Leer jou kind om godsvrug aan te kweek
“Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”—SPREUKE 22:6.
1. Wat moet geraak word om ’n kind met welslae te oefen, en waarom?
’N SIRKUSARTIES, wat haar seun die kuns van die sweefstok probeer leer het, het opgemerk dat hy sukkel om oor die dwarsbalke te kom. “As jy net jou hart oor die dwarsbalke gooi”, het sy voorgestel, “sal jou liggaam volg.” Diegene wat hulle kind ‘oefen’ om godsvrug aan te kweek, moet eweneens die hart beweeg. Dit is veral moeilik gedurende die tienderjare.—Spreuke 4:23.
2. Waarom is die tienderjare so moeilik, en hoe kan ouers help?
2 “Dit was jare lank nie moeilik om uit te vind wat in my seuns omgegaan het nie”, het ’n Christenvader in Duitsland gesê. “Maar dit het blitsvinnig verander toe hulle puberteit bereik het.” Gedurende hierdie oorgangstyd na volwassenheid raak talle nuwe en opwindende begeertes, aangeblaas deur liggaams- en hormoonveranderinge, ’n jong persoon se hart. Maar sulke jare word alte dikwels deur pynlike foute bederf. Selfs getroue Job het die gevolge van “die ongeregtighede van [sy] jeug” betreur (Job 13:26). Emosionele druk kan “bekommernis in die hart” van ’n jong persoon veroorsaak. Spreuke 12:25 sê dat dit die hart sal ‘neerdruk, maar ’n vriendelike woord vrolik dit op’. Hoe kan jy jou kind gedurende hierdie kritieke jare deur middel van goeie kommunikasie help?
Hartkommunikasie
3, 4. (a) Hoe het Elihu se manier van raadgewing van die van Job se drie “vriende” verskil? (b) Wat sal hartkommunikasie verhinder?
3 Beskou die verskil in die manier waarop Elihu en Job se drie “vriende” raadgegee het. Dit sal duidelik toon wat kommunikasie sal bevorder of belemmer. Elihu was ’n goeie luisteraar. Terwyl die ander hulle afsydig gehou en nooit hulle eie menslike swakhede erken het nie, het hy gesê: “Kyk, teenoor God staan ek in dieselfde verhouding as u: van klei is ek ook afgeknyp.” Hy het Job aangespoor om te ‘antwoord’, sy hart uit te praat, en nie bang te wees nie (Job 33:5-7). Die drie “vriende” het andersyds voorgegee dat hulle met Job simpatiseer en hom vertroos, maar hulle het geluister met vooropgesette menings. “Hoor tog na my verantwoording, en luister na die aanvalle van my lippe”, het Job tevergeefs gesmeek (Job 13:6). Ja, hulle benadering het ’n versperring opgewerp.
4 As hy nie versigtig is nie, kan ’n ouer soortgelyke versperrings opwerp sonder dat hy dit besef. Laat jou kind hom dus uitpraat (Spreuke 18:13). Dink noukeurig na oor hoe jou antwoord gaan klink. “Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing” (Spreuke 12:18). Soms kan die gesindheid en/of woorde van ’n kind weliswaar irriterend wees. Maar onthou dat daar dalk agter sulke ‘onbedagsame woorde’ ’n hart vol verwarring sit. Gebruik jou tong op bedagsame wyse om te genees.—Job 6:2, 3.
5. (a) Wat sal ’n ouer help om uit te vind wat in die kind se hart is? (b) Hoe kan naslaanwerk in die Genootskap se publikasies help?
5 As daar aandagtig na die kind geluister word, en taktvolle vrae gestel word, sal dit help om hom uit te lok en dit vir hom makliker maak om te praat oor wat hom pla (Spreuke 20:5). “My seun sal dikwels ’n gesprek op ’n skynbaar ongeleë tyd begin en net een of twee sinne sê, miskien oor ’n voorval by die skool”, het die moeder van ’n agtienjarige gesê. “Maar dan het dit by my berus om met vrae soos: ‘Wat het toe gebeur?’ of ‘Hoe het jy daaroor gevoel?’ of ‘Wat het jy gedoen of gesê?’ vriendelik ‘uit te trek’ wat hy op die hart gehad het. Dit is wat hy wou hê en dan het hy sy probleem bespreek. Maar dit het baie tyd in beslag geneem!” Staan so tyd aan jou kind af! Vind uit wat hy dink, miskien gedurende lang wandelings of wanneer julle saam ontspan. Talle ouers het gevind dat as hulle inligting naslaan wat deur die jare heen in die Wagtoringgenootskap se publikasies voorsien is, dit hulle help om hulle kinders beter te verstaan en betekenisvolle besprekings met hulle te voer. Gevolglik het hartlike gesprekke onder gesinslede toegeneem. Maar meer as goeie kommunikasie is nodig om godsvrug aan te kweek.
Bevorder geestelike voeding
6, 7. Wat het Timotheüs se moeder gedoen, en hoe kan ouers haar navolg?
6 Timotheüs se moeder was nie passief oor die geestelike sake wat die lewe vir haar seun beteken het nie. Van hom is daar geskrywe: “Jy [ken] van kleins af die heilige Skrifte . . . wat jou wys kan maak tot saligheid” (2 Timotheüs 3:15). Daardie ouers wie se kinders godsvrug aankweek, is vandag eweneens intens besorg oor hulle kinders se geestelike voeding. Hulle leer hulle om van kleins af persoonlike studie te doen.
7 Sorg jy dat jou kind sy eie Bybellektuur het en vir die gemeentevergaderinge voorberei? Spoor jy hom kragtig aan om tyd in te ruim om in die skatte van die Woord van God te delf? (Spreuke 2:1-5; 1 Johannes 2:14). Sit jy gedurende die vergaderinge by hom om hom te help sodat sy verstand—en hart—nie afdwaal nie? Word hy aangespoor om deel te neem? (Hebreërs 10:23-25). Hou julle ’n gereelde gesinstudie wat kennis oordra wat in jou kind se geestelike behoeftes voorsien? Dink na oor hierdie vrae.—Spreuke 24:5.
‘Maak Jehovah ’n werklike persoon’
8. Waar toon Deuteronomium 11:18, 19 moet godsvrug begin, en hoe kan ouers dit vandag met ’n kind toepas?
8 Maar as net die kop vol feite gestop word, kan die hart en gewete onaangeraak bly. Om ’n goeie gewete te ontwikkel, moet jou kind besef dat Jehovah ’n dinamiese persoon is wat intens belangstel in hom en in wat hy doen. Maar liefde vir Jehovah moet eers jou eie hart vul en jou beweeg om gereeld van sy liefdevolle sorg en grootheid te spreek. Jy moet die waarheid liefhê en uitlewe. Toe sy gevra is hoe haar kinders, albei voltydse evangeliedienaars, so ’n sterk liefde vir God ontwikkel het, het ’n moeder in Engeland verduidelik: “Ek het met hulle gepraat oor hoe werklik Jehovah is. Hy het my so baie gehelp dat ek nie anders kon as om Jehovah vir hulle ’n werklike persoon te maak nie. Alles draai om hom.” Leer jou kind ook om met Jehovah te praat deur “met alle gebed en smeking by elke geleentheid [te] bid in die Gees” (Efesiërs 6:18). Laat die kind jou opregte, innige gebede hoor en bespreek die inhoud van syne met hom.—Deuteronomium 11:1, 2, 18, 19; Spreuke 20:7.
9. Hoe kan ouers werklike voorbeelde gebruik om ’n kind se gewete op te lei?
9 Die jong gewete kan kragtig beïnvloed word deur werklike voorbeelde. (Vergelyk 1 Korinthiërs 8:10.) Jy hoor moontlik van tyd tot tyd van individue wat ly omdat hulle God se wette verbreek het. Bespreek sulke voorbeelde met jou kind sonder om ’n persoon te beskuldig en help hom om sodoende Paulus se woorde te begryp: “Jy kan God nie kul nie. Wat jy saai, sal jy maai” (Galasiërs 6:7, Beck). As ’n positiewe voorbeeld kan julle die roerende Evangelieverslae van Jesus se lewe bespreek. Jy sal jou kind help om “die sin van Christus” te kry (1 Korinthiërs 2:16). Maar jy moet die verslae laat lewe! Spoor die kind aan om hom die dramatiese tonele voor te stel en na te dink oor die meesterlike manier waarop Jesus sake gehanteer het. Kies materiaal uit Bybelpublikasies wat Jesus se lewe en eienskappe beskryf en gebruik dit soms ter afwisseling in julle gesinstudie.a
10. Hoe kan jy jou kind help om “die liefde van Christus te ken”?
10 Jou kind moet ook Christus se voorbeeld probeer navolg. Slegs dan sal die kind deur persoonlike ondervinding ‘die liefde van Christus wat die kennis oortref, leer ken (Efesiërs 3:19). Spoor hom dus aan om Jesus se afkeer van ongeregtigheid, sy liefde vir mense, sy ywer vir sy Vader se aanbidding, sy barmhartigheid en groothartigheid en sy gewilligheid om bespotting te verduur in ’n groter mate na te volg (Hebreërs 1:9; Markus 6:34; Johannes 4:34; Lukas 23:34; 1 Petrus 2:23). Prys jou kind hartlik wanneer hy gunstig reageer. Hy moet sien dat, ofskoon ons onvolmaak is, hoe meer ons die Meester se voorbeeld volg, ons des te gelukkiger is en ons gewete des te sensitiewer word. Ons kom ook nader aan God aangesien Jesus sy Vader se persoonlikheid weerspieël (Johannes 14:6-10). Herinner jou kind altyd daaraan om hierdie verhouding te waardeer. Soos ’n suksesvolle Christenmoeder van vier kinders gesê het: “Daar gaan nooit ’n dag verby dat my man nie sy arm om elkeen sit en vir hulle sê hoeveel hy hulle liefhet en hoe trots hy weet Jehovah op hulle gedrag moet wees nie. ‘Jehovah is lief vir jou’, sê hy. ‘Moet hom nie in die steek laat nie.’”—Spreuke 27:11.
Die nodigheid vir liefdevolle dissipline
11. Waarom het elke kind dissipline nodig?
11 Hoewel God Dawid “van [sy] jeug af” geleer het, het Dawid steeds gepleit: “Dink nie aan die sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie” (Psalm 71:5, 17; 25:7). Ja, by elke kind ‘sit die sotheid vas in sy hart’. Maar “die tugroede sal dit daaruit verwyder” (Spreuke 22:15). Hierdie “tugroede” van ouerlike gesag kan dikwels ’n teregwysing of ’n streng beperking wees. Wanneer die bedrieglike hart van jou kind iets nadeligs wil doen, is dit dus nodig om ferm te wees en nee te sê!—Jeremia 17:9; Spreuke 29:17, 19, 21.
12, 13. Hoe kan jou dissipline effektief wees?
12 Wanneer dissipline toegepas word, veral straf, moet jy die voorbeeld van Jehovah volg wat korrigeer volgens wat juis is. Jesaja 28:26-29 toon dat hy soos die boer is wat oordeelkundig besluit watter werktuig die beste is om verskillende soorte graan te dors en hoe lank om dit te dors sodat dit ‘nie altyddeur gedors’ word nie. Vra jou dus af: Is die beperking redelik in die lig van my kind se ouderdom en vooruitgang tot rypheid? Is die straf in verhouding met die erns van die verkeerde daad asook konsekwent en nie net vanweë my luim nie? En weet die kind werklik waarom hy gestraf word?—Job 6:24.
13 Onredelike beperkinge of inkonsekwente dissipline sal die kind irriteer of vertoorn (Efesiërs 6:4; Kolossense 3:21).b Maar liefdevolle fermheid sal jou kind beskerm teen omstandighede wat al die goeie leringe wat jy in sy hart ingeskerp het, kan vernietig. Dit is veral belangrik wanneer dit by sy metgeselle kom (Spreuke 13:20; 28:7). Maar gestel jou kind begaan ’n ernstige misstap ondanks al jou pogings. Wat dan?
Wanneer hy ’n misstap begaan
14. Waarom moet ’n ouer nie gou tou opgooi wanneer ’n kind ’n ernstige misstap begaan nie?
14 Bittere teleurstelling het veroorsaakdat party ouers gou tou opgooi met ’n kind wat ’n misstap begaan. Hoewel Jehovah gepaste straf en teregwysing toegedien het, het hy nie gou tou opgegooi met die eertydse nasie Israel wat eens soos ’n “seun” vir hom was nie (Hosea 11:1; 2 Kronieke 36:15, 16; Psalm 78:37, 38; Nehemia 9:16, 17). Net soos eertydse afrigters wonde kon verbind en breuke kon spalk wanneer ’n atleet beseer is, moet ouers nou probeer om ‘die slap hande op te rig sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word’.—Hebreërs 12:12, 13.
15. Hoe kan ’n ouer Galasiërs 6:1 toepas om ’n kind te herstel wat ’n misstap begaan het?
15 Om ’n geestelik “kreupel” kind op te rig en te voorkom dat sy toestand vererger, moet die kind se denke reggestel word. “As iemand [of ’n kind] ewenwel deur een of ander misdaad oorval word”, het Paulus gemaan, “moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid” (Galasiërs 6:1). Die Griekse woord wat met “reghelp” vertaal is, was ’n mediese uitdrukking wat in Paulus se tyd gebruik is vir die ‘spalk van bene’. Hierdie pynlike prosedure het ongetwyfeld groot vaardigheid geverg sodat ’n gebreekte been nie ’n lewenslange belemmering word nie. Dieselfde grondwoord is vertaal met ‘heelmaak’ (nette) en “voltooi” (Markus 1:19; 1 Thessalonicense 3:10). Om ’n kind se hart ‘heel te maak’, moet jy probeer om hom deur middel van die “onderrigkuns” te bereik. In plaas van te twis, moet jy die belangrike Bybelvoorstel toepas: “[Jy moet] vriendelik wees . . . en een wat kwaad kan verdra. [Jy] moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee . . . nie.”—2 Timotheüs 2:24-26; 3:16; 4:2, NW.
16. (a) Watter aanpassings is moontlik nodig om ’n kind terug te win wat ’n misstap begaan het? (b) Waarvan moet die kind verseker word?
16 Om ’n kind se verkeerde denke reg te stel, moet ’n ouer sy onderrigpogings verskerp. Die ouer moet dalk sy lewensstyl aanpas om die nodige aandag daaraan te kan skenk. In ’n gelykenis wat toon hoeveel inspanning nodig is om “een sondaar” terug te win, beskryf Jesus ’n vrou wat alles feitlik net so gelos het om haar verlore penning te soek (Lukas 15:7-10). ’n Kind wat in godvrugtigheid geoefen is, kan oorweldig word deur gevoelens van minderwaardigheid en skuld wanneer sy sonde aan die lig kom, en daarom moet ’n ouer die kind van sy liefde vir hom verseker. Help die kind om te sien dat dit sy gedrag is wat afgekeur word en nie hy nie, en dat hierdie gedrag reggestel kan word.—Judas 23.
17, 18. (a) Hoe het een vader sy seun gehelp? (b) Waarmee word daar gewoonlik welslae behaal?
17 Een vader, wie se seun deur die gemeente tereggewys is weens onsedelikheid, het begin om etlike kere per week op lang wandelings saam met sy seun te gaan en lang, ontspanne gesprekke te voer. Hy het ook Bybelpublikasies gekies wat oor sy seun se spesifieke behoeftes gehandel het. Die vader het dit met hom gestudeer en die seun ook laat deelneem aan die studie wat die vader met die hele gesin gehad het. Die ouer het ook sy werklas as ’n gemeentelike ouere man aangepas sodat hy al die emosionele en verstandelike aandag aan sy seun kon skenk wat hy nodig gehad het. Die seun is herstel.
18 Maar soms word ’n seun of ’n dogter heeltemal opstandig en ‘verag gehoorsaamheid’ selfs (Spreuke 30:17).c Gelukkig is sulke uiterste gevalle seldsaam onder God se volk. Hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat die resultate in die meeste gevalle goed is wanneer die ouers nie gou tou opgooi met die kind nie, maar hom geduldig probeer bereik—hoewel hulle nie die verkeerde gedrag vergoelik nie!
Harde werk—maar die moeite werd!
19. Hoe kan jy die voorbeeld van Maria in die versorging van jou gesin navolg?
19 Dit is ’n gedugte taak om kinders groot te maak, veral in die “laaste dae”. Ouers wat so ’n verantwoordelikheid ernstig opneem, moet geprys word! Neem voortdurend jou prioriteite in oenskou. Moet nooit dat die begeerte om vir jou dierbares “baie dinge” van ’n materiële aard te gee jou keer om geestelike geleenthede saam met hulle aan te gryp nie. Onthou dat Jesus vir Martha gesê het dat slegs een ding nodig is. Ja, ’n eenvoudige maal was genoeg. Wees soos Maria wat ’n geestelik opbouende tyd saam met Jesus geniet het. Kies die “goeie deel” vir jou gesin deur as ’n gesin aan geestelike bedrywighede deel te neem.—Lukas 10: 38-42.
20. Watter beloning kan suksesvolle Christenouers ontvang?
20 Jare nadat sy haar ses kinders met welslae gehelp het om Jehovah lief te hê, het ’n ouer ’n kaartjie van een van hulle ontvang. Dit het deels gelui: “Mamma, ek het Mamma baie lief, meer as wat Mamma ooit sal besef. Dankie vir die opvoeding en leiding wat Mamma my gegee het . . . Mamma het my die beste hoop in die wêreld gegee, en dit is die waarheid. Dankie dat Mamma my lewe gered het.” Hierdie moeder was verheug! Soos Spreuke 23:24, 25 sê: “Jy kan trots wees op ’n verstandige seun [of dogter]. Laat jou vader en moeder trots wees op jou; verskaf jou moeder daardie vreugde” (Today’s English Version). Mag jy met Jehovah se hulp sulke vreugde smaak!
[Voetnote]
a Kyk die artikel “Gryp die werklike lewe stewig vas”, in Die Wagtoring van 15 Maart 1973, vir ’n opsomming van Jesus se aardse lewe. Die artikel “Wees ware dissipels van Christus”, in Die Wagtoring van 15 September 1977, asook Aid to Bible Understanding (uitgegee deur die Wagtoringgenootskap), bladsye 927-32, bespreek talle van sy eienskappe.
b Die bevinding van ’n opname onder 417 jongmense is in die tydskrif Adolescence gepubliseer: “’n Baie streng huis lei tot frustrasie en dan tot aggressie, terwyl ’n baie permissiewe huis frustrasie veroorsaak daar die kind nie weet wat die ouers verwag nie, wat dan tot aggressie lei, op soek na standaarde.”
c Kyk “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Julie 1960, bladsy 336.
Wat sê jy?
◻ Hoe kan ’n ouer hartkommunikasie met ’n kind verbeter?
◻ Wat sal ’n kind help om ’n goeie gewete te ontwikkel?
◻ Wat sal dissipline effektief maak?
◻ Hoe kan ’n kind wat ’n misstap begaan het, herstel word?
[Prent op bladsy 23]
As jy aandagtig luister, selfs wanneer dit ongeleë is, sal dit hartlike kommunikasie bevorder
[Prent op bladsy 25]
Dit is ’n ware uitdaging om ’n kind van jou liefde te verseker en sy hart te raak wanneer hy ’n ernstige misstap begaan het