Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 4/22 bl. 21-24
  • Breinchirurgie—Hoe geloof my onderskraag het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Breinchirurgie—Hoe geloof my onderskraag het
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My besluit is nie onderhandelbaar nie
  • Ek maak gereed vir die operasie
  • Herstel na die operasie
  • Begrafnisreëlings
  • My lewe is nou weer op koers
  • Wanneer die lewe ’n stryd is
    Ontwaak!—1994
  • My stryd om te lewe
    Ontwaak!—1992
  • Wanneer kanker geheim gehou word
    Ontwaak!—1990
  • Nie towenaars óf gode nie
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 4/22 bl. 21-24

Breinchirurgie—Hoe geloof my onderskraag het

“JY HET ’n gewas agter jou linkeroog.” Hierdie woorde van dr. Stewart, ’n neuroloog, het my laat voel asof ek in die middel van ’n nare droom was. Sy volgende woorde het die droom in ’n nagmerrie verander: “Ek moet met jou gesin in aanraking kom sodat ons jou dadelik in ’n hospitaal kan kry.”

Ek was geskok. Dit kon nie waar wees nie. Ek het tog goed gevoel! Hoe kon ’n gesonde, 22-jarige meisie ’n gewas op die brein ontwikkel? My verstand het gerebelleer teen die dokter se woorde wat my hele lewensloop omvergegooi het. Ek is een van Jehovah se Getuies, en net die vorige oggend het ek ’n telefoonoproep ontvang en is ek uitgenooi om drie maande by die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier in Brooklyn te werk. Dit was ’n antwoord op my gebede. Toe ek die huis daardie oggend verlaat het vir my afspraak met die oogarts was ek hoog in my skik met die lewe.

Nou, 29 uur later, is daardie gevoel uit my gedagtes gevee. Daar het geen twyfel oor die gewas bestaan nie. Ek het 50 minute in ’n MRB-masjien (Magnetiese resonansiebeeldvormer) deurgebring, soos ’n torpedo in ’n lanseerbuis. Ek ly in ’n mate aan engtevrees, en hoe langer ek daarbinne was, hoe paniekeriger het ek geraak. Ek het om kalmte gebid, Koninkryksliedere geneurie en Bybeltekste opgesê. Ek het ontspan. Weldra was ek op pad terug na die neuroloog se spreekkamer met die film. Dit het ’n gewas so groot soos ’n groot lemoen onthul, en toe het hy die knuppel in die hoenderhoek gegooi—ek moes dadelik hospitaal toe. Hy het die vertrek verlaat om my ouers te ontbied.

My besluit is nie onderhandelbaar nie

“Jou ouers is op pad”, het hy gesê toe hy terugkom. “Jy het my nie gesê dat jy een van Jehovah se Getuies is nie. Ons sal moet gesels. Die operasie sal definitief bloedoortappings vereis.”

“Daar’s niks om oor te gesels nie”, het ek gesê. “Die besluit is reeds geneem. Geen bloed nie.”

“Wel, ons kan daaroor gesels wanneer jou ouers hier is.”

“Nee”, het ek gesê en my kop geskud. “dis nie onderhandelbaar nie.”

Toe my ouers opdaag, het hulle my standpunt oor bloed bekragtig. Die neuroloog het die besluit aanvaar en gesê dat hy ’n chirurg in gedagte het wat waarskynlik my besluit sou respekteer. So het dit gebeur dat ons die neurochirurg, dr. H. Dale Richardson, ontmoet het.

Ons het hom Donderdagaand, 29 September 1988, in sy spreekkamer ontmoet, hierdie man wat die volgende paar maande so ’n belangrike en gerespekteerde deel van ons lewe sou word. Hy het met dr. Stewart gesels en was bewus van ons standpunt oor bloed.

“Ons gaan in ’n baie vaskulêre deel sny”, het hy gesê. “Die gewas het die sagittale sinus (’n belangrike bloedvat van die brein) omring, in watter mate sal ons nie weet totdat ons daarbinne is nie.”

“Al ontstaan ’n krisis”, het ek gesê, “en ek besef dat dit kan gebeur, wil ek steeds nie hê dat u bloed gebruik nie.” My ma en my pa het bekragtig dat my standpunt hulle standpunt was. Ons het sy oë vol trane sien skiet en het later verneem dat hy self twee seuns en ’n dogter het.

“Ek stem miskien nie saam met julle opvattinge nie”, het hy gesê, “maar ek sal jou versoek respekteer. Sonder bloed is ons kans op sukses 70 persent. Jy moet verstaan dat ons miskien nie die hele gewas die eerste keer kan verwyder nie. Dit is nie ongewoon met so ’n groot gewas om dit in twee of drie operasies te doen nie.”

Ek maak gereed vir die operasie

Ek is Sondag, 2 Oktober, in die hospitaal opgeneem. Maandag en Dinsdag is twee preoperatiewe prosedures uitgevoer, eers om die bloedtoevoer wat die gewas voed op te spoor en toe om dit te verminder. Die hele Dinsdag het vriende my opgebel, en daardie aand het ’n hele paar van hulle my besoek. Almal het geweet wat die volgende dag sou gebeur, maar die stemming was opgewek en vrolik.

Ek het daardie nag dadelik aan die slaap geraak maar het omstreeks middernag wakker geword en bekommerd begin raak. Dit was nie goed nie. Ek het kassetbande van verskeie Wagtoring-artikels gespeel. Om 5:30 die oggend het die verpleegster ingekom en was sy verbaas om my kalm en vol vertroue aan te tref. Twee intieme vriende het kort daarna opgedaag met Pa net na hulle. “Niks sentimenteels nie, hoor”, het ek gesê toe hulle my soengroet.

Onder het hulle my begin gereedmaak vir die operasie, naalde ingesteek, my kop geskeer. Terwyl ek daar gelê het, het ek tot Jehovah gebid: “Dankie dat u my help om aan Satan te bewys dat hy nie altyd wen nie. Ek weet ek sal wakker word, of dit nou vandag sal wees of in u nuwe wêreld. Laat dit asseblief net gou wees.” Toe hulle my by die teater instoot, het ek gesien dat dr. Richardson my film bestudeer.

“Goeie môre, Bethel”, het hy gesê. “Hoe het jy geslaap?”

“Goed”, het ek geantwoord, “maar ek is meer besorg oor hoe u geslaap het.”

Toe het dr. Ronald Pace, die narkotiseur, ’n masker oor my gesig geplaas en vir my gesê om diep asem te haal en agteruit te tel. My wagtyd was verby.

Herstel na die operasie

Toe ek bykom, was ek baie koud. Ek het gesukkel om uit die narkotiese newel te kom. Dit was Woensdag, 10:10 nm., ongeveer 15 uur later. Pa was by my in die waakeenheid en het my gerusgestel. Ek was bekommerd of al my geesvermoëns nog gewerk het. “Toets my, Pa”, het ek gesê en somme begin aframmel: “Twee en twee is vier, vier en vier is agt, . . . ” Toe ek by 512 kom, het hy gesê: “Hokaai! Jy gaan te vinnig vir my!” My ma het my omhels so goed sy kon, en my broer, Jonathan, het my op die hoogte van die bofbaluitdunwedstryde gebring.

Dr. Richardson het ons meegedeel dat hy 80 persent van die gewas verwyder het. Hy het doodmoeg gelyk—geen wonder nie, na 13 1/2 uur waartydens sy vernuf streng op die proef gestel is! Ek het later verneem dat hy vir my pa gesê het: “Ons het haar amper verloor. Toe ons die sagittale sinus bereik, het sy vreeslik gebloei. Ons was gelukkig om dit te stop.” In alle geval, hy sou weer moes opereer, miskien meer as een keer. “Party pasiënte met ’n harsingvliesgewas [die soort gewas wat ek gehad het] moet elke drie tot vyf jaar geopereer word”, het hy gesê. “Ons sal dalk nie alles kan uitsny nie.”

Hierdie nuus het my verpletter! Ek het gesien hoe my hoop op ’n lewe van voltydse Christelike diens aan skerwe spat. Ek het begin huil, op die randjie van histerie. Pa het sy arms om my en Ma gesit en begin bid. Dit was asof ’n mantel van algehele kalmte om my gehang is. “Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan”, het oorgeneem (Filippense 4:7). Ek het gelees van ander wat hierdie vrede van God oor hulle voel kom het en het gewonder hoe dit werklik voel. Nou het ek geweet. Ek wil nie weer daardie nag deurmaak nie, maar wat ek uit die ondervinding geleer het, is iets wat ek altyd sal koester.

Terwyl ek in die hospitaal was, het ek met baie mense oor my hoop op God se Koninkryk en die ewige lewe in ’n paradysaarde gesels. Ek het 20 eksemplare van die boekie Jehovah’s Witnesses and the Question of Blood en vyf van die hardebandboek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe versprei. Teen die tyd dat ek ontslaan is, het ek meer as 330 kaartjies en baie telefoonoproepe ontvang, asook blomme en kleurryke ballonne. Hoe het dit my tog nie opgebeur en my ons wêreldwye broederskap baie meer laat waardeer nie!

Ek is op 16 Oktober 1988 ontslaan. Wat ’n pragtige dag was om mee te begin, het al hoe mooier gelyk noudat ek weer buite in die sonskyn en vars lug was. Die hemel het blouer gelyk, die gras groener. Dit het my laat dink hoe pragtig die Paradysaarde sal wees: geen oorlog, geen hongersnood, geen besoedeling—en geen breingewasse nie! ’n Gereinigde aarde, oplaas!

Begrafnisreëlings

In Desember het ek dr. Richardson weer besoek. Die gewas was besig om te groei. ’n Operasie was die enigste lewensvatbare behandeling en hoe gouer hoe beter. Hierdie tweede operasie was vir my as ’t ware ’n fisiese muur, ’n reusestruikelblok wat die weg versper wat ek vir my lewe gestel het. Ek het baie nagedink oor Psalm 119:165: “Die wat [God se] wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie.” Dit het my kalmeer, en geleidelik het die naderende operasie, pleks van ’n muur te wees, net ’n hindernis geword. Maar net vir die wis en die onwis het ek aan ’n dierbare vriend by die Wagtoringhoofkwartier geskryf en hom gevra om my begrafnisdiens waar te neem indien dit nodig sou word. (Later het ek uitgevind dat Pa dieselfde versoek aan hom gerig het.)

Op 31 Januarie 1989 is ek weer in die hospitaal opgeneem. In sekere opsigte was dit makliker; tog het dit ernstiger gelyk. Sou hulle hierdie keer die res van die gewas verwyder, of sou daar later verdere operasies wees? Die dokters was baie vertroostend.

Toe ek opgeneem is, het dr. Pace, die narkotiseur wat ek voorheen gehad het, my kom soek, ’n uur lank by my gebly terwyl al die vorms ingevul is, en toe my tas vir my opgedra kamer toe. Dr. Richardson het my die versekering gegee: “Ek sal jou soos een van my eie gesin behandel, die manier waarop ek graag behandel sal wil word.” Geen koue, saaklike behandeling hier nie. Ek het my met ’n innige gevoel van vertroue in hulle besorgde hande geplaas.

Weer het die telefoonoproepe en kaartjies ingestroom om my te vertroos, en dieselfde dierbare vriende wat so getrou en behulpsaam tydens die eerste beproewing was, was weer hier om my op te beur en moed in te praat. Ons het die aand met gesels en gelag en ’n bordspeletjie deurgebring.

My lewe is nou weer op koers

Die volgende oggend was die verpleegster vroeg daar om my ’n inspuiting te gee. Dit was baie sterk, en asof in ’n oogwink was ek weer in die herstelkamer. Die operasie het nie so lank geduur nie—tien uur hierdie keer—en die groet wat ek en my gesin ontvang het toe ek wakker word, was ’n uiters verfrissende tonikum. ’n Glimlaggende dr. Richardson het ons meegedeel dat hy die hele gewas kon verwyder en dat ons volkome herstel kan verwag. Later, terwyl hy my ’n skoon verband aangesit het, het hy my laat lag deur te sê: “Bethel, ons sal moet ophou om so te ontmoet.” Hoe dankbaar het ons tog teenoor Jehovah en teenoor die uitstekende dokters gevoel!

Ek het nog boeke en boekies oor God se Koninkryk by talle gelaat met wie ek gesels het. Ek het een van die boeke, Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, as geskenk aan dr. Richardson gegee. Op die skutblad het ek geskryf:

“Daar is baie min geleenthede wanneer ons genoodsaak is om iemand te bedank omdat hy ons lewe gered het. Hoewel u ongetwyfeld dikwels sulke dankbetuigings ontvang, wou ek seker maak dat Dokter weet hoe baie alles wat u vir ons gedoen het vir my en my gesin beteken. Hoewel ek besef dat u leestyd taamlik beperk is, hoop ek dat as Dokter in die toekoms die geleentheid het om met Jehovah se Getuies te werk hierdie boek u sal help om te verstaan waarom ek glo wat ek glo. Met baie liefde en innige dank, Bethel Leibensperger.”

Ek is agt dae na die tweede operasie ontslaan en het daardie aand na die Koninkryksaal gegaan. Twee maande later het ek my motor begin bestuur. Ek het weer met my voltydse diens as een van Jehovah se Getuies begin. Ek kon selfs in Augustus 1989 die geskiedkundige byeenkomste van Jehovah se Getuies in Pole bywoon.

My lewe is nou weer op koers.

[Venster op bladsy 22]

’n Moeder se herinneringe

Daardie aand het Bethel en haar pa ’n Bybelstudie bygewoon. Ek was te verbysterd; ek kon dit nie verwerk nie. Ek het ineengestort en bed toe gegaan. Die volgende oggend was dit erger. Ek kon myself nie regruk nie en het begin huil. My man het ferm gesê: “Ons moet om Bethel se onthalwe sterk en opgeruimd wees.” Toe het hy sy arms om my gesit en ’n kort gebed gedoen, waarin hy ons en ons toekoms ten volle in Jehovah se hande geplaas het en krag gevra het om die komende dae deur te maak. Dit was soos ’n opkikker wat my van ’n lappop in ’n ondersteunende moeder verander het.—Judith Leibensperger.

[Venster op bladsy 23]

’n Vader se herinneringe

My dogter, Bethel, was ’n gawe van God ietwat laat in die lewe. Ons het ’n soort storieboekverhouding gehad. Vandat Bethel ’n baba was, het ons alles saamgedoen. Ons het in velde gehurk om Jehovah God se kunssinnigheid te bestudeer terwyl ons na die veldblomme gekyk het. Ons het sneeumanne gemaak. Ons het oor baie diep dinge en verspotte dinge gesels. Ons het slapenstyd saam in gebed gekniel terwyl sy haar, in haar snoesige slaapkleertjies, tussen my en haar ma genestel het. Ons het die bejaardes en behoeftiges saam besoek. Ons het mede-Getuies wat in afgeleë lande woon, verwelkom. In ons huis het ons sendelinge en die allertoegewydste manne en vroue wat God in die voetstappe van Jesus Christus dien, onthaal. Ons het ons een geloof gedeel, en ons het ons drome van die Paradys gedeel. Sy het opgegroei met ’n liefde vir mense en ’n behoefte aan hulle liefde. Ons lewe as ’n gesin was idillies—tot nou toe. Die “tyd en lotgeval” wat alle mense volgens Prediker tref, het ons getref. In een dag het hierdie ontsaglike mediese dilemma sy donker skadu gegooi. Sonder waarskuwing het die gedaante van die dood—die mens se grootse vyand—oor ons gehang.—Charles Leibensperger.

[Prent op bladsy 24]

Bethel en haar ouers net voor die tweede operasie

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel