir jou van die opwinding van daardie dag te vertel. Die tyd breek aan en die ouer kom tuis. Vermoei deur die spanning by die werk sê die ouer so dikwels vir die kind: ‘Nie nou nie, liefie. Ek is besig, gaan kyk televisie.’ Die woorde wat die meeste in talle Amerikaanse huise gehoor word: ‘Ek is besig, gaan kyk televisie.’ Indien nie nou nie, wanneer dan? ‘Later.’ Maar later breek selde aan . . .

“Jare gaan verby en die kind word groter. Ons gee haar speelgoed en klere. Ons gee haar ontwerpersklere en ’n hoëtroustel, maar ons gee haar nie wat sy die graagste wil hê nie, ons tyd. Sy is veertien, haar oë is glaserig, sy is by iets betrokke. ‘Liefie, wat gaan aan? Praat met my, praat met my.’ Te laat. Te laat. Die liefde het verdwyn. . . .

“Wanneer ons vir ’n kind sê: ‘Nie nou nie, later.’ Wanneer ons sê: ‘Gaan kyk TV.’ Wanneer ons sê: ‘Moenie so baie vrae vra nie.’ Wanneer ons nie aan ons jongmense die een ding gee wat hulle van ons vra nie, ons tyd. Wanneer ons nalaat om ’n kind lief te hê. Dan is dit nie dat ons nie omgee nie. Ons is eenvoudig te besig om ’n kind lief te hê.”

Kwantiteitstyd is nodig

Die ideaal is nie bloot om “kwaliteitstyd” in afgemete gedeeltes af te staan nie; dit moet ook “kwantiteitstyd” insluit. Die Bybel, wat baie meer wysheid bevat as al die boeke wat tot nog toe oor sielkunde geskryf is, sê in Deuteronomium 6:6, 7: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” Jy moet die ware waardes uit God se Woord, wat in jou hart is, in jou kinders se harte inskerp. As jy hierdie waardes uitleef, sal jou kind jou voorbeeld volg.

Onthou jy die spreuk wat in die tweede paragraaf van die vorige artikel aangehaal is? Hier is dit weer: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spreuke 22:6). Dit geld slegs as hy die waardes wat hy geleer is sy eie gemaak het, dit wil sê ’n deel van hom gemaak het, ’n deel van sy denkwyse, sy innigste gevoelens, dit wat hy diep binne-in is. Dit gebeur slegs as sy ouers hom nie net hierdie waardes geleer het nie, maar dit self ook toegepas het.

Hy het dit as ’n lewenswyse aangeneem. Dit het sy persoonlike standaard geword wat ’n deel van hom is. As hy dit nou oortree, oortree hy nie dít wat sy ouers hom geleer het nie, maar dít wat hy self geword het. Hy sal ontrou aan homself wees. Hy sal homself verloën (2 Timotheüs 2:13). Hy het diep binne-in ’n teësin daarin om dit aan homself te doen. Daarom is dit baie onwaarskynliker dat hy ‘sal afwyk van hierdie weg’ wat hom ingeskerp is. Laat jou kinders dus goeie gedrag by jou leer. Leer hulle goedhartigheid deur goedhartig te wees, maniere deur gemanierd te wees, sagmoedigheid deur sagmoedig te wees, eerlikheid en opregtheid deur ’n voorbeeld daarvan te wees.

Jehovah se reëling

Die gesin was van die begin af Jehovah se reëling vir die mensdom (Genesis 1:26-28; 2:18-24). Ná sesduisend jaar van mensegeskiedenis word dit steeds as die beste reëling vir volwassenes sowel as kinders beskou, soos die boek Secrets of Strong Families bevestig waar dit sê:

“Iets diep binne-in ons besef moontlik dat die gesin die grondslag van die beskawing is. Ons weet moontlik instinktief dat wanneer dit by welslae in die lewe kom dit nie geld, ’n loopbaan, roem, ’n mooi huis, grond of materiële besittings is wat belangrik is nie—dit is die mense in ons lewe wat ons liefhet en vir ons omgee. Wat werklik saak maak, is die mense in ons lewe wat aan ons verbonde is en op wie ons vir onderskraging en hulp kan staatmaak. Die potensiaal vir die liefde, onderskraging, sorg en verbintenis waarna ons almal hunker, is nêrens groter as in die gesin nie.”

Daarom is dit so belangrik om nou, gedurende die wordingsjare, vlytig te wees en goeie onderrigting te saai sodat jy in die toekoms vir jou sowel as jou kinders ’n gelukkige gesinslewe kan maai.—Vergelyk Spreuke 3:1-7.

[Venster op bladsy 10]

Watter ouer gaan ek wees?

“Ek het twee A’s gekry”, het die seuntjie uitgeroep en baie bly geklink. Sy pa het kortaf gevra: “Waarom het jy nie meer gekry nie?” “Ma, ek is klaar met die skottelgoed”, het die meisie van die deur af geroep. Haar ma het kalm gesê: “Het jy die vullis uitgegooi?” “Ek het die gras gesny en die grassnyer gebêre”, het die lang seun gesê. Sy pa het skouerophalend vir hom gevra: “Het jy die heining ook gesnoei?”

Die kinders in die huis langsaan lyk gelukkig en tevrede. Dieselfde het daar gebeur, en dit het so geklink:

“Ek het twee A’s gekry”, het die seuntjie uitgeroep en baie bly geklink. Sy pa het trots gesê: “Dis mooi, ek is bly jy het so goed gedoen.” “Ma, ek is klaar met die skottelgoed”, het die meisie van die deur af geroep. Haar ma het geglimlag en saggies gesê: “Ek word elke dag liewer vir jou.” “Ek het die gras gesny en die grassnyer gebêre”, het die lang seun gesê. Sy pa het bly geantwoord: “Ek is trots op jou.”

Kinders verdien ’n bietjie lof vir die werkies wat hulle elke dag doen. Dit hang grootliks van jou af of hulle ’n gelukkige lewe gaan lei.

[Prente op bladsy 7]

Die vader sluit by die moeder aan in die bindingproses

[Prent op bladsy 8]

Namate die verbeelding ontwikkel, is ’n seuntjie wat met wydoop arms hardloop ’n swewende vliegtuig, ’n groot kartonhouer word ’n pophuis, ’n besemstok word ’n lewendige perd en ’n stoel is ’n renjaer se motorsitplek

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel