Jehovah se Getuies ‘word aan plaaslike geregshowe oorgelewer’
DIE Christelike godsdiens is sedert sy ontstaan teengestaan. Toe Jesus sy dissipels onderrig het, het hy gewaarsku: “Wees op julle hoede vir mense, want hulle sal julle oorlewer aan plaaslike geregshowe, en hulle sal julle in hulle sinagoges gésel. Julle sal selfs voor goewerneurs en konings gesleep word ter wille van my, tot ’n getuienis vir hulle en vir die nasies” (Mattheüs 10:17, 18, NW). In die meeste lande is teenstand teen die Koninkrykswerk vandag meer subtiel as die moorddadige vlaag van vervolging wat kort ná Jesus se teregstelling uitgebreek het. In die gekompliseerde wêreld waarin ons lewe, gebruik teenstanders geskilpunte wat nie net op die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk betrekking het nie.
Sake in verband met toesig oor kinders
Die gesinshof is een hof waaraan party Getuies van Jehovah al hoe meer oorgelewer word. In België, Frankryk, Kanada, Noorweë, Oostenryk, die Verenigde State en ander lande het ’n klein groepie teenstanders probeer om godsdiens die hoofgeskilpunt te maak wanneer daar vasgestel moet word wie toesig oor die kinders sal kry wanneer getroue Getuies van Jehovah se ongelowige huweliksmaats van hulle skei. Getuie-ouers is toesig oor hulle kinders ontsê net omdat hulle Getuies van Jehovah is.
Een Getuie is toesig oor haar driejarige seuntjie ontsê en is belet om selfs net godsdiens te noem wanneer sy hom besoek. Die Regsdepartement van die Wagtoringgenootskap het teen hierdie uitspraak geappelleer en het die saak in die appèlhof verloor. Daar is toe na die staat Ohio se hoogste hof geappelleer. Tot die Getuie se vreugde het die hof op 15 April 1992 ten gunste van haar beslis. Die formele verklaring van 11 bladsye was nogal ’n slag vir die sogenaamd deskundige getuie wat eintlik ’n uitgesette persoon is en wat beweer dat hy ’n sielkundige is. Die hof het gesê dat hy “op grond van ’n verklaring wat hy geskryf het, getuig het dat geestesiekte meer algemeen onder Jehovah se Getuies voorkom as onder die algemene publiek. Hierdie getuienis is ’n onbeskaamde poging om die indruk te skep dat geestesiekte tipies van ’n hele godsdiensgroep is. . . . [H]ierdie een stukkie statistiek bewys niks nie.”
Die hof het ’n verdere verhoor gelas en gesê: “[T]oesig mag ’n ouer nie ontsê word net omdat sy haar kind nie sal aanmoedig om die vlag te salueer, feesdae te vier of aan buitemuurse bedrywighede deel te neem nie. Ons stel die verhoorhof se besluite oor toesig oor die kind en besoekregte ter syde omdat hierdie beslissings verkeerdelik op [die ouer se] godsdiensoortuiging gegrond was.” Hierdie moeder het gevolglik die Herdenking van Christus se dood op 17 April saam met haar seun by die Koninkryksaal bygewoon.
Die Regsdepartement van die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Kanada het nou twee sake oor hierdie selfde geskilpunt wat nog deur Kanada se Hooggeregshof beslis moet word. Die Oostenrykse tak het ’n reuseoorwinning behaal in ’n saak voor die Europese Kommissie van Menseregte. Daarbenewens was daar berigte uit België, Frankryk en Noorweë van Getuies wat onlangs oorwinnings in verhoorhowe behaal het met betrekking tot kindertoesigsake waar godsdiens die hoofgeskilpunt was. Soos Jesus gesê het, het dit in al hierdie gevalle as ’n getuienis gedien, nie net vir die hof en die regsgeleerdes nie, maar ook vir die nasies deur die publisiteit wat die nuusmedia daaraan gegee het.
Die bloedkwessie
Nog ’n aangeleentheid waarmee Getuies gekonfronteer word, is die bloedkwessie. Ondanks onlangse oorwinnings ten opsigte van die godsdiensvryheid en selfbeskikkingsreg van Jehovah se Getuies in die appèlhowe van Florida, Illinois, Massachusetts en New York, en ondanks die onvermoeide pogings deur die Hospitaalinligtingsdienste en die talle hospitaalskakelkomitees van Jehovah se Getuies oor die hele Verenigde State, steek hierdie onaangename geskilpunt voortdurend sy kop uit. Mense wat gesondheidsdienste lewer, ontvang egter ’n getuienis, en party hospitale probeer om pasiënte wat Getuies van Jehovah is vinnig en duidelik te identifiseer.
’n Sitting van die verhoorhof in San Diego het ’n Japannese Getuie van Kalifornië se standpunt oor bloed gerespekteer. Sy het ’n breinaneurisme gehad en was bewusteloos. Haar behoorlik getekende Medical Directive en die getuienis van ’n kinderarts wat haar breedvoerig oor die bloedkwessie uitgevra het toe sy haar in die huis-tot-huis-werk ontmoet het, was genoeg om die regter te oortuig dat die bewustelose Getuie onder geen omstandighede ’n bloedoortapping sou aanvaar het nie.
In een geval waar ’n Getuie vasgebind en ’n bloedoortapping aan haar gegee is, terwyl haar man in hegtenis geneem is, het die Regsdepartement van die Wagtoringgenootskap die hofsaak van Long Island na New York se hoogste hof geneem. Die beslissing was ten gunste van Jehovah se Getuies se persoonlike regte, en die saak gaan nou deur die proses wat ’n siviele hofsaak voorafgaan. ’n Hofsaak in die belang van ’n 16-jarige en sy ma gaan binnekort in Atlanta se federale hof verhoor word. Die jong seun is vasgebind, en ’n agt uur lange bloedoortapping is aan hom gegee. Die verhoor om ’n hofbevel te kry om hierdie optrede te magtig, is in die hospitaal gehou en verkry sonder om die seun of sy ma daarvan in kennis te stel. Daar is talle ander sake hangende in appèlhowe en nuwes wat daagliks opduik. Hofsake word gewen, maar die stryd om menseregte is nog nie verby nie. Jehovah se Getuies wag op Jehovah God om op sy eie tyd sy wet oor hierdie geskilpunt te regverdig.
Sedert 1943 is min Getuies van Jehovah in die Verenigde State voor plaaslike geregshowe gedaag oor die predikingswerk. Maar die Wagtoringgenootskap ontvang weekliks tientalle oproepe en briewe van liggame van ouere manne wat om hulp vra wanneer Jehovah se Getuies probleme in hulle openbare bediening ondervind. Een verslag uit die staat Washington het ’n humoristiese wending geneem. ’n Woedende huisbewoner het sy hek gesluit sodat die groep Getuies wat in hulle motor op sy werf was, nie kon wegkom nie, en toe het hy die polisie gebel. Sy ontstoke geskree en dreigemente van geweld het hulle verstandig in hulle motor laat wag. Toe die polisiepatrolliemotor daar aankom, het die polisie die Getuies bedank pleks van hulle vir oortreding in hegtenis te neem. Jy sien, die polisie het vermoed dat die huisbewoner ’n voortvlugtige was, maar hulle kon nie op die werf kom om dit te bewys nie. Noudat hy hulle gevra het om na sy werf toe te kom, kon hulle sy identiteit bevestig, en hulle het hom en die vrou met wie hy saamgeleef het in hegtenis geneem terwyl die Getuies hulle predikings- en onderrigtingswerk voortgesit het.
Dit is duidelik dat daar meer hofsake ten behoewe van Koninkryksbelange gaan wees. Die Wagtoringgenootskap waardeer die belangstelling en besorgdheid van die talle Getuies wêreldwyd asook hulle gebede dat Jehovah sy volk moet rig en lei om die ingewikkelde wetlike geskille die hoof te bied waarmee hulle vandag in die uitvoering van God se werk te doen kry. Jehovah het vir die nasie Israel gesê dat hulle nie die Beloofde Land dadelik sou inneem nie, maar dit “langsamerhand” sou doen (Deuteronomium 7:22). Die vordering wat Jehovah se hedendaagse knegte maak om hulle regte te verkry, is nogal soortgelyk; dit geskied langsamerhand. Maar of hulle nou wen of verloor, wanneer Jehovah se knegte voor goewerneurs, konings, geregshowe of wie ook al gebring word, dien dit beslis as ’n getuienis vir hulle en die nasies.
In die nabye toekoms sal Jehovah homself nie net heeltemal regverdig oor geskille soos bloedoortappings en toesig oor kinders nie, maar ook oor die wetlike geskilpunt wat sy soewereiniteit raak. Dan sal niemand sy volk meer teenstaan nie, en hulle sal hulle verlustig in die seëninge van die Koninkryksheerskappy—want Jehovah het die reg lief.—Psalm 37:28.
[Lokteks op bladsy 12]
Die jong seun is vasgebind, en ’n agt uur lange bloedoortapping is aan hom gegee