Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 4/22 bl. 21-24
  • My stryd om te lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My stryd om te lewe
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die eerste stryd
  • Die stryd begin weer
  • Die derde operasie
  • Die stryd duur voort
  • Breinchirurgie—Hoe geloof my onderskraag het
    Ontwaak!—1990
  • Wanneer die lewe ’n stryd is
    Ontwaak!—1994
  • Ek kom voor ’n mediese noodgeval te staan
    Ontwaak!—1996
  • Nie towenaars óf gode nie
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 4/22 bl. 21-24

My stryd om te lewe

TWINTIG jaar gelede het ek en my vrou, Ingrid, nog twee jong seuns in Lima, Peru, grootgemaak en ’n vol, besige lewe geniet. Hoewel my sekulêre werk vereis het dat ek na ander lande in Suid-Amerika reis, het ons nogtans elke week tyd opsygesit vir die gemeentelike vergaderinge van Jehovah se Getuies en vir die verkondiging van Bybelwaarhede aan ander mense in die openbare bediening.

Toe, in 1973, terwyl ek nog in my laat twintigerjare was, het ek aan hoofpyne en depressie begin ly. In die twee jaar wat daarop gevolg het, het die hoofpyne, asook die depressie, erger geword en meer dikwels voorgekom. Dit het voortdurende inspanning vereis om by die daaglikse bedrywighede by te bly.

Ek kan ’n sakereis na Quito, Ecuador, hoog in die Andes-gebergte, nog goed onthou. Toe ek uit die vliegtuig klim, wou my kop bars van so ’n ondraaglike hoofpyn dat ek sommer net daar op die volgende vliegtuig terug na Lima toe wou klim.

Ek het my dokter onmiddellik gaan sien. Hy het my vir spanning behandel omdat hy gedink het dat dit die oorsaak van my hoofpyne was. Maar toe hy die agterkant van my oë ondersoek het, het hy gebarste bloedvaatjies opgemerk. Ek is gevolglik in die hospitaal opgeneem.

Toetse het bevestig dat daar ’n gewas op die brein was. Maar nog erger was die nuus dat die gewas so groot en klaarblyklik so met die brein deurvleg was dat hulle nie kon opereer nie. Die dokter het gesê dat ek binne ’n maand blind sou wees. Dan sou ek verlam raak en binne ongeveer drie maande sterf.

Die nuus was ’n ongelooflike skok vir Ingrid, wat die prognose eerste gehoor het. Sy het onmiddellik met my suster, Heidi, in Los Angeles, Kalifornië, VSA, in verbinding getree en haar gevra om na ’n chirurg te soek wat sou inwillig om op my te opereer sonder ’n bloedoortapping—’n belangrike vereiste weens ons vasbeslotenheid om gehoorsaam te wees aan die skriftuurlike gebod om ons van bloed te onthou.—Handelinge 15:28, 29.

Na net drie dol dae was ons op pad na Los Angeles. Toe ons oor die Karibiese Eilande vlieg, het Ingrid vir my gesê: “Kyk hoe pragtig is die eilande met hulle wit sandstrande!” Ek het na buite gekyk, maar ek kon niks sien nie. Ek het alreeds my gesig begin verloor!

Die eerste stryd

In Los Angeles is ek onmiddellik in die Mediese Sentrum van UCLA (Universiteit van Kalifornië in Los Angeles) opgeneem. Op 6 Oktober 1975 het dr. Walter Stern op my geopereer. Toe ek wakker word, kon selfs Ingrid se stralende gesig my nie op die goeie nuus voorberei nie—hulle het die hele gewas verwyder! Dit was so groot soos ’n bofbal en was aan die regter- frontale lob van die brein geleë. Maar dit was in sy eie membraan omsluit en kon as ’n geheel verwyder word.

Die vinnige behandeling het klaarblyklik my lewe gered. “Net nog ’n paar dae en jy sou nie meer by ons gewees het nie”, het die dokter gesê. Maar ek het geleef en my verstandelike vermoëns was ongeskonde! Ons was in ekstase!

Maar die tydperk van herstel het sy eie probleme opgelewer. Eers het bloedklonte in een been gevorm, wat ’n dilemma veroorsaak het. Hoewel ek antikoaguleermiddels nodig gehad het om die klonte op te los voordat hulle losbreek en ’n belangrike orgaan bereik, het ek ook koaguleermiddels nodig gehad om die bloeding in die brein tot ’n minimum te beperk. Hoe verlig was ons tog toe die dokters met welslae ’n balans tussen die twee teenstellende geneesmiddels kon vind!

Die trauma van 12 uur se chirurgie aan die regter- frontale lob—wat met emosies geassosieer word—was klaarblyklik verantwoordelik vir ’n tydperk van euforie, ’n verhoging van emosies, wat nie deur medikasie beheer kon word nie. Nadat ek na Lima teruggekeer het, was ek ses maande lank irrasioneel in my evaluasie van wat ek kon doen. Dit was asof ek permanent opgewek was. Dit het na ’n paar maande verbygegaan, en ’n ontsettende depressie het ingetree wat so erg was dat ek byna deurentyd aan selfmoord gedink het. Gelukkig was my toestand na ’n jaar weer normaal en kon ek al my bedrywighede hervat.

Ek is as ouere man in die Christengemeente aangestel, en daar was nou die uitdaging om ’n balans te hou tussen gemeentelike, gesins- en sakeverantwoordelikhede. Wanneer ek nie op ’n sakereis was nie, het ek gereël om tyd saam met die seuns deur te bring. Ons geliefkoosde tydverdryf was om op ons motorfietse oor die sanderige, klipperige heuwels in die buitewyke van Lima te ry. Dit voel asof die volgende nege jaar verbygevlieg het sonder dat ons dit agtergekom het. Ek het my hernieude gesondheid as vanselfsprekend begin aanvaar.

Toe, in Mei 1985, het Ingrid begin oplet dat ek ietwat bleek was en nie my gewone lewenslus gehad het nie. Ons het nie vermoed dat daar nog ’n breingewas was nie totdat ek een aand in die bed wou omdraai en nie kon nie. Die linkerkant van my liggaam was verlam. Hierdie keer het die dokters my onderwerp aan ’n gevorderde vorm van x-strale, deur middel van die RAT-aftaster, en op grond van die uitslae moes ons weer na Los Angeles gaan.

Die stryd begin weer

Op 24 Junie 1985 het dr. Stern en sy span weer op my geopereer. Die gewas het weer gegroei, hierdie keer agtertoe na die pariëtale lob—die gebied wat beweging van die ledemate beheer. Gevolglik was my linkerarm en -been verlam. Die operasie was na agt ure klaar en 25 persent van die gewas is diep binnekant agtergelaat.

Na die operasie was my arm en been steeds gedeeltelik verlam. Ek is ’n paar weke lank met kobaltbestraling behandel in ’n poging om te keer dat die gewas weer groei. Maar twee maande na die operasie het ek stuiptrekkings begin kry. Hoewel dit in ’n mate deur medikasie beheer kon word, het dit mettertyd gereelder voorgekom en onbeheerbaar geword. My openbare lewe is tot die minimum beperk. Ek kon ’n bietjie sekulêre werk van die huis af doen, maar die gevaar van stuiptrekkings het altyd soos ’n donker wolk oor my gehang. Dit was vir my ’n voortdurende bron van frustrasie om deur ’n sluipende siekte binne-in my beheer te word.

Omdat ek nie geweet het wanneer ek weer ’n aanval sou kry nie, kon ek dit nie langer waag om vergaderinge by die Koninkryksaal te lei nie. Maar met Jehovah se hulp kon ek Bybelwaarhede aan mense leer wat in hulle huise wou studeer. Omdat ek dit gereeld gedoen het, het dit gehelp om my gedagtes by ons Bron van krag, Jehovah God, te bepaal, en dit het die kommer oor my onstabiele fisiese toestand verminder.

Toe, in Mei 1988, het ek ’n ernstige aanval gehad wat my hele linkerkant verlam het. Tog het RAT-aftastings elke keer getoon dat alles normaal was en dat die gewas nie gegroei het nie. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat die stuiptrekkings op die een of ander manier ’n deel van die herstelproses was. Ons het egter besluit om terug te gaan na Los Angeles vir intensiewer toetse.

Dr. Stern, wat die eerste twee operasies sonder bloed gedoen het, het nou afgetree. Hy was egter so vriendelik om ons na dr. Donald Becker, hoof van UCLA se Departement van Neurochirurgie, te verwys. Dr. Becker het ingestem om te opereer as dit nodig was en terselfdertyd ons Bybelgebaseerde eerbied vir bloed te respekteer deur nie vir my bloedoortappings te gee nie.

Die toetse waaraan ek nou al gewoond was, het begin. Maar hierdie keer het dit, benewens RAT-aftastings en ’n angiogram van die brein, ’n nuwe, onbekende tegniek genaamd MBR (magnetiese beeldvormingsresonansie) ingesluit. Daar is vasgestel dat daar wel gewasse was—drie gewasse!

Voor die dag van die operasie is iets skrikwekkends ontdek—my bloed wou nie stol nie! Die medikasie wat ek geneem het om die stuiptrekkings te beheer was besig om die bloedplaatjies te vernietig. Daarom is hierdie medikasie vir die volgende twee en ’n half weke geleidelik met ’n ander medikasie vervang wat nie hierdie newe-effek gehad het nie. Die oorskakeling was traumaties omdat ek, teen die tyd dat dit voltooi was, ’n aantal hewige stuiptrekkings gehad het.

Die derde operasie

Uiteindelik het die dag van die operasie aangebreek, 1 Augustus 1988. Om 6:00 vm. het ek en Ingrid emosioneel van mekaar afskeid geneem. Minute later het ek my in die operasiekamer bevind. Dr. Becker het ná 12 lang ure uitgekom om Ingrid die nuus mee te deel dat hulle al die gewasse verwyder het—selfs die deel wat van die tweede operasie, drie jaar vantevore, agtergebly het—en dat ek net ’n bietjie meer as ’n koppie bloed verloor het!

“Maar iets het my steeds gepla”, verduidelik Ingrid. “Wat sou Hans se verstandelike toestand wees wanneer hy bykom? Sou hy my as sy vrou herken?” Vroeg die volgende oggend het die dokters Ingrid toegelaat om my te sien. Toe ek my oë oopmaak, het ek gesê: “Schatzi”, ’n troetelnaam wat ek altyd gebruik het. En, soos sy gesê het: “Dit was die begin van ’n nuwe dag!”

Die stryd duur voort

Tog het dit gelyk asof my hersteltydperk nimmereindigend was. Twee jaar later is nuwe gewasse gevind wat my herstel belemmer het. Daarom het ek op 26 November 1990 ’n vierde breinoperasie gehad. Nog twee gewasse is verwyder. Ek was weer terug in ’n rystoel en weer eens was my dae gevul met pynlike beenoefeninge wat my brein moes stimuleer om te onthou hoe om my weer te laat loop.

Maar die gewasse was gou terug en hierdie keer is daar vasgestel dat hulle kwaadaardig is. My laaste operasie was op 16 Julie 1991; tog was daar verskeie gewasse waaraan daar nie geopereer kon word nie. Ek is met spesiale bestraling behandel in ’n poging om hulle te krimp en op te los. Ons hoop dat dit gedoen kan word, maar my herstellingsterapie word al hoe moeiliker.

Dit kan net tot frustrasie lei om toekomsverwagtinge te koester op grond van my fisiese toestand. Die enigste verstandige weg is om my gedagtes op geestelike waardes gevestig te hou. Asof dit persoonlik vir my geskryf is, sê die Bybel: “Die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid [“godvrugtige toegewydheid”, NW] is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.”—1 Timotheüs 4:8.

Die toekomstige lewe is ewige lewe in God se nuwe wêreld. Daar is bewyse dat dit naby is, ja, dat ek binnekort sal hardloop en spring soos ’n takbok (Jesaja 35:6). En as ek sterf voordat die nuwe wêreld aanbreek, word die opstanding verseker vir diegene wat aan Jehovah getrou is. Die ewige lewe word nie verkry deur enige krag van ons kant af nie, maar deur getroue diens aan ons God, Jehovah.—Soos vertel deur Hans Augustin.

[Prent op bladsy 23]

Saam met my vrou, Ingrid

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel