Hoe die kokerboom sy naam gekry het
DAAR is min reisigers in die dorre woestyngebiede van Suider-Afrika wat nie beïndruk is wanneer hulle ’n kokerboom sien nie. “Met hulle wit gestreepte vaal bas . . . staan hulle penorent op die bergrûe, afgeëts en waardig. . . . Hulle is soos die leërowerstes van ’n vergete legioen, gehard teen die wind, son, dors en yskoue nagte.” Só beskryf Jon Manchip White kokerbome in sy boek The Land God Made in Anger.
Die kokerboom is eintlik een van 150 aalwynsoorte wat in Suider-Afrika groei. Alhoewel hy puntige, sappige blare het, groei hy in streke wat weinig of geen reën kry nie. Hy bly aan die lewe deur water in sy stam op te gaar. Sodoende kan die kokerboom elke Junie en Julie die plaaslike voëls, bye en bobbejane trakteer op ’n ryk fees van nektar, wat van sy heldergeel blomme kom.
Maar waarom word hierdie boom die kokerboom genoem? Dit is omdat die Boesmans, die vindingryke jagter-insamelaars van Suider-Afrika, die boom se takke gebruik het om kokers vir hulle pyle te maak. Hierdie vernuftige uitvinders het die sagte, veselagtige takkern verwyder sodat die harde dop oorgebly en ’n hol buis gevorm het wanneer dit droog geword het. Daarom word dit die kokerboom genoem.